Verklaring van die Kerkraad van Moreletapark Gemeente oor die Algemene Sinode van 2015 se besluit oor selfdegeslagverhoudings
Die Kerkraad van Moreletapark Gemeente het tydens hul sitting op 29 Oktober 2015 eenstemmig besluit om standpunt in te neem teen die Algemene Sinode van 2015 se besluit oor selfdegeslag verhoudings. Die Kerkraad is oortuig dat hulle besluit, wat in hierdie verklaring opgesom is, die weg aandui wat God vir hulle kom aanwys het.
Die eerste en grootste gebod is dat ons God moet liefhê bo alles en die tweede is dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (vgl. Matt.22:37-39). Daarom verklaar die Kerkraad dat hulle so lief vir God is dat hulle Hom in elke besluit bo alles wil eer deur aan Hom gehoorsaam te wees (vgl. Ps. 119:30-35). Die Bybel is duidelik dat God genadig én regverdig is. Daarom is Hy lief vir alle mense maar keur Hy sonde af, omdat dit ons verhouding met Hom skaad. Alle mense sondig en kan alleen op grond van God se genade vrygespreek en deur geloof sy kinders word (vgl. Rom. 3:23). God se bevel aan sy kinders is dat sonde nie in hulle lewens moet heers nie maar dat hulle moet wegdraai daarvan af en volhardend daarteen moet stry (vgl. Rom. 6:14). Die Kerkraad bevestig daarom dat hulle nooit ‘n besluit sal neem wat enige sonde toelaat of goedkeur nie.
Die Kerkraad het geen begeerte om ‘n enkele sonde uit te lig nie, maar die besluit van die Algemene Sinode dwing hulle egter om in dié geval standpunt in te neem, aangesien geslagsgemeenskap buite die raamwerk van ‘n huwelik tussen een man en een vrou volgens die Bybel, verkeerd is.
Die Kerkraad wil dat die Gemeente se standpunt, sowel as die kerklike proses wat gevolg word om beswaar aan te teken teen die besluit van die Algemene Sinode, ‘n getuienis moet uitdra wat Bybels en Kerkordelik begrond is. Die Gemeente wil in die proses saamwerk om ‘n oplossing te kry waardeur God geëer sal word en die kerk se getuienis na en teenoor alle mense nie sal skade ly nie. As ‘n evangeliese Gemeente, wat die Bybel aanvaar in al die beginsels wat dit leer (Sola Scriptura), wil ons dat ‘n verantwoordelike interpretasie van die Bybel die lig vir die pad vorentoe sal gee.
Die Kerkraad het besluit dat die besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings, nie aanvaar kan word nie op grond daarvan dat dit (inter alia):
1. Die sonde van die beoefening van homoseksuele geslagsgemeenskap ontken.
2. Die beoefening van volhardende sonde in leraars se lewens aanvaar.
3. Die Bybel op ‘n liberale en humanistiese wyse uitgelê word wat in stryd is met die byna 2000 jaar oue hoofstroom Christelike en byna 500 jaar oue gereformeerde uitleg van die Bybel.
4. ‘n Verbintenis, ingesluit die beoefening van die seksuele, buite die konteks van die huwelik erken terwyl die Bybel, sowel as in die besluite van die Algemene Sinode, die huwelik slegs as ‘n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou beskou.
Alhoewel die besluit van die Algemene Sinode die reg aan kerkrade gee om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël, glo die Kerkraad dat hierdie ‘n tyd is waar daar opgestaan moet word teen sake wat van kardinale belang is vir die integriteit van die evangelie en die getuienis van die kerk.
Die Kerkraad sal daarom die volgende proses volg om sy getuienis te laat hoor en die onaanvaarbare dele van die besluit van die Algemene Sinode te laat verander of herroep, nl.:
1. Gesprekke sal met die ring van Elarduspark gevoer word.
2. ‘n Brief sal aan die Diensraad van die Oostelike Sinode gerig word waarin die Gemeente haar distansieër van die besluit van die Algemene Sinode en vra dat ‘n spesiale sitting van die Oostelike Sinode gehou word om standpunt in te neem teen die besluit.
3. Indien die bogenoemde proses onsuksesvol sou wees sal die Gemeente, in die lig van die omstandighede dan, herbesin.
4. Die Gemeente sal ingelig bly en die geleentheid gegee word om deurentyd deel te neem aan die proses.
As leierskap van die gemeente wil ons die gemeente lei om te fokus op dit waarvoor God ons hier op aarde geplaas het naamlik deur saam met mense ‘n pad te stap sodat almal Jesus kan leer ken en in verhouding met Hom kan leef (vgl. Mat 28:19-20). Ons begeerte is dat alle mense die God mag ontmoet wat so lief was vir die wêreld dat Hy sy Seun gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (vgl. Joh. 3:16). Die Gemeente het begrip vir spesifieke uitdagings waarmee mense sukkel maar wil hande vat sodat ons mekaar kan help in ‘n lewe van groei in Christus.
Soli Deo Gloria
Moreletapark Gemeente
3 November 2015
hierstaanek said:
Die vraag is, Ds Dirkie van der Spuy se handtekening is onder aan die Algemene Sinode van 2015 se besluit. Gaan hy homself persoonlik van die besluit distansieer en as assessor bedank?
Somerset (Sommie) Morkel said:
Dit is een aspek wat in die Ope Brief ter sprake gekom het.
Waar pas hy nou in in hierdie prentjie?
Hy moet tog ‘n keuse uitoefen want hy kan nie (mag nie) op twee stoele sit nie.
‘n Ander, verwante, vraag is: Hoe gaan die kerkraad m.b.t.hom optree indien hy voortgaan om op die Moderatuur vd Alg Sinode te dien & derhalwe die ongoddellike besluit vd Alg Sinode help implementeer & verdedig?
Cecil said:
Hier is al soveel wonderlike getuienis gelewer, dat mens kwalik nog iets daarby kan byvoeg. Dit is enersyds verblydend dat daar nog soveel behoudende gemeentes is wat die beginsel van Sola scriptura uitleef maar andersyds kommerwekkend en onbegryplik hoe diegene wat ten gunste van hierdie besluit gestem het, hul Bybel lees nie. Die brief van Juda is baie kort, maar bevat ontsettend baie waarhede. Dan kan mens nie anders om vers 4 uit te lig nie: “Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vasstaan. Alles word vir my egter in die laaste gedeelte van vers 5 saamgevat: ” ..en hulle verwerp ons enige Meester en Here, Jesus Chistus. Aan die gemeentes wat standvastig in die geloof staan kan ons net sê: “Ons bid vir julle”.
Jaco Oberholzer said:
Hi almal, ek het vanoggend met Ds. Dirkie ‘n telefoniese gesprek gehad na aanleiding van die video clip en sy persoonlike houding jeens die besluit. Hy het my om-on-wonde gesê dat teen die AS se besluit is, hy staan 100% agter die verklaring van Moreletapark se bovermelde verklaring. Wat sy “handtekening” aan betref moet ons almal in gedagte hou dat hy die onder voorsitter is van die AS, dit is dus sy plig om binne die raamwerk van die Sinode se werkinge sy taak te verrig. Daar was ‘n stemming en die meerderheid het vir die nuwe rigting gestem, nie teen nie. Die hele proses moet sy gang gaan betreffende strukture van die AS. Die feit dat hy deel was van die betrokke vergadering en sy handtekening, beteken nié dat hy noodwendig saam stem nie.
Ds. Dirkie het my die versekeing gegee dat Moreletapark Gemeente in die proses is om die hele aangeleentheid terug te neem na die AS/liggaam/dagbestuur wat sulke kwessies moet hanteer.
Almal kan dus ontspan oor Ds. Dirkie se standpunt rondom die guy dilemma, soos hy ook tereg opgemerk het, hy was al in die Hooggeregshof waar Moreletapark ‘n gay persoon afgedank het.
Ek wil voorstel dat persone wat iets hieraan wil doen, dit deur hulle gemeentes moet doen met die korrekte kanale. Dit is waarlik ‘n tyd waar mense met ‘n ware verhouding met Jesus op die regte manier die saak moet opneem. Ek het ook van Ds. Dirkie verneem dat die kweekskole ondersoek gaan word itv die lektore se persoonlike oortuigings, of dit ‘n Bybelse of Humanistiese aanslag het.
Jaco Oberholzer said:
Terloops, net op die video clip, Ds. Dirkie se onderhoud van 15min is verkort na net 3min, sy hele posisie word dus nie weerspieël in dit wat algemeen afgelei word nie. En ek noem dit net weer, Ds. Dirkie beleë ‘n bepaalde posisie in die AS met sekere pligte wat hy moet nakom in daai amp. En dit is wat hy gedoen het, of hy nou saam gestem met die uitslag of nie.
hierstaanek said:
Dankie Jaco
My persoonlike opinie is dat as hy nie saamstem met die sinode se besluit nie hy as assessor behoort te bedank.
‘n Soldaat is skuldig aan oorlogsmisdade as hy ‘n immorele bevel uitvoer. Die selfde geld vir Ds Dirkie.
Maar dit is tussen hom en die Here.
Intussen sal ons voortgaan om hom in liefde te vermaan.
Somerset (Sommie) Morkel said:
Die punt is: Hy help nou ‘n vals kerk wat in rebellie teen God is deur blatante sonde goed te praat & selfs in te ‘seen’, te bestuur & die besluit te implimenteer – dit is onvermydellik.
Hy het dus mede-verantwoordelikheid daaraan.
Dit strook klaarblylik nie met sy persoonlike siening nie.
Hy sit dus op twee stoele.
Hy respekteer ‘n sg. ‘demokratiese’ besluit wat TEEN God geneem is & behou daarmee sy amp in die moderatuur.
Dit is dubbelslagtig & dubbelhartig.
Die vraag is, waar is sy lojaliteit: Teenoor Christus Jesus of teenoor die vals kerk.
‘n Opvolgvraag is: Hoe kan mens so iemand vertrou?
Pieter Jacobs said:
Dit is opmerklik dat die nuwe verklaring van Morelette die volgende sin in die vorige verklaring uitlaat: Die gemeente verklaar: Die gemeente se deure staan met die liefde en deernis van Christus oop vir alle mense. Wanneer ‘n persoon egter in enige sonde volhard kan hy/sy nie in ‘n leiersposisie (leraar, personeel, bestuurslid, bedieningsleier of aanbieder) in ons gemeente dien nie.” Almal weet wat Dirkie vd Spuy se huidige standpuntinname is oor die AS se besluit. Gaan die gemeente van Moreletta nou daarmee saam?
Somerset (Sommie) Morkel said:
Dirkie vd Spuy se persoonlike standpunt is dat hy die verklaring van Morelatpark onderskryf.
Dit is klaarblyklik genoegsaam vir Morelatapark se kerkraad (so lyk dit vir my).
Die vraag bly staan:
Hoe kan ‘n man een persoonlike standpunt he & terselfdertyd in ‘n amp dien op die Moderatuur vd Alg Sinode waar hy verplig is om die (sondige, ongoddellike) besluit vd Alg Sinode te verdedig & te help implementeer in die kerksturkture?
Is dit nie duplisities & dualisties & tweeslagtig nie?
Is dit nie meelopery met die duisternis nie?
Kan mens so ‘n man vertrou?
Hoe sal hy bv optree indien ‘n versoek van ‘n homoseksuele egpaar aan hom gerig word om hulle te ‘trou’?
Sal hy hulle wegwys o.g.v. Morelata se standpunt & hulle dan verwys na ‘n gemeentewaar dit aanvaar baar is?
Dit skep ‘n onhoudbare situasie wat nie moreel regverdigbaar is nie & buitendien nie Christus Jesus eer, wie gekruisig is om mense van hulle sonde te verlos, nie om hulle daarin te laat voortleef nie & ‘ruimte’ vir hulle te laat om hul blatante sonde prakties uit te leef nie.
Ek kan my voorstel wat Paulus, Petrus & ander Apostels hieroor te se sou gehad het, as mens glo wat hulle in die Skrif geskryf het.
Kobus van der Merwe said:
As ek mag ‘n stuiwer in die armbeurs gooi.
Ds vd Spuy se verklaring dat sy handtekening kwansuis amptelik is en dat hy ‘n ander opinie huldig (en mag huldig), en dat die twee nie nodig het om saam te lewe nie, is pateties en ongeldig.
Sy ondersteuning van Morelletapark is ook in sy amptelkie hoedanigheid (handtekening) en nie noodwendig sy oortuiging nie.
Die postmoderne gebrek aan logika skiet elke keer die swak verklarings in die niet.
Dan soos HSE dit ook stel, as soldaat hoef jy nie “onbillike” bevele gehoorsaam nie, en as deel van die senior kring moet jy juis onbybelse besluite teen staan en verwerp.
Geen aanvaarbare (Bybelse) verklaring vir Ds vd Spuy se optrede nie.
Pieter Jacobs said:
Op 21 Oktober 2015 antwoord Dirkie vd Spuy op Sommie se brief ewe vroom:Ek verseker jou dat ek hierdie brief na die Here gevat het en Hom vertrou om met my verder hieroor te praat. Dit is ondenkbaar dat die troue Here nie lankal sou gepraat het om die eer van sy Naam te bevestig nie. Die Here se duidelike Nee word verander in Ja en hiermee is Dirkie gerusgestel dat daar nou ‘n groter openheid bestaan vir SGV. As Joshua op sy aangesig voor die Here lê, na Ai sê die Here vir hom op dieselde dag: staan op; waarom tog lê jy op jou aangsig? Israel het gesondig…”Wat volg is tog duidelik ‘n opdrag om met die sonde te handel. “Nogtans, die hegte fundament wat God gelê het, staan vas met die woorde daarop gegraveer: “Die Here ken die wat aan Hom behoort, en “Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid.” (2Tim 2:19) Daar is geen morele gronde vir Dirkie se sit op twee stoele nie. Na my mening raak dit ook sy moderatorskap van die Oostelike Sinode. Ek bid dat hy sy ore sal instem op God se stem.
Kobus van der Merwe said:
Net so.
“Daar is geen morele gronde vir Dirkie se sit op twee stoele nie.”
Pieter Jacobs said:
Ag foeitog! Moreel het te doen met wat goed en reg is. Om te sê “daar is geen morele gronde nie” is om te sê, dit is nie goed nie en dit is nie reg nie, veral in hierdie konteks van vd Spuy se gedrag, om op twee stoele te sit nie. Ek kon ook gesê het daar is geen plek vir tweegat jakhalse in die kerk nie.
Jou “Net so..” bedoeling as sou dit goed en reg wees vir vd Spuy om op twee stoele te sit, sit die pot mis.
Kobus van der Merwe said:
Pieter, miskien sit jy die pot mis.
Ek haal aan vanuit wat jy geplaas het (3de laaste sin) en ek dui aan ek stem saam met die stelling.
Is dit nie jou stelling nie? Indien nie, behoort dit in aanhalingstekens te wees sodat ek nie die stelling aan jou toedig nie.
As dit jou stelling is, het jy dan vergeet daarvan?
As jy nie meer so daaroor voel nie, dan behoort jy die oorspronklike bydare te redigeer na dit wat jy nou voel of ‘n onttrekking maak.
Net om my standpunt te verklaar sonder om van jou woorde te gebruik. Wat ek se : Daar is geen morele gronde vir Ds vd Spuy om op twee stoele te sit nie. Morele gronde dui op wat reg en verkeerd is, dus bestaan daar geen “reg” wat Ds vd Spuy toelaat om op twee stoele te sit nie, aangesien twee stoele dui op twee teenstrydige punte, en die wette van logika (deel van die morele reg en verkeer) laat nie toe dat teenstrydighede gelyk gestel word, of om dit as “dieselfde” (identiteit) te beskou nie -wat daarop dui dat hy ‘n keuse moet maak, of die een, of die ander.
As jy nie so daaroor voel nie, dan verskil ons van mekaar.
Anders is daar ‘n storm in ‘n teelepel.
Pieter Jacobs said:
Kobus, jy en ek stem volledig saam, hy moet ‘n keuse maak: een of die ander. Ek het jou Net so verkeerd gelees. Jammer
juliana said:
100000 % ondersteuning! Ons MOET teen Satan veg al die pad. Om die waardes van die wereld te omhels maak ons arms vas en kan ons nie onse Heer en God dien. Lees net bietjie Romeine 1 vanaf vers 18 – 32.
Jozua said:
Volgens die lewende Woord van GOD (vir my) het Josua verklaar:
“Maar as dit verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.” (Jos 24:15): “Toe antwoord die volk en sê: Dit is ver van ons, dat ons die HERE sou verlaat om ander gode te dien . . .”
Netso lees ons van Elia se geloof:
“En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie.” (1 Kon 18:21). “Roep julle dan die naam van julle god aan, en ék sal die Naam van die HERE aanroep; en die God wat met vuur antwoord, Hy sal God wees. En die hele volk het geantwoord en gesê: Die woord is goed.” (1 Kon 18:24).
“En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elía nader gekom en gesê: HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. “Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat Ú hulle hart tot U laat terugkeer. “Daarop het die vuur van die HERE neergeval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek.” (1 Kon 18:36-38).
“En toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê: Die HERE, Hy is God, die HERE, Hy is God!” (1 Kon 18:39).
“Toe sê Elía vir Agab: Trek op, eet en drink, want hoor, die gedruis van die reën! “En in ’n oogwink was die hemel swart van wolke en wind, en ’n groot reën het gekom . . .” (1 Kon 18:41 & 45).
Geseënde reën – wat ons land en mense tans so nodig het!!
My aanhalings hierbo uit die Ou Testament mag dalk selektief wees, maar is dit nie tog steeds die riglyne vir ons Geloof – duidelik en ondubbelsinnig gestel nie?
Die tyd raak min om te besluit waar ons staan. Om te kies wie of wat ons gaan dien.
Moreoggend mag dalk te laat wees.