Ons, die NG Kerk Kokstad, wil op die duidelikste moontlike manier ons verwerping van die Algemene Sinode se ingesteldheid rondom Skrifgesag en spesifiek die Woord van God, soos vertoon in besluite rondom homoseksualiteit, die bestaan van Satan en bose magte, die maagdelike geboorte van Christus, en dergelike sake en uitsprake, uitspreek.
Ons verwerp die nuwe rigting wat die Algemene Sinode inslaan, met die volle hartseer minagting wat dit verdien. Die rede hiervoor is dat die Algemene Sinode die verantwoordelikheid ontvang het om oor die leer en lewe van predikante en kerkraadslede te waak, om die leer van die kerk suiwer te hou, en dit nie meer kan doen nie.
Voorbeeld: as ʼn dominee wat homoseksueel lewe, op die kansel mag diens doen, mag ʼn dominee wat ʼn alkoholis of pedofiel of verslaafde is, ook nie geweier word nie. Die toepassing van ʼn beginsel trek veel weier as net die voorbeeld wat die Algemene Sinode ter tafel gestel het.
Hoog geagte predikante, soos Ronel Bezuidenhout en André Bartlett in die onlangse media, verwerp reeds die onfeilbaarheid van die Woord van God en praat van die Bybel as woorde oor God. Dit lê op die voetspore van ons professors aan die teologiese fakulteite en word dus reeds aan die opkomende leraars verkondig. So val die eerste Solus, Sola Scriptura.
Die maagdelike geboorte, en ander heilsmomente word ook verdag gemaak en so word die tweede Solus, Solus Christus, verwerp.
Die Algemene Sinode se evangelie verkondig nie meer sonde as ʼn breuk tussen God en mens nie, maar as ʼn breuk tussen mens en mens wat herstel moet word. Die uitspraak: “Nou is die kerk se leer in lyn met die grondwet van die land”, herbevestig dit. Hierdeur word sonde verskraal tot sosiale denksisteme waar menswaardigheid en aardse geregtigheid met die gepaardgaande restitusie onderling die allerbelangrikste faktor in die evangelie word.
Ons as NG Kerk Kokstad herbevestig ons verbintenis aan die Bybel as onfeilbare Woord van God en daarmee saam die ankers van die Reformasie soos bely en verkondig deur die ware kerk van God:
Ons verbind ons opnuut tot die:
- Sola Scriptura – Alleen God se Woord is waarheid
- Solus Christus – Alleen Christus kan ons met God versoen en ons lewens omkeer
- Sola Fide – Alleen deur geloof in Jesus Christus se soenverdienste is daar redding
- Sola Gratia – Alleen uit genade word ons weer met God versoen.
- Alles lei tot die eer van God: Soli Deo gloria.
Ons glo en bely dat die Woord van God helder en duidelik verduidelik word in die drie Formuliere van Eenheid: Nederlandse Geloofsbelydenis, Dordtse Leerreëls en Heidelbergse Kategismus. Ons onderskryf hulle op die Qua standpunt (ons verwerp hiermee die quatenus standpunt).”
NG Kerk Kokstad het verder die volgende op hul Facebook blad geplaas:
“Hierdie skrywe is gister aan die Moderamen van die Sinode KZN voorgehou en die Sinode van KZN het hulle herverbind aan die solas en Gereformeerde Belydenisskrifte soos verwoord in die ware Artikel 1 van die Kerkorde. Daar is ook ‘n brief wat na die Algemene Sinode sal gaan om die diep en breë ongelukkigheid in die Sinode van KZN rondom die besluit van eengeslag verhoudinge met redes te verwoord. Dit sal in die Posduif en ‘n ope brief aan gemeentes en lidmate deurgegee word.”
alwynduplessis said:
“Ons verwerp die nuwe rigting wat die Algemene Sinode inslaan, met die volle hartseer minagting wat dit verdien.” Sterk woorde van ‘n gemeenskap van gelowiges. Praat gelowiges op so ‘n wyse met mekaar ?
hierstaanek said:
Jy sou Paulus natuurlik onder die tug geplaas het vir liefdeloosheid?
Galasiers 1: 8 Maar al sou ons of ’n engel uit die hemel julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees!
1 Timoteus 1:19 Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely, 20 onder wie daar is Himenéüs en Alexander, wat ek aan die Satan oorgegee het, sodat hulle kan leer om nie te laster nie.
En wat van Jesus? Miskien sou jy hom self laat kruisig vir sy liefdeloosheid teenoor medegelowiges?
MATTHÉÜS 23:33 Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?
Ryna du Plooy said:
Een van julle, antwoord my net: my seun wat homoseksueel was en gelukkig vermoor is sodat hy nie hierdie berig kon lees nie, is sopas in die galery geplaas met pedofiele, alkoholiste en verslaafdes. ‘n Seun wat op 5 jaar al sy hart vir die Here gegee het, met diepe skuldbelydenis, wat verstaan het wat genade is, maar later in sy lewe vir my moes sê: “Ma, die enigste Christendom wat ek nog kan glo, is dit wat ek in ons huis sien.” By die res het hy veroordeling en verwerping ervaar. Dit wat hy was, waarvan hy bewus geword het as tiener en wat hy nie eens besef het, dat dit ánders was in ander mense nie, dit wat hy was, was sonde. Hy was sonde. Hy het vir berading gegaan, vir sielkundige behandeling, hy het ‘n geestes-wroeging en sielestryd deurgeworstel, maar hy het gay gebly. Hy het nie een oggend opgestaan en besluit ek wil sondig wees, ek wil sonde personifiseer en gay wees nie. As iemand weet watter pad van verwerping en lyding dit is, hoe jy ‘n minderwaardige mens moet wees vir jou lewe, sou niemand dit kies nie. Hy was goed genoeg om hierdie land se beleid oor groen ekonomie en volhoubare energie te skryf, hy was goed genoeg om deur die VSA geïdentifiseer te word as ‘n toekomstuige wêreld-leier in volhoubare energie, hy was goed genoeg om ‘n senior associate van die Universiteit van Cambridge te wees. Hy was goed genoeg vir God, want Hy het gesê Hy sal hom nooit uit sy hand laat val nie – maar ons allerheiligstes, ons sal besluit hy sit saam met die pedofiele en die alkoholiste en die verslaafdes. Antwoord my. Ek wag.
hierstaanek said:
Hallo Ryna
Dankie vir hierdie nota, dit is waar die tekkie die teer slaan. Dit is waaroor dit hier gaan
Jy sê: ” is sopas in die galery geplaas met pedofiele, alkoholiste en verslaafdes”
Jy is reg. Maar die waarheid is dat ons ALMAL in daardie klas deur die Bybel geplaas word. Ons is ALMAL in sonde ontvang en gebore. Ons ALMAL se seksualiteit is deur die sondeval gebreek. Ons ALMAL se seksualiteit is in ons natuurlike staat in rebellie teen God. Ons ALMAL se seksualiteit moet deur God in Christus heel gemaak word deur wedergeboorte en heiligmaking. My heteroseksuele sonde is in geen opsig anders as iemand anders se homoseksuele sonde nie. Die enigste rede waarom daar vandag onderskei word tussen my hetero-sonde en jou seun se homo-sonde is omdat dit so deur die gay politieke agenda gedryf word.
Paulus skryf in Efesiers 2: “1 EN julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes 2waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,
3onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.”
Ons was ALMAL van nature kinders van God se toorn. ONS IS ALMAL “SO GEBORE”
Daar is meer straights wat teen hulle sin nie getroud is nie, ek is een van hulle, van wie God verwag om selibaat te leef en hulle seksualiteit onder Sy gesag te plaas as wat daar gays is van wie God dit verwag.
Jy sê: “Dit wat hy was, waarvan hy bewus geword het as tiener en wat hy nie eens besef het, dat dit ánders was in ander mense nie, dit wat hy was, was sonde. Hy was sonde. Hy het vir berading gegaan, vir sielkundige behandeling, hy het ‘n geestes-wroeging en sielestryd deurgeworstel, maar hy het gay gebly. Hy het nie een oggend opgestaan en besluit ek wil sondig wees, ek wil sonde personifiseer en gay wees nie.”
Dit is presies elke straight mens wat tot bekering kom se ervaring ook. My persoonlike ervaring van my eie seksuele sonde is absoluut, 100% identies hieraan. Vandat ek enkellopend is het ek al vir die Here gebid om my sondige seksdrang weg te neem. Hy het nie. En ek wou weet waarom nie!
Rosaria Butterfield, ‘n Christen eks-lesbiër se antwoord is dit: “The solution for homosexuality is not heterosexuality. It is finding our identity in Christ. Homosexuality is not an experience to by changed by God, it is a sin to be mortified.”
My sondige seksuele drange gaan nie noodwendig weggaan hierdie kant van my verheerliking in die hiernamaals nie. Miskien sal God dit wel doen. Maar Hy verwag van my om daagliks die sonde en my vlees in Christus te kruisig. Gaan lees bietjie Romeine 7 en 8. In Romeine 7 praat Paulus van die sonde wat nog in hom leef, en hy roep uit, “Ek ellendige mens!” Maar dan blaai jy om na Romeine 8 waar hy verklaar, “Daar is dus nou geen veroordeling vir die wat in Christus is nie, vir die wat na die Gees wandel en nie na die vlees nie.”
En dit is seksuele sondaars soos ek, en elke ander Christen, ook gays, se hoop – dat wanneer ons daagliks in Christus wandel ons die sonde in ons daagliks kan kruisig en in oorwinning kan leef. Dit is waarom Paulus Romeine 8 so triomfantlik kan afsluit: “ONS IS MEER AS OORWINNAARS!”
Maar dit gesê
Indien ons sê dat dit wat God sonde noem nie sonde is nie, maak ons God tot leuenaar. Ons kan slegs gered word as ons met God saamstem oor ons sonde en sy vergiffenis vra.
1 Johannes 1:8 AS ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. 9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. 10As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ’n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.
As jy my lief het, moet asseblief nie vir my sê dat my seksuele boesemsonde nie sonde is nie, want slegs as ek dit erken en God se vergiffenis daarvoor vra, kan ek sy genade ook ervaar.
Beatrix Mouton said:
rondom homoseksualiteit, die bestaan van Satan en bose magte, die maagdelike geboorte van Christus, en dergelike sake en uitsprake, uitspreek
EK WAS SOOO MISMOEDIG EN NOU HET EK WEER SOVEEL HOOP – EK BID VANAF MAANDAG – HERE STUUR NET ASB ASB DAPPER MENSE WAT BEREID IS OM DIE WAARHEID TE PRAAT IN DIE OPENBAAR – EN HIER KOM EK AF OP HIERDIE WEBSITE – LOOF DIE HERE.- EK WIL ASB VRA WAT HET DIE SINODE RAKENDE DIE BOGENOEMDE SAKE GESE WAT EK HIER GECOPY HET UIT KOKSTAD SE BRIEF. – Bestaan van satan, maagdelike geboorte ens. Ek het met skok besef dat ons tans nog aan n kerkgenootskap behoort wat se – indien jy die bekerings onderdompelings doop ondergaan het (soos ons die SKRIF verstaan) mag jy nie in n amp in die NGK dien nie – maar jy mag n amp beklee indien jy in ‘n gay verhouding is. Baie seen en ons bid vir oop oe en harte en verseker vir onderskeiding!!
Henrietta Klaasing said:
Kokstad is bereid om DIE PAD TE VAT uit die NGK , so ernstig is hulle! Lees hier: http://henrietta-henriettahelpcom.blogspot.co.za/2015/11/as-sinode-gay-besluit-handhaaf-gee-ng.html
Pingback: Dr Peet Botha: Ope brief aan die NG Kerk insake selfdegeslag verhoudings. | hier staan ek