Prof Jaap Durand is in die nuus omdat hy en Dirkie Smit Belhar se teks opgestel het.  Hy word in die media beskryf as ‘n “gerespekteerde Gereformeerde dogmatikus”

Die feit van die saak is, al word Durand gerespekteer, kan hy geensins as Gereformeerd beskou word nie.

Daar bestaan geen twyfel dat daar ’n oordeel plaasvind nie, maar daar is nie sprake daarvan dat die straf ewig sal wees nie.

Jaap Durand, Kerkbode, 21/06/2013

Hier is die Gereformeerde belydenis oor die ewige verdoemenis:

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 37

Daarom is die gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want dat sal hulle volle verlossing voltooi word en hulle sal daar die vrugte ontvang van moeite en lyding wat hulle gedra het. Hulle onskuld sal deur almal erken word en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die goddeloses wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het. Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is (Matt 25:41).

Waarom ontken Durand die bestaan van die hel?

Miskien lê die antwoord in Durand se duidelike en onkritiese bewondering vir Pierre Teilhard de Chardin. Durand skryf in sy boek oor Teilhard:

Hoe spekulatief ook al, kan die grootsheid van die natuurwetenskaplike, teologiese en filosofiese ontwerp wat Teilhard deur ’n verbeeldingryke denkvermoë vir ons nagelaat het en die effek daarvan vir die Christelike geloof in ’n wêreld waar geloof en wetenskap in ’n voortdurende, maar soms onnodige stryd gewikkel is,  nouliks onderskat word.

Volgens Durand is Teilhard se filosofie groots, verbeeldingryk en die effek daarvan kan nouliks onderskat word.

Die probleem is dat Teilhard volgens geen sprong van die verbeelding as ‘n Christen beskryf kan word nie. Hy was ‘n panenteïs en het geglo die mens is in wese God.  Die bestaan van die hel is ‘n logiese onmoontlikheid in panenteïsme.

Hoe dit ookal sy, Durand plaas homself met sy verklaring dat die hel nie bestaan nie volledig buite die Gereformeerde belydenis. Verder moet ons aanneem dat, aangesien hy so ‘n heldeverering vir Teilhard het, hy waarskynlik ‘n panenteïstiese wêreldbeeld aanhang, soos Julian Muller wat destyds vise dekaan van Teologie by Tukkies was.

Dit is ook belangrik dat die verband tussen Teilhard en Gutierrez, die vader van Latyns-Amerikaanse bevrydingsteologie hier vereken word.

Dit alles plaas ‘n donker skaduwee oor die Belhar belydenis, wat as sodanige “Gereformeerde” belydenis bemark word. 

Durand se artikel in Kerkbode volg hier.

Enkele perspektiewe oor die vraag na die hel

Die kerk en die teologie het nog altyd té maklik gepraat – en groot skade aangerig, sê JAAP DURAND, en haal Dietrich Bonhoeffer in dié verband aan. Wat staan voorop in die teologie, en hoekom moet ons rekening hou met die metaforiese spreke in die Bybel? vra hy. En wat van die vrae oor die hemel en die hel?

In sommige kringe is dit skynbaar belangrik om te weet of die hemel ’n plek is, en of die bestaan daarvan geografies bewys kan word. Én: Is die hel ’n plek – en waar is dít? Maar wat weet enige iemand – wat weet die kerk, selfs die Bybel – oor wie God werklik is? En daarom, bygesê, wat weet enige iemand oor die ewigheid? Die Bybel praat dikwels in metafore – ’n manier van beeldspraak waarop die onuitspreekbare uitgespreek word. Dit is veral digters wat metafore gebruik.

En juis omdat die Bybel dikwels in metafore praat, moet die kerk en die teologie altyd daarop bedag wees dat ons met ’n ondeurgrondelike saak te doen het wanneer ons oor God en sy handelinge in die wêreld en die geskiedenis praat. Die kerk en teologie het nog altyd té maklik gepraat – en groot skade aangerig. Bonhoeffer praat byvoorbeeld van “die askese van swye as boetedoening vir ’n kerk wat te veel gepraat het”.

Daar sál oordeel wees. Terwyl baie dinge oor die ewigheid vir ons ondeursigtig is, laat die Bybel ons nie in die duister oor enkele sentrale dinge wat ons wel moet weet nie. Voorop staan die verlossingsboodskap, wat sy oorsprong het in God se handelinge in Jesus Christus hier op aarde.  Maar daar is ook ’n saak waaroor die Bybel nie skroom om ons duidelik en onomwonde in te lig nie: Daar sal oordeel wees.

Dat die Goddelike oordeel sal plaasvind op grond van ons werke op aarde – of dit goed of kwaad was – dáároor bestaan daar geen onduidelikheid nie. Ons mag ook nie die feit mislees dat selfs die gelowige se werke deur die vuur van God se oordeel sal gaan nie (1 Kor 3:13-15). Die nie-gelowige sal, soos almal, onder die oordeel van God kom, alhoewel daar ook ’n graadverskil sal wees in die straf. Lukas 12:47-48 maak dit vir ons duidelik. Hier gebruik Christus die voorbeeld van die slae waaraan slawe en slavinne in sy tyd onderwerp was. Letterlik staan daar dat “baie” en “min” slae uitgedeel sal word. Lukas 10:13-15 praat van die “draagliker” oordeel van Tirus en Sidon in vergelyking met Gorasin en Betsaida.  Daar sál ’n oordeel wees – dit staan vas. Maar waaruit dit bestaan en hoe lank dit sal duur – daaroor swyg die Bybel.

Paulus se metafore Omdat dié vrae uiteindelik te doen het met dit wat in die Goddelike ewigheid plaasvind, gebruik die Bybelskrywers ook hier net beeldspraak. En daarom moet ons uiters versigtig wees oor hoe ons hierdie metafore hanteer in ons nadenke daaroor. Dit is opvallend dat Paulus – die apostel wat die eerste was om die heilsgebeurtenisse rondom Jesus se kruis en opstanding te interpreteer en deel te maak van sy evangelie – wanneer dit by sake oor die ewigheid en die ewige bestemming van die mens gaan, self worstel om tot helderheid te kom.

Al is hy ’n apostel en al erken ons sy geskrifte as geskryf onder leiding van die Heilige Gees, bly hy ’n mens net soos ons – ’n kleipot wat maklik breek, volgens sy eie woorde in 2 Korintiërs 4:7. Iemand wat ook geen idee het wat die Goddelike ewigheid werklik beteken nie, en daarom nie anders kan as om in metafore daaroor te praat nie. ’n Uitstekende voorbeeld in dié verband is 1 Korintiërs 15:38-58, wanneer hy oor die opstandingsliggaam praat.

“Ewige” hel? Wanneer ons die bostaande in gedagte hou, kan ons die vraag vra: Waar kom die gedagte van “’n ewige hel” dan vandaan? Die Bybel praat dikwels van die ewige lewe – maar van ’n ewige hel? Waar het dít sy oorsprong?  Die volgende metafore vir die hel is die belangrikstes wat onder ons aandag kom: “vuur” (Matt 25:41); “brandende oond” (Matt 13:42, 50); “buitenste duisternis” (Matt 8:12); en “diepste duisternis” (Matt 23:13). Die plekke waar daar na ’n “ewige vuur” verwys word, kry ons in Matteus 18:8 en in Matteus 25:41. In Openbaring 20:14 en 15 word verwys na die “vuurpoel” – sonder dat die woord “ewig” daaraan gekoppel word. Judas 6 verwys wel na ’n “vuur wat ewig brand” en vers 13 van “die duister dieptes waar hulle ewig sal bly”.

Wat is hierdie “vuur”, hierdie “hel”? En wat beteken dit dat dit ’n “ewige” vuur is? Die woord “hel” is die Afrikaanse vertaling vir die Griekse woord “gehenna” in die Nuwe Testament. Die Grieks is op sy beurt die vertaling van die Hebreeus “ben Hinnom” – wat verwys na ’n dal aan Jerusalem se oostekant. In die (Ou-Testamentiese) tyd van Agas en Manasse was dit die dal waar die kultusdiens van Molog voltrek is. Dit het die slag en verbranding van kinders ingesluit (Jer 7:31-32; 32:35). In die apokriewe boek, Henog, word hierdie dal beskou as die versamelplek van die goddeloses, waar God sy oordeel oor hulle uitoefen.

Later word dié dal letterlik ’n plek waar Jerusalem se onrein vuilgoed – selfs misdadigers se lyke – uitgegooi en verbrand word. Hierdie vuur het onophoudelik gebrand. Omdat hierdie vuur om verstaanbare redes nooit geblus is nie, is daaraan gedink as ’n “ewige” vuur.  Wanneer Jesus oor die hel praat, sluit Hy direk aan by die heersende Joodse teologie van sy dag. Die dal van Hinnom is die beeld van vernietiging en oordeel oor die goddelose. Dat hierdie metaforiese of beeldende taal deur Openbaring en die Judas-brief oorgeneem sou word, is nie verbasend nie. Openbaring verteenwoordig ’n literatuursoort waarin die eindgeskiedenis in simboliese taal uitgebeeld word. Dit is ook duidelik dat die Judas-brief aansluiting vind by die Joodse teologie van dié tyd.

Die vroeë (en latere) amptelike kerklike teologie het hierdie metafoor van ’n ewige hel oorspan en daarvan ’n bepaalde plek gemaak waar God die ongelowige en goddelose vir ewig, sonder ophou, straf.  Die “ewige” vuur van die Hinnomdal is letterlik oorgedra op ’n dogma oor die ewige straf van God, in onderskeiding van die ewige geluksaligheid van die gelowige.  Dit bring onmiddellik die vraag: Hoe kan daar ’n onderskeid gemaak word tussen die graad van die straf, as hierdie straf in elk geval “ewig” is? Dit lyk vir my gewoon onsinnig!

Die ontbrekende parallel Dit is ook opvallend dat Paulus nêrens van ’n “ewige hel” praat nie. Die nie-gelowige se bestemming ontlok by hom nie eens die gebruik van ’n beeldende metafoor nie. Al waarvan hy weet, is dat die dood in hulle geval vernietiging, ondergang, verderf, en die duisternis van die afwesigheid van die lewende God beteken. Waar God nié is nie, heers die dood – ’n dood wat nie anders beskryf kan word as met “totale vernietiging” nie.

Ken Paulus werklik nie ’n ewige verdoemenis as die parallelle teenoorgestelde van die ewige lewe in Christus nie? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons die oorspronklike woorde nagaan wat Paulus vir “verderf” gebruik. Die volgende kom in hierdie verband ter sprake: Galasiërs 6:8; Filippense1:28 en 3:19; 1 Tessa­lonisense 5:3; 2 Tessalonisense 1:9 en 1 Timoteus 6:9.  Wanneer ons na hierdie reeks tekste kyk, kom die volgende oorspronklike woorde ter sprake, soos deur Paulus gebruik: ólethros (vernietiging, ondergang), afgelei van die werkwoord óllumi met die betekenis “om te vernietig”, “om ondergang te bewerk”; apóuleia, afgelei van apóllumi, met die nog sterker betekenis “om totaal te vernietig”; en phthorá, afgelei van phtheírou, wat weereens vernietiging beteken, of “om te laat verrot”.

Nou moet ons goed daarop let dat 2 Tessalonisense 1:9 die enigste van hierdie verse is waarin Paulus van ’n “ewige verderf” praat. Die Griekse teks lees: ólethron aióuvion. Die 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel gee dit weer met “ewige verdoemenis” – ánders as die 1933-vertaling en sy hersiening in 1953 wat van ’n “ewige verderf” praat. Die 1983-vertaling is kennelik verkeerd. Paulus praat nié van ’n “ewige verdoemenis” nie, maar van “’n ewige vernietiging”. ’n Vernietiging wat finaal is, waar daar nie herstel moontlik is nie. By navraag het dit geblyk dat die woord “vernietiging” wel gebruik word in die nuutste vertaling in Afrikaans waaraan daar tans gewerk word.

Die belangrikste Pauliniese uitspraak wat hier onder die loep moet kom, is Galasiërs 6:8. Paulus plaas nie “ewige lewe” langs “ewige verderf” asof die twee uiteindes van die mens se handelinge (die saad wat gesaai word) parallel teenoor mekaar staan nie. Dit is opvallend dat “ewig” by “verderf” ontbreek. Dieselfde ongelykheid tref ons in Romeine 2:6-8 aan. Daar bestaan geen twyfel dat daar ’n oordeel plaasvind nie, maar daar is nie sprake daarvan dat die straf ewig sal wees nie. Die parallellie ontbreek, opvallend genoeg.

Om meer beskeie te wees … Oor waar en hoe hierdie gedagte oor ’n ewige hel in die geskiedenis van die kerk se teologiese ontwikkeling beslag gekry het, vra vir ’n aparte en meer uitvoerige studie. Wat ons wel weet, is dat daar van vroeg reeds ’n verskil van mening was tussen die ou kerkvaders en die teoloë van die eerste eeue. Miskien pas dit die kerk, en ons, om meer beskeie te wees oor dit wat ons weet en nié weet nie oor die Goddelike ewigheid en God se eindoordeel oor die mens. Miskien is die boetedoening van stilswye nie so ’n slegte keuse nie.

– Prof Jaap Durand is voormalige dekaan van die Teologiese Fakulteit van die Universiteit Wes-Kaapland