Partykeer kry mens kommentaar op blogposte wat nie in twitterformaat geantwoord kan word nie. Hierdie kommentaar van André val in die kategorie. Ek skryf ‘n langerige geselsbrief vir hom terug, as jy net twitterformaat lees of kan internaliseer, steek maar verby 😉

André skryf

Ek sal nog ‘n keer probeer. Net ‘n paar opmerkings oor wat ek ervaar in u skrywes.
1. Ek ervaar dat u in u redenasies nie ruimte laat vir ‘n “en” nie, maar dat dit vir u “of” is. U kan nie insien dat die lewe uit vreemde paradokse bestaan waar daar dikwels ruimte is vir twee teenpole om saam te bestaan nie. U kies vir een of die ander. Die lewe is kompleks en kan nie met eendimensionele redenasies verstaan word nie.
Ek dink daar is persone in die Bybel wat reeds iets hiervan verstaan het, maar dit bly vir sommige lesers van die Bybel steeds ontwyk om dit raak te sien. Jesus gebruik bv nie die wet op ‘n eendimensionele manier nie. Hy interpreteer die wet telkens. Daarom genees Hy mense op die Sabbat, en kry Hy dit reg om mense te laat wegstap van ‘n vrou wat owerspel gepleeg het sonder dat hulle haar stenig. (Hy verskraal nie die wet of ignoreer dit nie; Hy interpreteer dit.)
2. U kies vir u bronne teenoor ander. U kies vir bronne van 1000 jaar gelede as gesaghebbend en laat nie ruimte vir nuwere insigte wat ontdek en ontwikkel is deur nuwe inligting nie. U kan tog nie ontken dat nuwe inligting wat deur wetenskaplike navorsing na vore kom bruikbaar is nie? Waarom kan ons dit gebruik in alle dele van ons samelewing (ons ry in beter voertuie, ons het beter medisyne, ons het ‘n groter begrip van die natuur, ens) om ons lewe te verbeter, maar mag ons dit nie gebruik om mense beter te verstaan nie? U noem die wetenskap onbetroubaar, maar dit is tog baie meer betroubaar as die subjektiewe menings van mense? Selfs wanneer mense oor God praat moet ons in ag neem dat dit GELOOFSuitsprake is. Dit is ‘n ander soort waarheid as wetenskap, maar dit maak nie een van die twee ongeldig nie, na my mening. Dit is een van die paradokse waarvan ek voorheen gepraat het.
3. Ek is nie seker wat u verstaan onder die Bybel wat “onfeilbaar en foutloos” is nie. Dit op sigself kan die grootste rede wees waarom ons mekaar kan misverstaan. As ons erkentlik is en se dat die Bybel ‘n geinterpreteerde boodskap na ons bring, dan sal ons beter vaar in die gesprek. As ons egter reken dat dit op so ‘n wyse geinspireer is dat dit geen ruimte laat vir menslike inset nie, dan beweeg ons op dun ys. Ons uitdaging in die hermeneutiek le juis daarin dat ons moet onderskei tussen die wil van God en die wil van die mense, die “mening” van God en die menings van mense in die Bybel, die bedoeling van God versus die toepassing deur mense (reeds in die Bybel, want dit is dikwels een van die grootste verskille tussen Jesus en die skrifgeleerdes).

Ek sal die vrae na die beste van my vermoë beantwoord

1) Oor die “en” en die paradokse: Hierdie is die standaard postmoderne wêreldbeeld. Dit is onbekend aan die Bybel en was onbekend in die Chrsitelike kerk vir 17 eeue. Jy sien André, as jy ‘n boek wil interpreteer moet jy dit volgens daardie boek se eie interne epistemologie interpreteer. Ons praat van genre, die interne wet in tekste waarvolgens ons tekste interpreteer. As ek Shakespeare se “Let me not to the marriage of true minds” interpreteer soos ek ‘n padkaart interpreteer gaan ek woes verlore raak. Net soos genre ‘n teks se interne wet is waarvolgens daardie teks interpreteer moet word is ‘n teks se eie epistemologie ook ‘n interne wet in daardie teks waarvolgens die teks interpreteer moet word.

Om die Bybel uit ‘n post moderne epistemologie te benader is dus om geweld teen die teks te pleeg. Die Bybel laat nie postmoderne dekonstruksie van sy teks toe nie. Dit is so eenvoudig soos dit. Deur die Bybel te dekonstrueer hanteer mense dit soos iemand wat Shakespeare probeer gebruik as ‘n padkaart. Postmoderniste skree altyd “Kyk na die konteks!” maar hulle laat na, en ek dink dit is intelektueel onaanvaarbaar, om die teks se eie epistemologie as deel van die konteks te aanvaar.

So wat is die epistemologie van die Bybel?

  • Jesus is as die perfekte openbaring  God, die Waarheid.
  • Alle waarheid kom van God.
  • Omdat waarheid ‘n attribuut van God is, is dit objektief en onafhanklik van die respondent.
  • Die Bybel bevestig dus die een wet van logika wat logiese denke enigsins moontlik maak: Die wet van nie-kontradiksie, A kan nie A en nie-A op die selfde tyd en in die selfde verhouding wees nie.
  • Die mens is met perfekte kennis (let wel, nie volledige kennis nie) van die waarheid geskep.
  • Die sondeval het hierdie kennis van die waarheid vernietig.
  • God is almagtig, dus kan Hy met sondige mense kommunikeer.
  • God is Vader, daarom wil Hy met sondige mense kommunikeer.
  • Om te ontken dat die Bybel foutloos en onfeilbaar is, is dus om te beweer dat God nie almagtig en Vader is nie.
  • As gevolg van ons sondige natuur kan, en inderdaad wil, ons nie die Bybel verstaan nie. Slegs as die Heilige Gees ons wederbaar en ewendig maak, kan ons die evangelie verstaan.

Jy sien, André, jou “en” en paradokse, so mooi en slim soos dit klink, is eenvoudig ‘n ontkenning van God se natuur, omdat dit ontken dat waarheid ‘n attribuut van God is en daarom onveranderd is.

Maar wat dan van die paradokse in die Bybel? Wat van die Drie Eenheid? Wat van die twee nature van Christus? Die antwoord op hierdie vraag is maklik. God is oneindig, en alhoewel ons ware kennis van God, sowel as ware insig in God, kan hê (Omdat Hy ons taal en kognisie geskep het om met Hom te kan kommunikeer) kan ons as eindige skepsels nooit volledige kennis van of volledige insig in God hê nie. Die paradokse van die evangelie is skynbare paradokse wat ons in geloof aanvaar.

Wat van die paradoks tussen God se genade en Sy haat en woede teen die sonde? Hierdie is geen paradoks nie. Die Bybel leer ons in Jesaja 53 dat dat dit God behaag het om sy Seun te verbrysel. Vir ons sonde. Maar ek weet postmoderniste ontken hiérdie transaksie (bv Julian Muller en sy akoliete), dus moét hulle dit sien as ‘n paradoks.

Jy noem Jesus se “interpretasie” van die wette ‘n paradoks (Of jy plaas dit in die kategorie van “enne”). Nee. Jesus het gesê alle wette in die Bybel spruit uit twee grondwette, liefde tot God en liefde tot die naaste. Dit is soos wiskundige bewyse: Jy begin met aksiome en lei ander wette af van daardie aksiome. In God se wetboek is die wet van liefde tot God die aksioom – selfs die liefde tot die naaste is daarvan afgelei. Indien mens dus enige wet “onderhou” sonder om die aksioom te onderhou, dan onderhou jy glad nie die wet nie. Jy gee die voorbeeld van die owerspelige vrou. Jesus sê “Ek veroordeel jou nie.” Dit lyk of Hy die wet van liefde tot God verbreek. Het God dan nie beveel sy moet gestenig word nie? Maar Jesus het ook gesê, “Ek het gekom om my lewe te gee as losprys vir baie.” Hy het self die wet van liefde tot God vir haar, in haar plek, volbring. Daarom kon hy die wet van die liefde tot die naaste uitleef: “Ek veroordeel jou nie, gaan en moenie verder sondig nie.”

Dit is hierdie “Gaan en moenie verder sondig nie”, wat die absolute, haatlike liefdeloosheid van mense wat sê sgv is nie sonde nie ontbloot. As jy iemand lief het wys jy hom op sy sonde sodat hy God se genade kan ontvang. En jy sê “Gaan en moenie verder sonde doen nie”. Hoe durf mense beweer hulle het sondaars lief as hulle hulle verbied om te erken dat hulle sonde doen, en so hulle God se genade ontneem? Verskoon my, maar ek word fisies naar by die leuen van #liefdeisliefde wat beweer mens kan waarlik liefhê in rebellie teen God. Mense gaan verlore!!!!

Is ‘n Bybelse wêreldbeeld genoeg om die lewe te verstaan? Die feit is, dat wetenskapsbeoefening onmoontlik is sonder die wet van nie-kontradiksie wat direk afleibaar is uit die wese van God. Ek wil jou graag voorstel aan ‘n boek wat duidelik vir jou sal wys hoe die herontdekking van die Bybel se epistemologie gelei het tot die wetenskaplike revolusie wat westerse kultuur die dominante kultuur in die wêreld gemaak het.

http://www.amazon.com/Book-that-Made-Your-World/dp/1595555455

Postmoderniste se wêreldbeeld is naief. Jy kan nie ‘n postmodernis wees en wetenskap beoefen nie. A kan nie gelyk A en nie-A wees nie. Die wêreld werk eenvoudig nie so nie. So postmoderne wetenskaplikes (ek praat van regte wetenskaplikes) leef ‘n skisofreniese lewe om te kan funksioneer. Een of ander tyd moet hulle blue screen gaan as kognitiewe dissonansie intree…

2) Jy noem dat ons die wetenskap moet gebruik om tot gevolgtrekkings toe kom oor menseverhoudings.

Die eerste probleem wat jy het is dat jy as postmodernis wat glo in “paradokse” nie die wetenskap kan glo nie. As waarheid slegs gelee is in kulturele naratiewe en dus subjektief is, weerspreek jy jouself liederlik deur jou te beroep op die wetenskap. Ek is altyd van vooraf verbaas dat postmoderniste enigsins hulle op die wetenskap wil beroep. Maar daar het jy dit – postmodernisme en dus postmoderniste is die een weerspreking op die ander. (Dit is hoekom ek dit ‘n kognitiewe siekte noem)

Maar kom ons bespreek die wetenskap, of ons ervaring en rede waaruit dit voortspruit. Modernisme het gefaal omdat ons ervaring en rede feilbaar is. Die Bybel voorspel dit: Ons praat van die “noëtiese gevolge van die sondeval”, of soos die Bybel dit stel, die duisternis waarin mense wandel. Lees maar Romeine 1. Sonde maak dat ons nie God se openbaring in die natuur kan verstaan nie. Ons kan segs die algemene openbaring verstaan in die lig van die Bybel. NGB artikel 2 spel dit redelik duidelik uit, die Algemene Sinode se vergryp teen NGB Artikel 2 desnieteenstaande.

Die waarheid is dat die wetenskap nie bevind het dat sgv geneties of selfs epigeneties is nie. Daar is eenvoudig nie bewyse daarvoor nie. En wat meer is, die wetenskap se gevolgtrekkings verander die hele tyd. Laastens is dit altyd vir my as wetenskaplike wat opgelei is in navorsingsmetodiek altyd uiters lagwekkend as teoloë hulle beroep op die wetenskap asof dit objektief is en die gevolgtrekkings van wetenskaplikes nie grotendeels deur hulle wêreldbeeld bepaal word nie. As jy materialistiese, marxistiese of humanistiese hermeneutiek (interpretasie van die wetenskaplike data) gebruik gaan jy tot materialistiese, marxistiese of humanistiese gevolgtrekkings kom.

Dit is so eenvoudig soos dit.

Die historiese faling van modernisme en die huidige faling van postmodernisme word baie raak in die Bybel beskryf:

Efesiers 4:17 In die Naam van die Here doen ek ‘n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, 18hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard. 19Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ‘n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.

Die mens se kognisie is gebreek deur die sondeval. Ons is van God afhanklik vir waarheid. Daarom mag ons nie ons waarheidsbesluite grond op enigiets anders as God se woord nie. God se openbairng in die natuur is nie onbelangrik nie, maar ons kan dit slegs verstaan aan die hand van die Bybel, en ‘n Bybelse wêreldbeeld. (As hierdie stelling jou ‘n konnipsiefit gee, lees asb die boek by die skakel hierbo.)

3) Ek het jou punt drie al meestal beantwoord: Die Bybel is foutloos en onfeilbaar omdat God almagtig en Vader is. Dit is die enigste logiese gevolgtrekking wat mens kan maak uit die twee premisse. Jou stelling oor “menslike insette” wys, en ek sê dit met eerbied en in liefde, op ‘n ongelukkige en ernstige onkunde oor die Gereformeerde doktrines van die skrif. Ons glo nie in meganistiese inspirasie nie maar in organiese inspirasie: Inspirasie wat vloei uit ‘n intens persoonlike verhouding en gesprek tussen God en profeet. God dikteer nie woordeliks vir die profeet nie maar laat hom sy eie woorde gebruik. En tog maak God deur sy Gees seker dat die profeet nie fouteer nie. Dit is jammer dat postmoderne teoloë verkies om hierdie eeu-oue siening van insprirasie te verwerp, maar ek glo hulle moet dit doen sodat hulle die Bybel se gesag oor hulle lewens kan verwerp.

Jy is natuurlik heeltemal verkeerd oor ons uitdagings in die hermeneutiek. Die Bybel is die Woord van God. Punt. Ons uitdaging is om dit te aanvaar. Dit  is ‘n reuse uitdaging, want as ons die Goddelike openbaring van die Bybel aanvaar, beteken dit die Bybel het gesag oor ons lewens. En ons sondige natuur skreeu uit teen, en haat, die idee dat ons onsself aan ‘n heilige God moet onderwerp.