Prof Nelus Niemandt op Media 24 vandag:

Pieterse sê Belhar sal uiteindelik net deur almal aanvaar word op ’n “natuurlike” manier. Ek dink hy kan nog verder gaan. Dit is net die Heilige Gees wat ’n hele kerk kan oortuig. Maar dan moet ons ook versigtig wees om nie die Gees te weerstaan nie.

Die Heilige Gees praat met ons deur die Bybel, Prof Niemandt.  Dit maak nie saak hoeveel keer jy verklaar dat Belhar ooreenstem met die Bybel nie, jy sal op ‘n stadium moet bewys, op grond van goeie Gereformeerde hermeneutiek, dat God interaksie  met die mens het op grond van sy sosio-ekonomiese status soos Belhar beweer, en nie slegs op grond van Sy genade nie. Soos die Bybel beweer.

Belhar: Belydenis is nodig as veiligheidsreling

http://www.netwerk24.com/stemme/2015-05-15-belydenis-is-nodig-as-veiligheidsreling

Deur Nelus Niemandt Vrydag 15 Mei 2015 02:40
Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk se algemene sinode, antwoord op die besware van ’n Beeld-leser oor die Belhar-belydenis.

Stemme oor Belhar word uitgebring in ’n sinodesitting in Bloemfontein. Foto: Emile Hendricks
Ek verwelkom ​lidmate soos Henning Pieterse se deelname aan die gesprek oor die Belhar-belydenis. Belydenisskrifte raak ons geloofslewe en dit is broodnodig om saam te dink.
Dit gebeur byna nooit dat moderne kerke in ’n proses van nuwe belydenisvorming is nie en ons voer dus ’n unieke gesprek wat geduld verg. Dit is jammer hy ervaar dat die “geskrif in die lidmate se keel afgeforseer word”.
Die erns van die saak, en die vereistes van die kerkorde, beteken juis dat almal alle inligting moet hê, ook oor lidmate se regte.
Pieterse vra oor die bedoeling van ’n belydenisskrif. Hy sê dit is Skrifgefundeerd en “help my om my te herinner en by te staan wanneer my geloof in die gedrang kom”.
Dit is ’n goeie beginpunt. Ek voeg ’n paar gedagtes by en maak dit op die Belhar-belydenis van toepassing. Dalk verduidelik dit hoekom derduisende ander NG-lidmate presies die teenoorgestelde as hy voel.
Dalk begryp hy dan iets van hul passie en versoek dat Belhar staanplek in die kerklike lewe moet kry. Dink aan die sinode van die Wes-Kaap wat verlede week byna eenparig besluit het: “Die Sinode handhaaf die oortuiging dat die Belydenis van Belhar in ooreenstemming is met die Woord van God en as belydenisskrif in die belydenisgrondslag van die NG Kerk opgeneem moet word.”
Om Pieterse se argument verder te neem – dit kan ook as ’n soort diktatuur bestempel word as een groep in die kerk die res verhinder om ’n belydenis te aanvaar.
Hoekom moet die kerk aanhou om nuwe paaie te soek? Dit is ’n poging om eenheid in die kerk te behou. Daar is ’n duidelike breuklyn tussen lidmate wat voel dat hulle Belhar as belydenisskrif wil hê en ander wat hulle nie die ruimte wil gee om dit te doen nie. Ons kan dit nie ignoreer nie – ons sal ander oplossings moet soek.
Die tweede rede is dat ons ook terselfdertyd nuwe paaie moet verken om die vier kerke in die NG Kerk-familie bymekaar te bring. Die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) voel sterk oor Belhar. Die Reformed Church in Africa (RCA) en die NG Kerk in Afrika (NGKA) wil dit nie as belydenisskrif hê nie, maar is bereid om ruimte te skep vir ander wat dit so wil hê.
Die NG Kerk se benadering kan juis help om uit hierdie doodloopstraat te kom.
Ek verskil van Pieterse as hy Belhar verstaan as in “teenstelling” met die bestaande formuliere. Allesbehalwe!
Dit gaan nie om ’n verándering van belydenisskrifte nie, maar om ’n verbréding. Dit is kenmerkend van gereformeerde geloof om altyd te reformeer. Belydenisskrifte is in beginsel oop en kan verander word, en Calvyn pleit om ’n oorvloed belydenisse. Belydenisskrifte is soos veiligheidsrelings . . . dit help ons om op die regte pad te bly. Dit laat ons terugkyk na die stryd wat die kerk gestry het sodat ons nie weer daaroor hoef te stry nie. Dit beskerm ons van gevaar. As ons terugkyk op die pad van die kerk, sien ons dat sulke veiligheidsrelings gehelp het om die fokus van die kerk op God se genade te hou.
Nou weet ons dat ons wel van die pad af gegaan het toe almal nie regverdig behandel is nie. Apartheid het “vervreemding, haat en vyandskap bevorder”. Belhar bevat waarhede wat in die konteks van apartheid na vore gekom het, maar wat in soortgelyke situasies weer ’n veiligheidsreling kan wees.
Dit help ons om by drie gevaarlike draaie op die geloofspad te bly: waar dit gaan oor geregtigheid, versoening en eenheid tussen gelowiges.
Die intense debatte oor rassisme herinner ons hoe broos ons samelewing is. Die pad vorentoe is gevaarlik. Belhar verseker gelowiges dat Jesus Christus se versoeningswerk sterker is as enige bedreiging.
Die boodskap van die Bybel is sterker as “ . . . onversoendheid en haat, bitterheid en vyandskap”. Belhar som die goeie nuus op ’n spesiale manier op – kerkmense is vredemakers.
Kerkmense is soos sout vir die aarde en kan van Suid-Afrika ’n beter plek maak. Ons het Belhar nodig as veiligheidsreling, want die bestaande belydenisse maak nie al die afgronde toe nie.
Belydenisskrifte is ook soos uitkykpunte op ’n bergpas. Uitkykpunte laat die reisiger toe om te stop en die groter landskap te bewonder: die mooi vallei, die bergtoppe en die eindbestemming. Ons is soms vasgevang in lewenskrisisse en verloor kop en hoop. Dan moet jy vashou aan die mooi toekoms en geheelbeeld.
Dit is hoekom veral jongmense sterk voel oor Belhar. Hulle sien dit bied uitsonderlike uitkykpunte. Dit help ons om te sien dat die Drie-enige God die hele skepping en mensdom vol verrassende verskeidenheid gemaak het.
“ Apartheid het “vervreemding, haat en vyandskap bevorder”. ”
God se kerk het mense uit allerhande tale en volke en nasies. In Christus is hul eenheid net so mooi en liefdevol as die eenheid tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Belhar sê hulle is met mekaar versoen en gee om vir mekaar, hulle is mense wat “ . . . saam die hoogte en breedte en diepte van die liefde van Christus leer ken”.
Die tweede uitkykpunt wys vrede is sterker as haat. Versoening is beter as stryd. Belhar skets ’n hoopvolle prentjie en sê dat die kerk deur “woord en daad getuies is van die nuwe hemel en die nuwe aarde waarop geregtigheid woon”.
Die derde uitkykpunt is soos die lig van ’n veilige rusplek in donker stormweer. Die lewensreis het alles uit jou gehaal. Jy is ’n 50-jarige wit man wat jou werk verloor het en jou drukkeronderneming het pas, saam met al jou pensioengeld, gesneuwel.
Jy is ’n vrou in ’n vernietigende verhouding. Jy is ’n jongmens wat wonder hoe op aarde jy gaan studeer. Jy is broos, moeg en op.
Belhar sê God is die Een wat geregtigheid en ware vrede bring. Op die donker lewenspad vol onreg is God op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte.
Die NG Kerk het ook in Kerk en Samelewing (1986) daaroor gepraat en gesê God is “by uitnemendheid die Een wat vir die saak van die noodlydende en verontregte intree”.
Belhar (soos Kerk en Samelewing) bied ’n veilige rusplek vir mense wat moeg is vir onreg en diskriminasie.
Niemand is besig om lidmate te boelie nie.
Belhar leef in baie lidmate se harte en is sigbaar in hul lewe. Niemand kan ’n belydenisskrif op iemand anders afdwing nie.
Pieterse sê Belhar sal uiteindelik net deur almal aanvaar word op ’n “natuurlike” manier. Ek dink hy kan nog verder gaan. Dit is net die Heilige Gees wat ’n hele kerk kan oortuig. Maar dan moet ons ook versigtig wees om nie die Gees te weerstaan nie.