Gesprek oor Belhar se teologiese begronding.

Ek het na aanleiding van ‘n artikel van Ds Petrus Kriel van Levubu wat ek help versprei het, ‘n brief van Ds Knobel van die Weskaap ontvang waarin hy Belhar verdedig.

Dit is verblydend dat mense bereid is om in gesprek te gaan, ek waardeer dit opreg. Die Heilige Gees praat met ons op slegs een manier, die Bybel. As ons dus wil hoor wat God vir ons as die NG Kerk wil sê, moet ons bereid wees om die Bybel te ondersoek en korrek uit te lê.

En dan moet ons natuurlik ook in die Bybeluitleg ons hou by ons geregtelike kontrak met mekaar: Om die Bybel binne die parameters van die Drie Formuliere van Eenheid uit te lê.

Ek plak Ds Knobel se brief hier in, my antwoord volg daarna.

Wynand Louw.

Ds Knobel se brief gedateer 2014/12/03

Goeie more,

Ek reageer op die epos wat U met vrymoedigheid vir my gestuur het.

Ek gun enige persoon ‘n mening. Ook vir jou en Jammer net dat elkeen glo ons/ek alleen het die waarheid beet. Asof ons vir God presies verstaan. Ek is ‘n predikant in die Wes-Kaap. Die Belhar belydenis is op die eerste sinode wat ek wat nog as student bygewoon het , in bespreking geneem. Die frase “dat God in besonder die God van die armes is” is, is die enigste deel wat regtig ‘n debat ontketen het, juis binne die konteks van die 80’s en die bevrydingsteologie. Die sinode het toe reeds die inhoud van die Belhar aanvaar.

Ons is lankal verby die bevrydingstryd, en bevrydingsteologie. As jy die teoloë ken wat by die skryf van die dokument betrokke was, dan sal jy verstaan hulle is nie bevrydingsteoloë nie (Professors Dirkie Smit , Jaap du Rand, en Cas de Vos.)

Die Belharbelydenis geld nie slegs vir ‘n spesifieke tyd en ‘n spesifieke groep mense nie. Dwarsdeur die eeue was die Kerk aandadig aan mensevergrype en onbillike stelsels, sowel as die bevoordeling van rykes teenoor armes. Paulus het al die gemeente in Korinte daaroor gewaarsku!

Die Belharbelydenis help ons om as gelowiges(alle gelowiges in die Kerk van Jesus Christus – ook die van nie-Gereformeerde belydenis) te bely wat die Bybel sê oor die eenheid van alle gelowiges, (ons bely dit Sondag vir Sondag met die Apostoliese geloofsbelydenis) oor versoening tussen gelowiges, en oor geregtigheid vir alle mense.

In die oorbekende Joh 3:16-17 sê Jesus self dat God die wêreld(nie net verbondskinders nie) so lief gehad het dat Hy Sy enigste Seun gestuur het, sodat die wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sou hê.
17 God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.”
Die evangelie is dus bedoel vir die hele wereld! Ook God se geregtigheid, Sy vrede, hoop, versoening, liefde ens.

Jesus identifiseer homself met die voorspelling van die Mesias in Jes 61 wanneer Hy in Lukas 4 die volgende in die sinagoge in Nasaret lees.
“Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

In Matt 25 vanaf vers 31 lees ons van die geringstes. Die wonder was dat die mense wat die wil van God gedoen het, honger mense kos gegee het, vir hulle iets gegee het om te drink , hulle gehuisves het, verpleeg het toe hulle siek was en besoek het toe hulle in die tronk was, nie eers geweet het wanneer hulle dit gedoen het nie, want dit was deel van hul lewenswyse. Jesus noem hulle gesëendes, mense vir wie die koninkryk van die begin af bestem is. Hulle was verbaas omdat hulle nie gedink het hulle het vir Jesus gehelp nie, maar Jesus sê as hulle dit aan een van die geringstes gedoen het, het hulle dit aan Hom gedoen. Iemand wat nog wil redeneer oor wie die naaste is, ignoreer vir Jesus. Daar is twee duidelike gedeeltes – die geringstes, en die Samaritane(kultureel vermengdes vir wie die Jode gehaat het), en hier in Matt 25 die geringstes. Natuurlik nie die enigstes nie, maar Jesus se liefde sluit almal in! Ook die wat ons nie sou wou kies nie.)

Daar is baie geskryf oor rykes en armes, verontregtes en mense wat vertrap word. Keer op keer is God die een wat opstaan vir hulle, wat aan hulle kant staan. Doen gerus ‘n studie daaroor, ek glo u sal verbaas wees.

Matt 25 is vir ons ‘n voorbeeld daarvan dat ons onsself baie hoog kan aangee oor ons belydenis, maar as ons nie praktiese liefde elke dag teenoor almal uit leef nie, selfs teenoor ons vyande nie,volg ons nie vir Jesus nie. Sonder die liefde bly daar nie veel van Christenskap oor nie.

Kom ons vermaan mekaar tot liefde, veral teenoor medegelowiges, al stem hulle nie met ons saam nie.

Ten slotte -dit is nou op die reaksie van Ds Kriel se brief – Sou dit vir Jesus belangriker wees dat die Nederduitse Gereformeerde Kerk se naam tot by die wederkoms bly bestaan, of dat ons in liefde saam fokus op die uitbreiding van Sy Koninkryk op aarde?

Groete

Robert Knobel

Ek antwoord as volg

Beste ds Knobel

Baie dankie vir u antwoord. Ek vra om verskoning dat dit my so lank neem om te reageer maar ek was redelik besig.

U skryf: “Daar is baie geskryf oor rykes en armes, verontregtes en mense wat vertrap word. Keer op keer is God die een wat opstaan vir hulle, wat aan hulle kant staan. Doen gerus ‘n studie daaroor, ek glo u sal verbaas wees.”

Hier volg ‘n gekondenseerde gevolgtrekking van die studie waartoe u my uitgedaag het. U kan maar self gevolgtrekkings maak oor op wattter manier my studie my verbaas het!

Ek is veral bly dat u die Bybel as grondslag vir u redensie oor Belhar gebruik, dit beteken ons het ‘n gemeenskaplike vertrekpunt en kan saam redeneer oor die saak.

Ek wil eerstens graag die volgende as hermeneutiese beginsels stel voordat ek met u in gesprek gaan

  1. Die Bybel is in sy totaliteit deur God geinspireer, al het God op organiese en nie meganiese wyse deur die Gees geïnspireerde menslike skrywers gewerk. Hierdie beginsel word tans op die hoogste vlak in die NG Kerk ontken. Ek verwys u spesifiek na ‘n Kerkbode artikel van onlangs. U kan dit by hierdie skakel oplees: https://hierstaanek.com/2014/09/10/kerkbode-ontken-by-monde-van-julian-muller-die-bybel-se-gesag/
  2. Omdat die Bybel in sy geheel deur God voortgebring is moet die Bybel eerstens uitgelê word na aanleiding van die Bybel. Ons moet Skrif gebruik om die Skrif te verklaar. Net soos enige ander skrywer se wie werk gebruik moet word om sy werk te verklaar.

Tweedens is dit uiters belangrik dat ons die twispunt duidelik moet definieer.

  • Dit gaan nie hier oor of God ons beveel om armes, noodlydendes of verontregtes op praktiese manier moet lief hê, versorg of aan hulle moet reg laat geskied nie. Hierdie word op geen manier betwyfel nie. Dit is nie in dispuut nie.
  • Dit gaan ook nie daaroor of God Hom self tot vyand verklaar van onderdrukkers nie. God verklaar Hom tot vyand van alle sondaars wat hulle nie bekeer nie. U haal Joh 3:17 aan. In die volgende vers, Joh 3: 18, sê God: “…wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.” So die feit dat God die vyand is van alle onbekeerde sondaars, ook onderdrukkers, word nie betwis nie. Vergelyk maar ook Psalm 82.
  • Dit gaan daaroor dat Belhar beweer dat God op “’n Besonderse wyse die God is van die armes, noodlydendes en verontregtes.”

U sien, die vraag wat ons moet beantwoord is as volg: Is daar ‘n derde verhouding tussen God en mens, buiten dié twee wat in die Bybel en belydenisskrifte defineer word naamlik God se voorsienigheid en God se verbondsgenade, waarmee God met die mens interaksie het? En is hierdie derde verhouding tussen God en mens gegrond op die mens se sosiopolitieke klas soos Belhar beweer?

A) Geseënd is die armes, want aan hulle behoort die koningkryk van God

Kom ons kyk na die belangrikste bewysteks vir Belhar se “derde verhouding”.

Lukas 6:20 Jesus het sy dissipels aangekyk en gesê: Geseënd is julle wat arm is, want aan julle behoort die koninkryk van God. 21Geseënd is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word.

Lukas 6:20 lyk soos afdoende bewys dat Belhar korrek is, soos u ook in u brief uitwys. Maar is dit die hele verhaal?

Mattheus dokumenteer dieselfde preek van Jesus as volg:

Mattheus 5:3“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is [die armes van gees] , want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. […] 6Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.

Onthou, hierdie is dieselfde preek, deur dieselfde Persoon, God die Seun, gepreek is en wat deur dieselfde Persoon God die Heilige Gees deur middel van die Bybelskrywers opgeteken is.

Dus: Lukas 6: Geseënd is die armes. Wie is die armes? Kom ons hoor wat sê die Heilige Gees, die bron van die teks, as Hy self die teks vir ons uitklaar: Die armes is die armes van gees. Of soos die 1983 vertaling tereg uitlê, “dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is.”

Die volgende vraag wat ons moet vra is dit: Wie weet hoe afhanklik hulle van God is? Weereens moet ons die Heilige Gees toelaat om die vraag uit Sy Woord te beantwoord:

Efesiers 1: 3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. 4So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. 6Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het.7Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God8wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het

Kom ons trek bietjie hierdie verse uit mekaar.

  1. Die wat uitverkies is
  2. Het al die hemelse gawes in Christus ontvang
  3. En kinders van God geword
  4. En (by herhaling!) genade ontvang
  5. Sodat hulle God kan loof vir Sy genade!

Waarvoor is ons afhanklik van God? Genade. Genade is tog onverdiende guns. Ons is afhanklik om dit wat ons nie verdien nie (fisiese lewensmiddele maar ook geestelike lewensmiddele) van God te ontvang.

Wie weet hoe afhanklik hulle van God is vir genade? Die uitverkorenes. Dus die verbondskinders van God.

Wanneer ons die Skrif self toelaat om die Skrif uit te lê, kom ons tot die gevolgtekking dat “armes” in die Bybel verwys na dié mense wie reeds gered is – dié wie God voor die uitverkiesing van die wêreld uitverkies het om gered te word.

Beteken dit dat ons die letterlike betekenis van die woord “armes” ignoreer?

Absoluut en beslis nie. God gebruik juis mense se fisiese nood om hulle na Hom te roep. Dit is dus beslis reg om die “armes” gekwalifiseerd as dié met min geld te sien. Armes is geseënd in soverre hulle armoede hulle tot afhanklikheid van God dring.

Die omgekeerde is waar oor rykes: Rykes kan nie in die hemel kom nie, in soverre hulle rykdom vir hulle belangriker is God.

Mattheus 19: 21 Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”

22Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

 23Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Dit verseker Ek julle: ‘n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom. 24Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom.”

Beteken dit geen ryke kan in die hemel kom nie? Jesus sê beslis nie. Wat vir die mens onmoontlik is, is vir God moontlik.

Hierdie Bybeluitleg is so voor die hand liggend dat dit amper belaglik is om aan iemand te moet verduidelik. Tog ontgaan dit die belangrikste teoloë in die NG kerk op die oomblik.

Waarom?

Die antwoord is heel eenvoudig. Hulle ontken die Goddelike inspirasie van die Bybel, soos Kerkbode dit hard en duidelik gestel het (Sien weer my skakel hierbo) . Mattheus en Lukas se evangelies het dus nie eén Bron nie maar twee: Mattheus en Lukas. En hierdie twee bronne het nie noodwendig met mekaar saam gestem nie. Mathheus se weergawe van Jesus se preek moet dus op sye eie en los van Lukas se weergawe van Jesus se preek gesien word.

Omdat die outeurskap van die Bybel verskeur word, kan die Bybel eenvoudig nie gebruik word om die Bybel te verklaar nie.

Belhar maak dus ‘n ernstige hermeneutiese fout: Omdat dit die eenheid van die Bybel, en dus die eenheid van die tekste in Mattheus en Lukas ontken, ontken dit die Bybel se eie getuienis oor die dieper betekenis van Lukas se teks.

Belhar lê Lukas se teks dus nie net letterlik uit nie maar literalisties: Dit ontken by voorbaat dat die teks meer as een vlak van betekenis kan hê. Dit is so goed as om te sê dat Jesus beweer het Hy is ‘n plank toe Hy gesê het Hy is die “deur”.

Ek dink wat my die meeste ontstel van u brief is dat u skynbaar aandring daarop om Jesaja 61 (En dus Lukas 4) so literalisties uit te lê:

“Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Indien mens “armes” bloot as finansieel gestremdes sien, “gevangenes” bloot as tronkvoëls sien, “blindes” bloot as mense wat nie kan sien nie sien, en “onderdruktes” bloot as ‘n politieke klas sien, ruk mens die hart uit die evangelie wat Jesus kom verkondig het. Ek bid waarlik dat u die teks nié werklik so interpreteer nie.

B) Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes gedoen het, het julle dit aan My ook gedoen.

Jesus is duidelik en ondubbelsinnig: Ons moet die armes op praktiese wyse met fisiese hulp lief hê as bewys dat ons aan Hom behoort. Om die waarheid te sê ons moet dit doen asof vir hom.

Beteken dit dat Hy op ‘n besonderse wyse die God van die armes is?

Die probleem is dat hierdie afleiding ‘n ernstige “non sequitur” denkfout is. Dit volg eenvoudig nie.

Kyk wat se Jesus van die onderdrukkers.

Mattheus 5: 40 As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. 41As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer.42Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”

[…]

44Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, 45sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.

Ons moet ons onderdrukkers on voorwaardelik lief he. Om die waarheid te sê, net soos wat ons die armes prakties moet lief hê deur hulle van kos, klere en emosionele ondersteining te voorsien (Mat 25) moet ons de onderdrukkers ook prakties lief hê deur onregverdige belasting te betaal, (ons boklere te gee as hulle ons onderklere eis) en meer gedwonge (lees slawe-) arbeid vir hulle te doen as wat hulle van ons eis (Om die tweede millia passuum (myl) te loop). Dan sê Jesus iets absoluut verregaande: Ons moet vir ons onderdrukkers bid!

In Jesus se konteks praat hy van die Romeine wat die Jode op duisend maal erger wyse onderdruk het as wat Apartheid ooit was!

Ek kyk wat sê God oor vir wié ons dit doen:

Kol 3: 22 Slawe, wees in alles gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde. Moenie net werk om deur hulle raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie, maar werk met ‘n opregte hart uit eerbied vir die Here. 23Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, 24omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan. 

Die beginsels is presies dieselfde.

Jesus praat van ‘n sosiopolitieke klas:

  1. Die armes
  2. Die onderdrukkers.

Jesus sê ons moet dié sosiopolitieke klas prakties lief hê:

  1. Ons moet die armes kos en klere gee en hulle emosioneel ondersteun in hulle lyding.
  2. Ons moet die onderdrukkers ekstra belasting betaal en ekstra slawe arbeid gee. En vir hulle bid.

Wanneer ons dié sosiopolitieke klas prakties lief het doen ons dit vir die Here:

  1. “Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes gedoen het, het julle dit aan My ook gedoen.”
  2. “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.”

Is Belhar geregverdig om tot die gevolgtrekking te kom dat God op ‘n besonderse wyse die God van die armes is maar nie op grond van die selfde beginsels die God van die onderdrukkers is nie?

Mens staan werklik verstom dat Belhar tot die gevolgtrekkings kom waartoe dit kom. Totdat mens die agtergrond van Belhar deeglik ondersoek.

C) Die vraag is, watter hermeneutiese beginsels het die teoloë van Belhar gebruik?

Dit is interessant dat u nie Allan Boesak se betrokkenheid by Belhar noem nie.

Kyk wie was Boesak se groot inspirasie:

In 1976, Allan Boesak returned from the Netherlands after finishing his doctoral studies in systematic theology. His disseration bore the title “Farewell to Innocence”. This was a social ethical study on the topics of black theology, black power and black consciousness.  In this study  Boesak bases his arguments on those of liberation theology and  liberation theologians. These theologians include the renowned South American liberation theologians Gustavo Guttierez and Jose Miguez Bonino on whom Boesak leans quite heavily, as well as the prominent black theologian James Cone. From this study it emerges that Boesak’s early theology was shaped by Latin American Liberation theology in a definite and distinct way. Black theology thus assisted  Boesak to formulate and adrticulate his own arguments, enabling him to react to the injsutices of his time.  

Eugene  Fortein, “Allan Boesak and the Dutch Reformed Mission Church between 1979 and 1990” in “Reformed Churches in South Africa and the Struggle for Justice: Remembering 1960-1990” onder redaksie van Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel, Robert Vosloo AFRICAN SUN MeDIA, 01 Nov 2013

En kyk wat skryf een van Boesak se mentors, Bonino oor sy hermeneutiese beginsels.

The first “break” in the new Christian consciousness is the affirmation that we are moving beyond a colonial and a neo colonial Christianity, with all that this implies. Such an affirmation, nevertheless, already presumes a certain analysis of our history and present situation; an analysis, namely, in sociopolitical categories. Even more, we are dealing with categories belonging to a sociological science indebted to Marxist analysis. This was explicitly affirmed at Santiago: The construction of socialism cannot be achieved by means of vague denunciations or appeals to good will, but rather presupposes an analysis that will highlight the mechanisms that really drive society…. Political action calls for a scientific analysis (Marxist, sic) of reality because there is a continuous interrelation between action and analysis ….

Bonino Jose Miguez. Doing Theology in a Revolutionary Situation (Confrontation books) (Kindle Locations 76-80). Kindle Edition.

Binono is onbeskaamd daaroor dat Karl Marx die hermeneutiese sleutel is waarvolgens hy die die werklikheid uitlê.

As mens Marxistiese hermeneutiek gebruik, sal jy tot Marxistiese gevolgrekkings kom:

On the one hand it designates the weak, the destitute, the oppressed, and is as such “a scandalous situation” which must be redressed. […] God himself is engaged in the struggle against it; he is clearly and unequivocally on the side of the poor.

Bonino Jose Miguez. Doing Theology in a Revolutionary Situation (Confrontation books) (Kindle Locations 1337-1339). Kindle Edition.

Vergelyk Bonino se Bybeluitleg nou, woord vir woord, met Artikel 4 van Belhar

Ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in ‘n wêreld vol onreg en vyandskap op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is…

Belhar haal Bonino amper woord vir woord aan. Dit laat mens dink, nê?

D) Jaap Durand

U noem die ander mense wie by Belhar se opstel betrokke was: Ek wil net iets sê van Jaap Durand.

Jaap Durand hang volgens alle beskikbare getuienis die panenteïstiese teologie van Pierre Teilhard de Chardin aan. Hy het dus, sover ons kan sien, die evangelie van Christus versaak. Kyk asb na hierdie twee skakels:

https://hierstaanek.files.wordpress.com/2013/07/durand4.pdf

https://hierstaanek.com/2013/03/12/bybel-media-ondersteun-die-growwe-dwaalleer-van-teillard-de-chardin-new-age-guru/

Jaap Durand het ook sowat ‘n jaar gelede die bestaan van die hel in ‘n kerkbode artikel ontken, dit vloei direk uit die teologie van Teilhard en is ‘n direkte verwerping van die Gereformeerde belydenis in dié verband.

Daar is natuurlik ‘n direkte verband tussen Boesak se bevrydingsteologie en Teilhard se panenteïsme, soos wat Durand dit verkondig .

Kyk wat sê John Cooper in sy boek Panentheism: The Other God of the Philosophers–From Plato to the Present, oor die verband tussen Gutierrez (Een van Boesak se belangrikste invloede) en Teilhard. Ek haal die hele afdeling uit sy boek hier aan omdat dit belangrik is om te verstaan wat die veband tussen die volgende twee feite is:

  1. Belhar vekondig bevrydingsteologie
  2. Durand, een van die opstellers van Belhar, verkondig Teilhardisme

As mens dit lees kom mens diep onder die indruk van die feit dat Belhar se Artikel 4 nie in isolasie bestaan nie maar deel is van filosofiese geheel – een wat die Apostoliese Geloof soos ons dit aan moedersknie geleer het verwerp ter wille van ‘n vervalsing: Liberale, panenteïstiese teologie.

Gustavo Gutierrez Gustavo Gutierrez, widely regarded as the father of Latin American liberation theology, was born in Lima, Peru, in 1928. He became a priest, studied in Rome and France, and taught at the Catholic University in Lima. He lived among the poor.14 A Theology of Liberation (1971) is the movement’s first scholarly elaboration. Gutierrez uses Catholic teaching, especially documentsof Vatican II, to articulate a view of salvation that includes social, economic, political, and cultural liberation as well as reconciliation with God. He argues that the church has often failed to live up to its own teaching and that its praxis should mirror God’s “preferential option for the poor.” It is not possible to identify him definitively as a panentheist because he does not develop an ontology of the God-world relation. But key ideas he adopts from Teilhard de Chardin and Rahner are panentheistic. Gutierrez appeals to Teilhard in order to embrace the modern struggle for human freedom, which is “liberation from all that limits or keeps man from self-fulfillment. He expresses particular appreciation for the socialist strand of liberation philosophy: Hegel’s view that history is the drive for freedom, Marx’s economics and social critique, and Herbert Marcuse’s Marxist-Freudian theory of personal-social dynamics. But Gutierrez asserts that socialist philosophy by itself is insufficient. The full meaning of liberation can be understood only as an integral part of God’s redemption of the world in Christ. Appealing to Vatican II, Gutierrez endorses Teilhard’s correlation of human development and divine salvation, the culmination of the humanized cosmos in Christ. “The writings of Teilhard de Chardin, among others, have greatly influenced the trend toward reaffirmation of Christ as Lord of history and the cosmos.”17 The vision of the new humanity that Gutierrez synthesizes with Teilhard’s cosmic Christology is, however, more politically socialist than Teilhard’s account. Indeed, for Gutierrez, liberation and salvation are synonymous: “The fullness of liberation-a free gift from Christ-is communion with God and with other men.”” Teilhard’s panentheism consists in his view that the history of the universe is God’s self-incarnation culminating in Jesus Christ. In Christ, the world is God’s body. Gutierrez implicitly adopts panentheism by appropriating Teilhard’s cosmic Christology to support his own assimilation of socioeconomic liberation into the Christian understanding of salvation. His appropriation of Rahner’s supernatural existential is more evidence of a commitment to panentheism. Gutierrez clearly affirms Rahner’s definition of this term: God’s universal salvific presence in humanity, “a gratuitous on- tologico-real determinant of his nature.” This concept implies panentheism because it entails that all humans participate ontologically in the existence of God, who is present in all humanity.19 Gutierrez conjoins Rahner’s supernatural existential with Teilhard’s cosmic Christology as he links God’s immanence with social justice and liberation. The cosmic incarnation involves two dynamics, universalization and internalization. “Christ is the point of convergence of both processes.” In Christ, God is really present in each human and in the entire world. “The God made flesh, the God present in each and every man, is no more ‘spiri- tual’than the God present on the mountain and in the temple. He is even more `material.”‘ Since God in Christ is really present in all humans, acts of justice and injustice done to humans are literally done to God. “We find the Lord in our encounters with men, especially the poor, marginated, and exploited ones. An act of love towards them is an act of love towards God. 1120 Gutierrez’s implicit panentheism enables him to link justice and liberation with God ontologically, not just morally and spiritually.

John Cooper. Panentheism: The Other God of the Philosophers–From Plato to the Present (p. 287). Kindle Edition.

Ek wil net noem, dat indien u onkundig is oor Teilhard de Chardin, u asb my artikel by die skakel bo moet lees oor Durand se boek oor Teilhard

Ek wil graag my betoog as volg saamvat

1) Die “armes” in die Bybel is volgens die Heilige Gees se eie getuienis die “armes van gees” of “die wat weet hoe afhanklik hulle van God is”. Omdat slegs die uitverkorenes / wedergeborenes volgens die Bybel “Weet hoe afhanklik hulle van God is” moet “armes” in die Bybel altyd gesien word binne die konteks van God se verbond met Sy Kerk.

2) Dit is wel so dat God ons beveel om die armes prakties lief te hê. Om dit egter as bewys voor te hou dat God daarom op ‘n besonderse wyse die God van die armes is, is ‘n ernstige denkfout omdat God ons ook opdrag gee om die onderdrukkers op ‘n praktiese wyse lief te hê.

3) Die probleem is hermeneuties. Volgens Gereformeerde hermeneutiek moet die Bybel self die Bybel uitlê omdat die Bybel slegs een hoof Outeur het: Die Heilige Gees. Ons sien egter dat wanneer ‘n mens Marxistiese hermeneutiek gebruik, mens tot Marxistiese gevolgtrekkings sal kom: Dat God op ‘n besonderse wyse die God van ‘n sosio-politieke klas is. Ek het duidelik bewys dat een van die opstellers van Belhar, Allan Boesak, hoofsaaklik beinvloed is deur Suid Amerikaanse Marxistiese hermeneutiek.

4) Die probleem is verder teologies en filosofies. Ek het duidelik aangetoon dat een van die opstellers van Belhar, Jaap Durand, die evangelie versaak het en Teilhardisme verkondig.

5) Ek het ook duidelik die verband tussen Teilhardisme en Suid Amerikaanse bevrydingsteologie aangetoon.

Ds Knobel, ek hoop dat my skrywe u brief bevredigend beantwoord.

In Sy liefde

Wynand Louw