BESLUIT EN STANDPUNT VAN DIE NG KERK SWARTKOPSRIVIER OOR SELFGESLAGVERHOUDINGS NOVEMBER 2015

Bybelse liefde is nie ‘n sousie wat sondes toesmeer nie, maar ‘n dinamiese bevrydende genade wat mense uit sondeslawerny bevry.

1. Die Kerkraad het biddend kennis geneem van die besluit van die Algemene Sinode van 2015 oor selfgeslagverhoudings. Die kerkraad neem ook kennis van die besluit van die Algemene Sinode dat Kerkrade die finale diskressie en reg het om hul eie standpunte en praktyke te formuleer en reëlings te tref oor hierdie aangeleentheid. Die Kerkraad bevestig ook die gereformeerde beginsel dat die plaaslike gemeente die bruid van Christus is, wat selfstandig en volwaardig kerk is en in wese die stem van die kerk is. Die Algemene Sinode is juis daar om die welwese van die kerk te dien. Die Kerkraad is egter besorg dat die Algemene Sinode nie meer die kerk op grondvlak verteenwoordig nie. Die gaping is besig om al groter te word.

2. Die Kerkraad onderskryf heelhartig saam met die Algemene Sinode die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind haarself tot die handhawing van die menswaardigheid van alle mense en om met liefde en deernis teenoor alle mense oor alle grense heen op te tree.

3. Die Kerkraad steun die besluite van die Algemene Sinode van 2004, 2007, 2009 , 2013 sowel as 2015 naamlik dat slegs die verbintenis van een man en een vrou volgens die Woord, as ‘n huwelik beskou kan word.

4. Die kerkraad spreek egter sy hartseer uit dat die besluit van die Algemene Sinode van 2015 nie die welwese van die kerk dien nie, maar eerder die kerk baie skade berokken het. Die Algemene Sinode het gefaal om uiteindelik haarself ondubbelsinnig uit te spreek oor of praktiserende homoseksualiteit sondig en in stryd is met die Skrif al dan nie…Hierdie basis siening bepaal immers ‘n hele paar ander besluite wat logies sal vloei uit die antwoord daarop. Die Kerkraad van Swartkopsrivier vind dit hartseer en onaanvaarbaar dat die Algemene Sinode toegelaat het dat die NG Kerk by ‘n punt gekom het dat sommige gemeentes binne haar verband sou kon besluit dis nie sondig nie en ander weer dat dit wel in stryd is met die Skrif. Dit laat haar met die worsteling: Kan ons voor God onsself nog een kerk noem as ons nie eers kan saamstem oor wat lig en wat duisternis is nie?

5. In die lig van die feit dat ons gedwing word om ons eie standpunt in te neem, besluit die Kerkraad van Swartkopsrivier die volgende:

5.1 Die Kerkraad van Swartkopsrivier erken geen ander burgerlike verbintenisse van dieselfde geslag nie, omdat ons daarvan oortuig is dat dit in stryd is met hoe ons die Skrif lees en verstaan. Die Kerkraad van Swartrkopsrivier verwerp dus punt 4 van die Algemene Sinode se besluit om burgerlike verbintenisse van dieselfde geslag te erken en distansieer haarself van die besluit.

5.2 Die Kerkraad glo dat alle seksuele verhoudings buite die huwelik teen God se wil en Woord is. In dié lig is dit vir die Kerkraad onmoontlik om selfgeslagverhoudings in ons gemeente te erken of te bevestig.
5.3 Logies hieruit voortspruitend besluit die Kerkraad dat dit nie moontlik is vir haar om leraars wat in selfgeslagverhoudings is, in ons gemeente te bevestig of die Woord te laat bedien nie. Die Kerkraad van Swartkopsrivier verwerp dus punt 5 van die Algemene Sinode se besluit oor hierdie aangeleentheid en distansieer haarself van die besluit.

6. Terwyl die Kerkraad terdeë bewus is dat enige sodanige uitwys van sonde op ‘n liefdelose en genadelose wyse kan geskied, verwerp die Kerkraad die algemene beskuldiging van groeperinge wat anders oortuig is soos blyk uit heersende retoriek, naamlik dat die uitspraak dat selfdegeslag verhoudings sondig is per se liefdeloos is. Die sentrale konteks van liefde in die Skrif geskied teen die agtergrond van sondaars wat vanweë hul sonde verlore is en dat hul van hul sondes verlos kan word deur Jesus. Bybelse liefde is nie ‘n sousie wat sondes toesmeer nie, maar ‘n dinamiese bevrydende genade wat mense uit sondeslawerny bevry.

7. Die Kerkraad bevestig egter terselfdertyd in die sterkste moontlike taal dat die uitwys van enige sonde met die grootste ootmoed en introspeksie gedoen moet word en dat sy streef dat die genade, verlossing en vergifnis van Jesus in haar gemeente elke dag sal realiseer.

8. Die Kerkraad maan haar lidmate teen selektiewe moraliteit waar een of twee sondes uitgesonder sou kon word terwyl ander sondes in die gemeente onaangespreek gelaat word. In hierdie verband beskou die Kerkraad dit as tragies dat een so ‘n praktyk op die spits gedryf word deur betwyfelbare agendas terwyl baie gemeentes lamgelê of selfs verskeur word deur ander sondes. As enige lidmaat volhard in enige sonde moet so lidmaat in liefde vermaan word soos die Skrif inderdaad leer.

9. Die Kerkraad wil dit duidelik uitstip dat die deure van haar gemeente wyd oopstaan vir enige en alle sondaars.

10. Die Kerkraad bely dat bogenoemde standpunte gebore is uit ‘n opregte worsteling met en soeke na God se wil en ‘n ootmoedige oortuiging dat dit inderdaad is hoe ons die Woord van die Here verstaan.
11. Die Kerkraad besluit ook om ’n beswaarskrif oor bogenoemde aangeleenthede na die Algemene Sinode te stuur.

KERKRAAD NG KERK SWARTKOPSRIVIER