Moderamen tik Neels Jackson en André Bartlett oor die vingers vir hulle vervolging van Dirkie van der Spuy

 

Hierstaanek het die afgelope paar dae opinie gelewer op André Bartlett se onvanpasde aanslag op Dirkie van der Spuy. (Kliek op die opskrifte in die kolom aan die linkerkant van die bladsy). Die Bartlett-faksie het van der Spuy se pastorale briefie aan sy gemeente n.a.v. die AS2016 besluit oor selfdegeslag verhoudings aan die groot klok gehang. Dit is absoluut buite verband opgeblaas in die Netwerk 24 se koerante en die sosiale media.

Neels Jackson was Bartlett se gewillige handlanger en het Bartlett se brief aan die moderamen (Wat aanvanklik deur 172 mense onderteken is) in ‘n lewendige petisie op e-Kerkbode verander deur gereelde opdaterings van die hoeveelheid mense wat die brief onderteken het te pos. Die telling op hede is 654; Neels het soos ‘n opgewonde kind soms uurlikse opdaterings van die pos op e-Kerkbode gemaak.

Soos hierstaanek uitgewys het, het mense wat daarop roem dat hulle die Christelike geloof vaarwel geroep het (Julian Muller noem homself ‘n “post-teis”) en ateiste, wat deur Bartlett op Change.org gewerf is ook die brief onderteken.

Wel, die moderamen het Jackson en Bartlett goed oor die vingers getik. Hulle bevestig Ds van der Spuy se reg op vryheid van spraak en godsdiens. En dan skryf hulle:

Openbare petisies teen ’n individu is egter nie die kerklike wyse waarop ons op frustrasies behoort te reageer nie. Trouens, dit is nie die Bybelse weg om verskille te hanteer nie. Daar is ook nie ’n amptelike kerklike proses om met petisies te handel nie. Daar is wel ander bekende kerkordelike weë waarlangs mense hulle frustrasies kan kanaliseer. Hiervan is om in dialoog met mekaar te bly die mees aangewese weg.

Eina! 

Soos hierstaanek die heel tyd gesê het: Om van opinie te verskil en dit duidelik in die openbaar te verkondig is een ding. Om iemand wat ‘n openbare tugwaardige sonde gepleeg het (Soos Julian Muller wat die Bybelse Godsbeeld verwerp het en steeds in die kerk aangebly het. Dis kontrakbedrog.) fel in die openbaar aan te spreek is een ding.

Om egter die moderamen met onkerkordelike petisies onder druk te plaas om ‘n lidmaat wat geen tugwaardige sonde gepleeg het nie af te dank val in ‘n totaal ander klas. 

Gelukkig het die moderamen in hierdie opsig die insig gehad om dit in te sien en hulle in die openbaar daaroor uit te spreek.

Die moderamen se volledige brief is hier onder. Let op dat Dirkie van der Spuy self een van die ondertekenare is, dit verander egter glad nie aan die geldigheid van hulle opinie nie, veral in die lig van Nelis janse van Rensburg en Gustav Claassen se ondersteuning.

Ek hoop Neels Jackson is ook persoonlik aangespreek.

Hierstaanek.

Ons, die voorsitter, onder-voorsitter en algemene sekretaris van die moderamen van die Algemene Sinode, Nelis Janse van Rensburg, Dirkie van der Spuy en Gustav Claassen het vandag, 18 November 2016 ’n uitgebreide gesprek gevoer oor die selfdegeslagbesluite van die buitengewone vergadering van die Algemene Sinode.

Ons het onder meer gepraat oor:

1. die inhoud van die besluit, die belang van die besluit in die eerste plek vir heteroseksuele verhoudings, asook die betekenis daarvan vir gay gelowiges;

2. die felle reaksie van akademici, leraars, kerkraadslede en lidmate ten opsigte van die besluit van die buitengewone Algemene Sinode;

3. die groot reaksie vanuit die kerk ten opsigte van die besluite van die sinode van 2015 en die instemming wat hierdie gelowiges nou met die 2016-besluit het;

4. die wyse waarop die kerk die diversiteit van menings oor selfdegeslagverbintenisse behoort te hanteer;

5. die feit dat baie gay lidmate voel dat die besluit uitsluitend is, ten spyte daarvan dat hulle welkom is as lidmate en in al die besondere ampte van die kerk.

Ons het ook deeglik besin oor die e-pos wat ds Van der Spuy aan sy gebedsondersteuningsgroep in sy gemeente gestuur het oor die selfdegeslagbesluit van die Algemene Sinode. Ons is oortuig dat die verwysing in die e-pos na ’n besluit van Moreletapark gemeente slegs dui op sy persoonlike mening dat daar ’n gelykluidendheid is tussen die besluit van die Algemene Sinode en dié van die gemeente. Daar was ons insiens nie sprake van ’n poging tot onbehoorlike beïnvloeding van die besluit van die sinode, of ’n poging om te suggereer dat dit deur die gemeente se toedoen was dat die besluit geneem is nie. Dat hy in die geledere van gebedsvriende sy tevredenheid met die besluit uitgespreek het, is sy vrye reg. Die feit dat die Here se hand gesien is in die wyse waarop die sinode se standpunt verander is, is ewe eens ’n persoonlike waarneming waarmee ’n mens kan verskil of saamstem. Dat ’n persoon hartlik saamstem en bly is oor ’n besluit van ’n Algemene Sinode, kan ook tog nie sonder meer veroordeel word nie. Ons het ook gepraat oor die moontlikheid dat hierdie standpuntstelling impliseer dat andersdenkendes nie ernstig is oor die Bybel nie. Ons vereenselwig ons egter met die sinode se ooreenkoms dat “almal betrokke by die verskillende vertolkings erns maak met die Skrif en dat daar by almal ’n opregte begeerte is om God se wil te soek.” Hierdie ooreenkoms is in die besluit van die sinode opgeneem.

Ons verstaan dat daar baie frustrasie én dankbaarheid is wat met die besluit van die Algemene Sinode gepaard gaan. Openbare petisies teen ’n individu is egter nie die kerklike wyse waarop ons op frustrasies behoort te reageer nie. Trouens, dit is nie die Bybelse weg om verskille te hanteer nie. Daar is ook nie ’n amptelike kerklike proses om met petisies te handel nie. Daar is wel ander bekende kerkordelike weë waarlangs mense hulle frustrasies kan kanaliseer. Hiervan is om in dialoog met mekaar te bly die mees aangewese weg.

Ons is verbind om die eenheid van die kerk te dien. Eenheid staan nie teenoor waarheid nie. Dit is juis deur die eenheid te behou en binne hoorafstand van mekaar te bly, dat ons die onderskeie perspektiewe hoor en mekaar dien met insigte en wysheid om die waarheid te onderskei.  Ons ken mekaar goed, is saam lief vir die Here, is saam in sy diens. Ons is saam opgewonde oor die Algemene Sinode se visie van ’n missionale kerk wat ’n bydrae lewer tot ons land. Ons wil met ons verbondenheid aan mekaar ’n voorbeeld stel van beliggaamde eenheid ten spyte van die verskille wat daar in ons denke oor sake bestaan.

Ons roep almal in die kerk op om in hierdie dae goed te dink oor die betekenis van die besluit van die Algemene Sinode. Laat almal van ons dan erns maak met die Skrif met ’n opregte begeerte om God se wil te bly soek en mekaar te vind. In ’n gereformeerde kerk bly ons immers altyd wagtend op verdere leiding van die Heilige Gees. Laat ons die eenheid van die kerk bewaar ter wille van die waarheid en laat ons só verskil dat almal sal weet dat ons deur Christus verander is tot nuwe mense.

Gustav Claassen
Dirkie van der Spuy
Nelis Janse van Rensburg