Ek het vandag ‘n epos van Dr Braam Hanekom ontvang waarin hy my vriendelik wys op Jaap Durand se vertelling van hoe hy en Dirkie Smit die grondbeginsels van Belhar in sy kantoor bespreek het tydens die NGSK se Algemene Sinode van 1982 en hoe Smit daarna oornag die Belhar belydenis, kompleet met begeleidende brief, geskryf het vir voorlegging aan die Sinode die volgende dag.

Die implikasie hiervan is duidelik: Allan Boesak se bydrae tot die Belhar belydenis, al was hy amptelik deel van die ad hoc kommissie met die opdrag om ‘n belydenis op te stel, was minimaal. Volgens Durand het hy slegs ‘n byvoeging tot die aanhef voorgestel.

Ek wil graag vir Dr Hanekom bedank dat hy die moeite gedoen het om bladsye uit Durand se boek vir my te skandeer en aan te stuur. Dit getuig van ‘n bereidwilligheid om betrokke te raak en in gesprek te gaan. Dit word waardeer.

Die rede waarom dit so belangrik is vir die pro-Belhar groep om Boesak se betrokkenheid by Belhar te minimaliseer is duidelik omdat Boesak se uitgesproke bevrydingsteologie vir die Belhar ondersteuners ‘n verleentheid is.

Ek wil die leser graag dringend versoek om hierdie artikel van Strauss te lees, waarin die geskiedenis van die ontstaan van Belhar duidelik uiteengesit word.

Ek lig graag die volgende punte uit:

  • Boesak se betrokkenheid by die Belydende Kring en ABRECSA, twee organisasies wat hulle beywer het vir die daarstel van ‘n anti Apartheid konfessie.

In sy openingsrede by die eerste konferensie van ABRECSA in Oktober 1981 by Hammanskraal, bepleit Boesak ’n swart herontdekking van basiese gereformeerde oortuigings in die Suid-Afrikaanse situasie. Hierdie situasie eis of vra egter meer as dit. Dit vra ’n eietydse anti-apartheidsbelydenis:

“… I indeed believe that black Christians should formulate a Reformed Confession for our time and our situation in our own words.”

  • Boesak se rol by die WBGK se vergadering in Ottawa in 1982.
    • Beide Die Belydende Kring en ABRECSA het dokumente voorberei vir Ottawa.
    • Die vergadering by Ottawa kies Boesak as president van die WBGK
    • Die Ottawa vergadering verklaar Status Confessionis teen Apartheid.
  • By die Algemene Sinode van die NGSK van 1982 word Boesak verkies as assessor.

Daarby neem die Sinode van 1982 sy besluite oor die saak op 1 Oktober 1982, nie lank na die Wêreldbond in Ottawa nie, sodat die gloed van laasgenoemde via die media en sy eie afvaardiging maklik kon oorspoel na die NGSK. Boonop word Boesak assessor van die Sinode van 1982 wat ’n aanduiding is van die aansien wat hy in hierdie kringe geniet. Dit het die kans verbeter dat sy standpunte, wat op sleutelpunte in die verklaring van die WBGK deurkom, ook hier aanvaar sou word.

  • Die Algemene Sinode kondig Status Confessionis teen Apartheid af.
  • Op aandrang van Dr Gustav Bam word ‘n ad hoc kommissie aangestel om ‘n konsep belydenisskrif op te stel. Die kommissie bestaan onder andere uit Gustav Bam, Allan Boesak, Jaap Durand, Dirkie Smit en Isak Mentor (Die moderator).
  • Volgens Durand se getuienis is hy en Smit na sy kantoor toe waar hulle die grondbeginsels van so ‘n belydenis bespreek het. Smit het daarna oornag die belydenisskrif geskryf en dit is die volgende dag met klein veranderings aan die Sinode voorgelê, wat dit so aanvaar het.
  • Dit is duidelik dat die besluit om ‘n belydenisskrif te skryf nie uit die bloute gekom het nie, al stel Durand dat dit vir Bam ‘n verbasing was:

In plaas van om deur hierdie opmerking van hom afgeskrik te word, sê die sinode tot sy verbasing, ‘en ek glo ‘n hele paar ander s’n: “maar dan stel ons ‘n belydenls op”. (Durand)

Boesak het hom immers al ‘n tyd lank op die hoogste vlakke beywer vir die opstel van die belydenisskrif! Dit is duidelik dat, alhoewel Durand en Smit volgens Durand die konsepte vir die belydenis daar gestel het en Smit dit daarna geskryf het, die rol wat Boesak in die ontstaan van Belhar gespeel het nie oorskat kan word nie. Hy was immers die held van Ottawa, by verre die mees invloedryke persoon by die Sinode, en die persoon wat van die begin af geveg het vir die opstel van so ‘n belydenis!

Verder is dit belangrik om na Jaap Durand se teologie ook te kyk:

Durand het onlangs ‘n baie positiewe boek oor Teilhard de Chardin se teologie deur Bybel Media publiseer. Teilhard word beskou as die vader van die New Age beweging en was ‘n groot invloed op Gutierrez, die belangrikste Suid Amerikaanse bevrydingsteoloog en een van die belangrikste invloede op Boesak se teologie.

https://hierstaanek.com/2013/07/21/kritiek-op-jaap-durand-se-boek-evolusie-wetenskap-en-geloof-n-biografiese-inleiding-tot-die-denke-van-teilhard-de-chardin/

Durand het ook ‘n artikel in Kerkbode publiseer waarin hy die bestaan van die hel ontken – dit plaas hom deeglik buite die Gereformeerde ortodoksie. Ek het in hierdie brief meer uitgebrei oor Durand se ondersteuning van Teilhard, en die verband tussen Teilhard en Gutierrez. Rol die blad af na onder en lees die betrokke paragrawe asb!

https://hierstaanek.com/2014/12/14/in-gesprek-met-ds-robert-knobel-van-mosselbaai-oor-die-teologiese-grondslag-van-belhar/

My gevolgtrekkings is as volg

  1. Boesak se rol in die ontstaan van Belhar kan nie oorskat word nie, al het Smit die woorde geskryf. Dit verander geensins die geldigheid van my argumente oor bevrydingstelogie in Belhar nie.
  2. Durand, wie allerweë beskryf word as ‘n gerespekteerde Gereformeerde dogmatikus plaas homself buite die Gereformeede belydenis met sy ondersteuning van Teilhard de Chardin en sy ontkenning van die hel. Daar is ‘n direkte verband tussen Teilhard en die bevrydingsteologie van Gutierrez.

Wynand Louw