Die brief waarop Prof van Rensburg reageer is hier (kliek).

Die brief is in Volksblad publiseer: http://www.netwerk24.com/stemme/2014-11-27-meer-van-belhar-as-van-bybel-verwag

Meer van Belhar as van Bybel verwag?

Teoloog antwoord op moderator se artikel

Donderdag 27 November 2014 3:10 vm.

Word daar nie meer van die Belhar-belydenis verwag as van die Skrif nie? Só vra prof. Johan Janse van Rensburg na aanleiding van gister se artikel in Volksblad “Sienings oor Belhar ‘nie korrek’ ” deur dr. Braam Hanekom, moderator van die NG-sinode van Wes- en Suid-Kaapland. Hy rig sy skrywe aan Hanekom.

Al ken ons mekaar, spreek ek jou graag aan as dr. Braam, omdat ek erkenning wil gee aan jou statuur as moderator van die Wes-Kaap en assessor van die algemene sinode. Ek voel moreel verplig om met jou in gesprek te tree omdat ek ongemaklik is met die wyse waarop die feite in jou ​artikel aangebied word. Ek illustreer dit met ’n paar voorbeelde.

■  Jou eerste argument is teen die beweerde stelling “julle dwing iets op ons af”. Dit kan nie ontken word dat daar so ’n gevoel teen Belhar en die huidige proses is nie. Die meningspeiling van ’n paar jaar gelede het duidelik getoon die oorweldigende meerderheid van lidmate is nie ten gunste van Belhar nie.

Jy is reg dat die voorgestelde proses kwalik as ’n afdwingbare strategie bestempel kan word. Dit is die subtiele en soms openlike psigagogie om Belhar aanvaar te kry, wat grootliks daarvoor verantwoordelik is dat daar ’n toenemende gevoel van dwang is.

Wanneer die bewering in meer as een artikel gemaak word dat jy aan die Skrif ongehoorsaam is en jou verhouding met Christus nie reg is as jy nie vir Belhar stem nie, kan dit verseker vertolk word as morele dwang om “ja” te stem.

■  Jou tweede beswaar is teen die stelling: “Julle maak Belhar minderwaardig”. Hoewel jy dit ontken, moet onthou word dat ons hier van belydenisskrifte praat. Ons het nog altyd ons belydenisskrifte op een vlak as gesaghebbend aanvaar. Nou word Belhar in die wysiging tot artikel 1 aangebied as ’n opsionele belydenis wat dus duidelik nie dieselfde gesag vir alle lidmate hoef te dra nie.

Nog belangriker is egter dat dit die presiese rede is wat die Verenigende Gereformeerde Kerk so beslis maak om die opsionele aard van Belhar te verwerp. Jy weet tog dat hulle dit in die motivering van hul besluit om die opsionele aard te verwerp, duidelik uitgespel het dat die opsionele voorstel twee stelsels van teologiese beredenering wil impliseer, wat onversoenbaar is en wat vir hulle onaanvaarbaar is.

■  Ek was die meeste verbaas oor jou beredenering teen die derde stelling: “Die Verenigende Gereformeerde Kerk sal nooit jul besluit aanvaar nie.”

Hoe kan jy dit wil ontken of wegpraat, aangesien daar nie alleen so ’n amptelike besluit van die VGK is nie, maar die moderator van die VGK dit ook uitdruklik aan ’n streeksinode gesê het?

Nie alleen is die opsionele aard van Belhar deur die VGK verwerp nie, maar daar is duidelik gesê daar sal ná die eenwordingsproses slegs ’n kort tyd van grasie wees vir dié wat Belhar nie wil aanvaar nie, om tot besinnning te kom. Daarna sal alle lidmate en ampsdraers Belhar moet aanvaar.

Om dan ook nog die waarheid weg te praat deur te beweer dat die NG Kerk uit eie oortuiging Belhar wil aanvaar en nie ter wille van die VGK nie, is werklik ’n onderskatting van lesers se intelligensie.

Die indruk wat geskep word dat die proses om Belhar aanvaar te kry, by die versoek van die Sinode Wes-Kaap in 2011 begin het, is mos nie korrek nie.

Die agendas van verskeie sinodes en kerkvergaderings waarin Belhar en kerkvereniging gesamentlik en intens bespreek is, is immers deurslaggewende bewys dat die aandrang om Belhar te aanvaar, van die VGK gekom het, lank voor die sinodes van 2011 en 2013.

Waarom anders het die VGK ’n moratorium geplaas op eenwordingsamesprekings nadat die meningpeiling nie ten gunste van Belhar was nie?

Waarom het vooraanstaande figure in die VGK gesê dat die VGK nie sal aanvaar dat die NGK van apartheid afstand gedoen het nie tensy Belhar aanvaar word?

■  Jou laaste beswaar teen die stelling “Julle gaan die ander belydenisskrifte ook opsioneel maak” verdien eweneens ’n kort antwoord. (Ter wille van ruimte laat ek die oorblywende besware.)

Weliswaar is die bewering in geen amptelike vergadering gemaak om die bestaande belydenisskrifte opsioneel te maak nie. Wat egter by die Algemene Sinode van 2011 gebeur het, was dat verskeie sprekers in die ywer om Belhar te promoveer, negatiewe kommentaar oor ons bestaande belydenisskrifte gemaak het, wat daarop neergekom het dat Belhar eerder as belydenisskrif moet dien en dat die ander belydenisskrifte uitgediende dokumente is.

Verder vergeet jy ook dat die gedagte om die ander belydenisskrifte ook opsioneel te maak, in ’n volledige artikel deur die invloedryke dr. Fritz Gaum (wat uitgesproke ten gunste van Belhar is) in Kerkbode bepleit is. Dit kan dus nie ontken word dat daar sulke gedagtes in omloop is nie.

■  Jy sluit met die slotaanhaling uit die Belydenis van Belhar. Ek onderskryf daardie aanhaling heelhartig. Maar om teen sosiale onreg te getuig, maak ’n dokument nog nie ’n belydenisskrif nie, net so min as wat die Skriftuurlike ooreenkomste van ’n geskrif dit as ’n belydenisskrif laat kwalifiseer.

Die kerk bely nie teen bedrog, plaasmoorde en kinderhandel nie. Die kerk vervul sy profetiese roeping teen sosiale onreg deur daarteen te getuig. Daar is ’n verskil tussen ’n getuienis en ’n belydenis.

En net terloops: Die pleitrede dat Belhar aanvaar moet word sodat al die onreg in Suid-Afrika kan stop (dit word dikwels in argumente ten gunste van Belhar, ook by ons Vrystaatse sinode, gehoor) is regtig sinneloos. Belhar bestaan al 30 jaar lank en dit kon nie ’n einde aan die sosiale onreg bring nie.

Word daar nie meer van Belhar verwag as van die Skrif nie?

■ Met die publikasie van die twee artikels vanuit verskillende perspektiewe, asook verskeie uiteenlopende briewe, sluit Volksblad vir eers weer die Belhar-debat in die koerant voorlopig af.

Prof. Johan Janse van Rensburg is ’n emeritus-professor van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se fakulteit teologie.