Daar was klagtes dat Kerkbode slegs een kant van die Belhar debat publiseer. Neels Jackson het in antwoord daarop onderneem om ‘n artikel van Ds Theo Danzfuss te publiseer. Dit is tot sy krediet – net jammer dat dit op hierdie laat stadium gebeur nadat so ‘n groot persentasie gemeentes reeds gestem het!

Ds Danzfuss se artikel volg:

Belhar – hier is die teologiese besware

Ons lidmate word daagliks gesus met die leuen dat diegene wat weier om Belhar as belydenis te aanvaar nie teologiese besware het nie, maar slegs politieke en emosionele besware. Dit laat mens fluit van verbasing. Kan kerkleiers regtig so uit voeling wees met die waarheid of is dit voorbedagte disinformasie? Die teendeel is nader aan die waarheid. Meeste voorstanders van Belhar is eerder emosioneel of polities gemotiveer as teologies. Dit is skokkend dat selfs die Algemene Sinode nog geen teologiese studie van Belhar gedoen het nie. Nie een enkele van die besluite wat tot dusver oor Belhar geneem is, is geneem op grond van ’n objektiewe teologiese evaluering voor die Sinode nie.

In 2011 het die Sinode danksy die welsprekendheid van sekere afgevaardigdes besluit om ’n kerkordelike proses te begin om Belhar moontlik deel te maak van ons belydenisgrondslag. Ons het die sinode daarop gewys dat geen belydenis slegs “opsigself genome” beoordeel kan word nie. Daar is toe besluit om as deel van die proses ’n studie te doen oor die teologiese en historiese evaluering van Belhar. Hierdie studie moes in 2013 voor die Sinode dien, maar dit is nooit gedoen nie. Tot dusver is die sinode se besluite oor Belhar dus nie gebaseer op ’n teologiese evaluering nie, maar bloot emosioneel oor Belhar “opsigself genome”.

Grondliggend van teologiese besware teen Belhar, is die onmiskenbare invloed van die bevrydingsteologie. Na die ontstaan van die belydenis in 1982/86, het die Breë Moderatuur van die NG Kerk dit verwerp as ’n dokument met ’n “onaanvaarbare horisontalistiese eksegese eie aan die teologie van bevryding”. Selfs verskeie liberale teoloë erken hierdie invloed. Dr Willem Nicol sê: “Therefore I would say that the Belhar Confession which combines Reformed Theology with elements from Liberation Theology, is a legitimate Reformed development”.

Die “Statement of the Institute for Contextual Theology” dank God vir die profetiese stem “through documents like the Kairos Document, The Belhar Confession, The Road to Damascus, …” Selfs prof Willie Jonker moes erken “al moet erken word dat verbindingslyne met die teologie van bevryding hier wel moontlik sou kon wees.”

Dr Boesak, die bekendste lid van die vyfmankommissie wat Belhar opgestel het, se doktorale proefskrif is ’n loflied op die swart bevrydingsteologie.

Hierdie mengsel van yster en klei het ernstige implikasies vir die hermeneutiese sleutel waarmee Belhar beoordeel moet word. Bybelse begrippe soos eenheid, geregtigheid en versoening kry in Belhar ’n nuwe horisontale betekenis wat vreemd is in die gereformeerde teologie.

Boesak sê openlik: “Black theology believes that liberation is not only ‘part of the gospel … it is the content and framework of the gospel … The Gospel is the Gospel of the Poor.” Dit is uiters naïef om te dink dat hy nou in Belhar skielik sy Marxistiese verstaan van die begrippe met Bybelse inhoud sou vul.

In die lig hiervan is dit nie vreemd dat Belhar met ’n valse Godsbegrip werk nie. Belhar aanvaar woordeliks die swart bevrydingsteologie se valse Godsbegrip dat God “op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg.”

Ten spyte van baie teologiese besware die afgelope 30 jaar, volstaan die opstellers steeds hardkoppig met hierdie Marxistiese bewoording. Anders as Belhar leer die Bybel ons: “Voor die Here is ryk en arm gelyk; Hy het hulle almal gemaak” (Spr 22:2).

’n Belydenis wat nie akkuraat geformuleer is nie bevorder dwaling en verdeeldheid. Vir Belhar se outeurs was akkurate formulerings glad nie belangrik nie.

Tydens die ontstaan van Belhar het 73 afgevaardigdes teen bogenoemde misleidende formulering gestem. Beide professore Bam en Smit het erken dat sekere formulerings dubbelsinnig is maar tog geweier om dit te verander. Volgens Smit word slegs die saak in die belydenis “van harte onderskrywe en nie spesifieke woorde of uitdrukkings nie.”
As ons gereformeerde vaders so min gedink het van akkurate teologiese formulerings was die reformasie asook die stryd teen die Arminiane futiel.

Die gereformeerde belydenisse verwerp dwalinge na links en na regs. Selfs Kerk en Samelewing verwerp nie net rassisme nie, maar ook “marxisme, kommunisme, totalitarisme, integrasionisme en alle ander onchristelike ideologieë” (par 255). Belhar druip hierdie toets deur sektaries eensydig slegs dwalinge na regs af te wys. Reële dwalinge na links, soos die marxisme en bevrydingsteologie word geïgnoreer en selfs bevorder deur gevaarlike formulerings.

Een van Belhar se grootste teologiese probleme lê natuurlik by sy kerkbegrip. Belhar dwaal in sy siening van eenheid en pluriformiteit, die kerk se primêre taak op aarde, die verhouding tussen plaaslike gemeente en die een Christelike Kerk. Belhar se standpunt dat een kerkformasie ’n Bybelse eis is, en dat alle aparte kerkformasies sondig is, is in stryd met Skrif en belydenis.

Ruimte ontbreek om ander teologiese dwalinge in Belhar se kerkbegrip, Skrifgebruik, horisontalistiese eksegese en siening van strukturele eenheid asook die taak van die kerk aan te dui.

▶ Ds Theo Danzfuss is predikant van die NG Gemeente Witfield en aktuarius van die Hoeveldsinode.