DIE BYBEL: GOD SE WOORD, OF WOORDE OOR GOD? 2Tim 3:14-4:5
(Preek van Ds. Ken Pritchard in die NG Kerk Robertson-Oos, Sondag 29/11/2015)
Ons is almal bewus van die Alg Sinode se omstrede besluit oor die goedkeuring van Selfdegeslagverhoudinge –‘n saak wat spreekwoordelik die kat in die duiwehok losgelaat het en reeds baie skade in die NG Kerk aangerig het , en ook vir baie verskille en onstuimmigheid en onsekerheid by baie lidmate gesorg het. Baie gemeentes en breër kerklike vergaderings – insluitend ons eie Kerkraad – het sederdien met ontsteltenis gereageer en hulle teen die Sinodebesluit uitgespreek. Sommige het dit op ‘n baie versigtige wyse gedoen, ander het sommer baie sterk reageer. Ek lees dat die NG Gemeente Piet Retief, hulle besware teen die besluit van die Algemene Sinode net soos ‘n Maarten Luthervan ouds, teen hul kerk se deur vasgespyker het. Hulle het o.m. geskryf: “Ons aanvaar nie die besluit van die Algemene Sinode nie en beskou dit as dwaalleer. Ons roep diegene wat daarvoor gestem het op tot bekering en vra die kerk om die dwaling reg te stel.”
Vriende, ek wil nie vandag oor selfdegeslagverhoudings praat nie. Daarvoor kan julle ons Kerkraad se standpunt daaroor gaan lees. Daar is vandag ‘n baie groter probleem in die kerk en dis daaroor wat ek vanoggend met julle wil praat, en dit is nl. die liberale manier wat baie teoloë en predikante vandag met die Bybel omgaan. Die saak waaroor óns ons vandag báie meer moet bekommer as die gay-kwessie, is die vraag oor Skrifbeskouing–en hoe veral ons kerkleiers dink oor die geïnspireerdheid van die Bybel en Skrifgesag. Want dít is die kanker wat onderliggend aan hierdie besluit van die Sinode lê, en wat behoudende predikante en lidmate vandag met reg bekommerd maak oor die pad wat ons Sinode ingeslaan het. Daarom het ons Kerkraad ook in ons standpunt oor die Sinodebesluit gesê: “Ons is verder ook bekommerd oor ‘n bedenklike Skrifgebruik wat ons kerk binnegesypel het en wat nou onder meer ook neerslag vind in ‘n leerstellige regverdiging van selfdegeslagverhoudings.” Dit bring vir ons dan by die belangrike saak van hierdie gróter probleem, nl. dié van Skrifbeskouing:
Skrifbeskouing: Hoe mense vandag die Bybel lees en verstaan
Vriende, dit is tragies, maar ongelukkig waar dat ‘n toenemende aantal teoloë en predikante die Bybel vandag nie meer as die geïnspireerde Woord van God beskou nie. Een van die sg. Nuwe Hervormers, Prof. Sakkie Spangenberg (hy is gelukkig lankal nie meer in ons kerk nie!), maar ek lees hoedat hy nogal heel insiggewend verduidelik hoedat daar belangrike paradigmaveranderinge in die geskiedenis van die Bybelwetenskappe plaasgevind het:
- Aanvanklik is die Bybel as Die Woord van God beskou. Daarmee is aanvaar dat die Bybel God se Woord is wat onder die leiding van die Heilige Gees deur individuele gelowiges geskryf is. God het Homself so deur sy Woord aan ons geopenbaar.
- Vandag (só sê Sakkie Spangenberg) word die Bybel as woorde oor God bestempel.
- Die Bybel kan nou vryelik as ‘n samestelling van mites en verhaaltjies beskou word, waarvan morele toepassings gemaak kan word en sedelesse afgelei kan word.
Baie dele, soos wonderwerke en selfs Jesus se maagdelike geboorte en natuurlik ook Jesus se opstanding, die bestaan van die duiwel, en so meer, word in hierdie nuwe Skrifbeskouing bevraagteken en selfs deur sommige verwerp. Hartseer soos dit is, kom hierdie opvattings ook al onder sommiges binne die NG Kerk voor.
Ek merk verder dat ons eie kerk in die amptelike stukke waarmee hul nou hul omstrede Sinodebesluit probeer regverdig, nou aanbeveel dat ons die Bybel kultuur-sensitief moet lees. Soos een behoudende Nuwe Testamentikus tereg hieroor opgemerk het, dit beteken eintlik niks anders nie as dat ons nou die Bybel polities-korrek moet lees nie. En die implikasie van só ‘n omgang met die Skrif is natuurlik dat ‘n mens nou enige iets kan ontsondig, of doodgewoon verwerp, waarvan die kultuur of gemeenskap of ‘n bepaalde groep nie van hou nie! M.a.w., die Bybel is nou oop vir verskeie vertolkings, soos wat ons nou ook gesien het met wyse waarop Bybeltekste eenvoudig gemanipuleer en verdraai is om selfdegeslagverhoudings te probeer regverdig.
Vriende, dis nie lekker om sulke goed te hoor nie, maar nou wil ek julle darem vandag ook troos. Want te midde van hierdie nuwe manier van lees en verdagmakery van die Bybel, is daar genadiglik steeds baie behoudende dominees wat hulleself van hierdie humanistiese invloede distansieer en wat steeds die Bybel deur ‘n geloofsbril lees én as die gesaghebbende en onfeilbare Woord van God aanvaar.
Ek wil vervolgens graag op 2 kerngedagtes in hierdie belangrike saak van Skrifbeskouing wys. Die eerste is die goddelike inspirasie van die Bybel en die 2de is die gesag van die Bybel. Kom ons praat net eers oor:
Die goddelike inspirasie van die Bybel
Ons kerk se Skrifbeskouing was nog altyd díe van die Goddelike oorsprong van die Bybel. Die Goddelike inspirasie van die Skrif, m.a.w. dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is. Hierby glo ek, staan die meerderheid van die dominees en lidmate van óns kerk ook nog vandag. Kortom: Vir óns is die Bybel God se Woord. En om hierdie Woord op skrif te stel, het hy mense gebruik, wat Hy deur sy Gees geïnspireer het. En as gevolg van hierdie inspirasie, is hulle geskrifte ‘n volkome betroubare weergawe van die openbaring wat hulle deur die Heilige Gees gehad het. M.a.w. wat húlle neergeskryf het, was die Woord van God.
Dít, liewe vriende, is natuurlik wat die Bybel sélf ook sê. Die Bybel self bevestig sy outentieke karakter op ‘n paar plekke. Ek noem vir ons net ‘n paar van die belangrikstes:
“Die hele Skrif is deur God ingegee…” (2 Tim. 3:16).
“…geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” (2 Pet. 1:21).
“Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar My woorde sal nooit verbygaan nie” (Luk. 21:33).
Vriende, die selfgetuienis van die Skrif is vir ons voldoende. Die Bybel self is vol plekke waar die skrywer sê: “Só sê die Here” of “Die Woord van die Here het tot my gekom…” God gee self sy Wet aan Moses. Die profete tree op as mondstukke van die Here. Die NT haal op verskeie plekke die OT aan as gesaghebbende uitsprake van God. Jesus beskou die Bybelskrywers as die werktuie van die Gees en Hy sê dikwels dat die Gees deur hulle gespreek het. Jesus aanvaar die geskiedenis in die OT as eg. Hy buig self onder die gesag vd Skrif. En Hy sien sy eie optrede as die vervulling van die Skrifte.
Vriende, in die lig van hierdie getuienis, wil ek dit vanoggend hard en duidelik sê: Ons (en dan bedoel ek ware gelowiges) glo nié soos die sg. Nuwe Hervormers en ander liberale teoloë aan die Bybel as bloot woorde oor God nie, nee, ons glo steeds in die Bybel as die heilige, geïnspireerde Woord van God! Maak asb hierdie punt vanoggend baie goed vas en moenie toelaat dat iemand jou ooit anders oortuig nie! Dit bring vir ons by die ander baie belangrike punt oor Skrifbeskouing, nl.
Die gesag van die Bybel
Ons beskou die Bybel as absoluut gesaghebbend, omdat Gód die hoogste gesag beklee en Hy Homself in sy Woord aan ons geopenbaar het.
Van die moderne teoloë beweer egter nou dat net sékere dele van die Bybel gesaghebbend is. Dit is nou volgens hulle dié dele waarin God na húlle mening gepraat het, in teenstelling met ánder dele wat volgens hulle dan net mensewoorde is. Maar vriende, ons mag nooit so met die Bybel omgaan nie! Want daarmee versnipper ons die Bybel en só word Skrifgesag afgetakel, omdat sekere dele nou kwansuis nie meer as geïnspireerd en gesaghebbend beskou kan word nie.
Met hierdie nuwe liberale wyse van Skrifbeskouing kan mense dus nou maar sélf besluit watter dele is vir hulle Woord van God en watter dele is net mensewoorde. En vanselfsprekend kan hulle dan ook self besluit watter dele van die Bybel hulle pas om aan gehoorsaam te wees. Só ‘n omgang met die Skrif, liewe vriende, is ‘n geweldige aantasting van God se Woord en dit raak ‘n onhoudbare situasie. Later weet ons nie meer wát is Woord van God en wat is bloot mensewoorde nie.
Dit behoort vir ons duidelik te wees dat indien ons die absolute gesag van die Bybel wil handhaaf, ons eerstens aan die goddelike inspirasie en absolute betroubaarheid van die héle Bybel sal moet glo. Dit is vir die ware kerk van Jesus ononderhandelbaar en daaraan móét ons ook in die NG Kerk bly vashou!
Vriende, vir die Christen en die Kerk van Jesus staan die gesag van die Bybel voorop – en dit beteken dat die volle spektrum van die lewe ondergeskik is aan die Bybel as gesaghebbende Woord van God. God se wil is in sy Woord bekend gemaak en sonde bly sonde en verander nie soos wat kulture en menslike gedragspatrone en menslike behoeftes verander nie! Daarom moet die Kerk waak en hét die kerk ook deur die eeue heen moes waak teen aanslae op die gesag van die Woord. Daar was maar nog altyd dwaalleraars en ketters wat Skrifgesag aangetas en ondermyn het en dit sal vir seker nog meer toeneem namate die wederkoms naderkom.
Daar was selfs tye in die kerkgeskiedenis, wat die kerkowerhede aangevat moes word en die protesteerders selfs in lewensgevaar verkeer het a.g.v. hulle protes en besware teen dwaalleringe en onbybelse praktyke wat die kerk binnegedring het. Die beste en bekendste voorbeeld in hierdie verband is natuurlik die groot Hervorming vd 16 de eeu – die Protestantse Hervormers wat teen die magtige Rooms-Katolieke Kerk in opstand gekom het, omdat die Roomse Kerk die Skrif aangetas het. Ek het weer so ‘n bietjie hieroor gaan lees en daar is nogal ooreenkomste met die situasie waarin ons ons vandag bevind. Ek wil dit net baie kortliks onder die hofie van Sola Scriptura behandel – een van die bekende slagspreuke van die Reformasie – wat beteken: Alleen die Skrif!
Sola Scriptura
Anders as die Roomse Kerk, het die kerkhervormers, soos Maarten Luther, geglo dat die Bybel die enigste bron van die waarheid is. Rome het in daardie tyd geleer dat die Bybel nie genoegsaam is nie en dat dit deur die pous se uitsprake en ook deur die buite-Bybelse Apokriewe boeke aangevul behoort te word. Die kerkhervormers was baie sterk hierteen gekant en het dan ook teen die Roomse Kerk in opstand gekom, met o.m. die slagspreuk “Sola Scriptura” – Alleen die Skrif! Alleen die Bybel en nié nog al hierdie ander vorme van gesag nie!.
Vriende, vandag besluit ons Alg. Sinode vanuit die kultuur van die mens en die moderne tydsgees, wat is sonde en wat is nie. Ook vir hulle moet ons sê: Sola Scriptura – Alleen die Skrif! Gaan terug na die Bybel!
Verder het die Roomse kerk ook die standpunt gehad dat die Bybel nie vir die gewone mens geskryf is nie en dat gewone lidmate dit dus nie regtig kan reg lees en verstaan nie. Dit moet altyd eers deur die geleerde Kerkleiers gelees en verklaar word.
Vandag voel dit vir my of die Sinode ook vir ons lidmate wil sê: “Nee, julle kan nie die Bybel sommer net so lees nie! Dan gaan julle dit verkeerd verstaan. Dís hoekom julle nog altyd al die tekste oor homoseksuele verhoudings verkeerd verstaan het. Nee, julle het nodig dat óns vir julle ‘n geleerde verklaring oor hierdie tekste moet gee!” Vriende, dit klink vir my al te veel soos die Roomse Kerk wat gesê het dat die Bybel nie vir leke bedoel is nie!
Maar ook hierteen het die hervormers in opstand gekom, en dan was daar ook nog ‘n hele klomp ander ónbybelse gebruike in die Roomse Kerk waarteen hulle in opstand gekom het, alles dwalinge wat die Roomse Kerk binnegesluip het, omdat hulle nie by die suiwer Woord gebly het nie. En daarom was daar destyds ‘n reformasie, ‘n skoonmaakproses in die Kerk nodig! Maarten Luther en sy mede-reformatore wou terugkeer na die waarheid en enigste gesag van die Woord. En dit het Luther uiteindelik beweeg om op 31 Oktober 1517 sy 95 stellings van protes teen die kerkdeur van Wittenberg vas te spyker – wat natuurlik die vonk in die kruitvat was wat die Reformasie begin het en ook tot hewige vervolging van die Protestante aanleiding gegee het.
Ek moet afsluit: Ek sê nie vandag ons moet teen ons kerkleiding in opstand kom nie, maar as gelowiges moet ons nie skroom om vir die Algemene Sinode te sê dat hulle tans op die gevaarlike terrein van die humanisme beweeg en dat hulle moet terugkeer na die geïnspireerdheid en die gesag van die Bybel en gehoorsaamheid aan die Bybel. Ons moet eenvoudig weier om uitsprake en besluite te aanvaar wat strydig is met die Woord van God. Soos ‘n Petrus en Johannes van ouds moet ons ook sê dat ons meer gehoorsaam moet wees aan God as aan mense (Han 4:19).
Wat die pad van die NG Kerk vorentoe is, weet ek nie. Wat ek wel weet is dat ons ook ‘n suiweringsproses in ons kerk nodig het. Vriende, die Here sal ons moet lei en met baie wysheid moet bedien hoe om hierdie suiweringsproses aan te pak en tot eer van sy Naam te bestuur. Daar is op die oomblik 2 baie duidelike uiteenlopende teologiese denkrigtings(strominge) in ons kerk is en soos ek aan die begin gesê het, dit gaan nie in die eerste plek oor gays nie, maar dit gaan veeleerder oor mense se beskouing en verstaan van die Bybel. Ek en ds. Almo en die meeste dominees wat ék ken, staan onwrikbaar by die Bybel as gesaghebbende Woord van God. Daarmee skaar ons ons by al die behoudende Christelike Kerke regoor die wêreld. En daarmee pleit ek ook by elkeen van julle om sáám met ons te bly vashou aan die Bybel as onfeilbare en geïnspireerde Woord van God. Ons moenie huiwer om ons gelowige standpunt oor die Bybel helder en duidelik te stel nie,en ons moet bid en vertrou dat die Here van sy Kerk vir ons die regte toekomspad sal aanwys. Ek sluit vir ons met Paulus se woorde in ons teksgedeelte: “Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die Heilige Skrif…”
Amen
TIaan Boshoff said:
Uitstekend beredeneerd. Dankie vir uiters gebalanseerde siening, wat in liefde die wèrklike probleem van ons kerk identifiseer. Ţiaan Boshoff
Laurens le Roux said:
Vriende is dit dan so moeilik om die boodskap te kry!! 2 Tess. 2:10-12 dwing ons om die verband te sien tussen dit wat ons vandag in die sg. breë geloofsgemeenskap en dan veral die NG Kerk bespeur ñ dwaalgees/ leuengees is wat vaardig geword het, omdat die liefde tot die waarheid verwerp is met die aanvaarding van gekorrupteerde moderne Bybels. Laasgenoemde dan ook hoofsaaklik in diens van Rome. Hierdie is nie sommer ñ storietjie nie!!
Anoniem. said:
Broer kan jy meer lig werp op hierdie stelling asb. en hoe dit inpas by die punt van Ken?
Wat hier volgens my opinie werklik aan die orde van die dag aangaan is hoe sekere mense die Heilige Skrif interpreteer en dus hul ongeloof openbaar.
Wat leer God ons in hierdie Skrif aangaande dwaalleraars- is daar al werk van gemaak?
Hy is mos werklik God- gehoorsaam Sy Woord!
Chavoux Luyt said:
Amen en amen. Dit was van die begin af waaroor dit eintlik gegaan het. Mag die Here ons genadig wees en deur die proses van bekering lei om weer terug te keer na Hom as ons enigste gesag. En mag elkeen van ons ook in hierdie proses gereining word, sowel as die kerk van die Here.
Henrietta Klaasing said:
Prys die Here vir behoudende predikante en kerkraadslede soos hier by Roberson-Oos! Volgens prof Louis Jonker is daar glo van “nuwe hermeneutiese sleutels” gebruik gemaak om by die omkering van die AS2007-besluit uit te kom. Meer inligting hier:
http://www.glodiebybel.co.za/index.php/geloofskwessies-m/56-homoseksualiteit-kat/1101-baie-kort-oorsig-van-sgv-konferensie-te-stellenbosch-2015-11-12.html
Henrietta Klaasing said:
Prof Louis Jonker is van Stellenbosch – waar die hele kuratorium die AS2015-besluit steun:
http://skattegemynuitgodsewoordintsumeb.blogspot.co.za/2015/09/volgens-die-aanvullende-agenda-van-die.html
Jan Louw said:
Baie dankie Ken vir jou bydrae.
Nadat jy uitgewys het wat die omvang van liberale teologie in die kerk is sê jy tog: “Ek sê nie vandag ons moet teen ons kerkleiding in opstand kom nie”.
My vraag is wat is die alternatief? Abraham het vir God gevra om Sodom te spaar as daar net 10 regverdiges in die stad sou wees. Ons probleem vandag is dat daar NIE EEN ENKELE kerkleier of teoloog aan ‘n universiteit is wat tot nog toe standpunt ingeneem het teen die dinge wat in die kerk gebeur nie.Dit is inteendeel die kuratorium van Stellenbosch met al die dosente wat toestemming gevra het om homoseksuele leraars die mark in te stoot. Hulle is ondersteun deur die ander teologiese fakulteite. Al die moderators van die 10 Sinodale streke was teenwoordig by die AS. Ons het nie van een enkele moderator gehoor wat opgestaan het en standpujnt ingeneem het teen die afvalligheid wat dwaalleraars in die kerk wou invoer nie. As dit nie was vir leraars en kerkrade wat van grondvlak af alarm gemaak het nie, het die leierskap toegesien dat die NG Kerk net verder en verder in die verderf in gelei word.
Miskien word ons nog verras, maar op hierdie stadium moet ons die afleiding maak dat die leiers in die kerk hulle respek vir die Here en hulle liefde vir die Waarbeid vaarwel geroep het. Intussen word die dwaalleraars by die teologiese fakulteite in hulle posisies gehou met die dankoffergeld van die lidmate wat die leierskap vertrou.
Ek sien geen ander uitweg as dat die leierskap en die akademici baie reguit van grondvlak aangespreek moet word nie. As hulle nie hoor nie is daar vir my geen ander uitweg as staking van sinodale bydraes of die opsie van dolering nie.
Johannes de Villiers said:
Stem saam Jan! Pas God se voorskrfte toe oor wat Hy in die Heilige Skrif ons leer oor hoe daar teen dwaalleraars opgetree moet word- verwyder hulle!
Cobus said:
Ek stem. Raak onstlae van die dwaalleeraars. Dit lyk asof die gewone lidmaat se stem deesdae vir niks tel nie.
Gerrit Lötter said:
Ek en my gesin het die dag wat die SGV besluit geneem is die NG Kerk verlaat. Die feit is dat die wegdwaal van die Bybel al dekades in die NGK geduld word en nou is die kweekskole onherroeplik Humanisties en produseer ongelowige predikante. Dit sal meer as ‘n “aanspreek” van die akademici en leierskap verg om enigsens ‘n verskil te maak.
Henri du Plessis said:
Inderdaad sê die Woord van die Here dat vals leraars onder die gemeentes verwyder moet word. Hoe vêr terug sal die NG Kerk nie moet gaan om daaraan gehoorsaam te wees nie! Ek sal vir julle bid vir wysheid en dat die leiding van die Heilige gees julle die pad sal wys. Maar bowenal dat lidmate sal ophou om op hul hande te sit en kyf om lepelgvoer te word. Maar julle sal realisties moet wees: die liberale sienings is al diep gewortel. Op die ou einde stof mens maar die skoene af en laat die deur agter jou toeslaan…
Alex said:
Ken Prys die Here! – Mag Hy jou genade gee om te bly vasstaan.
In die agtien honderds was daar ‘n prediker wat ook vasgestaan het en ‘n groot invloed gehad het kragtig deur die Here gebruik is nl. J.C. Ryle. Van sy preke en traktate is saamgevat in ‘n moderne boek met die titel “Churches Beware”. Wat ‘n boek! Ek sal alle predikante aanraai om hierdie boek aan te skaf en te lees – Dis vir hierdie tyd in Suid Afrika uiters relevant. Een van die hoofstukke is “Not corrupting the Word” en handel presies oor hierdie saak van Skrifgesag. Ek het eers ‘n stukkie gelees waar Phil Johnston vir JC Ryle aanhaal en die stukkie het ek in 2012 op ons blog geplaas http://www.nunide.org.za/blog/english/not-corrupting-the-word/
Maar eintlik moet mens die hele hoofstuk en ook die hele boek lees.
Regsinnige predikers, julle moet hierdie boek lees, julle sal geweldig bemoedig , aangespreek en aangevuur word.
“Churches Beware” word uitgegee deur Evangelical Press. Ek sien dit ook op Amazon http://www.amazon.com/Churches-Beware-John-Charles-Ryle/dp/0852344155
Lees ook 15 aanhalings uit hierdie boek hier: https://www.monergism.com/blog/15-key-quotes-jc-ryle%E2%80%99s-%E2%80%9Cwarnings-churches%E2%80%9D
Ek is net bekommerd dat gegewe die huidige toestand van kerke in ons land, ons nie diep genoeg gaan nie, daarom dat die kerk sy invloed op die Suid Afrikaanse samelewing verloor het. en dis waar hierdie boek van JC Ryle en Andrew Murray se boekie “Waarom geen Bekerings” van onskatbare waarde is (daar is ‘n opsomming daarvan op ons blog http://www.nunide.org.za en ook elders op hierdie blog).
Maar my vraag is, selfs waar die waarheid gepreek word – kom dit in soveel krag, vuur, oortuiging dat sondaars werklik tot berouvolle sonde oortuiging kom, selfs met trane en ons werklike Godgewerkte kragtige bekerings sien in ons kerke. Ons het ‘n lae siening van God, daarom ‘n lae siening van Sy woord, daarom ‘n oppervlakkige siening van sonde. Seksuele sonde is ‘n epidemie – huweliks verbrokkeling, saamwonery, homoseksualiteit, pornografie op internet en selfone ens. Wat van hierdie 8 dodelike sondes: Hoogmoed, Woede, Afguns, Wellus, Vraatsug, Gierigheid, Luiheid en dwelm misbruik.
Ek stoei myself met die Here oor my eie sonde maar dis vir my ‘n dodelike erns om alle sonde met ‘n passie te haat en daarmee te breek met die hulp van die Heilige Gees. As herlewing kom al is dit net in enkele gemeentes sal die Liberales spoed verloor en sal hulle invloed so geneutraliseer word dat ons in verbasing sal staan. In die een hand moet ons met die swaard veg maar met die ander hand moet ons bou. Verkondig die hele raad van God aan die gemeente. Le die hele woord van God uit vir die gemeente van Genesis tot Openbaring. Ek was aangenaam verras deur ‘n klompie predikers van paedo baptiste gemeentes wat so gepreek het in die Kerk van Skotland in vanaf 1946 tot so 1997 nl William Still, James en George Philip en ‘n paar ander en hoofsaaklik deur die invloed van Still. (Luister na hierdie drie se boodskappe by http://tapesfromscotland.org/ dis ‘n belewenis) Dit word voortgesit deur sommige predikers in die Free Church of Scotland. Ongelukkig is die Church of Scotland vandag presies waar die NG Kerk nou is.
Net so bietjie useless informasie: Volgens die Barna navorsingsgroep is 84% van groeiende kerke in Skotland, kerke wat uitleg prediking praktiseer. Nou ek se nie dis die enigste regte vorm van prediking nie – Inteendeel dit kan ook koud en intelektueel wees as dit nie gekoppel word met “Logic on Fire” soos Martyn Lloyd Jones dit noem nie. Mense soos John Bunyon en Spurgeon het nie uitleg prediking gedoen nie maar hulle prediking was vol van die Woord van God, heilige vuur en oortuiging en Gees geinspireerd. Ek sien nie sulke prediking in NG Kerke in Pretoria nie.
Christian said:
Ng Kerk Facebook blad geen links word toegelaat nie. Hierstaan ek links is beskikbaar. Awesome. Wie het al die boeke gelees wat Dr James White en Dr Michael Brown geskryf het?
Nico said:
Ek stem saam dat die sinode besluit ‘n simptoom van ‘n baie wyer probleem is. Die pyn in die skouer wat die aandag op ‘n wyd verspreide kanker vestig.
Ek dink die probleem van die ontkenning van die Skrif lê selfs wyer as wat die preek dit voorstel. Daar is ongelukkig baie teoloë en predikante wat met die lippe sê dat hulle die Bybel as God se woord erken en die belydenisskrifte aanvaar, maar wat hulle nie sê nie is dat hulle dit totaal anders interpreteer as wat daar geskryf staan.
In die preek word daar ook gesê dat die Roomse kerk die Bybel ‘aanvul’ met pouslike uitsprake en apokriewe boeke. Die praktyk is dit egter; waar die Bybel van die ander geskrifte verskil, word die ander geskrifte eerder aanvaar as die Bybel.
Die Roomse kerk ontmoedig die gewone lidmaat juis om die Bybel te lees, sodat daar nie allerhande vrae en twispunte moet kom oor die diskrepansie tussen Bybel en Tradisie nie.
Ek het ook al die houding by protestante teoloë opgemerk dat die gewone lidmaat nie regtig die Bybel kan verstaan as jy nie ‘n teoloog of ingelyfde is nie. Self ook dat ‘n stelling in die Bybel onwaar is totdat ‘n ekstrabybelse geskrif of argeologiese fonds dit bevestig. Die tipe houding ontken, tussen die lyne, die inspirasie van die Bybel en die inwoning van die Heilige Gees in die gelowige. Die gelowige lees nie die Bybel alleen nie, die Gees lei jou ook in die waarheid as jy die Woord biddend lees.
Ongelukkig weet ek nie hoe mens van die probleem binne die kerkveband gaan ontslae raak nie. Ring- en sinodesake van dwaalleer het die afgelope paar jaar 100% misluk teen teoloë en predikante wat groteske dwaalleer verkondig (bv ontkenning van die werklike opstanding van Christus uit die dood).
Gemeentes moet baie versigtig wees wie hulle beroep.