Stem Belhar ooreen met die Woord van God?

Hierdie is ‘n vinnige teologiese kritiek op Belhar se vierde artikel wat beweer God is op ‘n besonderse wyse die God van die armes, noodlydendes en die onderdruktes.

1) God het interaksie met die totaal verdorwe mensdom op 2 wyses

a) Sy voorsienigheid of die algemene genade. Alle mense word sonder uitsondering ingesluit in die voorsienigheid / algemene genade. (Heidelbergse Kategismus vraag 27 en 28, Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 13)

b) Sy uitverkiesing / verbond of die besonderse genade. God se uitverkiesing/ verbond/ besonderse genade word slegs aan die gegee waarop hy voor die grondlegging van die wêreld besluit het: Gegrond op sy onkenbare raadsplan en uitgevoer in Jesus se kruisdood. (NGB Artikel 16, Dordtse Leerreëls Hoofstuk 1)

Beide hierdie verhoudings tussen God en die mensdom word baie duidelik in die Drie Formuliere uiteengesit en deeglik tekstueel begrond.

Let spesifiek op na DL hoofstuk 1:9. “Hierdie uitverkiesing het nie op grond van vooruitgesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of geskiktheid van die mens tot stand gekom nie.”

2) Belhar skep ‘n derde verhouding tussen God en mens, gegrond op die mens se sosiopolitieke status, of soos die Sinode van Dortrecht sou sê “op grond van ‘n ander geskikdheid” van die mens. Hierdie derde verhouding tussen God en die mensdom is onbekend aan die Drie Formuliere, en aan die Bybel.

  • Volgens Belhar is God se besonderse verhouding met armes, noodlydendes en onderdruktes MEER as sy voorsienigheid / algemene genade.
  • Volgens Belhar is God se besonderse verhouding met die armes, noodlydendes en onderdruktes BUITE OM sy uitverkiesing / verbond / besonderse genade.

Hieruit is dit duidelik dat Artikel 4 van Belhar Bybels en evangelies onregverdigbaar is.

3) Artikel 4 se bewystekste word buite konteks van die res van die Bybel uitgelê en is dus gegrond op foutiewe hermeneutiek. Belhar se hermeneutiese sleutel is Gutierrez, Bonino en Cone se bevrydingsteologie wat onomwonde verklaar dat God aan die kant van die armes, noodlydendes en onderdruktes is. Die bewyse daarvoor is beskikbaar.

a) Tekste wat verwys na God se weerstand teen die rykes en ondersteuning van armes word doelbewus té letterlik (literalisties) uitgelê. Die beginsel dat die Bybel self die Bybel moet verklaar word totaal ignoreer.

As Lukas praat van ‘armes” in Lukas 6 moet ons dit dus sien in die lig van die parallelle teks in Mattheus 5 se “armes van gees:” Mense wat weet hoe afhanklik hulle van God is. As Lukas praat van rykes moet ons dit sien as die teenoorgestelde van die armes van gees: Dus mense wat hulle self onafhanklik van God verklaar. Mense wat glo hulle kan onafhanklik van God selfgenoegsaam wees. Dit is belangrik om te noem dat geldelik arm en arm van gees dikwels gepaard gaan met mekaar (omdat armoede jou geen ander opsie gee as om op God te vertrou nie) en dat ryk en selfgenoegsaam ook dikwels saamgaan – daarom is ‘n gekwalifiseerde letterlike interpretasie van die teks reg.

God is dus aan die kant van die armes in soverre hulle “arm van gees” – van Hom afhanklik – is. En ons weet dat slegs wedergebore sondaars (dus die uitverkorenes) hulle self afhanklik van God verklaar. Die res van die mensdom is in rebellie teen God.

Hy is teen rykes in soverre hulle selfgenoegsaam en in rebellie teen Hom is. Hy is ook teen onderdrukkers, omdat politieke onderdrukking van die medemens die wet van die liefde verbreek en sonde is. “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie, daarom is die liefde die vervulling van die wet.”

Dit is ook duidelik dat finansieel arm mense “ryk van gees” kan wees en hulleself onafhanklik van God verklaar en dat ryk mense steeds in absolute afhanklikheid van God kan leef. Ek bring graag vir Dawid en sy seun Salomo as bewysstuk 1 en 2. Dit is ook duidelik dat armes onderdrukkers kan wees.

Belhar interpreteer die teks egter meer as letterlik – dit interpreteer die teks literalisties deur die betekenis van “arm van gees” te ignoreer. ‘n Literalisitese interpretasie ontken by voorbaat dat ‘n teks meer as een vlak van betekenis kan hê. ‘n Vergelykende voorbeeld van literalistiese teksuitleg sou wees om Jesus se uitspraak “Ek is die deur” te verklaar as dat Jesus sou bedoel hy is ‘n plank wat ‘n gat in die muur toemaak.

Hierdie teksuitleg van die betrokke tekste oor armes en rykes pas een honderd persent in met Gutierrez en Bonino se Marxistiese hermeneutiek.

Hierdie selfde beginsel geld vir die lofsang van Maria in Lukas.

b) Daar word ‘n onlogiese sprong gemaak van God se opdrag om regverdig, in geregtigheid en in liefde op te tree teenoor die armes, noodlydendes en onderdruktes (Bv Psalm 82) na die gevolgtrekking dat God daarom in ‘n spesiale verhouding met hulle staan.

Die feit dat God gelowiges opdrag gee om liefde uit te leef teenoor armes beteken nie dat Hy in ‘n spesiale verhouding met armes staan nie.

Dit volg eenvoudig nie en is ‘n logiese denkfout.

Dit is uiters maklik om te bewys: Jesus en Paulus sê die Jode en Christene moet hulle vyande lief he. Jesus praat spesifiek van twee vyande.

Eerstens die “Collaborators” (Hansromeine): Jode wat met die Romeine saamwerk. Spesifiek die tollenaars: “As iemand jou bokleed eis” is duidelik ‘n verwysing na belastinggaarders.

En tweedens die Onderdrukkers self: “As iemand eis dat jy ‘n myl loop” is ‘n duidelike verwysing van die Romeinse wet van “millia passuum” waarvolgens ‘n legionaris ‘n Jood kon dwing om sy pak ‘n duisend treë te dra. Kyk wat sê Wikipedia oor hierdie teks in Mathheus 5:

The word here translated as compel, angareuo, is a Persian loan word that is a technical term for the Roman practice of requisitioning local goods or labour.[1] Schweizer notes that it specifically refers to the power of the Romans to demand that a local serve as a guide or porter. Later at Matthew 27:32 Simon of Cyrene will be forced by such rules to carry Jesus’ cross, the only other time in the New Testament the word translated as compel is used.[2] The Zealots loathed this practice, and their refusal to participate in such tasks was an important part of their philosophy and a cause of the Great Jewish Revolt. According to France, these commands would have shocked the Jewish audience as Jesus’ response to the Roman occupation was starkly different from the other Jewish activists of the period.[3] Jesus says nothing about the propriety of such demands, Schweizer notes that Jesus simply accepts it as fact. Thomas Aquinas wrote that this verse implies that it is reasonable to follow laws that are unjust, but argued that laws that are unconscionable must not be obeyed.[4]

The word here translated as mile refers to the Roman definition of 1000 paces, slightly shorter than a modern mile.[5] The mile was a specifically Roman unit of measure, locally the stadion was used to measure length. Miles would only have been used by the imperial government and the local occupying forces, which further links this verse with imperial repression.[6] This verse is the origin of the English phrase “going the extra mile,” which means to do more than is needed.

Geen ander wet was meer vernederend vir die Jode as belasting en die duisend-tree wet nie.

Indien God op ‘n besonderse wyse die God van die armes is omdat ons beveel word om in liefde teenoor hulle te leef, moet ons dan noodgedwonge volgens dieselfde redenasie verklaar dat God op ‘n besonderse wyse die God van die onderdrukkers is. Ons moet hulle tog sonder voorbehoud lief hê soos die armes!

4) Die teologiese gevolge van Artikel 4 vir die evangelie van verlossing uit Genade Alleen

Indien die mens se sosiopolitieke status grond is vir God se guns aan die mens bestaan die evangelie van verlossing deur genade alleen eenvoudig nie.

Die feit dat Belhar beweer dat God se guns ook gegrond mag word op ‘n mens se sosiopolitieke klas in plaas van Genade Alleen is dus nie net verkeerd nie, dit is anti-evangelies en boos.

Die basislyn is dit: God beveel nie sy Kerk om in liefde, deernis en geregtigheid teenoor die armes, noodlydendes en onderdruktes op te tree omdat Hy op ‘n besonderse wyse die God van die armes, noodlydendes en onderdruktes is nie, maar omdat hy op ‘n besonderse wyse die God van sy Kerk is.