Prof. IA Brink e-pos: direkteur@apk.co.za. 14 Oktober 2015
Die AP Kerk is nie verbaas oor die onlangse besluite van die NG Kerk rakende die erkenning van homoseksuele verhoudings nie. Tog het ons wel met diepe hartseer van die besluite kennis geneem.
Die nuwe besluite van die NG Kerk val nie uit die lug nie. Ons was dit te wagte, gegewe die onbeskaamde en eensydige wyse waarop sekere kerkleiers en media lankal reeds sonder gevolge hul siening gepropageer het. Daar is egter ’n dieper oorsaak as media-kanale wat van bepaalde leiers handige pionne gemaak het. Die NG Kerk se besluite wortel ten diepste in ’n hoogmoedige hantering van die Bybel wat hom nou al dekades lank in sy leersale voltrek. Dit is opvallend dat die onlangse besluite van meet af aan deur die meeste dosente van die NG Kerk se teologiese instellings ondersteun is. Talle sinodale besluite oor die Skrif en sy gesag het oor jare heen ook reeds die vermoede bevestig dat die NG Kerk nie meer onomwonde by die gereformeerde standpunt oor die Skrif as die geïnspireerde, duidelike, genoegsame en onfeilbare Woord van God staan nie. Stemme dat die Bybel nie Woord ván God nie, maar eerder as woorde óór God gesien moet word, het al sterker opgeklink. Die konsekwensies hiervan kon nie uitbly nie en die polities-korrekte besluite oor homoseksuele verhoudings is die bewys daarvan. Dit behoort vir ons elkeen ’n waarskuwing te wees: Wanneer daar nie meer nederige onderwerping aan die Woord van God is nie, verander kerke vanaf termostate wat die temperatuur behoort te reguleer, na termometers wat bloot weergee wat reeds in die kultuur aan die gang is.
Ons treur oor die feit dat ʼn eens gereformeerde kerk die duidelike boodskap van die Skrif oor die seksuele lewe van die mens verlaat het. Ons glo immers op grond van die Skrif die volgende rakende dié saak:
* God het die mens as man en vrou geskep.
* Die huwelik as lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is die enigste ruimte wat God gegee het waarin die seksuele sy van die mens kan gedy.
* Wanneer die Bybel oor homoseksualiteit praat, is dit altyd in negatiewe terme. Die verweer dat die konteks aantoon dat losbandigheid die eintlike groot probleem was, oortuig glad nie. Dit is duidelik dat die homoseksuele dade self veroordeel word.
* Homoseksuele praktyke en homoseksuele verhoudings moet daarom as in stryd met die wil van God afgewys word.
* Mense wat teen homoseksuele gedrag in die krag van Christus worstel en dit nie wil uitleef nie, moet met groot empatie deur die kerk ondersteun en pastoraal begelei word.
Die nuwe besluit plaas die verhouding van die NG Kerk met die AP Kerk op ’n baie gespanne voet, aangesien die evangelie met die besluit in die gedrang kom. Daarom roep ons die NG Kerk op om haar van hierdie heillose weg te bekeer
Prof. IA Brink
DIREKTEUR VAN KERKADMINISTRASIE
Henrietta Klaasing said:
Ek twyfel of die leierskap hulle enigsins sal steur aan wat APK sê – horende doof en siende blind. (Mat 13:13)
jacosteyn2013 said:
Henriëtta. Dis voor die hand liggend dat die NG Kerk toenemend wegbeweeg vanaf ʼn meer letterlike en eng verstaan van die Bybel en nader beweeg aan Sekulêr-Humanistiese norme en waardes. Oorweeg jy dit om die NG Kerk te verlaat en lidmaat te word van die APK, of gaan jy (en ander deelnemers op hierdie webruimte) nog steeds ywerig poog om die NG Kerk van binne te “suiwer”?
jacosteyn2013 said:
Terwyl baie Christene aan die een kant beweer dat alle mense “in sonde ontvang en gebore” is, ontken hulle aan die ander kant wesenlike genetiese oorsake van mense se seksuele voorkeure. Hulle beweer bv. dat alle gay mense “kies” om gay (“sondig”) te wees en dat daar daarom geen oorgeërfde gene is wat hul besluit beïnvloed het nie. Hierdie onwetenskaplike aanname is onafskeidbaar deel van baie Christene geloofstandpunt waarvolgens die aanvaarding van Jesus as jou “persoonlike Verlosser en Saligmaker”, vir jou as gay-persoon sal help om mettertyd af te sien van jou aangebore seksuele oriëntasie. Hoeveel sielkundige probleme het hierdie lagwekkende geloofstandpunt alreeds vir heelwat gay mense veroorsaak? Onwetenskaplike onsin was nog altyd ʼn handige hulpmiddel vir godsdienstige fanatici!
hierstaanek said:
Jy is mislei. Daar is geen genetiese gronde vir sga nie. En as daar was, ons almal se erfsonde is elk geval moontlik geneties. Die hele punt van die Bybel is dat ons natuur sondig is. “Van nature kinders van God se toorn” (Ef 2). Ons almal se seksualiteit is deur erfsonde gebreek. Ons almal se seksualiteit moet deur Christus herstel word. Sga is geensins uniek of anders nie. Om te sê ons erfsonde is God se skuld is godslastering. Om te sê dat iets wat God sê sonde is nie sonde is nie maak God tot leuenaar. Dit is godlaster.
jacosteyn2013 said:
@hierstaanek. Indien jy ʼn Google-soektog sou doen op die woorde “homosexuality and genes”, sal jy heelwat insiggewende artikels teëkom wat oor hierdie onderwerp handel. Ongelukkig het die ontkenning van genetiese faktore ʼn wesenlike bydrae gelewer tot die aanvaarding van skadelike ideologieë soos bv. die gelykheidsdogma wat veral in Suid-Afrika gebruik is as regverdiging vir die inwerkingstelling van ʼn een-mens-een-stem eenheidstaat. Die stelling dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is en dat “ons almal gelyk gebore is in die oë van God”, is die twee grootste leuens wat veral die afgelope drie dekades in hierdie land gepropageer is deur magsugtige opportuniste.
Jou bewering dat God nié verantwoordelik is vir mense se erfsonde nie, is ongelukkig nié logies konsekwent met die geloof in ʼn Alwyse en Almagtige Persoonlike God nie. Lees gerus my artikel, “Eienskappe van die Persoonlike God van die Abrahamitiese godsdienste”, in verband hiermee.
hierstaanek said:
Jaco, indien jy werklik belangstel in die genetiese studies oor SGA, lees hierdie boek:
http://www.mygenes.co.nz/download.htm
Die feit is dat alle sonde, insluitend SGA, volgens die Bybel aangebore is. Daarom sê God in die Bybel ons is “van nature” kinders van sy oordeel. (Ef. 2)
Maar ek twyfel of jy dit sal glo, tensy jy werklik bereid is om jou self onder die gesag van die Bybel te plaas.
jacosteyn2013 said:
Ek is bevrees daar’s ʼn groter kans dat die NG Kerk sal weerstand bied teen die korrupte ANC-regering, as wat ek myself ooit onder die “gesag van die Bybel” sal plaas!
hierstaanek said:
As jy jouself nie onder die gesag van die Bybel plaas nie is jy verlore. Dan het ons regtig nie veel vir mekaar te sê nie. Die vraag is, waarom hou jy jouself dan op met webwerwe soos hierdie en waarom stel jy belang wat in die NGK aangaan?
Jy het tog geen belang by hierdie gesprek nie?
jacosteyn2013 said:
@hierstaanek. Christelike dogmas het nog steeds ʼn geweldige invloed op die denke en dade van baie van my naasbestaandes en familielede. Dit het nog altyd ʼn wesenlike invloed gehad op hul verhouding met my. Omdat die meeste Suid-Afrikaners hulself as Christene beskou, het dit nog boonop ʼn oorheersende negatiewe invloed gehad op die verloop van gebeure in hierdie land die afgelope meer as twee dekades. Daar is baie ánder nie-Christene wat dit ook besef en wat daarom óók poog om mense in te lig oor die verband tussen godsdienstige oortuigings en (gelowige en ongelowige!) mense se lewenskwaliteite.