Sover hierstaanek kon vasstel is hierdie berig nie elektronies beskbaar nie. Sodra dit beskikbaar word sal ons ‘n skakel pos. Met dank aan Henrietta Klaasing vir die wenk.
AS SINODE GAY-BESLUIT HANDHAAF, GEE NG KERK IN KOKSTAD PAD
– Pieter Steyn Beeld Donderdag 5 November 2015.
Die NG gemeente Kokstad in KwaZulu-Natal gaan geen kompromieë aangaan oor die algemene sinode se besluit oor gays nie. As die algemene sinode nie tot inkeer kom en sy besluit wysig nie gaan ons stap, het ds Petrus Fouché, leraar van die gemeente, Woensdag gesê.
Dit val saam met die besluit van die KwaZulu-Natalse moderamen om die algemene sinode se moderamen te versoek om die besluit uit te stel sodat streeksinodes daaroor kan praat.
Intussen het die Namibiese NG kerk aangekondig dat hy nie onderhewig is aan die algemene sinode se besluit oor gays nie.
Fouché het Woensdag aan Beeld gesê as die kerk ‘n dominee wat ‘n gay lewe lei op die kansel toelaat, mag ‘n dominee wat ‘n alkoholis of pedofiel is die kansel ook bestyg.
“Die algemene sinode het die plig gekry om oor die leer en lewe van predikante en kerkraadslede te waak, om die kerk se leer suiwer te hou. Ons verwerp die nuwe rigting wat die algemene sinode inslaan met die volle hartseer en minagting wat dit verdien.”
Volgens Fouché verval die sola Scriptura-beginsel (net God se Woord is waarheid) deur dié besluit van die algemene sinode.
“Die maagdelike geboorte en ander heilsmomente word ook verdag gemaak en so word die tweed solus, sola Christus, verwerp.
Die algemene sinode se evangelie verkondig nie meer sonde as ‘n breuk tussen God en mens nie, maar as ‘n breuk tussen mens en mens wat herstel moet word. Die uitspraak dat die kerk se leer nou in ooreenstemming met die land se Grondwet is, herbevestig dit. “Hierdeur word sonde verskraal tot sosiale denkstelsels waarin menswaardigheid en aardse geregtigheid met die gepaardgaande restitusie onderling die allerbelangrikste faktore in die evangelie word.”
Fouché sê om weg te breek van die NG Kerkverband, sal die laaste uitweg wees. “Ons sal al die moontlike weë benut, maar sal nie ‘n kompromie aangaan nie.”
Ds Frikkie van der Merwe, moderator van KwaZulu-Natal, sê die streeksinode se moderamen vra dat die besluit uitgestel moet word sodat streeksinodes daaroor kan praat.
“Ons vra vir ‘n kans op streeksinodale vlak om ‘n oop gesprek te hê. Ons wil die pad saam loop.”
Nóg Fouché nóg Van der Mere weet wat die toekoms inhou as die algemene sinode sy besluit nie wysig nie.
“Ons sal dan moet kyk wat ons opsies is,” het Fouché gesê. Ds Pine Pienaar, moderator van die streeksinode in Namibië, sê afgesien daarvan dat die land se wette nie voorsiening maak vir gay-burgerlike verbintenisse nie, het die algemene sinode dit goedgekeur dat dié streek nie onderhewig is aan die gay-besluit nie. “Namibiese predikante gaan gay-paartjies nie in die eg verbind nie en gay proponente gaan nie in die amp georden word nie.
Henrietta Klaasing said:
Met plesier! Dit was onderaan p.4 van die gedrukte Beeld van 5 November 2015.
Somerset (Sommie) Morkel said:
Wat ek nie kan verstaan nie, is hoe hierdie goeie mense dink dat die Algemene Sinode dalk sy besluit sal verander?
Petrus Fouche said:
Hiermee die volle waarheid: dit gaan vir ons oor die gereformeerde wortels wat tans ernstig bedreig word.
Ons, die NG Kerk Kokstad, wil op die duidelikste moontlike manier ons verwerping van die Algemene Sinode se ingesteldheid rondom Skrifgesag en spesifiek die Woord van God, soos vertoon in besluite rondom homoseksualiteit, die bestaan van Satan en bose magte, die maagdelike geboorte van Christus, en dergelike sake en uitsprake, uitspreek.
Ons verwerp die nuwe rigting wat die Algemene Sinode inslaan, met die volle hartseer minagting wat dit verdien. Die rede hiervoor is dat die Algemene Sinode die verantwoordelikheid ontvang het om oor die leer en lewe van predikante en kerkraadslede te waak, om die leer van die kerk suiwer te hou, en dit nie meer kan doen nie.
Voorbeeld: as ʼn dominee wat homoseksueel lewe, op die kansel mag diens doen, mag ʼn dominee wat ʼn alkoholis of pedofiel of verslaafde is, ook nie geweier word nie. Die toepassing van ʼn beginsel trek veel weier as net die voorbeeld wat die Algemene Sinode ter tafel gestel het.
Hoog geagte predikante, soos Ronel Bezuidenhout en André Bartlett in die onlangse media, verwerp reeds die onfeilbaarheid van die Woord van God en praat van die Bybel as woorde oor God. Dit lê op die voetspore van ons professors aan die teologiese fakulteite en word dus reeds aan die opkomende leraars verkondig. So val die eerste Solus, Sola Scriptura.
Die maagdelike geboorte, en ander heilsmomente word ook verdag gemaak en so word die tweede Solus, Solus Christus, verwerp.
Die Algemene Sinode se evangelie verkondig nie meer sonde as ʼn breuk tussen God en mens nie, maar as ʼn breuk tussen mens en mens wat herstel moet word. Die uitspraak: “Nou is die kerk se leer in lyn met die grondwet van die land”, herbevestig dit. Hierdeur word sonde verskraal tot sosiale denksisteme waar menswaardigheid en aardse geregtigheid met die gepaardgaande restitusie onderling die allerbelangrikste faktor in die evangelie word.
Ons as NG Kerk Kokstad herbevestig ons verbintenis aan die Bybel as onfeilbare Woord van God en daarmee saam die ankers van die Reformasie soos bely en verkondig deur die ware kerk van God:
Ons verbind ons opnuut tot die:
Sola Scriptura – Alleen God se Woord is waarheid
Solus Christus – Alleen Christus kan ons met God versoen en ons lewens omkeer
Sola Fide – Alleen deur geloof in Jesus Christus se soenverdienste is daar redding
Sola Gratia – Alleen uit genade word ons weer met God versoen.
Alles lei tot die eer van God: Soli Deo gloria.
Ons glo en bely dat die Woord van God helder en duidelik verduidelik word in die drie Formuliere van Eenheid:
Nederlandse Geloofsbelydenis
Dordtse Leerreëls
Heidelbergse Kategismus
En onderskryf hulle op die Qua standpunt (ons verwerp hiermee die quatenus standpunt)
Faceboekblad: NG Kerk Kokstad
Henrietta Klaasing said:
Baie dankie – dit is NOG sterker as wat daar in die koerant gestaan het!