In 2011 het die Algemene Sinode van die NG Kerk besluit ons hoef nie meer in die bestaan van die duiwel te glo nie, ten spyte van Jesus se direkte uitsprake oor die saak. Die Sinode het dus besluit dat ons nie vir Jesus hoef te glo nie. Daar is groot bohaai in die media daaroor gemaak en verskeie beswaarskrifte oor die saak is voor die Algemene Sinode van 2013 gelê.
2013 se Algemene Sinode het die saak eenvoudig van die tafel gevee en hulle besluit van 2011 herbevestig, met kosmetiese veranderinge aan die bewoording van die besluit. Dit was ‘n blatante belediging vir die Christene in die Kerk wat nog glo dat Jesus geglo behoort te word.
Hierstaanek het toe ‘n sarkastiese artikeltjie gepos: “Die Algemene Sinode besluit Jesus was verkeerd.” https://hierstaanek.com/2013/10/09/die-algemene-sinode-besluit-jesus-was-verkeerd/
Die artikel het viraal gegaan. Dit het tot op hede meer as 17 000 trefslae op hierstaanek.com gehad en is op tientalle facebook blaaie woordeliks gesny en geplak. Ons kan met vertroue aanneem dat die artikel meer as 20 000 keer gelees is. Dit is meer as die oplaag van Kerkbode. (Wat Maandagoggende in elk geval ongelees in die gemeentes se asblikke beland.) Dit is duidelik dat die Algemene Sinodes van 2011 en 2013 se kettery ‘n rou senuwee by lidmate geraak het, soos weerspieel in die gewildheid van die artikel.
Kobus Gerber skryf onlangs in Media 24 se koerante dat daar “verwydering tussen die NG lidmate en die leierskap” is. Hy dink skynbaar dit is maar omdat ons in ‘n tyd lewe waarin daar ‘n kultuur van verwydering is. Dr Gerber, jy is verkeerd. Daar is verwydering omdat die NG Kerk leierskap gese het Jesus was verkeerd. Ons kan julle nie meer vertrou nie omdat julle nie vir Jesus vertrou nie! Julle glo nie wat Hy se nie!
Gaan die NG Kerk leierskap vir Jesus om verskoning vra dat hulle Hom gelaster het deur te beweer Hy was verkeerd oor die duiwel?
Kyk na die studiestuk in die dokument: Hulle oplossing is nie om uit te vind wat die Bybel oor die saak leer nie maar om die predikante wat die Sinode bywoon te breinspoel dat ons die Bybel op ‘n postmoderne manier moet dekonstrueer, sodat ons kan bewys dat die duiwel nie bestaan nie. Die Bybelonkunde in die stuk is asembenewend, en dit kom amper woordeliks uit Dr Ben du Toit, hy wat die maagdelike geboorte van ons Heer in die openbaar ontken, se speelboek. (Beklemtoning is myne)
In die voorwetenskaplike konteks van die Bybelse geskrifte is vreemde, ongewone en selfs onhanteerbare gedragsverskynsels op ander maniere verklaar. Siekte en vreemde gedragspatrone is in die NuweTestamentiese tyd toegedig aan ʼn stryd tussen of met geeste in so ʼn persoon. Daar was goeie geeste (gewoonlik in verband gebring met verskillende gode, selfs engele of God) en slegte/bose geeste (gewoonlik in verband gebring met die duiwel/Satan). Oor die hele historiese spanwydte van die ontstaansgeskiedenis van die Bybelse geskrifte (van ongeveer 1,500 jaar) is daar nie altyd op dieselfde manier hieroor gedink nie.
In die grootste gedeelte van die Ou Testament, byvoorbeeld, lees ons nooit van bose geeste, bose gode of die duiwel/Satan nie. Die stryd was eerder om Israel se ontrou aan die Here, deur agter “ander gode aan te loop”. Hierdie gode was in sommige gevalle pure illusie, terwyl mense in ander gevalle geglo het dat hulle werklik was. Dit is alom bekend dat die Nuwe Testament ʼn ander siening oor die geesteswêreld het, sterk beïnvloed vanuit die kontak wat die ballinge gehad het gedurende die ballingskaptydperk in Babilonië/Persië. Die punt is egter dat hierdie geestelike stryd (om beheer en besit van die mens) sigself voltrek het binne-in ʼn individu, of groep van individue.
AGENDA vir die 16de vergadering van die ALGEMENE SINODE van die NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK 2015, bl 285
Jesus se uitsprake dat die duiwel ‘n leuenaar en ‘n moordenaar is, is dus volgens ons leierskap verkeerd. Maar ons kan Hom verskoon omdat Hy nie die wetenskaplike kennis gehad het wat ons nou het nie.
Mag God die NG Kerk genadig wees.
Wynand Louw
Naskrif:
Vir ‘n volledige uiteensetting van die waarom ek se hierdie wys op asembenewende onkunde oor die Bybel, lees asb hierdie dokument. https://hierstaanek.files.wordpress.com/2012/02/ben-du-toit-resensie.pdf
Ek plak die relevante deel hier in.
Daar is omtrent 80 verwysings na duiwels en demone in die Nuwe Testament. In 11 hiervan word die onderskeid baie duidelik getref tussen duiwelbesetenheid en natuurlike siektes .
Mat 4:24: Die mense het toe die siekes met allerhande kwale en pyne, dié wat in die mag van bose geeste was, geestelik versteurdes en verlamdes na Hom toe gebring, en Hy het hulle gesond gemaak.
Let op dat geestelike versteurdes/epileptici hier apart genoem word van duiwelbesetenheid. Dit is dus volgens die Bybel twee verskillende toestande.
Mat 10:8 Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.
Mark 1:32 Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring.
Hier is siekes wat genees moet word en duiwelbesetenheid weer twee afsonerlike kategorieë. Sien ook Mat 8:16, 10:8, Mark 16:17, Luk 4:40, 9:1, 13:32, Hand 19:12. Epilepsie word slegs in een geval van duiwelbesentenheid gespesifiseer. Daar word op ander plekke duidelik onderskeid gemaak tussen duiwelbesetenheid en epilepsie wat nie deur demone veroorsaak word nie. In meeste vertalings van Mat 4:24 word verwys na epileptici – mense wat konvulsies kry, terwyl die NAV die woord “geestelike versteurdes” gebruik.
Du Toit se voorstelling dat die mense van Jesus se tyd geglo het dat alle siektes deur die duiwel veroorsaak was is dus eenvoudig vals. Dit is ‘n strooipop wat hy opstel om af te skiet en dan te vervang met sy “wetenskaplike / post-wetenskaplike” wêrelbeeld waar ons nou sou weet dat siektes deur kieme veroorsaak word. As sodanig is dit dus geen geldige argument dat die duiwel nie bestaan nie.
Henrietta Klaasing said:
Ek dink ook nie hul gaan om verskoning vra nie. Dit wat in die agenda vir die komende AS staan, bevestig dit.
riaanvzyl said:
Nee, Wynand, hulle sal nie om verskoning vra nie en ook nie tot ‘n ander besluit kom nie, want hulle glo steeds dat hulle reg is en dat Jesus verkeerd was. Van hulle glo ook dat Jesus nie regtig uit die dood opgestaan het nie, dus was die mense wat hy en die dissipels “opgewek het uit die dood”, seker ook nie regtig dood nie.
Greg said:
Hi Wynand, thank you for your amazing articles. Thank you for making us wise and standing up for truth. I really appreciate your articles, even though it takes me a while to read lol. I apologise for my relplying in English.
Blessings
Dawie de Wet said:
Die probleem met alle dwaalleer is dat dit waarheidsmomente in het. Maar ‘n halwe waarheid is ‘n volle leuen. Die waarheidsmoment in Ben du Toit se standpunt is dat daar ‘n ontwikkeling binne die Ou Testament aanwysbaar is oor die die werk van die bose en die duiwel. Maar die Nuwe Testament en veral die uitsprake van Jesus self laat geen twyfel oor die aard van die duiwel nie, soos jy wel duidelik hierbo duidelik aantoon.
Indien enige persoon wat ‘n ander siening as hierdie blog oor die bose het, regtig eerlik is, sal hy/sy moet erken dat hulle siening van die Bybel nie ooreenstem met die kerk se belydenis (spesifiek die NGB se eerste deel wat oor die gesag van die Skrif handel) nie. Die eerlike weg sou dan wees om ‘n gravamen in te dien wat genoemde artikels van die NGB herskryf volgens hulle mening hoe die Bybel verklaar moet word. Die feit dat dit nie gebeur nie, kan slegs wees a.g.v. totale onkunde oor die belydenis of ‘n doelbewuste poging om die indruk te skep dat binne die grense van die belydenis opgetree word. Indien eersgenoemde waar is, werp dit ernistige refleksies op die eerlikheid van die persoon. Hoe kan jy openlik verklaar dat jy die belydenis van die kerk as die enigste ware leer van die saligheid aanvaar en sal verdedig as jy nie weet wat daarin staan nie? Indien laasgenoemde waar is, getuig dit van berekende bedrog.
Is dit die toestand van ons kerkleiding?
gideon981 said:
Goeienaand my ou vriend. Ek neem deesdae maar min deel aan gesprekke. Om darem die pot aan die kook te hou werk ek antwoorde uit vir ‘n teologiese skool in New Yord – op vrae wat vir studente opgestel word. Ek lees darem so veel as ek kan van die forumgesprekke. As jy belangstel kan ek sommige van my antwoorde vir jou stuur, op voorwaarde dat jy dit nêrens bekendmaak of aanstuur nie. ‘n Afrikaanse weergawe glo ek nie sal kwaad doen nie.
Baie mooi stukke wat jy skryf. Groot waardering vir jou volgehoue ywer vir die eer van ons Verlosser.
Net ‘n wenkie: Verander gerus jou “asembenewend” na asembenemend / asemberowend / asemrowend. Daar bestaan nie ‘n woord soos asembenewend nie. Jy het ook op een plekkie ‘n tikfoutjie laat insluip: duiwelbesentenheid. Soek dit maar. Glo my maar dat ek nie “foutvinderig” lees nie, maar dit het deur die jare ‘n tweede natuur by my geword sodat enige soiets my as vanself tref.
Ek verbaas my regtig vir jou produktiwiteit – ek sou my verbeel dat ‘n ou met jou werk baie, baie min tyd sou hê.
Mooi bly en lekker naweek. Gideon.
Tjaart Lemmer said:
7.4 “In Die Begin Was Die Woord” (Johannes 1:1-3)
“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Johannes 1:1-3). Die Woord = God. Die Woord = Jesus Christus, ons Verlosser. Dit is essensieel die boodskap what die bybel bedoel is om ons te vertel. Die Here Jesus is nie een of ander beginsel of dogma nie. Hy is n Lewende Persoon, n Geestelike Wese wat alles wat bestaan geskep het deur te spreek. Hy is die God wat ons aanbid. Dit is ons verhouding met Hom, en dit is al waaroor dit gaan. Ek weet nie hoekom enige iemand nog aan n kerk behoort nie. Ons behoort nie aan n kerk nie. Ons behoort aan Christus. Die kerk kan niemand red nie. Dis nie bedoel om ons te verlos nie. Ons gaan ook nie kerk toe nie. Kerk is iets wat ons is wanneer ons gered is. Ons lewe nie van brood nie, maar van elke Woord wat uit die mond van God kom. God is Gees. Vlees en bloed kan nie deel kry aan God se koninkryk nie. Daarom moet ons geestelike wesens word, soos God. Dit gebeur wanneer ons die Geestelike brood (of Liggaam in Johannes 6) eet, die Geestelike bloed drink. Vergeet v d institusionaliseerde “kerk”. Dit was nog nooit kerk nie. EFESIËRS 1:20
wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het:
EFESIËRS 1:22
Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk.
EFESIËRS 1:23
Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul
Dit was nog nooit n instituut nie. Die instituut wat “kerk” genoem is was nog nooit so irrelevant soos vandag nie. Wie na “die kerk” luister loop die risiko om hulle geloof te verloor en verlore te gaan
hierstaanek said:
Die opdrag in die Bybel is duidelik, dat ons aan ‘n gemeenskap van gelowiges moet behoort. Daar bestaan eenvoudig nie so iets soos lone ranger Christene nie. As jy aan Christus behoort sal Hy jou dring om tyd met Sy liggaam deur te bring.