Na aanleiding van ‘n artikel van Neels Jackson in Beeld. (Hieronder ingeplak)

Die NG Kerk is besig om haarself te omskep van ‘n missionêre kerk na ‘n missionale kerk. Dit beteken dat die NG Kerk nou doelbewus na gemeenskappe uitreik om ‘n maatskaplike verskil te maak. Gee die hongeres kos, die wat kaal is klere, die siekes hulp ens. In praktyk beteken dit dat diens van barmhartigheid nou dikwels voorrang geniet bo die verkondiging van die Evangelie.

Met die eerste oogopslag lyk dit pragtig. Jesus het gesê in Lukas 16: “Vir soverre julle dit aan die geringste gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”

Daar is egter twee groot waarskuwings:

1) Dit misken dalk die groot werk wat die Kerk (Ook NG Kerk) al vir baie eeue doen. Plaaslike gemeentes, ringe en sinodes was nog altyd op die voorpunt van liefdadigheidsaksies betrokke in hulle gemeenskappe! Om die verkondiging van die Woord op een of ander manier in teenstelling te stel met diens van barmhartigheid is om ‘n vals digotomie daar te stel: Diens van barmhartigeheid vloei spontaan uit die regenerasie van gemeenskappe deur die evangelie. En sendelinge wat die evangelie verkondig het het nog altyd barmhartigheidswerk in die gemeenskap gedoen. Christene was nog altyd verantwoordelik vir die bou van hospitale, skole, kinderhuise, voedingsprogramme waar hulle ookal die evangelie verkondig het.

2) Die Groot Opdrag aan die Kerk is nie om ‘n liefdadigheidsorganisasie te wees nie, dit is om die boodskap van verlossing te verkondig.  En wanneer ons die boodskap verkondig sal die dissipels wat ons maak, outomaties, deur die Gees, ‘n verskil in hulle gemeenskappe begin maak.

Daar lê ‘n diep wêreldbeeld probleem in die klemverskuiwing van verkondiging van die woord aan ongeredde mense na bediening van barmhartigheid aan ongeredde gemeenskappe. Dit lê hierin:

Ons word vertel dat die oorsaak van morele probleme soos geweld, diefstal, seksuale losbandigheid en dwelmmisbruik die gevolg is van armoede. Dus, as ons armoede aanspreek sal die morele status van die gemeenskap verbeter.  Hierdie wêreldbeeld is die grondslag van die Missionale beweging, en van elke sekulêre gemeenskaps ophefffingsprogram.

Die Bybel verklaar ondubbelsinnig dat bogenoemde wêrelbeeld  vals is.  Die morele verval van ‘n gemeenskap is nie die gevolg van finansiële armoede nie. Dit is die gevolg van sonde. Daar is beslis ‘n verband tussen armoede in ‘n gemeenskap en morele verval, maar die verband is baie meer ingewikkeld as wat die liberale kultuur beweer.

Die oplossing vir sonde, en dus gemeenskapsverval, is nie liefdadigheidsprogramme nie maar die Evangelie van Christus.

Dus: Enigiemand wat beweer dat gemeenskapstransformasie deur sosiale programme kan geskied weerspreek God direk.

Die Evangelie verander indiwidue. Wanneer genoeg indiwidue in ‘n gemeenskap verander het begin die gemeenskap verander (Ek het iewers gehoor dat ‘n penetrasie van ‘n nuwe kultuur van 25% in ‘n gemeenskap die gemeenskap sal verander). Veranderde indiwidue raak betrokke by hulle bure. Ek staan dikwels verstom hoe arm kinders van God in Atlantis hier op die weskus dikwels die bietjie wat hulle het uitdeel om behoeftiges te help – dit gebeur spontaan en organies, onder die leiding van die Heilige Gees.  Wanneer mense tot bekering kom en ‘n kulturele invloed op die gemeenskap begin hê, verander die moraliteit van die gemeenskap. Weergebore Christene onttrek hulle van bendes, dwelms en seksuele ontug. Hulle raak ekonomies betrokke in die gemeenskap. Hulle heg waarde aan die huweliksbelofte. Hulle kinders doen beter op skool. Dit alles lei tot ‘n opheffing van die gemeenskap wat geen maatskaplike of liefdadigheidsaksie ooit kan naboots nie.

Let op: Ek sê nie die Kerk moet nie diens van barmhagtigheid doen nie! Die Kerk MOET dit doen!

Ek sê die Groot Opdrag aan die Kerk is nie diens van barmhartigheid nie, dit is die verkondiging van die Evangelie!

Ek besef dat dit wat ek hier sê vir baie mense nie sin sal maak nie. Daarom plak ek hier ‘n video van Kevin DeYoung is, hy is ‘n baie beter kommunikeerder as ek. Kyk asb die video voordat jy ‘n gevolgtrekking maak!

Neels Jackson se artikel volg:

Die NG Kerk is besig om ’n gedaantewisseling te ondergaan. Neels Jackson, redakteur van Kerkbode, vertel.

In Oktober verlede jaar het die algemene sinode gesê die NG Kerk wil ’n missionale kerk wees. Daarmee het die kerk gesê hy wil hê dat sy gemeentes en lidmate nie net die geloof met die mond bely nie. Hulle moet met dade van liefde en genade getuig.

Dit is die soort besluit wat maklik in dik kerklike dokumente op stowwerige rakke sou kon beland, maar dit het nie. Dit het deel geword van ’n golf van verandering wat besig is om deur die kerklike kultuur te spoel.

As ’n mens bloot na die NG Kerk se maatskaplike dienste kyk, dan is daar in die boekjaar tot Februarie 2014 altesame R1,035 miljard (waarvan sowat 40% van staatsubsidies kom) bestee aan dienste aan 1 472 684 mense – van wie na raming slegs tussen 10% en 20% lidmate van die NG Kerk is. Die meeste ontvangers van hulp is swart.

Maatskaplike werkers wys daarop dat dit nie net die direkte ontvangers van dienste is wat daaruit voordeel trek nie, maar ook die mense om hulle. Reken ’n mens dat daar gemiddeld drie sulke mense is per geval, dan het byna 6 miljoen mense in die vorige boekjaar baat gevind by die NG Kerk se maatskaplike dienste.

Die groot omwenteling vind egter in gemeentes plaas.

In Strydenburg en Hopetown, twee dorpe suid van Kimberley in die Noord-Kaap, is armoede ’n groot probleem. In dele van die gemeenskap lei dit tot groot sosiale verval. Daar word stories vertel van kinders wat in die laerskool aankom en nog nooit ’n boek of ’n pen vasgehou het nie. Hulle word groot sonder funksionele opvoeding en die skoolstelsel spoel oor hulle sonder dat die kinders enigsins baat vind daarby.

Met die steun van die Noord-Kaapse sinode het die plaaslike NG gemeentes begin met sentrums vir vroeë kinderontwikkeling, kleuterskole waar kinders gevoed en opgevoed word, waar hulle agterstande uitgewis word en hulle gehelp word sodat hulle skoolgereed skool toe kan gaan.

Deur die kinders word die ouers bereik en uiteindelik is dit ’n projek met die potensiaal om ’n hele gemeenskap te verander.

Dis lank nie meer ’n geïsoleerde geval nie. Naby George in die Suid-Kaap het die gemeente Outeniqualand jare gelede al begin met ’n kleuterskool vir plaaswerkers se kinders – omdat iemand gesien het die kleuters sit bedags in die son langs die lande waar hul ouers werk en gesê het so kan dit nie aanhou nie.

Aan die Wes-Rand het die NG gemeente Constantiakruin ’n klompie jare gelede gehelp dat ’n kleuterskool in die plakkerbuurt Soul City tot stand kom. Danksy dié skool lê die toekoms vandag oop vir kinders wat andersins weinig vooruitsigte in die lewe sou gehad het.

Voedingsprojekte is daar baie. In Bothaville in die Vrystaat het die drie NG gemeentes in Augustus vanjaar 17 649 maaltye aan behoeftiges verskaf – 16 389 daarvan in die township Kgo­tsong. By Witrivier in die Laeveld het twee lidmate begin met ’n projek wat daagliks sowat 1 500 kinders in die arm swart gemeenskappe van die dorp kos gee.

Daar is merkwaardige verhale van grense wat oorgesteek word. In Yzerfontein aan die Kaapse Weskus het daar ’n paar jaar gelede op ’n Sondagoggend twee Malawiërs in die plaaslike NG kerk se Afrikaanse erediens ingestap. Iemand het by hulle gaan sit en vir hulle getolk.

Uiteindelik het ’n hele gemeenskappie van Malawiërs en Zimbabwiërs wat in Suid-Afrika ’n heenkome kom soek het, in die NG Kerk ’n geestelike tuiste gevind. Vroeër vanjaar is klein Luke Phiri in Yzerfontein gedoop. Sy ouers was toe al langer as ’n jaar lidmate daar.

Veral in die middestede is die NG Kerk lankal nie meer wit nie. Torings van Hoop, die bediening in die historiese Tweetoringkerk in Bloemfontein, het na aanleiding van Kolossense 3:11 die leuse: “Here there are no Afrikaners or Sothos, rich or poor, black or white, homeless or home-owners. But here Christ is all and in all.”

The Meeting Place is ’n koffie-en-geskenkwinkel by die NG kerk in Arcadia, Pretoria, wat volgens die Zimbabwiese immigrant Wellington Muzengeza sy lewe verander het.

Hy skryf in sy blog op socialjusticeimmigrant.blogspot.com dat dit ’n plek is waar mense uit verskillende agtergronde kan ontmoet en vertel dat dit vir hom regtig wonderlik is om te sien dat ’n kerk wat vroeër so ’n sterk voorstander van apartheid was, so kon aanpas.

Uit Overkruin in Pretoria en uit George in die Suid-Kaap kom daar verhale van werknemers van gemeentes vir wie daar huise gebou is omdat mense sensitief geraak het vir die nood om hulle.

Daar is merkwaardige verhale oor individue, soos dié van Nobunto Motholeni, ’n Xhosa-vrou met ’n veelbewoë lewe wat onder meer by NG teoloë opleiding gekry het en nou in die diens van die NG gemeente Helderberg in ’n bruin gemeenskap op die Kaapse vlakte mense deur hul traumas help.

Jacqueline Wites was ’n alkoholverslaafde boemelaar wat danksy die NG Kerk se Straatligbediening in Stellenbosch drank kon los en met ’n nuwe lewe kon begin. Begin vanjaar het sy haar hulp kom aanbied by Straatlig en nou is sy deel van die uitreikspan.

In Durban en Alberton is daar verhale van NG moedergemeentes wie se tradisionele bedienings kleiner geword het, maar wat verbeeldingryke nuwe bedienings begin het wat nou mense bereik by wie die tradisionele bedienings nooit sou uitgekom het nie.

Met die groot mynstakings wat Rustenburg en omstreke vroeër vanjaar getref het, het miljoene rande en materiële bydraes van gemeentes van oor die land heen na die gemeentes in Rustenburg gestroom om ’n getraumatiseerde gemeenskap te help.

In Petrusburg, halfpad tussen Bloemfontein en Kimberley in die Vrystaat, het Lulu Hugo, ’n NG lidmaat, hande gevat met Dorah Lekgari van die township Bolokanang, en met steun van Hugo se gemeente ’n sentrum vir gestremdes in Bolakanang gestig. Van die mees gemarginaliseerde mense in ’n reeds gemarginaliseerde gemeenskap word nou elke dag daar versorg.

Daar is ’n nimmereindigende stroom dergelike stories uit gemeentes – verhale van ’n kerk waar dit ál minder om mag gaan en ál meer oor diens.

En daar is ’n doelbewuste poging om al hoe meer in daardie rigting te skuif. In die NG gemeente La Rochelle in Bellville word die Sondagskoolklasse uitgeneem in die gemeenskap om te gaan leer om praktiese diens te lewer. Een groep het pompjoggies by ’n vulstasie se skoene gaan poleer om vir hulle dankie te sê vir hul werk.

Die NG Kerk werk dikwels nie alleen nie, maar in ’n netwerk van vennootskappe waarin dit nie oor kerk of organisasie gaan nie, maar oor die liefde van God wat na die wêreld toe moet vloei.

Ons vertel dié stories nie om te spog met die NG Kerk nie, maar omdat ons self soms verstom staan oor wat die Here besig is om met en deur die NG Kerk te doen. Selfs met ons geskiedenis van steun vir apartheid, waarop ons glad nie trots is nie, het die Here ons nooit gelos nie.

Inteendeel. Soos met Moses en Dawid en Paulus wat donker kolle in hul geskiedenis gehad het, is die Here besig om die NG Kerk om te keer en op talle plekke op kleiner of groter maniere te gebruik om ons samelewing te help heel maak.