Sint Francis word vandag as volg aangehaal:
Verkondig die Evangelie ten alle tye, en wanneer dit nodig is, gebruik woorde.
Die Bybel sê egter in Romeine 10:17
Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.
Ongelukkig ontken mense vandag dat dit ALTYD nodig is om woorde te gebruik. Francis se woorde beteken dus vandag dit:
Niemand mag op ‘n leë maag hel toe gaan nie.
Mag God ons kerk bewaar van ‘n neo-Franciskaanse missiologie!
riaanvzyl said:
Wynand, ek hoor wat jy sê, en natuurlik is jy reg dat ons by elke geleentheid die evangelie moet verkondig, maar dit is ook so dat ons deur ons handel en wandel ten alle tye ‘n getuienis uitdra wat dikwels geloofwaardiger is as woorde. Ongelukkig kan dit natuurlik ook ons woorde heeltemal weerspreek,
hierstaanek said:
Riaan jy is heeltemal reg. Die Evangelie is nie NET woorde nie, niemand het ooit anders beweer nie. Maar sonder woorde is daar eenvoudig geen evangelie nie. Dit is wat Paulus ondubbelsinnig in Romeine 10 sê.
Die Evangelie is OOK Mattheus 25: “Vir soverre julle dit nie aan die geringstes gedoen het nie het julle dit nie aan my gedoen nie.”
Liza-Nel said:
Ek verstaan die sentiment van die woorde – basies behoort ons lewens te wys na Jesus in so ‘n manier dat dit nie nodig is vir ons om woorde te gebruik nie. Maar dis net gedeeltelik waar, want die evangelie boodskap is ‘n verbale boodskap . Al Jesus se wonderwerke is vergesel deur woorde. Hy word genoem “die Woord ” ( Johannes 1 ).
So terloops dis sterk te betwyfel of Franciskus ooit daai woorde gesê het. Dit is nie gevind in enige van sy geskrifte nie, ook nie sy dissipels of biograwe, skryf hierdie woorde aan hom toe nie.
Chavoux said:
My ervaring is dat die gevaar van nét met jou dade te probeer getuig is dat dit te begin maklik gebeur dat mense dink jy is so oulik en nie besef dat die Christus is wat jou begin verander in Sy beeld nie. Wat wel waar is, is dat die teenoorgestelde byna erger is: dade wat jou woorde weerspreek, stoot veel meer mense weg van die evangelie as om stil te bly. Dit beteken nie ons kan slegs begin getuig waneer ons sondeloos is nie, maar wel dat ons openlik sal erken wanneer ons gesondig het (en dit laat staan). Evangelisasie is bloot waar een bedelaar vir ander bedelaars vertel waar hy die brood van die lewe gekry het. Om net die brood voor hulle te eet gaan nie genoeg wees nie. Maar om weer saam met hulle te begin bedel asof jy nooit brood gekry het nie, en dan te sê dat jy weet waar die brood beskikbaar is, is byna erger.
hierstaanek said:
Dankie Vir dié opmerking Chavoux.
Die evangelie is soos ‘n lied: Die boodskap is die lirieke, hoe ons leef is die musiek. Sonder die musiek klink die lirieke belaglik. Sonder die lirieke gaan die kern van die lied se boodskap verlore.
Dit was nog altyd die kerk se uitgangspunt, dat ‘n lewe van heiligmaking die konteks is waarbinne die evangelie verkondig word. Dit is tog Jakobus se hele punt.
Vandag word die musiek en lirieke egter valslik teen mekaar afgespeel, en daar is ‘n sterk beweging in die kerk onder invloed van liberale teologie om die lirieke te los.