Die algemene Sinode van 2015 dwaal omdat hulle glo dat daar “foute” in die Skrif is – hulle noem uitsprake oor homoseksualiteit in die Bybel “kultuurgebonde, en nie meer vandag van toepassing nie”.
HIermee verwerp hulle ons Gereformeerde belydenis se getuienis oor die Bybel, en laster hulle teen God.
Maar let op: Dit kom nie van gister af nie. Dit is omdat ons kweekskole histories-kritiese eksegese, wat in wese die Goddelike openbaring an die Bybel ontken, al vir jare aan die kweklinge voer. Histories-kritiese eksegese is onverenigbaar met die Bybel se eie interne waarheidsleer, en is dus ongeldig.
Die NG Kerk kan slegs gered word as daar teruggekeer word na ‘n Gereformeerde skrifbeskouing, soos vervat in die Chicago Statement on Inerrancy of Scripture van 1978.
En nee, dit is nie ouderwets en voor-wetenskaplik nie. Baie van die Gereformeerde kerke wêreldwyd wat lewendig is en groei onderskryf dit. (In teenstelling met kerke wat SGV aanvaar en dan onvermydelik tot niet gaan)
(Inleiding hieronder deur Slabbert le Cornu.)
“This (inerrancy/foutloosheid) is not a mere “modern” position. As we have seen, it is the position of Scripture itself. Augustine in the fifth century declared, “None of these (scriptural) authors has erred in any respect of writing.’ Infallibility is affirmed in the Westminster Confession of Faith, Chapter 1 and in the Belgic Confession, Article 7. .. Infallible” is a stronger term than “inerrant.” “Inerrant” means there are no errors; “infallible” means there can be no errors.” – John M. Frame
In die gereformeerde belydenis vind ons die volgende bevestiging van die leer van die onfeilbaarheid/foutloosheid van die Bybel:
“Ons vat die Heilige skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie.” (NGB art.4)
“En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deu 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Psa 62:9 [Ou Vert. Vers 10]). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: “…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is” (1Jo 4:1) en: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie…” (2Jo 1:10).” (NGB artikel 7)
“Vraag 21: Wat is ‘n ware geloof?
Antwoord: ‘n Ware geloof is … ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar ….” (HK Sondag 7)
Om enige misverstand en misbruik van die terme op te klaar, plaas ek in aansluiting by my vorige skrywe, Onfeilbaarheid en Foutloosheid, weer hier die Chicago Verklaring aangaande Bybelse Foutloosheid:
Die Chicago Verklaring
aangaande
Bybelse Foutloosheid*
1. Voorwoord
1.1 Die gesag van die Bybel is ‘n sleutelsaak vir die Christelike Kerk in hierdie en alle tye. Diegene wat geloof in Jesus Christus as Here en Verlosser bely word geroep om die werklikheid van hulle dissipelskap te toon deur God se geskrewe Woord nederig en gelowig te gehoorsaam. Om in geloof of in gedrag van die Skrif af te dwaal is ontrouheid teenoor ons Meester. Herkenning van die totale waarheid en betroubaarheid van die Heilige Skrif is wesentlik vir ‘n volle begrip en genoegsame belydenis van die gesag daarvan.
1.2 Die volgende Verklaring bevestig opnuut hierdie foutloosheid van die Skrif, maak ons verstaan daaroor duidelik, en waarsku teen die ontkenning daarvan. Ons is oortuig daarvan dat om dít te ontken daaraan gelyk is om die getuienis van Jesus Christus en die Heilige Gees ter syde te stel, en om daardie onderwerping aan die aansprake van God se eie Woord, wat die ware Christelike geloof kenmerk, te weier. Ons sien dit as ons tydige plig om hierdie saak te bevestig ten aansien van die huidige afval van die waarheid aangaande foutloosheid onder ons mede-Christene, en misverstand van hierdie leer in die wêreld oor die algemeen.
1.3 Hierdie Verklaring bestaan uit drie dele: ‘n Opsommende Stelling, Artikels van Bevestiging en Ontkenning, en ‘n meegaande Uiteensetting*. Dit was deur die loop van ‘n driedaagse konsultasie in Chicago voorberei. Diegene wat die Opsommende Verklaring en die Artikels onderteken het wens om hul eie oortuiging oor die foutloosheid van die Skrif te bevestig en om mekaar en alle Christene tot groeiende waardering van en begrip vir hierdie leer aan te moedig en op te roep. Ons erken die perke van ‘n dokument wat oor ‘n kort, intensiewe konferensie voorberei was en stel nie voor dat aan hierdie Verklaring die gewig van ‘n belydenisskrif toegeskryf word nie. Tog verbly ons ons in die verdieping van ons oortuigings deur ons gesamentlike besprekings, en ons bid dat die Verklaring wat ons onderteken het, tot die verheerliking van ons God, onderweg na ‘n nuwe reformasie van die Kerk in haar geloof, lewe, en opdrag gebruik mag word.
1.4 Ons bied hierdie Verklaring in ‘n gees van nederigheid en liefde aan, en nie van twis nie, wat ons deur God se genade onderneem om in enige toekomstige gesprek wat hieruit mag voortvloei, te handhaaf. Ons erken blymoedig dat talle wat die foutloosheid van die Skrif ontken die konsekwensies van hierdie ontkenning nie in die res van hul geloof en gedrag vertoon nie, en ons is bewus dat ons wat hierdie leer bely, dit in lewe dikwels ontken deur nie daarin te slaag om ons gedagtes en dade, ons tradisies en gewoontes in ware onderwerping aan die goddelike Woord te bring nie.
1.5 Ons nooi respons op hierdie verklaring van enigeen uit wat rede sien om hierdie bevestigings oor die Skrif, in die lig van die Skrif self, onder wie se onfeilbare gesag ons in ons gesprek staan, te wysig. Vir die getuienis wat ons lewer maak ons op geen persoonlike onfeilbaarheid aanspraak nie, en vir enige hulp wat ons in staat stel om hierdie getuienis van God se Woord te bekragtig, sal ons dankbaar wees.
2. ‘n Kort Verklaring
2.1 God, wat Self Waarheid is en slegs waarheid spreek, het die Heilige Skrif geïnspireer om Homself daardeur aan ‘n verlore mensdom deur Jesus Christus as Skepper en Here, Verlosser en Regter te openbaar. Die Heilige Skrif is God se getuienis aangaande Homself.
2.2 Die Heilige Skrif, God se eie Woord, deur mense wat deur sy Gees voorberei is en onder sy toesig staan geskryf was, het onfeilbare goddelike gesag in alle sake wat dit aanraak: in alles wat dit bevestig moet dit as God se onderwysing geglo word; in alles wat dit eis, moet dit as God se bevel gehoorsaam word; in alles wat dit belowe moet dit as God se waarborg omhels word.
2.3 Die Heilige Gees, die Skrif se goddelike Outeur, waarmerk dit vir ons deur sy innerlike getuienis sowel as om ons verstand te open ten einde die betekenis daarvan te verstaan.
2.4 Dit is geheel en verbaal Godgegewe, die Skrif is in al sy onderwysing sonder fout of gebrek, nie minder in wat dit aangaande God se skeppingsdade, die gebeure van die wêreldgeskiedenis, en sy eie literêre oorsprong stel nie, as in sy getuienis van God se reddende genade in individuele lewens.
2.5 Die gesag van die Skrif word onvermydelik belemmer indien hierdie totaal goddelike foutloosheid op enige wyse beperk of verontagsaam word, òf relatief tot ‘n waarheidsbeskouing, wat met dié van die Bybel in stryd is, gemaak word; en sodanige afval bring ernstige verlies vir beide die individu en die Kerk mee.
3. Artikels van Bevestiging en Ontkenning
Artikel 1
3.1 Ons bevestig dat die Heilige Skrifte as die gesaghebbende Woord van God ontvang moet word.
Ons ontken dat die Skrifte hul gesag van die Kerk, tradisie, of enige ander menslike bron ontvang.
Artikel 2
3.2 Ons bevestig dat die Skrifte die hoogste geskrewe norm is waardeur God gewetens bind, en dat die gesag van die Kerk aan dié van die Skrif onderwerp is.
Ons ontken dat Kerklike geskrifte, vergaderings, of verklarings enige groter of gelykwaardige gesag met die gesag van die Bybel het.
Artikel 3
3.3 Ons bevestig dat die geskrewe Woord in sy geheel openbaring is wat deur God gegee is.
Ons ontken dat die Bybel bloot ‘n getuienis van openbaring is, of slegs openbaring in ontmoeting word, of vir sy geldigheid van die respons van mense afhanklik is.
Artikel 4
3.4 Ons bevestig dat God, wat die mensdom na sy beeld geskape het, taal as ‘n openbaringsmiddel gebruik het.
Ons ontken dat menslike taal so deur ons kreatuurlikheid beperk is dat dit as ‘n middel vir goddelike openbaring ongenoegsaam is. Ons ontken verder dat die verderf van die menslike kultuur en taal deur die sonde God se inspirasie werk verongeluk het.
Artikel 5
3.5 Ons bevestig dat God se openbaring in die Heilige Skrifte progressief was.
Ons ontken dat latere openbaring, wat vroeëre openbaring mag vervul, dít ooit korrigeer of weerspreek. Ons ontken verder dat enige normatiewe openbaring sedert die voltooiing van die Nuwe Testamentiese geskrifte gegee is.
Artikel 6
3.6 Ons bevestig dat die geheel van die Skrif en al die dele daarvan, tot by die juiste woorde van die oorspronklike, deur goddelike inspirasie ingegee was.
Ons ontken dat die inspirasie van die Skrif van die geheel, sonder die dele òf van sommige dele, maar nie die geheel nie, reg bevestig kan word.
Artikel 7
3.7 Ons bevestig dat inspirasie die werk was waarin God met sy Gees deur menslike skrywers sy Woord aan ons gegee het. Die oorsprong van die Skrif is goddelik. Die modus van goddelike inspirasie bly grootliks ‘n misterie.
Ons ontken dat inspirasie tot menslike insig òf tot hoër bewussynstoestande van enige aard verskraal kan word.
Artikel 8
3.8 Ons bevestig dat God in sy inspirasie werk die onderskeidende persoonlikhede en literêre style van die skrywers wat Hy gekies en voorberei het, gebruik het.
Ons ontken dat God hierdie skrywers se persoonlikhede ter syde gestel het deur te veroorsaak dat hulle die juiste woorde gebruik het wat Hy gekies het.
Artikel 9
3.9 Ons bevestig dat inspirasie, hoewel dit nie alwetendheid oordra nie, wel ware en betroubare uitinge, oor alle sake waaroor die Bybel outeurs beweeg was om te skryf en te praat, gewaarborg het.
Ons ontken dat die eindigheid of verdorwenheid van hierdie skrywers, deur noodsaak of andersins, vertekening of valsheid in God se Woord ingebring het.
Artikel 10
3.10 Ons bevestig dat inspirasie, streng gesproke, slegs op die outografiese teks van die Skrifte van toepassing is, wat in die voorbeskikking van God uit beskikbare manuskripte met hoë akkuraatheid vasgestel kan word. Ons bevestig verder dat kopieë en vertalings van die Skrif die Woord van God is in soverre dít die oorspronklike getrou voorstel.
Ons ontken dat enige essensiële element van die Christelike geloof geaffekteer word deur die afwesigheid van die outografieë. Ons ontken verder dat hierdie afwesigheid die aanspraak van Bybelse foutloosheid òf ongeldig òf irrelevant maak.
Artikel 11
3.11 Ons bevestig dat die Skrif, wat deur goddelike inspirasie ingegee was, onfeilbaar is, sodat dit vêr daarvan is om ons te mislei, maar waar en betroubaar is in al die sake wat dit aanspreek.
Ons ontken dat dit vir die Bybel moontlik is om in sy verklarings terselfdertyd onfeilbaar en foutief te wees. Onfeilbaarheid en foutloosheid mag onderskei maar nie geskei word nie.
Artikel 12
3.12 Ons bevestig dat die Skrif in geheel foutloos is, vry van alle valsheid, bedrog, of bedrieglikheid.
Ons ontken dat die Bybelse onfeilbaarheid en foutloosheid tot geestelike, religieuse, of verlossingstemas beperk is, (en) aansprake in die velde van geskiedenis en wetenskap uitsluit. Ons ontken verder dat wetenskaplike hipoteses oor die aarde se geskiedenis na behore gebruik mag word om die onderwysing van die Skrif oor die skepping en die vloed op te hef.
Artikel 13
3.13 Ons bevestig die gepastheid om foutloosheid as ‘n teologiese term, met verwysing na die volledige waaragtigheid van die Skrif, te gebruik.
Ons ontken dat dit toepaslik is om die Skrif volgens standaarde van waarheid en dwaling, wat tot die gebruik en doel daarvan vreemd is, te evalueer. Ons ontken verder dat foutloosheid deur Bybelse gebeure soos: ‘n gebrek aan hedendaagse tegniese presisie; onreëlmatighede van taalleer of spelling; waarnemingsbeskrywings van die natuur; die rapporteer van valshede; die gebruik van hiperbole en geronde getalle; die tematiese rangskikking van stof; verskeie seleksies van stof in parallelle weergawes; òf die gebruik van vrye aanhalings, negeer word.
Artikel 14
3.14 Ons bevestig die eenheid en interne ooreenstemming van die Skrif.
Ons ontken dat beweerde foute en verskille wat nog nie opgelos is nie die waarheidsaansprake van die Bybel vernietig.
Artikel 15
3.15 Ons bevestig dat die foutloosheidsleer in die Bybel se onderwysing oor inspirasie gegrond is.
Ons ontken dat Jesus se leer oor die Skrif, deur beroepe op akkommodasie òf ten aansien van enige natuurlike beperking van sy menslikheid, verwerp mag word.
Artikel 16
3.16 Ons bevestig dat die foutloosheidsleer integraal tot die Kerk se geloof deur die geskiedenis was.
Ons ontken dat foutloosheid ‘n leer is wat deur die Skolastiese Protestantisme uitgevind was òf ‘n reaksionêre posisie is wat in respons op negatiewe hoër kritiek gepostuleer was.
Artikel 17
3.17 Ons bevestig dat die Heilige Gees oor die Skrifte getuig, en gelowiges van die waaragtigheid van God se geskrewe Woord verseker.
Ons ontken dat hierdie getuienis van die Heilige Gees in isolasie van òf teen die Skrif werksaam is.
Artikel 18
3.18 Ons bevestig dat die teks van die Skrif deur grammaties-historiese eksegese geïnterpreteer moet word, met inagneming van die literêre vorme en middels, en dat die Skrif die Skrif moet uitlê.
Ons ontken die wettigheid van enige behandeling van die teks of die soeke na die bron daaragter, wat lei tot: die relativering; onthistorisering; òf die onderwysing daarvan buite rekening laat; óf die aansprake op outeurskap daarvan verwerp.
Artikel 19
3.19 Ons bevestig dat ‘n belydenis van die volle gesag, onfeilbaarheid, en foutloosheid van die Skrif lewensnoodsaaklik vir ‘n gesonde verstaan van die geheel van die Christelike geloof is. Ons bevestig verder dat so ‘n belydenis tot toenemende gelykvormigheid aan die beeld van Christus behoort te lei.
Ons ontken dat só ‘n belydenis vir saligheid noodsaaklik is. Nietemin, ontken ons verder dat foutloosheid, sonder ernstige gevolge vir beide die individu en die Kerk, verwerp kan word.*
* Vertaal deur Hein Satlegger, lidmaat van die Gereformeerde Kerk Belville.
Henrietta Klaasing said:
Hierdie valsheid word al meer as 50 jaar bedryf: http://www.glodiebybel.co.za/index.php/geloofskwessies-m/70-skrifbeskouing-kat/741-op-watter-tak-iets-oor-die-standpunte-rondom-skrifbeskouing-by-die-ng-kerk-gedurende-die-afgelope-50-jaar-2007-12.html
Alex said:
Wynand,
Dankie dat jy hierdie deklerasie hier plaas in Afrikaans. Ek het dit ‘n paar jaar gelede gelees in Engels en ek hou baie van die tweeledige stelling van elke artikel want sommige dwaalleraars sal soms die eerste gedeelte aanvaar maar in die geheim koppel hulle ‘n ander verklaring daaraan as wat ons daaraan sal koppel. Die negatiewe stelling daarby maak dit net soveel duideliker en ondubbelsinnig.
In reaksie op Henrietta se verwysing na Prof Dolf Britz se artikel in Vox Viva van Des 2007 oor “Skrifbeskouing by die NG Kerk – die afgelope 50 jaar” met betrekking tot opleiding in Suid Afrika, wil ek graag ‘n bietjie verder teruggaan in die Geskiedenis en wys op ‘n baie interessante uitkoms.
In 1862 toe Andrew Murray vir die eerste keer as moderator van die NG kerk optree kry hy dadelik te doen met ‘n groep liberale kaapse predikante wat hulle opleiding in Nederland gekry het waar liberale teologie reeds ingesluip het in hulle opleiding in daardie dae bekend as “Hoër kritiek”(Kom van Eichhorn 1752-1827 wat die term vasgelê het – Wellhausen neem dit verder 1844-1918). Onder leiding van ds. J.J. Kotzé was die liberales se taktiek om te probeer om die gemeentes van buite die Kaapkolonie afgeskei te kry van die Kaapse Kerk sodat die liberales die oorhand kon kry in die Kaapse sinode want die kerke buite die kaapkolonie was hoofsaaklik regsinnig. Die voorstel is van die hand gewys maar die liberales (vrysinniges) het die saak na die hooggeregshof geneem en hulle het die saak gewen en so is die stemmetal van die liberales in die sinode bevoordeel.
Die sinode het ds. J.J. Kotzé egter op 21 Oktober 1863 geskors (kerklike Tug) omdat hy geweier het om te preek oor vraag 60 van die Heidelbergse Kategismus, aangesien hy en sy geesverwante die vertolking van die sinode oor die uitdrukking daarin “steeds tot alle boosheid geneig”, met betrekking tot die gelowige nie kon aanvaar nie. Toe hy daaroor ’n kategismuspreek moes lewer (aldus Kotzé), het hy verklaar dat die Kategismus hier dwaal in lyn met sy liberale leermeesters in Holland.
Ds Kotze het weer die saak hoogggeregshof toe geneem en Andrew Murray het self die kerk se verdediging onderneem. In hierdie geding in 1864 sowel as by die appel by die Britse geheime raad, waarin ds. Murray in 1866 in Londen ook namens die kerk opgetree het, is die kerk in die ongelyk gestel en genoodsaak om hom na agt jaar van stryd neer te lê by die uitspraak, ’n uitspraak oor ’n gevaar wat let wel! “homself tog binne enkele jare self sou verteer”, volgens prof. G.B.A. Gerdener.
By sy terugkeer uit die buiteland in Maart 1867 het ds. Murray hom in die stryd teen die liberale standpunt gewerp, In hierdie verband het hy 13 preke gelewer wat daarna onder die titel Het moderne ongeloof: dertien leerredene (Kaapstad, 1868) verskyn het.
Ten spyte van die liberales se verskeie hof oorwinnings het die liberale invloed uiteindelik vir ‘n lang tydperk gekwyn en byna verdwyn deur die kragtige geesvervulde prediking van Andrew Murray en sy invloed op ander predikante. Dit het alreeds begin met sy aankoms in 1860 in Worcester.
Nou, Ons sal altyd te doen hê met valse leraars en dis reg dat ons hulle beveg maar ek is bekommerd dat ons met ‘n baie dieper probleem sit wat ook moet reggestel en aangespreek moet word in die krag van die Heilige Gees voordat die toestand gaan verbeter en dit gaan oor die wereldgesindheid, gebrek aan ware bekerings en gebrek aan geesvervulde prediking in ons hele land. En ek wil nou weer verwys na hierdie tydperk in die geskiedenis.
In 1860 skryf Andrew Murray ‘n boekie “Waarom geen bekerings” en hieronder is my onvolmaakte opsomming van die boekie. Let op dat die geestelike louheid en gebrek aan bekerings word soms voor die deur gelê van Liberale teologie maar hy noem dat die probleem ook gevind word onder regsinnige kerke waar die leer suiwer is (4de punt onder “Die Kwaad”) Elders op hierdie blog onder Alex se getuienis het ek verwys na predikers soos Andrew Murray, Prof Kolie Kotze (Oom Kolie), Ds Danie Steyn, Dr Willie Marais, ens. Al hierdie manne was en is onvolmaak (Ds Danie leef en preek soms nog) en het sekerlik foute gehad maar niemand kan ontken dat die Here hul gebruik het in die bekerings van talle mense. Dink ook aan buitelandse predikers soos John Knox, Whitfield, John Bunyan, Charles Spurgeon, Martin Lloyd Jones – almal manne wat kragtig deur die Here gebruik is in die bekering en karakter bou van tallose mense, en daarom dink ek ons sal goed doen om weer diep na te dink hieroor en nie net op een vlak te veg nie – reformasie moet baie dieper gaan.
Waarom geen Bekerings (Andrew Murray)
1. Die Kwaad
• Selfs in welvarende kerke is bekerings van die ou soort net so onbekend as in afvallige kerke.
• Predikers dra meer kritiek en teologiese probleme op hulle hart as die las van siele soos ons voorvaders dit genoem het (verlore mense sou ons vandag sou sê).
• Ons besef nie die diepte van die kwaad nie. As ons dit nie besef nie sal ons weer allerhande oplossings en metodes aanbied wat weer tot nuwe strydvrae sal lei. Eers as ons die diepte van die probleem verstaan sal ons in magteloosheid na Christus gaan wat alleen die kerk kan teruggee wat sy verloor het.
• Sommige gee liberalisme (hoër kritiek in daardie dae) die skuld maar die probleem word nie net in sulke kerke gevind nie. Dis eerder ‘n gevolg as ‘n oorsaak want dit word ook gevind onder die mees ortodokse en regsinnige evangeliese kerke.
2. Wat die euwel beteken
• ‘n dokter se welslae met ‘n pasient hang af van hoe deeglik hy die siekte diagnoseer, daarom wy hy soveel tyd aan die studie van die simptome.
• Bekeringskrag kom alleen van die groot Geneesheer.
• Christus se grootste roem is om verlorenes te soek en te red (Hand 3:26, 5:31). Dis die doel van Sy dood, opstanding en lewe in Heerlikheid.
• Dit is ook die doel van Sy kerk op aarde se voortbestaan naamlik om dit wat Hy begin doen het te voltooi en daarvoor is die Heilige Gees gegee om Sy dissipels toe te rus met krag om hierdie taak te voltooi
• Bekerings is die uitstaande kenmerk van die kerk na die pinksterfees. (Hand 2:41,47, 4:4, 5:14, 6:7, 8:6, 9:42, 10:44, 11:21,24, 14:1)
• ‘n Kerk gebore uit die Heilige Gees en met prediking in die krag van die Heilige Gees kan bekerings verwag. Tog is dit nie die kenmerk van ons kerke vandag nie. As daar wel bekerings is vind ons dat baie van hierdie bekeerlinge weer terugval. Dus moet ons aflei dat die bemiddelaar by hierdie bekerings die wysheid van mense was en nie die krag van God nie.
• Wat nodig is, is dat die krag van die verhoogde Here om berou te verwek gesien moet word.
• Die skaarste aan bekerings is ‘n waarskuwende stem van God. As hy bekerings sou skenk buite verhouding met die kerk se geestelike bekwaamheid sou Hy haar in haar selftevredenheid sterk en die ontdekking van haar siekte onmoontlik maak.
• Individuele lede moet die las van die hele kerk opneem en dra soos wat Josua gedoen het na die neerlaag by Ai. Josua het gekla by die Here en gevra “Ag Here, wat sal ek sê nadat Israel vir sy vyande die rug gegee het? …Wat sal U dan vir U grote Naam doen ?”(Jos 7:6,8,9) Die Here se antwoord sal ons later sien.
• Die kerk met haar Koning deur God verhoog om bekerings te verseker, erken volmondig die skaarste aan bekerings. Sy faal in die een doel waarvoor sy bestaan.
• Ons het ‘n nuwe hervorming nodig soos vorige hervormings deur Hom gegee is uit die hemel, as antwoord op bekentenis en die geroep van Sy volk.
3. Die Oorsaak
• Die gebrek van die Krag van die Heilige Gees weens ‘n wêreldsgees.
• Daar mag ook meer verborge redes wees wat ons van God moet afbid. (soos by Ai)
• Die nabootsing van die werk van die Heilige Gees terwyl die wêreldsgesindheid voortduur.
• Wat is die kenmerke van ‘n wêreldsgees?
• Ons maak allerhande plannetjies om geld in te samel soos basaars en vermaaklikheid deur gebruik te maak van die laere dryfvere van hoogmoed of wedywer, vertoon of plesier. Dit terwyl die dryfveer vir Christelike vrygewigheid die Liefde vir Christus en siele en getroue rentmeesterskap behoort te wees.
• Ons jaag na rykdom, weelde en plesier en dit lyk nie of ons vir die ewigheid leef nie.
• Gebrek aan heiligheid, liefde, nederigheid en gehoorsaamheid.
• Daar is ‘n gees van die wêreld waar ons dit die minste verwag naamlik in die preekstoel. Dit terwyl die prediker die kanaal van God behoort te wees tot bekering (1Kor 2:1,4,5,12). Die geloof van die hoorders is gegrond op voortreflike menslike wysheid (rede) en is swak en van korte duur. Ons kort geloof gegrond in die krag van God en gewortel in persoonlike ondervinding van die werking van God deur die Heilige Gees. Die woord van God kom na ons deur argument en beroep wat dwaas is vir die natuurlike mens en alleen krag besit as dit besiel is deur die Heilige Gees. Daar is ‘n versoeking vir predikante om te vertrou op hule redeneringskrag en welsprekenheid terwyl die betoning van gees en krag ontbreek. Hoe kan dit dan die wêreldsgesindheid in die kerk blootlê veroordeel en oorwin? Dit is ook prediking wat geen aanduiding gee aan sondaars hoe om die verlosser te vind nie. Predikante word opgelei met moderne wysheid en letterkunde vol wêreldse wysheid maar hulle het nie ‘n goeie boodskap om te verkondig nie en word nie opgelei om bekeringspreke te lewer nie. Hulle spreek hulle gemeente aan asof almal christene is. Preke is voortreflik, vol wysheid en skone toelugting om ‘n aangename gevoel op te wek maar dit kom nie in gees en krag nie (wêreldsgees van wysheid van woorde).
• Predikers preek te min oor die kruis en die kruisiging van die eie ek.
4. Die Geneesmiddel
• Besef ons eenheid met die hele liggaam van Christus en beskou die nood van hierdie liggaam as ons eie nood en dra die las daarvan voor die Here. Bid en soek die geloof om vir die hele kerk, nie net ons eie nie die seën op te eis.
• Oortuiging van en belydenis van sonde. Ons het God verlaat en Hy het ons verlaat. Sonde is die oorsaak vir gebrek aan bekerings. (Jos 7:12). Dit sal die weg baan vir God om een of ander profeet te stuur om sy slapende kerk op te wek en vernedering en skuld erkenning te bewerk.
• Delg dan sonde uit jou lewe uit, in die krag van God. Terwyl jy bid bied jouself aan om die antwoord te ontvang, rond te dra en uit te leef. Bied jouself aan om geleer, aangegryp en deur God gebruik te word om sy kerk wakker te skud. Hy kan ons gebruik om iemand met groter invloed aan te raak.
• Daar mag geen kompromie wees nie. God sal alleen gevind word as Hy met die hele hart gesoek word. Ons moet glo dat die een groot saak waarvoor Christus gesterf het is die bekering van sondaars, Hy wag vir ons om ons eie goedheid, wysheid, wêreldgesindheid en evangelie verharde formaliteit te verlaat en te wag op die krag uit die hoogte. Ons kan nie voor ons vyande standhou alvorens ons die ban uit ons midde verwyder het nie. Dit was God se antwoord aan Josua nadat hy gekla het by God oor die neerlaag teen Ai en hy gevra het “Wat sal U doen vir U grote Naam?” (Josua 7:10,11,13)
Is hierdie punte wat Andrew Murray hier aanstip nie presies die huidige probleem nie. Broeders laat ons sy raad volg en ernstig bid, “die sonde uit ons lewe uitdelg in die krag van God, onsself aanbied om geleer, aangegryp en deur God gebruik te word om sy kerk wakker te skud. Hy kan ons gebruik om iemand met groter invloed aan te raak.” en wie weet soos na 1868 die probleem van liberale teologie vir ‘n lang tyd na die agtergrond beweeg het deur die kragtige prediking van Andrew Murray en baie ander predikers wat deur God in daardie tyd aangeraak is kan dit weer gebeur.
Christian said:
As ek hierdie lees dink ek net aan Jonathan Edwards se preek: Sinners in the hands of an angry God.
Henrietta Klaasing said:
Baie dankie vir jou waardevolle kommentaar Alex, eerstens oor die geskiedenis vóór die periode wat Prof Britz oor geskryf het en dan ook dié oor Andrew Murray se “Waarom geen bekerings”. Ek het ook die kosbare piepklein boekie met die reuse-groot boodskap. Andrew Murray se geskrifte lê my na aan die hart en ek het ‘n hele paar van sy los boekies wat ek deur die jare versamel het en van tyd tot tyd lees (ongelukkig nie die “versamelde werke” nie). Dit is pitkos vir die siel wat ‘n mens staaadig moet lees en kort-kort eers diep oor moet nadink! Met elke herlees ontdek ek nuwe waarhede.
Jozua Marais said:
Dr Willie Marais het gedurende my laerskool-dae my met sy “Ontwaak my Siel”-boekie wakker begin maak (toe ek nog net in rugby, treine en karre belanggestel het) en het my tydens studente-jare by die Pretoria-Oos Gemeente veral geïnspireer met sy duidelik onbevange, profetiese preke.
Erkenning daarom nou ook aan my lieflike oorlede vader en moeder vir die “Ontwaak my Siel”-boekie, wat nou nog in my boekrak staan! My moeder se handgeskrewe boodskap daarna op ‘n stukkie papier in my Bybel, “Soek eers die Koninkryk van God, en al die ander dinge sal vir jou toegevoeg word” (Matt 6:33), bly van my kosbaarste besittings. Sy het my Bybel daarna gegeur met ‘n kaartjie uit die boksie van haar destydse parfuum, “TABU de Dana” . . .
Ds Danie Steyn van Radiokansel was ‘n yster! Hy het nie doekies omgedraai nie en het ‘n “spade” ‘n “spade” genoem. Jy moes (moet!) kies waar jy staan. Ek het nog tientalle (honderde?) preke van Ds Steyn hier op kassette, wat ek DV hoop om nog vorentoe na digitaal te kan omskep. Mag hy leef en preek tot ouderdom 120!
Daar was ander lieflike pastors/dominees ook toe ek destyds nog lidmaat van die NG Kerk was. Hier moet ek veral verwys na Ds Henno Cronjé, wat my by my werk besoek en ondersteun het na my wonderbaarlike ondervinding in my woonstel gedurende September 1973 – toe die HEILIGE GEES soos die koudste, koelste stromende water voelbaar oor my gevloei het, wat ‘n onmiddelike ommekeer in my lewe teweeggebring het. (Ek was daar, het dit persoonlik beleef en niemand sal my nou of later anders kan oortuig nie!)
En dan natuurlik hier uiteindelik in die Kaap, die lieflike Ds Solly Ozrovech. ‘n Geseënde predikant, persoonlike vriend en skrywer wat my oor dekades baie naby aan die HERE gehou het!
Baie dankie, dankie en dankie, HERE my GOD, vir die “rotse” hierbo genoem wat U deur die jare vir my onder my voete gestel het! Daarom kan ek nie anders as om steeds in U – my immer LEWENDE GOD en SKEPPER – te glo nie!
Jozua Marais said:
Vergun my asb om net weereens terug te verwys na Dr Willie Marais se profetiese preke/uitsprake/skrywes destyds. Kies maar self waar julle nou staan:
Alex van der Merwe said:
Ai Christian, ja gee ons weer ‘n Jonathan Edwards! – As ons maar weer so ‘n vrees (en liefde) vir God kan ontwikkel en ‘n vrees vir sonde en ‘n kennis van ons vyand.
Thomas Brooks skryf in 1659 (vry vertaal uit “The silent Soul with Sovereign Antidates”) na aanleiding van 1 Petrus 5:8
Die duiwel is nie ‘n lam nie – maar ‘n leeu.
Nie ‘n slapende leeu nie – maar ‘n brullende leeu.
Nie ‘n stilstaande leeu nie – maar ‘n rondlopende leeu opsoek om te verslind.
Hy is nie tevrede met die prooi wat hy reeds besit nie maar is onrustig in sy voorneme om die hel te vul met veroordeelde siele.
Satan kom nooit kort aan
‘n appel vir ‘n Eva,
of ‘n druiwekorrel vir ‘n Noag,
of ‘n klerevervanging vir ‘n Gehasi,
of ‘n stafie goud vir ‘n Agan,
of ‘n kroon vir ‘n Absalom,
of ‘n sak silwer vir ‘n Judas,
of ‘n wêreld vir ‘n Demas nie.
As jy kyk na een gesêlskap sal jy vind dat Satan sy lekkernye uitdeel volgens elke smaak. By ‘n ander groep sal jy vind dat hy ‘n veter het vir elke skoen en by ‘n derde groep dat hy ‘n kledingstuk het vir elke rug.
Hier met Jael lok hy ‘n arme siel in met melk en vermoor hom met ‘n spyker.
Daar met Joab omhels hy hom met een hand en deursteek hom met die ander.
Hier met Judas, soen hy en verraai. (laat mens dink aan sommige valse profete, liberales in huidige Suid Afrika)
En daar met die hoer van Babilon bied hy ‘n goue beker aan – met gif daarin!
Bly op jou hoede! Kyk uit vir jou groot vyand, die duiwel. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind!. (1 Petrus 5:8)
Alex said:
NG Kerk dominees! ons is honger na die Woord, ons is siek van storietjies en bybel verdagmakery. Gee ons weer die onvervalste woord – die hele Woord http://www.nunide.org.za/blog/english/introduction-the-work-of-the-pastor/
Hier is raad van J.C. Ryle
The instrumentality by which the spiritual reforms of the eighteenth century carried on their operations, was of the simplest description. It was neither more nor less than the old apostolic weapon of preaching.
They preached everywhere. If the pulpit of a parish church was open to them, they gladly availed themselves of it. If it could not be obtained, they were equally ready to preach in a barn.
They preached simply. They rightly concluded that the very first thing to be aimed at in a sermon—was to be understood. They strove to come down to the level of the people, and to speak what the poor could understand.
They preached fervently and directly. They cast aside that dull, cold, heavy, lifeless mode of delivery, which had long made sermons a very proverb for dullness. They proclaimed the words of faith—with faith, and the story of life—with life. They spoke with fiery zeal, like men who were thoroughly persuaded that what they said was true, and that it was of the utmost importance to your eternal interest to hear it
But what was the substance and subject-matter of the preaching which produced such wonderful effect in the eighteenth century?
Lees verder: http://www.nunide.org.za/blog/english/true-preaching/
Alex said:
Net nog ‘n aanhaling uit hierdie stukkie van JC Ryle wat aanhak by hierdie deklerasie oor die foutloosheid van die Bybel
“For one thing, then, the spiritual reformers of the eighteenth century taught constantly the sufficiency and supremacy of Holy Scripture. The Bible, whole and unmutilated, was their sole rule of faith and practice. They accepted all its statements without question or dispute. They knew nothing of any part of Scripture being uninspired. They never flinched from asserting that there can be no error in the Word of God; and that when we cannot understand or reconcile some part of its contents, the fault is in the interpreter and not in the text. In all their preaching they were eminently men of one book. To that book they were content to pin their faith, and by it to stand or fall.”
Henrietta Klaasing said:
John MacArthur het gesê dat ‘n hoë siening van die Skrif saamgaan met ‘n hoë siening van God. Die “godjie” van kerkleiers wat die Skrif só laag ag, sal dan ook maar piepklein wees?
Henrietta Klaasing said:
“Soek en jy sal vind” …. Ek kon onthou dat iemand van ‘n agtersak god gepraat het, en my soektog bring my toe hier by jouself uit, HSE! https://hierstaanek.com/2011/11/27/n-patetiese-klein-agtersak-godjie/
Alex said:
Wat betref my plasing hier van ‘n opsomming van die boekie van Andrew Murray wat ek heelhartig onderskryf wil ek net ‘n ander waarskuwing hier rig wat ons ongelukkig ook in gedagte moet hou in die lig van die huidige dwaling van mistisisme wat weer oplewe in die NG Kerk onder die invloed van die Emerging Church beweging.
Andrew Murray het ongelukkig ook donker kolle gehad in sy teologie. Hy het ‘n noue verbintenis gehad met die Keswick konferensies in Engeland saam met die Kwaker Robert WIlson(een van die stigters). Nou ek wil nie hier ingaan op al die details nie want daar is sommige wat weer te ver gaan in hulle kritiek op Andrew Murray se lering maar al wat ek wil se is dat hy beinvloed is deur ‘n mistikus William Law en die rooms katolieke monnik Bernard van Clairvaux, vandaar die benaming van sy huis in Wellington na Clairvaux. Murray het egter probeer om hierdie sienings te integreer met sy gereformeerde oortuigings en dit het hom redelik in balans gehou. Hier is die oorspronklike lewensgeskiedenis van Andrew Murray deur J du Plessis wat sommige inligting bevat oor hierdie invloede
The Life of Andrew Murray of South Africa – J du Plessis
Ons weet dat uit die invloed van die Keswick Konferensies het die hele leerstelling van heilgmaking as nie ‘n proses nie maar ‘n tweede genadewerk “second blessing” asook ‘n tipe sondelose volmaaktheid ontwikkel en Andrew Murray het hiertoe bygedra. Ek het ook sy boeke gelees en ek weet vir ‘n feit dat hy nie self so ‘n definitiewe belewenis gehad het nie maar getuig het dat hy maar geleidelik gegroei het in heiligmaking. Sommige mense leef op ‘n lae geestelike vlak maar kom later tot diepe sonde oortuiging en lewe dan daarna ‘n baie meer heilige en oorwinnende lewe en bestempel dan die belewenis as ‘n second blessing, algehele oorgawe, vernuwing, noem dit wat jy wil. Dit wil ek nie ontken nie maar ons mag dit nie ‘n vereiste maak vir alle christene nie. Baie groei geleidelik en kom tot dieselfde volwassenheid oor tyd. Nou dit sal te veel plek neem om hier in te gaan op sy presiese siening maar ek wil net waarsku dat die huidige mistisisme wat deur Dr. Willem Nicol bevorder word in die NGK gebruik maak van of Zen Budhistiese of Lectio Divina Roomse tegnieke. Dit is nie om te mediteer en na te dink oor wat jy gelees het in die Woord nie maar eerder om jou gedagtes leeg te maak en oop te wees vir die gees om dan tot jou te spreek los van die Woord – Nou dis ‘n gevaarlike en onbybelse tegniek en enige gees kan dan dinge in jou binneste influister – Ons gedagtes emosies en gees moet alles gereguleer word deur die Woord van God. Die Heilige Gees werk nooit los van die Woord of in opposisie tot die Woord nie. Waarheid moet dus ons wil emosies en gedagtes beheer en nie omgekeerd nie. Nou ek weet van spesifieke NG gemeentes wat nou hierdie mistiek bedryf (vgl Mosaik – Fairlands Johannesburg) en ons weet ook van al die kerse brandery en wat nie alles wat nou die NG kerk oorneem.
Nou ek distansieer my geheel en al van hierdie dwalings en wil daarmee niks te doen he nie en dit kom juis omdat die kerk weg beweeg het of nog nooit moeite gedoen het met Uitleg Prediking (Expository Preaching) nie saam met die redes genoem deur Andrew Murray. Predikante ek spoor u aan om te leer by hierdie prediker van The Church of Scotland (1945-1997) The Work of the Pastor is to Feed His Sheep – William Still Ek het so 4 van hierdie boekies – as iemand belangstel. Daar is ook baie van sy preke beskikbaar by Tapes From Scotland. Hy is hier al ‘n ou man, so luister nie na sy sy “manirisms” nie maar die inhoud van sy preke.
Hier is uitstekende artikels van Gary Gilley oor hierdie mistisisme van die emerging church wat nou ook die NG Kerk teister (bevorder deur Stephan Joubert, Prof Nelis Niemand). The Emerging Church Part 1-3 asook Mystical-youth-ministry
Dit en die liberale teologie is die rede dat ek nou al vir baie jare nie in die NG kerk aanbid nie maar wanneer die Here herlewing stuur en ‘n terugkeer na bybelse uitleg en prediking soos in my vorige pos bepleit sal ons oorweeg om terug te keer of as ‘n nuwe peado baptiste beweging tot stand kan kom wat verstaan wat ons in die vorige pos bepleit.
So my betoog hierbo is juis laat ons ons bekeer van ons wereldsgesindheid en in berou terugkeer na Christus en die Woord en soos die 18 eeuse herformers die Woord na honger skape bring al wil die skape soms nie eers altyd die goeie kos he nie – dit neem tyd!.
hierstaanek said:
Dankie Alex!
Alex said:
Ongelukkig het die skakels in bogenoemde pos weggeval so ek plaas net daardie gedeeltes weer hier indien iemand daarin sou belangstel.
Prediker van The Church of Scotland (1945-1997) The Work of the Pastor is to Feed His Sheep – William Still ( http://www.nunide.org.za/blog/english/the-work-of-the-pastor-is-to-feed-the-sheep) Ek het so 4 van hierdie boekies – as iemand belangstel. Daar is ook baie van sy preke beskikbaar by http://tapesfromscotland.org.
Hier is uitstekende artikels van Gary Gilley oor hierdie mistisisme van die emerging church. The Emerging Church Part 1-3 ( http://www.svchapel.org/resources/articles/21-church-trends/504-the-emerging-church-part-1 ) asook Mystical-youth-ministry ( http://www.svchapel.org/resources/articles/21-church-trends/345-mystical-youth-ministry )
hierstaanek said:
Dankie Alex, waardeer jou moeite!
Henrietta Klaasing said:
Prof Johan Janse van Rensburg het ook ‘n uitstekende boek in Afrikaans geskryf oor die Emergents. Dit lees maklik en vloeiend. Dit begin met die “ware evangelie” in die eerste deel, en in die tweede deel word die dwaling van die EC uitgewys. Dit kom neer op: ” ‘n Ander Jesus, ‘n ander evangelie”. Hieruit is dit duidelik dat die EC se Christologie ‘n dwaalleer is.
Lees meer oor sy boek hier: http://www.glodiebybel.co.za/index.php/boeke-dvds-ens-m/61-boeke-kat/426-jesus-is-die-een-johan-jv-rensburg.html
Alex said:
Dankie Henrietta, sal bietjie kyk daarna.
Wynand, ek sien ek het bietjie droog gemaak met die links – hulle werk nie almal nie en daar is ook ‘n bietjie onnodige html tags wat dit ‘n bietjie lelik laat lyk. Ek wonder of jy dit kan regstel?
EJ van der Walt said:
Absoluut in die kol!
Laurens le Roux said:
Net ter wille van ñ bietjie balans en nugterheid. Die moderne Bybelvertalings [bv. die 1983 Bybelvertaling] kan nie aan die eise van Artikels 14 en 18 hierbo voldoen nie!!
hierstaanek said:
Dan moet ons die 83 vertaling verwerp. (Ek het dit lankal gedoen)
Laurens le Roux said:
Wynand, Jou opmerking is soos “balsem vir my siel”. Dankie.