VERKLARING DEUR DIE UITGEBREIDE RINGSKOMMISSIE* VAN DIE RING VAN LOUIS TRICHARDT: 19 OKTOBER 2015

DIE SONDE VAN DIE AS: DIE INSTELLING VAN NUWE MENSLIKE VERBINTENISSE BUITE DIE HUWELIK VIR GESLAGTELIKE VERKEER.

VERKLARING
1.Die Uitgebreide Ringskommissie van die Ring van Louis Trichardt het op die vyftiende Oktober 2015 die besluite van die Algemene Sinode oor homoseksualiteit en die moontlike aanvaarding van die Belharbelydenis deur streekssinodes verwerp.

2.Die kommissie roep die kerkrade, gemeentes en lidmate van die ring op om hierdie besluite van die Algemene Sinode (voortaan AS) te verwerp.

3.Die kommissie beveel die besluit wat die kerkraad van die gemeente Louis Trichardt aan die kommissie voorgelê het, by kerkrade aan as die standpunt wat teenoor die AS se besluit ingeneem moet word.

4.Die kommissie gee sy ringsgemeentes kennis dat die kommissie dit oorweeg om by die Ring aan te beveel om, indien die Noordelike Sinode deur die instelling van die Sinodale Diensraad, nie die innerlike teenstrydigheid van die besluit van die AS aanspreek en opklaar nie, gemeentes te vra om hulle fondse van die sinode te weerhou.

5. Die AS se standpunt dat kerkrade nou mag besluit dat wat vir een sonde is vir ʼn ander gehoorsaamheid aan die Here is, is kerkregtelik teen die taak en bedoeling van die AS om die gemeenskaplike belang van die NG Kerk te dien.

Die uitgebreide ringskommissie van die Ring van Louis Trichardt wys kerkrade en gemeentes daarop dat die AS met hierdie reëling in effek die sinodale verband van die NG Kerk verbreek het. Die AS het sy taak as vergadering versaak: om die gemeenskaplike belang van die NG te dien.

6.Dit is hierdie kommissie se oortuiging dat hierdie sonde van die AS elke lidmaat en kerklike vergadering voor die uitdaging stel om hierdie gebroke verband te herwin en te handhaaf.

Die kommissie het besluit dat die weg waarin hy die Ring sal lei is om sy sinodale karakter te behou teen hierdie verdelende besluit van die AS. Die eerste handeling om ons verband te behou, is om die AS se besluite te verwerp.

7.Die kommissie wys kerkrade en lidmate daarop dat die AS se sondige besluit lidmate en kerklike vergaderinge in die posisie plaas om aan God meer gehoorsaam te wees as aan die AS se besluite. (Handelinge 4:19 en 20)

Dit is nie ʼn moeilike keuse waarvoor ons geplaas is nie. Veral nie teenoor die AS wat openlik erken dat die AS sy lidmate oor die 40 jaar mislei het deur die sonde van apartheid as gehoorsaamheid aan God vir sy lidmate geregverdig het.

Die AS is maar net weer besig om die nuwe staatbestel Bybels te heilig en te regverdig as God se nuwe bestel vir sy kerk, op dieselfde wyse as wat die AS apartheid met die Bybel probeer regverdig het.

8.Daarom bly die Ring by sy standpunt dat die enigste geloofsoortuiging waaraan gelowiges gebind kan wees is dat homoseksuele verbintenisse sonde is.

* Die Uitgebreide Ringskommissie van die Ring van Louis Trichardt bestaan uit elke gemeente se ringsafgevaardigdes om spoedeisende sake namens al die ringsgemeentes tussen Ringsittings te hanteer.

MOTIVERING:
DIE SONDE VAN DIE ALGEMENE SINODE.

1.1 Deur die besluit oor homoseksualiteit het die AS sonde as liefde geheilig en geregverdig.

1.2 Deur die besluit oor homoseksualiteit, en die aanvaarding van die Belhar belydenis deur streeksinodes, nadat dit deur die meerderheid van die kerkverband verwerp is, het die AS sy taak om uitdrukking te gee aan die NG Kerk se gemeenskaplike identiteit, in terme van Woord, belydenis, kerkorde en beleid, geabdikeer, en sinodes en kerkrade verdeel.

2.Die huwelik is volgens God se Woord die instelling en verbintenis waarin geslagtelike verkeer soos God dit vir die mens bedoel, binne liefde en trou uitgeleef kan word.

Buite die instelling en verbintenis van die huwelik kan geslagtelike verkeer nie nie die liefde en trou van die Woord van God wees nie.

3.Die owerheid in Suid Afrika het naas die huwelik, ander instellings en verbintenisse waarin mense buite die huwelik leef, maar geslagtelike verkeer, gewettig om die manier waarop mense, deur nie te trou nie, regsaanspreeklikheid te probeer
ontduik, ondervang.

Die handhawing van die huwelik naas en saam met ander burgerlike verbintenisse en instellings is ʼn regshandeling van die owerheid.

Hierdie wetlike onderskeid het geen geloofs- of morele grondslag gehad nie. Dit het ten doel om regspleging in howe te orden. Dit is ʼn onderskeid binne die grondwet van die land om die reg van die wet van die land te handhaaf, juis vir mense wat nie in die huwelik glo of deur die huwelik gebind wil wees nie.

4. In die besluit van die AS het hulle hierdie wetlike onderskeid volgens die landswette van die owerheid nou gesanksioneer as ʼn onderskeid volgens die waardes en geloof van die Woord van God.

Daarmee het die AS die nuwe instelling van “burgerlike verbintenis” deur die owerheid as regsinstelling naas die huwelik, geheilig en geregverdig as ʼn Christelike instelling volgens die Woord van God.

5. Hiermee het die AS ʼn nuwe instelling en verbintenis erken as ʼn verband waarin lidmate hulle seksualiteit kan uitleef: burgerlike verbintenisse volgens die owerheid se beskrywing van wat dit sou wees, maar met die “kerklike” kwalifikasie van “liefde en trou.”

Volgens die AS se siening van God se Woord is daar nou twee verbande wees waarbinne mense seksueel trou aan mekaar moet wees:

1.die huwelike én

2.burgerlike verbintenisse

wat al twee nou gekenmerk sou word deur liefde en trou.

6.Vir hierdie nuwe instelling en verbintenis, waarin mense hulle seksualiteit kan uitleef, anders as die huwelik wat God ingestel het tussen man en vrou, is daar net gewoon geen Skriftuurlike gronde nie.

Die AS het ook nie iewers hierdie nuwe instelling naas die huwelik eers as instelling deur God probeer regverdig nie. Die instelling soos deur die owerheid gemaak, was vir hulle net vanselfsprekend en genoegsaam.

Volgens die AS self is daar nou twee soorte instellings:

1.die huwelik wat deur God ingestel is en volgens die AS nog steeds homoseksuele geslagtelik verkeer uitsluit. Volgens die AS kan homoseksuele mense nooit in die instelling van die huwelik leef of wetlik verbind word nie. God sou dit net vir heteroseksuele mense ingestel het.

2. Volgens die AS is die wetlike instelling wat die owerheid gemaak het van burgerlike verbintenisse nou ook ʼn instelling van God. Predikante kan lidmate met God se seën in hierdie burgerlike verbintenisse bevestig.

7.Die AS het met die skep van ʼn alternatiewe instelling en verbintenis vir geslagtelike verkeer teen die Here se wet gesondig.

Die Here het die huwelik ás die band van liefde en trou vir geslagtelik verkeer geskep. Die huwelik ís die trou en liefde waarbinne geslagtelike verkeer geheilig en geregverdig is.

Huwelik en “liefde en trou” is nie twee sake wat van mekaar geskei kan word nie. Die liefde om in ʼn man jou self as “wife” te vind en om in ʼn vrou jouself as “husband” te vind en jou in trou in hierdie band te verbind, ís die ruimte wat God skep vir geslagtelike verkeer.

Die huwelik ís die band van liefde en trou vir seksuele verkeer. Buite hierdie instelling en band, die huwelik, kan geslagtelike verkeer nie ʼn daad van liefde en trou wees volgens God se bedoeling nie.

Die AS het die instelling van die huwelik soos God dit skep en bedoel, verbreek.

Hulle het die huwelik en “liefde en trou” twee verskillende sake gemaak. Hulle het geslagtelike verkeer in liefde en trou iets gemaak wat buite die huwelik in burgerlike verbintenisse, uitgeleef kan word.

Die Here het die huwelik die band van liefde en trou vir geslagtelike verkeer gemaak, net binne híérdie band kan dit ʼn daad van liefde en trou wees.

Die AS het die “huwelik” gedegradeer tot een of ander wetlike verbintenis wat nie insig self die band van liefde en trou vir seksuele verkeer is nie.

Liefde en trou is nou die menslike gesindheid teenoor mekaar en hierdie menslike  gesindheid is die band wat seksuele verkeer heilig en regverdig, nie meer die huwelik nie.

8. Volgens die AS is hierdie besluit van hulle volgens Christelike etiese standaarde. Wat is volgens die AS nou Christelike etiese standaarde op so ʼn wyse dat die kerk nuwe burgerlike verbintenisse kan sanksioneer as ʼn ruimte vir seksualiteit buite die huwelik?

Die eerste is dat hierdie verbintenis ʼn staatsinstelling moet wees. Daarom het die AS die Sinode van Namibië van hierdie besluit vrygestel. Want in Namibië is hierdie verbintenis teen die wet van die land.

Die tweede is dat hierdie verbintenis binne liefde en trou aan mekaar moet wees. Dit is al. Net die gesindheid van liefde en trou aan mekaar.

Derdens moet dit nou deel wees van die nuwe grondwet se menswaardigheid. Die Woord van God maak die mens bekend as beeld van God, gebroke beeld wat nie sy gebrokenheid as sy menswaardigheid kan vier nie, maar as sonde moet bely.

Vierdens het ʼn totaal nuwe waarde vir die geloof deel van die besluit van die AS geword: “wetenskaplikheid”. Die geloofsbelydenis moet in harmonie met “wetenskaplikheid” wees. Volgens hierdie nuwe “waarde” sal ook die maagdelike geboorte van die Here, sy opstanding as mens uit die dood, die wondertekens van die Here en die wedergeboorte van die mens deur die Gees nie aan die nuwe waarde van “wetenskaplikheid” voldoen nie. Sonde is nie wetenskaplike bewese onwaarhede nie. Dit is ʼn geloofsverset teen God se skeppingsbedoeling met die mens.

9.Die vraag is wat het die AS dan alles volgens hierdie besluit geheilig en
geregverdig?

Vir seksuele verkeer moet die volgende “waardes” geld.

1.Dit moet binne die huidige landswette vir burgerlike verbintenisse plaasvind. Daarom is die sinode van Namibië uitgesluit volgens die AS van die AS se eie besluit.

2.Dit moet in die gesíndheid van liefde en trou wees.

3.Dit moet menswaardigheid erken en wetenskaplik wees.

Hiermee het die AS álle burgerlike verbintenisse wat aan hierdie nuwe“waardes” voldoen, geregverdig en geheilig.

Dit sluit heteroseksuele burgerlike verbintenisse en ook poligameburgerlike verbintenisse in.

Die gesindheid van liefde en trou is ook deel van poligame en heteroseksuele burgerlike verbintenisse, net soos die gesindheid van liefde en trou ook deel van homoseksuele verbintenisse is.

Om te sou wou beweer dat die gesindheid van liefde en trou net binne homoseksuele verbintenisse moontlik is, en nie binne hierdie verbintenisse moontlik is nie, is gewoon net ligsinnig.

Hiervolgens het die AS nie net een soort burgerlike verbintenis as Christelik-eties verklaar nie, maar alle burgerlike verbintenisse volgens die wet van die land. Die enigste “kerklike” kwalifikasie is dat dit in die gesindheid van liefde en trou moet wees, wat nou iets ander sou wees as die huwelik self.

Die AS het met hulle besluit álle burgerlike verbintenisse buite die huwelik geheilig en geregverdig as ʼn nuwe ruimte vir mense se seksualiteit. Enige poging om dit anders te wil voorhou sal net eindig in die absurdheid dat hulle dit nie gedoen het nie omdat hulle sê hulle het dit nie gedoen nie.

Menslike waardes is nie relatief op so wyse dat die AS dit “wetenskaplik” op een verbintenis kan van toepassing maak maar ontken dat hierdie selfde waardes nie dan meteens ook op dieselfde wyse op ander verbintenisse van toepassing is nie. Hierdie eensydigheid is teen die “wetenskaplikheid” van die AS.

Dít is die sonde wat die AS gepleeg het, hulle het:

1.Die huwelik as enigste band waarin seksuele verkeer in liefde en trou kan plaasvind, gebreek en

2. naas die huwelik alle ander burgerlike verbintenisse volgens die wet van die land as instellings deur God en volgens sy Woord geheilig en geregverdig vir seksuele verkeer.

DIE ABDIKERING VAN DIE AS VAN SY KERKORDELIKE TAAK.

1.Die taak van die AS word in die kerkorde beskryf as: “43.1.1 Die formulering van die roeping/ leidende beginsels/standpunte in sake van gemeenskaplike belang soos Gereformeerde teologiese oortuigings, Bybels-etiese uitgangsuitpunte en ekklesiologiese verantwoordelikhede en praktyke, wat deur alle kerklike vergaderings kragtens hulle deelname aan die verband gevolg moet word.”

Die AS se taak is om aan die gemeenskaplike identiteit van die NG Kerk uitdrukking te gee deur die gemeenskaplike belang van die NG te dien.

2.Vir die toepassing van die besluit van die AS het hulle die volgende goedgekeur:

“6. Die Algemene Sinode erken die diversiteit van beskouinge oor selfde geslag verbintenisse binne die NG Kerk en bevestig die reg van kerkrade om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël.”

In die pastorale brief is hierdie standpunt as volg gekwalifiseer: “Hierdie is ʼn besluit wat ruimte wil maak, wat gemeentes wil toelaat om vanuit oortuiging en nie onder dwang nie na God se wil te soek.”

3. Die gemeente van een van die opstellers van hierdie pastorale brief het na hierdie besluit van die AS verklaar dat, wat die AS regverdig as “liefde en trou”, is volgens hulle gemeente sonde.

Binne die besluit van die AS beteken dit dat gemeentes nou ʼn eie standpunt kan formuleer dat wat vir een sonde is, ander as liefde kan formuleer.

Verder, gemeentes wat dit as sonde glo, kan die praktyk van tug toepas en reël en ander gemeentes kan dit as gehoorsaamheid aanprys.

4.Hiermee is die NG kerk deur die besluit van die AS kerkregtelik en kerkordelike verdeel in die geloof en die lewe uit die geloof.

Hierdie besluit dien nie die gemeenskaplike identiteit en belang van die NG Kerknie, maar verdeel en verskeur die gemeenskaplike belang van die kerk.

5.Dit het die AS ook met sy besluit oor die Belhar en streeksinodes gedoen. Belydenisvorming was nog altyd die taak van die AS. Nou het die AS weer ʼn besluit geneem waarin sinodes direk van mekaar oor ʼn geloofsbelydenis kan verskil.

Deur hierdie verdeling deel van die NG Kerk se vergaderinge te maak, het die ASsy taak en doel versaak. Die AS kan nie die spesifieke taak wat die grondslag vir die bestaan van die AS is, aan ander kerklike vergaderinge delegeer nie. Veral nie op so wyse dat kerklike vergaderinge nou daaroor verdeeld is nie.

6. Die AS het met hierdie besluit die sinodale verband van die NG Kerk in effek verbreek. Alle kerklike vergaderinge en lidmate wat uit die NG Kerk oor hierdie besluit bedank, sanksioneer die AS in sy versaking van die taak as AS.

Ons staan nie nou voor die uitdaging om hulle besluit te sanksioneer deur self die sinodale verband op te gee of te breek nie. Ons staan nou voor die uitdaging om dit wat die AS in die versaking van sy opdrag verbreek en verdeel het, te herwin en te behou.

7.Die sanksionering van die owerheid se verdeling van huwelik en burgerlike verbintenisse as Christelike instellings, is deel van die drif om weer staatskerk te wees soos van ouds, dit is, om die owerheid se wette en beleid as kerklike wette en waardes, Bybels én “wetenskaplik” te regverdig.

Dit is ironies dat die instelling wat apartheid as Bybels gewettig het om staatskerk te wees, die AS, nou weer die wette van die nuwe owerheid sanksioneer as kerklike waardes.

Dit was juis uit die universiteite wat apartheid as staatsbeleid geïdealiseer was om deur die kerklike “leiers” na die tyd vergeestelik te word. Toe moes die kerklike “leiers” later die lidmate weer van hulle eie maaksel bekeer as sonde. Dit het gebeur eers nadat hulle, hul staatsmag as geestelikes verloor het.

Ons mag nie weer die weg volg om die sonde van die AS nou as liefde te sanksioneer nie. Doen ons dit, sal hulle weer wanneer dit vir hulle geleë is in nuwe politieke magsbedelings, elke lidmaat skuldig hou vir húlle sonde.

Die uitdaging aan die NG Kerk is om nou ʼn vrye geloofsgemeenskap te wees, in een geloofsverband in waarheid aan mekaar gebind, sonder die verdelings en verskeurings van ʼn nuwe staatskerk.

Ons moet ons eenheid in geloofsverband teen hierdie visie om weer staatskerk te wees, herwin en handhaaf. Die vorige staatsbedeling wou nog Christelik wees. Die nuwe is wetlik gekonstitueer om godloos te wees. ʼn Nuwe staatskerk vir ʼn nuwe godlose owerheid en godlose gemeenskap is ʼn godlose kerk. Hierdie kerk is op sand gebou.

Ironies genoeg het hierdie besluit van die AS die NG Kerk nou van alle kerke in Afrika vervreem en geïsoleer – net soos wat die drif vir volkseie kerke die NG Kerk van Afrika vervreem het.

Andre Bartlett het dit triomfantelik in die Sunday Times van 18.10.2015 só aangekondig: “It is the first move of its kind by a mainline church not only in South Africa, but in the whole of Africa.” (bl.18)

Met hierdie besluit staan die NG Kerk binne die Westerse waardestelsel weer téénoor Afrika, net soos met apartheid, en weer binne die meerderwaardige drif dat die NG Kerk Afrika met ʼn Westerse lewenstyl en nou “demokratiese waardes” sal bevry van hulle Afrika-wees.

Die missionale uitreik van die NG Kerk sal Afrika gemeenskappe nou weer net so verskeur soos in die verlede. In die verlede het die NG Kerk die kerk en gemeenskappe in Afrika in hulle sendinge met “volkswaardes” verdeel en verskeur. Nou gaan hulle in hulle nuwe uitreike die kerk en gemeenskappe in Afrika verdeel en verskeur met hulle nuwe “demokratiese waardes” – nie geloofswaardes nie.

In die besluite van die AS oor Belhar en homoseksualiteit is die NG Kerk weer ʼn “magtige” kerk: die kerk van die vrye wetenskaplike Westerse wêreld teen die res
van die wêreld.

Mag Jesus Christus sy kerk in eenheid en waarheid bewaar.