Die afgelope Wes-en Suidkaapse Sinode se besluite hou ernstige implikasies vir die NG Kerk in. Ek verwys spesifiek na die volgende punte:
1. Die sinode handhaaf die oortuiging dat die Belydenis van Belhar in ooreenstemming is met die Woord van God en as belydenisskrif in die NG Kerk opgeneem moet word, ingevolge die 2011 besluit van hierdie sinode en die 2011 besluit van die Algemene Sinode.
Dit is binne die sinode se reg om te besluit dat die Belydenis van Belhar ooreenstem met die Woord van God. Die probleem is egter dat daar enstige besware geopper is deur besorgde lidmate waar duidelik aangetoon word dat die Belydenis van Belhar nie ooreenstem met die Woord van God nie, en dat dit veral nie geskik is as belydenisskrif nie. Alhoewel daar derduisende woorde geskryf is om die belydenis aan gemeentes te verkoop is die grondliggende besware teen die belydenis van Belhar nie aangespreek nie. Daar is dus by lidmate ‘n gevoel van verraad teen hulle, omdat hulle geldige teologiese besware skynbaar eenvoudig geignoreer is. Ek doen ‘n dringende versoek op die kerk se leierskap om die spesifieke besware teen Belhar spesifiek aan te spreek. ‘n Opsomming van die besware is hier verkrygbaar: https://hierstaanek.files.wordpress.com/2015/03/belhar-brief.pdf Dr Braam Hanekom het my wel gekontak nadat ek die brief by bg skakel publiseer het om my te wys op Dirkie Smit se betrokkenheid by Belhar, hy het egter geen van die teologiese besware in my brief aangespreek nie. Mens moet aanneem dat hy dit nie kon antwoord nie. (Indien hy kon, waarom het hy nie? Hy het tog die moeite gedoen om my te kontak!)
9. Die sinode glo dat die belydenisgrondslag van die kerk slegs op Skriftuurlik -Gereformeerde kerkregbeginsels vasgestel moet word. In die lig hiervan: 9.1 versoek hierdie sinode die Algemene Sinode om ‘n proses in plek te stel wat dit vir sinodes moontlik sal maak om belydenisskrifte, soos die belydenis van Belhar, wat nie in stryd met die Skrif en bestaande belydenisskrifte is nie, deel van hulle belydenisggrondslag te maak.
Ter agtergrond ‘n akademiese joernaalartikel deur Dr Plaatjies van Huffel, op die oomblik moderator van die VGKSA.
Die NG Kerkfamilie behoort op weg na eenwording deeglik kennis te neem van die uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl op 27 November 1998. Die volgende regsaspekte kan uit vermelde uitspraak afgelei word : […] 4. In die Gereformeerde stelsel is elke plaaslike gemeente die sigbare openbaring en organisasie van die kerk en is op sigself volledig kerk. Die bevoegdheid tot die ontbinding van ’n gemeente of die verandering van ’n kerkverband berus nie by die Kerkraad nie, maar by die gemeente. Die Suid Afrikaanse howe beskou die plaaslike gemeentes van die verskillende denominasies konsekwent as regspersone. As regspersoon is die plaaslike gemeente die wettige eienaar van sy goedere, eiendomme en fondse. Die Algemene Sinode beskik dus nie outomaties oor die voorgesette regspersoon en bates van gemeentes nie. Die Algemene Sinode kan slegs tot kerkvereniging en die stigting van ’n nuwe kerk oorgaan indien goedkeuring daarvan volgens die voorgeskrewe kerkordelike reëlings verkry is. 5. Kerkverband tussen kerke wat nie dieselfde belydenis het nie, of wat dieselfde belydenisskrifte verskillend vertolk en kerkregtelik verskillend georganiseerd is, is nie moontlik nie aangesien eenheid in belydenis die samebindende faktor by die kerkverband is. Die belydenisgrondslag van die kerk kan alleen gewysig word mits daar aan die formele kerkordelike vereistes voldoen word.
Plaatjies van Huffel, M.A. & Van der Merwe, J.M., 2012, ‘Die reis met kerkeenwording tussen die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika en die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika’, Verbum et Ecclesia 33(1), Art. #724, 7 pages.
Hiérdie volg uit uitsprake van hooggeregshof. Die NG Kerk sou haarself dus aan litigasie blootstel indien buite die raamwerk van dié hofbeslissing opgetree sou word. Let asseblief eerstens op punt 5: Kerkverband tussen kerke wat nie dieselfde belydenisgrondslag het nie, of hulle belydenisskrifte verskillend interpreteer, is nie moontlik nie. Die eerste belangrike implikasie is dat die sinode die Algemene Sinode vra om die NG Kerk te skeur. Indien sinodes toegelaat word om verskillende belydenisskrifte te hê sal elke sinode met ‘n ander belydenis, volgens hierdie uitspraak van die hooggeregshof, sy eie kerkverband moet stig. Die argument kan geopper word dat dit afhang van hoe mens “kerkverband” definieer. Maar aangesien die hof bevind het dat ‘n kerk se belydenisgrondslag bepaal in watter kerkverband ‘n kerk kan wees, moet mens dus onvermydelik aanvoer dat ‘n verandering van belydenisgrondslag deur een deel van die kerk neerkom op uittrede uit die kerkverband en die stiging van ‘n nuwe kerkverband deur daardie deel van die kerk. Ongeag die definisie van “kerkverband”, is dit duidelik dat die Algemene Sinode nie in sy huidige vorm sal kan voortbestaan nie. Dit sal ten minste vervang moet word met ‘n ekumeniese of federale liggaam met min of geen besluitnemingsmagte. Die NG Kerk sal in wese meer versplinterd wees as voor die eerste Algemene Sinode van 1962, aangesien daar nie ‘n gemeenskaplike belydenis sal wees nie. Die ironie is asembenewend, dat die Wes-en-Suidkaap sinode die kerk wil skeur ter wille van eenheid. Maar dit is die bloedspoor van Belhar: Kerkskeuring, broedertwis en litigasie. Let nou op punt 4: “Die bevoegdheid tot die ontbinding van ’n gemeente of die verandering van ’n kerkverband berus nie by die Kerkraad nie, maar by die gemeente.” Dit beteken dat geen kerkvergadering, insluitend ‘n sinode, bevoegdheid het om ‘n gemeente se kerkverband te verander nie. Dit lê slegs by ‘n kerkordelik gekonstitueerde gemeentevergadering. Die implikasasie hiervan is dat ongeag van wat ‘n sinode besluit, elke gemeente in elk geval sal moet stem om by ‘n nuwe kerkverband aan te sluit of nie. Die ironie is dat die kerkregtelike gereedskap reeds bestaan waarvolgens enige sinode kan besluit om te doen presies wat die sinode van die Algemene Sinode versoek. Let op artikel 37 van die 2013 kerkorde:
Artikel 37 Dit staan die samestellende kerke vry om met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, ensovoorts, uit die algemene sinodale verband te tree wanneer hulle so ’n stap voor God in die lig van sy Woord kan regverdig.
Aangesien die Algemene Sinode ‘n sinode van sinodes is, verwys die woord “kerk” in artikel 37 na die sinodes. Enige sinode kan dus vandag besluit om uit die NG Kerkverband te tree en by die VGKSA aan te sluit. Of die Algemene Sinode besluit om sinodes die reg te gee om af te stig, soos die sinode by implikasie versoek, of nie is dus slegs van akademiese belang. Sinodes het reeds daardie reg. Die besluit wat die Algemene Sinode moet neem is of dit as sinode wil voortbestaan en of dit homself wil vervang met ‘n federale of ekumeniese liggaam. Sinodes is nie bevoeg om oor indiwiduele gemeentes se kerkverband te besluit nie, daarom sal elke gemeente individueel moet besluit om in die splintersinode te bly of nie. Sinodes wat voel dat hulle by die VGKSA wil aansluit kan voortgaan en dit doen, die kerkregtelike pad is oop daarvoor. Geen nuwe besluit van die Algemene Sinode word vereis nie. Elke gemeente in die sinode moet dan afsonderlik besluit of hulle wil saam gaan of nie. Aangesien die stemming oor Artikel 1 gewys het dat mens redelik kan aanneem dat die meerderheid gemeentes in die land waarskynlik nié by die VGKSA sal wil aansluit nie (omdat Belhar se teologie ‘n ernstige struikelblok vir eenheid is), is dit onnodig dat die Algemene Sinode vervang word met ‘n ander liggaam. Daar sal genoeg sinodes oorbly om steeds ‘n Algemene Sinode te vorm. Die Algemene Sinode kan dan by ‘n ekumeniese ligaam aansluit wat die VGKSA as afsonderlike maar deelnemende kerkverband insluit. Die volgende punt uit die sinode se handelinge is uiters kommerwekkend.
9.4: Versoek die sinode die Algemene Sinode om Artikel 44.1 en 44.2 te herskryf
Artikel 44 van die kerkorde van 2013 lees as volg (beklemtoning is myne):
Artikel 44 44.1 Die wysiging van die Belydenis kan alleen geskied nadat elke sinode afsonderlik met ’n tweederdemeerderheid en twee derdes van alle kerkrade elk met ’n tweederdemeerderheid ten gunste daarvan besluit het. 44.2 Artikel 44.1 en 44.2 van die Kerkorde word gewysig nadat elke sinode afsonderlik met ‘n tweederdemeerderheidstem ten gunste daarvan besluit het en die Algemene Sinode daarna met ’n tweederdemeerderheidstem ten gunste daarvan besluit.
Daar was ‘n ongelukkigheid onder sekere mense dat gemeentes die reg gegee is om te stem vir die aanvaarding van die nuwe Artikel Een. 35 Lidmate het kort voor die Vrystaatse sinode van 2015 die volgende in die pers verklaar:
2. in die verloop van die stemproses rondom die wysiging van Kerkorde Artikel 1 het die vraag ontstaan of so ’n “referendum onder lidmate” te rym is met ’n proses van geloofsonderskeiding waarin Christus sy kerk deur sy Woord en Gees regeer, deur die vergaderinge van die kerk (ons gereformeerde verstaan en historiese praktyk van kerkregering). Ons spreek daarom ons ongemak uit oor die teologiese gefundeerdheid van die proses.
Daar is dus ‘n beweging onder predikante om gemeentes hulle Godgegewe reg om oor hulle eie belydenisgrondslag te besluit te ontneem en om dit slegs in die hande van ‘n nuwe teokratiese elite te laat. Mens moet aanneem dat dit vir die sinode hier gaan oor die stemreg van gemeentes, en dat die sinode hier probeer om gemeentes hulle seggenskap in die kerk se sake te ontneem. Die Heidelbergse Kategismus verwoord die leer van die “priesterskap van elke gelowige” as volg:
Vraag 55: Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges? Antwoord: Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het (a). Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend (b). (a)1 Joh 1:3; Rom 8:32; 1 Kor 12:12, I3; 1 Kor 6:17. (b) 1 Kor 12:21; 13:1, 5; Fil 2:4-8.
Let op die woorde “…almal saam…”. Die Heilige Gees openbaar hom in die gemeente, die Liggaam van Christus. Mense wat beweer dat ons nie moet stem oor die verandering van ons belydenisgrondslag nie maar moet toelaat dat sinodes vir ons besluit, ontken dat ons, die gewone lidmate, ook priesters is wat gesalf is met die Heilige Gees en dus met verantwoordelikheid kan besluit oor sake van die kerk. Hulle ontken ook die basiese Gereformeerde beginsel dat die Heilige Gees hom in die gemeente openbaar! Ek versoek die moderatuur van die sinode dringend om te verduidelik waarom en hoe hulle die bewoording van Artikel 44.1 en 44.2 wil verander. Indien dit is om gemeentes hulle stemreg te ontneem, verteenwoordig dit ernstige vertouensbreuk met gewone lidmate, omdat dit beteken dat die elite nie die lidmate vertrou om Gees geleide besluit te neem nie. Dit verteenwoordig ook en ‘n ernstige belediging van gewone lidmate, omdat dit ontken dat gewone lidmate volwasse besluite kan neem. Indien dit die geval is, versoek ek die moderamen van die sinode dringende om ons as gewone lidmate om verskoning te vra. Sodanige belediging van lidmate hoort nie tuis in die kerk van Christus nie.
Hierdie besluit laat in elk geval ‘n uiters wrang smaak in die mond. Die pro-Belhar span het die wedstryd verloor, nou dring hulle aan om die spel se reëls te verander sodat hulle weer kan speel en kan wen.
Dit is onaanvaarbaar.
Samevattend
- Lidmate voel verraai omdat die geldige teologiese besware teen Belhar as belydenisskrif nie aangespreek is deur die sinode nie maar dat daar bloot, sonder enige verantwoording, bevind is dat dit “ooreenstem met die Woord van God.”
- Die sinode se versoek aan die Algemene Sinode dat elke sinode sy eie belydenisgrondslag kan saamstel verteenwoordig, in die lig van genoemde hooggeregshof uitspraak, ‘n versoek om die NG Kerk te skeur en ‘n nuwe kerkverband daar te stel. Enige poging van die Algemene Sinode om sinodes toe te laat om verskillende belydenisskrifte te hê binne een kerkverband sal die NG Kerk aan litigasie blootstel.
- Die kerkregtelike gereedskap vir die daarstel van ‘n nuwe kerkverband is reeds beskikbaar, omdat enige sinode volgens artikel 37 van die kerkorde vry is om uit die NG Kerk te tree en by ‘n ander kerkverband aan te sluit.
- Sinodes beskik nie oor die outoriteit om te besluit oor gemeentes se kerkverband nie. Indien die sinode van Wes-en-Suidkaap sy belydenisgrondslag verander en dus uit die algemene sinodale verband tree sal alle gemeentes in die sinode moet stem of hulle wil saamgaan of nie.
- Die sinode se skynbare poging om lidmate en gemeentes hulle seggenskap oor die belydenisgrondslag van die kerk te ontneem verteenwoordig ‘n ernstige, laakbare vertrouensbreuk met en belediging van gewone lidmate. Die moderamen is ons dringend ‘n verduideliking verskuldig en behoort gewone lidmate namens die sinode om verskoning te vra, indien dit die geval is.
Wynand Louw Julie 2015
Henrietta Klaasing said:
Dankie hiervoor Wynand. Wat vir my net so erg is, is dat die leierskap van die NGK hul nie steur aan die 5 streeksinodes en derduisende lidmate wat alreeds Belhar verwerp het nie. Dit spreek duidelik uit die feit dat daar al ver gevorder is met hereniging van die 3 ander familielede: die NG Kerk in Afrika, die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) en die Reformed Church in Africa (RCA) op hul jaarlikse vergadering in Pretoria . Daar gaan glo ‘n tussentydse kerkorde opgestel word.
Lees Claudi Mailovich se berig (Woensdag 27 Mei 2015 ) “Op pad na hereniging” by Netwerk 24.
http://www.netwerk24.com/nuus/2015-05-27-op-pad-na-hereniging
Henrietta Klaasing said:
In dieselfde berig word gesê oor prof Niemandt: “Volgens hom besef die kerke dat die Belydenis van Belhar saam met die VGKSA na die eenheidskerk sal kom en dat dit nie iets is wat sal verander nie.”
riaanvzyl said:
Ek stem hartlik en volmondig saam, Wynand! Baie dankie!
gideon981 said:
Baie goeie werk, Wynand. Die Here het besondere gawes aan jou toevertrou. Groetnis. Gideon.
Dr. Hannes Schulz said:
Broer Wynand,
U beredenering en logiese uiteensetting mag verskeie lidmate beïndruk, maar enige leraar en/of lidmaat wat hieraan deelneem, maak hom of haar skuldig aan die feit dat die regsproses nog nie binne die NG Kerk afgehandel is nie. Enige uitspraak is dus in daardie persoon se persoonlike hoedanigheid en nie ʼn amptelike kerklike uitspraak nie. Dit sluit prof. Niemandt en Dr. Braam Hanekom se optredes tot in die huidige tyd (byv. Gay-uitspraak) hierby in. Kom ons gee vir die afgevaardigdes geleentheid om Oktober 2015 die proses insake Artikel 1 van die Kerkorde te voltooi en redeneer daarna oor die beleid in die Kerk wat nou ook blootgestel word aan ʼn Grondwetlike bestel in Suid-Afrika. Dit waarvan u die Sinode van Oos-Transvaal beskuldig, is heeltemal korrek; want indien ek byvoorbeeld by die laerskool om die hoek open, dan doen ek dit nie in my persoonlike hoedanigheid nie, maar as leraar van NG Gemeente A. Daarom behoort dit ook insake die Sinode te geld, want NG Gemeente A in die Ring van B, het my per geloofsbrief afgevaardig na die Sinode C. Sekere opmerkinge in u skrywe insake die Belydenis van Belhar verwoord egter beslis nie die siening van bevrydingsteologie dat die onderdrukker se versperde verhouding met God die onderdrukte se belewenis van God dramatiese negatief beïnvloed het nie. Voordat daar verder hieroor geskryf word, help ons om eers die oorweldigende “nee-stem” se regsproses af te handel.
Dr. Hannes Schulz.
hierstaanek said:
Hannes
Dankie vir die weldeurdagte kommentaar, dit word waardeer.
Die rede vir hierdie brief is dat die Handelinge van die Wes-en-Suidkaapse Sinode amptelike uitsprake van daardie sinode is, en dit lyk asof die mense wat die besluite geneem het nie ‘n idee het wat die impak van hulle besluite is nie. Ek probeer dus om die gevolge van hulle besluite aan hulle uit te wys.
♦ Hulle is verplig om hulle uitspraak dat Belhar ooreenstem met die Woord van God uit die Woord van God te regverdig. Dit is nog nooit gedoen nie. Die beste wat die kerkleierskap tot dusver gedoen het was om te verwys na ‘n obskure ASK dokument uit die vorige eeu, wat duidelik stel dat Belhar dubbelsinnig is oor die bevrydingsteologie.
♦ Dit lyk asof hulle of totaal onbewus is dat hulle besluit, indien dit deurgevoer word, die NG Kerk sal skeur. Of is dit die plan? Ek dink Nelis Janse van Rensburg is ons as gewone lidmate ‘n antwoord verskuldig: Wil hulle ter wille van “kerkeenheid” die kerk skeur, of was hulle besluit bloot uit onkunde geneem? Ek dink dit is belangrik dat die afgevaardiges na die Algemene Sinode van 2015 presies weet wat die implikasies van die Wes- en Suidkaapse Sinode se versoek aan die Algemene Sinode is. Anders gaan daar litigasie tot in oom Dawid se kallerhok wees, iets wat ons nie op hierdie stadium kan bekostig nie.
♦ Indien die beoogde verandering van Artikels 44.1 en 44.2 beteken dat gewone lidmate hulle inspraak in die kerk se besluit oor ons belydenisgrondslag ontneem gaan word, is gewone lidmate geregtig om te weet dat hulle leiers hulle uit die proses wil sny. Wie betaal die miljoene rande wat elke streeksinode en algemene sinode kos? Dit kom uit my en jou tiendes. Ek het die teologiese onhoudbaarheid van die ontneming van gewone lidmate se stemreg in my brief uitgewys. Maar op ‘n bloot sekulere vlak is dit so dat ons gewone lidmate die leiers se salarisse betaal. Die afgevaardiges na die Algemene Sinode behoort duidelik te verstaan dat ons as gewone lidmate nie uit die proses gedwing kan word nie. Ek dink Ds Nelis Janse van Rensburg is ons as lidmate dringend ‘n antwoord verskuldig oor presies wat die Wes- en Suidkaapse sinode wil verander aan Artikes 44.1 en 44.2.
Oor Belhar en die bevrydingsteologie: Wat Belhar doen is nie om bevrydingsteologie as die enigste korrekte teologie te vestig nie. Wat dit doen is om die deur vir die bevrydingsteologie oop te maak in die kerk. Indien Belhar deel van die kerk se belydenis is, sal dit onmoontik wees om iemand op grond van bevrydingsteologie onder die tug te plaas. Dit is presies die implikasie van die ASK van 1988 se bevinding: (Ek haal aan) “Hierdie soort voorstelling van sake kom wel in die Kairos-dokument voor, maar hoef nie noodwendig aan die BB verbind te word nie, al moet erken word dat verbindings lyne met die teologie van bevryding hier wel moontlik sou kon wees.” Indien iemand bevrydingsteologie van die kansel verkondig sal mens hom nie tot verantwoording kan roep nie. En dit sal die NG kerk as draer van die Lig van die Evangelie vernietig.
Ek dink dit is belangrik dat daar oor hierdie dinge debat gevoer word VOOR die oorweldigende “nee-stem” se regsproses afgehandel word. Indien daar nie openbare debat gevoer word nie, sal die foutlyn tussen die kerkleierskap en die gewone lidmate verder verdiep. Die NG Kerk bloei lidmate op die oomblik. ‘n Belangrike rede is omdat hulle voel dat hulle nie die leierskap kan vertrou nie – spesifiek met verwysing na dinge soos die plan om Artikel 44.1 en 44.2 te wysig.
Die enigste oplossing is eerlike en openlike gesprek.
Johan said:
Die Ng kerk wyk van die Bybel af in baie opsigte te veel om op te noem. Dis hoekom die kerk sy deure gaan sluit
Jannie Wessels said:
Wynand
Jy het vir my ‘n brief geskryf – dalk omdat ek iewers in die verlede my verdiep het in teologiese studies en ‘n predikant van die NG geword het (maar nie gebly het nie). Ek het omtrent ‘n kwart eeu gelede die bediening verlaat en 6 jaar gelede (op 55) uiteindelik teruggegaan universiteit toe om myself vir iets bruikbaar te bekwaan ten einde vir my eie (en afhanklikes se) toekoms te voorsien. Hierdie omwenteling in my lewe is ek volledig aan God te danke – vir genade, vir gawes, vir talente, vir geloof en uiteindelik, vir insig in die geweldige ongenaakbare werklikheid wat besig is om buite my huis te gebeur.
Ek verwys na miljoene mense wat probeer oorleef in die aangesig van fenomenale aanslae wat dit deesdae baie moeilik maak vir Jan Alleman en Sipho Sithole om te oorleef. Die werklikheid is dat die meeste van die mense daar buite dit nie lekker regkry nie – die oorleef-ding…
Die gesprek waaraan jy so baie moeite en tyd spandeer is sekerlik in jou omgewing geweldig belangrik – ek verstaan, ek was ook daar. Sedert ek egter uit die aktiewe bediening is (en weer gaan studeder het) het ek uiteraard ander perspektiewe ontwikkel oor die rol van die kerk (Kerk) en hoe sy voortaan in die wêreld behoort te bestaan. My antwoord? Ek weet nie!
Wat ek wel weet is dat hierdie tipe gesprek (met alle respek teenoor elke deelnemer) baie min doen vir die manier waarop die kerk betrokke is by Jan Alleman en Sipho Sithole. Om die waarheid te sê, ek dink nie die Heidelbergse Kategismus óf die Belhar Belydenis doen hoegenaamd iets vir enige van die twee as hulle in die aand by die huis kom en hulle kinders het nie kos nie – soos die vorige aand. Dis dan wat hulle albei begin dink aan diefstal, roof en ander maniere van “insameling” sodat dit net vir die oomblik kan “voel” asof hulle omstandighede besig is om te verander.
Die gesprek waarmee julle besig is hou jullesef seker aan die gang en maak dalk dat julle voel julle het iets gedoen, maar Jesus het iets kwytgeraak oor wat ons aan (honger en verwerpte) kindertjies doen en wat ons dan ook indirek aan Hom sou doen. Ek vra my net altyd die vraag af of hierdie gesprek vir Jesus bly maak?
Wil ons regtig leef na die “insigte” van ‘n klomp ou kervaders wat in 1563 in Heidelberg (of nog erger, in 325 in Nicea) ‘n besluit geneem het? Het hulle kon voorsien wat 450 jaar (of 1690 jaar) later in Soweto, in Djakarta, in Istanbul, of in Kaïro se slums sou gebeur? Is dit relevant? Hoekom het mense in 1563 (of 325) méér insig gehad as wat ons nou het? Hoekom is dit volledig uitgesluit dat ons nou binne ons eie unieke omstandighede ‘n vernuwende en lewegewende belydenis kan formuleer wat grense skuif, wat skanse afbreek, wat verwydering oorbrug en kerkverband neutraliseer? Is ons sonder sulke insig? Of het God destyds op wonderwerklike maniere met die mense van Heidelberg en Nicea gewerk, en besluit dat dit genoeg is; “die mense van die 21ste eeu verdien nie meer My genade soos destyds nie”?
Ek wil maar net sê, ek behoort nie hierdie skrywes van jou te kry nie, want ek slaap sleg oor die baie mense wat nie huise het nie, wat nie werk het nie, wat nie kos het nie – en veral die baie kinders wat nie weet waar hulle môre-oggend gaan wakker word nie, indien wel… Op die oomblik het ek groot vrede oor die feit dat spesifieke belydenisskrfite nie juis hoog op my prioriteitslys is nie… Ek ervaar egter iets hemels wanneer ek behulpsaam is met die omskakeling van ‘n stokou en vervalle 5800m2 kantoorgebou in die hartjie van ou-Johannesburg in ‘n 60-woonstel wonderwerk… Sulke tye kan ek bely dat God genadig is, want ek sien dit gebeur!
PS: ‘n Baie welaf vriend van my (hoof uitvoerende amptenaar van ‘n nasionale groep) het onlangs saam met baie ander van sy (ewe welaf) sakegenote sowat R100 000 betaal om een koue wintersaand sonder skuiling buite op straat te gaan slaap – net om te voel wat gebeur met jou as jy werklik niks het nie. Met ‘n koppie sop en ‘n kartondoos is hulle die strate ingestuur om die volgende oggend veranderde mense terug te keer na hulle elke dag se lewe. Nie een van hulle het het ‘n taxi genader om hulle huis toe te neem nie, want hulle wou weet wat gaan deur die gemoed van Jan Alleman en Sipho Sithole. My vriend het sy ervaring in ‘n paar woorde opgesom: “Die Kerk weet nie wat hulle doen nie…” (en hy het nie na die NG Kerk verwys nie…)
Wynand, hoe gaan hierdie debat brood-nodige hulp vinniger nader aan Jan en Sipho bring? Gaan hierdie gesprek maak dat die regering van die dag graag met die kerk sal wil praat en graag wil hoor wat hulle te sê het oor die uitdagings van Suid Afrika? Gaan dit help om die sosiaal-maatskaplike krisis in Suid Afrika te verlig of op die pad na oplossings te plaas? Gaan dit help om ons vertrapte nasionale trots terug te bring?
Jy hoef nie te reageer nie…
hierstaanek said:
Hallo Jannie
Ek hoor wat jy sê, en verstaan jou posisie. Ek kan egter nie met jou saamstem dat die debat nie belangrik is nie.
Die mens is nie net vel en vleis en been nie maar ook gees. Jesus het vir die vrou by die put gesê “As jy weet wie dit is wat met jou praat, sal jy hom vra en hy sal jou die Lewende Water gee.” Jy sien Jannie, soos die vrou by die put is ons, en die res van die wêreld, dikwels net ingestel op die hier en nou. OP die vel, vleis en been. Nie dat dit nie belangrik is nie. Jesus het tog vir haar water gevra om te drink, omdat sy vleis en been dors was. Maar Jesus het nie daar gestop nie. Hy het vir haar die Lewende Water aangebied – water wat ewigheids waarde het.
As jy dink gewone water is genoeg is jy welkom. Maar Jesus verskil dan van jou.
Die vraag is nou, is ons belydenisskrifte belangrik? Jy verwys na die Heidelbergse Kategismus en die belydenis van Nicea. Watter verskil maak dit?
Jesus sit sy gesprek met die vrou by die put voort: God wil hê ons moet Hom in Gees en Waarheid aanbid. Die put se water is nie genoeg nie. Die Gees se Lewende Water moet ons lewend maak. Maar waarmee? Die Waarheid.
God sê in Romeine 10: Almal wat Sy Naam aanroep sal gered word. Maar hoe kan hulle Hom aanroep as hulle nie in Hom glo nie? En hoe kan hulle glo as hule nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor as iemand nie die Waarheid aan hulle verkondig het nie? Sonder die Waarheid is daar nie redding nie. Paulus sê in 1 Timoteus 1:20 dat twee predikante, Alexander en Himenaeus verlore gaan omdat hulle die Waarheid vervals het.
Mense gaan hel toe as hulle vals idees oor God glo en verkondig.
Laastens moet ek net sê dat praktiese liefde, soos om vir die armes te sorg, siekes te besoek en opofferings te maak vir ander nie TEENOOR die Waarheid staan, soos baie mense valslik beweer, nie. Dit is juis die Waarheid wat ons vrymaak om werklik God te verheerlik in ons praktiese uitlewing van die liefde. Dit is slegs as ons Sy genade ontvang het dat ons van ons self kan vergeet en sonder bybedoelings genade kan uitleef.
As jy iemand kos gee en hy gaan hel toe, het jy hom dan gehelp?
Belhar verkondig ‘n leuen omtrent God: Dit sê ons kan tot God nader op grond van ons sosio-ekonomiese klas. Dit impiseer God skuld ons iets op grond van ons sosio-ekonomiese klas. Dit het die potensiaal om mense hel toe te stuur.
Jannie Wessels said:
Ek sien jy het al die antwoorde… Sterkte!
Jeanette de Beer said:
Goeiemore,
Wat is die relevansie van die swart bevrydings teologie in 2015? Waarom is Allan Boesak nog steeds die vyand?
Dis tyd om aan te beweeg na die sake wat regtig belangrik is soos Jannie Wessels dit so puik uiteengesit het.
Jeanette de Beer
hierstaanek said:
Hallo Jeanette
Dankie vir jou opmerking.
Die bevrydingsteologie gaan oor meer as net “Christelike” Marxisme. Marxisme is in die 20ste eeu deur Herbert Marcuse (Google hom) herdefinieer as die stryd tussen enige “onderdruktes” en hulle onderdrukkers. Een van sy groot sake was sg seksuele bevryding, die seksuele revolusie van die 60’s is grotendeels deur sy filosofie beïnvloed. Die GLTB agenda is die direkte gevolg daarvan, sowel as die vernietiging van die gesin deur die proses van “geen skuld egskeiding”. Die filosofiese onderbou van Marcuse se neomarxisme is identies aan die Marxisme van Bonino en Gutierrez, Allan Boesak se grootse mentors.
Allan Boesak het verklaar dat Belhar vandag beteken dat gays bevry moet word van seksuele onderdrukking in die kerk, en raai wat, Nelus Niemandt het dit verlede week in die nasionale pers verklaar.
Dit ten spyte daarvan dat die Bybel verklaar dat enige seks buite die huwelik, insluitend selfdegeslag seks, sonde is.
So daar is n direkte verband tussen bevrydingsteologie, Marcuse, Belhar en Nelus Niemandt se dwaling.
Behalwe daarvoor verklaar Belhar dat die mens tot God kan nader op grond van sy sosiopolitieke klas. Belhar ontken dus dat ons op grond van genade alleen met God kan kontak hê. Dit ontken dus die evangelie in sy totaliteit.
Bart Vosloo said:
Een van my besware onder andere is dat ons as NG Kerk lidmate nooit genader is om enige bydrae tot n nuwe belydeniskrif te maak nie. Belhar is net op ons af gedwing en gese julle aanvaar dit of daar is nie kerk eenheid nie.Daar was en is nou nog nie n manier van samewerking oor die belydenis nie. NGK-lidmate moet dit maar net so aanvaar en word in ons keel af gedwing.
hierstaanek said:
Bart, daar is duisende lidmate wat soos jy voel. Verraai.
Piet van Tonder said:
Wynand.
Roep my sinies as jy wil, maar paar goed van Jannie se kommentaar verstaan ek nie mooi nie en dit het niks uit te waai met die Teologie nie maar die vlees en been en sommetjies. As jy 5800 deel deur 60 dan kry jy n gemiddeld van rondom 96 m2 per eenheid van die wonderwerk.
Daar is nou twee moontlikhede. Een is dat jy dit in die mark sit en verkwansel vir minstens n half miljoen plus rand of twee ; jy stel dit gratis beskikbaar aan al hierdie vlees en been wat nie weet waar hulle gaan bly en of hulle gaan oorleef nie.
Die waarskynlikheid dat twee gaan gebeur of gebeur het is baie onwaarskynlik omrede dit GROOT nuus in Beeld, Rapport en TV sou gewees het en n wonderlike geleentheid om die goeie nuus te versprei. Ek lees nie die blaaie so gereeld nie, maar as ek dit gemis het my verskoning.
Eerder vermoed ek dat dit die plek is waar die ryk vriende die geld vandaan kry om R 100 000 te betaal vir n ongemaklike nag. Die hoeveelheid Sipho’s wat uit hierdie goddelike wonderwerk voordeel getrek het ………..?
Nogal n vreemde manier om vir Jan en Sipho te hulp te snel.