Epos van Wes- en Suidkaap se moderatuur.

My antwoord is in blou inge-edit

Wynand Louw

 

Uit die Moderatuur

KOMMUNIKASIE WES-EN-SUID-KAAP MODERATUUR

NOVEMBER 2014

 

 

Onlangse vrae en stellings oor die stemproses (Artikel 1)

 Liewe Kollegas en Vriende

 Die afgelope tyd het daar heelwat briewe en artikels oor die stemproses in die NG Kerk die rondte gedoen. Uit die terugvoering wat ons van lidmate ontvang het, blyk dit dat dit meer vrae as antwoorde gelaat het. In die lig hiervan het ons dit goed gedink om ’n paar verdere eenvoudige opmerkings ter verheldering te maak. Ons glo immers dat die gesprek voortgaan.

 •        Die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland het in 2011 met ’n oorweldigende meerderheid besluit om die Algemene Sinode te versoek om die Belydenis van Belhar op kerkordelike wyse deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk te maak.

•        Die Algemene Sinode van 2011 het hierdie versoek ontvang en besluit dat hulle die versoek ondersteun en het so ’n kerkordelike proses in werking gestel.

•        Die Algemene Sinode van 2013 het besluit op die veranderde formulering van Kerkorde Artikel 1, wat voorstel dat die Belydenis van Belhar op ’n spesifieke wyse deel van die belydenisgrondslag van die kerk word.

•        Die afgelope tyd het die volgende stemme onder andere opgegaan en ons antwoord kortliks daarop:

 “Julle dwing iets op ons af.”

Die presiese teendeel is waar. As die sinode dit wou doen, is daar nie soveel moeite met die kerkordelike proses en die formulering van die voorstel gemaak nie. Die formulering was juis ’n eerlike en ernstige poging van die sinode om vir ons lidmate te sê dat ons nie sonder meer mense wil uitsluit of vervreem nie. Enigeen wat by die sinode van 2013 was, sal dit kan beaam. Die teendeel het baie jare gelede by Dordt gebeur toe meer as 200 predikante die kerk moes verlaat omdat hulle nie Dordt dadelik wou aanvaar nie. In ons gereformeerde tradisie glo ons in elk geval dat jy nie onder dwang iets kan of moet bely nie.

Lidmate voel dat die nuwe Artikel 1 afgedwing word, nie deur ‘n onkerkordelike proses nie, maar deur emosionele afpersing. 

Nelus Niemandt het in die pers verklaar dat die verwerping van Belhar gesien sal word as ‘n terugkeer na “apartheid. (Kliek hier)  Mense wat teen Belhar is, is dus by implikasie rassiste. Daar word vir lidmate wat teen Belhar is gesê dat hulle moet “ruimte maak vir die wat Belhar wil aanvaar”. Die implikasie is dat die wat teen die nuwe Artikel 1 wil stem liefdeloos is. (Volgens die Bybel mag daar nie plek in die Kerk gemaak word vir dwaalleer nie. En Belhar is dwaalleer omdat dit beweer die mens se sosio-ekonomiese klas is grond vir God se guns aan die mens.)

Laastens wil niemand enigiemand dwing om enige belydenisskrif te aanvaar of nie te aanvaar nie. Hierdie gebruik van die woord “dwang” in terme van die belydenisskrifte is oneerlike newspeak. Niemand kan gedwing word om aan die NG Kerk te behoort nie. Net soos niemand jou kan dwing om aan die tennisklub te behoort nie. Maar die voorwaarde om aan die NG Kerk te behoort is om die belydenisskrifte te onderskryf, net soos die voorwaarde om aan die tennisklub te behoort is om tennis te speel. 

Sien, as ons onderskrywing die belydenisskrifte ‘n voorwaarde wil maak vir lidmaatskap (Quia) aan die NG Kerk wil ons “mense dwing om iets te glo”. Spaanse inkwisisie, iemand?

Pure emosionele afpersing. 

“Julle maak Belhar minderwaardig.”

Dit is baie belangrik om te verstaan dat die voorstel die Belydenis van Belhar deel van die belydenisgrondslag van die kerk maak. Wanneer ’n dominee dus oor die waarhede wat deur die Belydenis aan die orde kom, wil preek of kinders die inhoud daarvan wil leer, word dit gedoen in ooreenstemming met die belydenis van die kerk. Ons beskou nie hierdie belydenis as minderwaardig nie. Wat wel waar is, is dat ons vanweë die unieke omstandighede waarin ons met Belhar verkeer (onthou: ons het eeue laas ’n nuwe belydenisskrif goedgekeur) met ’n versigtige en verantwoordelike proses besig is.

 Belhar is minderwaardig omdat dit nie ooreenstem met die Woord van God nie. 

(Kliek hier om te sien wat fout is met Belhar)

“Die VGK sal nooit julle besluit aanvaar nie.”

Ons het van die begin af gesê dat ons nie met die Belydenis van Belhar kan besig wees ter wille van die die VGK nie. Daar is en was leidende stemme in die VGK, soos prof Russel Botman (net voor sy afsterwe) wat met groot begrip gepraat het oor die NG Kerk se besluit oor Artikel 1. Verder moet ons dit goed verstaan dat ’n mens nie ’n belydenis aanvaar of afwys ter wille van ander nie. Dit is ’n innerlike oortuiging of nie. Ons sê dit in die mooiste gesindheid. Wat ons nou doen, doen ons omdat ons glo dat dit die regte ding is wat ons nou kan en moet doen. Ons doen dit nie ter wille van die VGK nie. Ironies genoeg word daar tans in die kommentaar glad nie verwys na die NG Kerk in Afrika (NGKA) en Reformed Church in Africa (RCA) nie. Ons is oortuig daarvan dat Artikel 1 ook vir hulle ruimte laat om tuis te kom in ’n groter NGK-familie.

Die VGKSA se Sinodale Kommissie het reeds volgens die dokumente wat by die Vrystaatse Sinode op 29 Julie 2014 gedien het laat weet:

1. The General Synodical Commission of URCSA in session in Durban has taken note of the decision of the DRC General Synod 2013 on the Confession of Belhar.

4. It is the conviction of the GSC that the proposed wording of Article 1 clause 2.2 in the confessional basis of the DRC is not acceptable as it stands for a church order of a finally re-united church.

7.4 Every minister/office in the Church is given time of one recess after re-unification to consider and subscribe to the confession of Belhar formally.

In Beeld van 23 Februarie 2014 is as volg berig oor samesprekings met die VGKSA:

“Die verteenwoordigers van die NG Kerk het kennis geneem van die besluite van die VGKSA se Algemene Sinodale Kommissie (ASK) en dat hulle nie ten volle gelukkig was met die ASK van die NG Kerk se besluit oor die status van die Belydenis van Belhar in die NG Kerk se belydenisgrondslag nie,”

Die koerant berig ook in dieselfde artikel: Die Verenigende Gereformeerde Kerk van Suidelike Afrika (VGKSA) en die NG Kerk sê hulle wil “die destruktiewe mag van rassisme” regstel.

Die moderator van die VGKSA, Dr Plaatjies van Huffel het aan Rapport (9 Nov 2013) met beslisdheid gesê: “Sou die VGK en NGK herenig, sal dié dubbelopsie nie kerkregtelik houdbaar wees nie en ons sal moet besluit hoe ons dit gaan hanteer.” Sy het ook in ’n akademiese Joernaal geskryf: Kerkverband tussen kerke wat nie dieselfde belydenis het nie, of wat dieselfde belydenisskrifte verskillend vertolk en kerkregtelik verskillend georganiseerd is, is nie moontlik nie aangesien eenheid in belydenis die samebindende faktor by die kerkverband is.

(Met dank aan Ds Jan Louw)

 Sou ons regtig gestem het oor ‘n verandering van Artikel 1 as vereniging met die VGKSA nie nagejaag was nie? Ek dink dit is naief om te beweer dat ons dit sou doen. 

“Die leiers het besluit en is verwyderd van die mense.”

Hierdie is ’n moeilike een. Die vraag is: wie is hierdie mense? Daar is tans baie sterk opponerende stemme in die kerk. Mense het gewaarsku dat die kerk kan skeur as ons Belhar aanvaar. Tans vrees ons dat die kerk kan skeur as die kerk dit NIE aanvaar nie. Met die huidige proses gaan die kerk uit sy pad om die mening van lidmate te toets.

 Daar is selfs diegene wat ons daarvoor kritiseer deur te sê dat ons nou van die kerk ’n demokrasie gemaak het en besig is om ’n referendum te hou. Nog nooit in die geskiedenis van die kerk is daar so wyd deur lidmate oor ’n saak gestem nie.

 Wat die proses egter wil doen, is om beide die profetiese taak wat aan die leierskap (insluitende kerkrade) toevertrou is te balanseer met die inset van lidmate. Dit is ’n komplekse proses en ons kry inderdaad soms mense wat die proses enersyds wil interpreteer asof die mense die laaste sê het en andersyds asof die leiers al die sê het. Nie een van die standpunte is korrek nie. Uiteindelik is dit ons almal se verantwoordelikheid om Christus se wil te onderskei. Ons doen dit op die mees uitgebreide basis moontlik.

 1) Daar is nie meer “profete” na die Apostoliese tyd nie behalwe verkondigers en leraars van die Woord. Die profetiese taak wat die leierskap het is om die Bybel getrou en verstaanbaar aan die gemeente uit te lê.

Kom ons kyk hoe hulle dit die afgelope tyd gedoen het.

  • Hulle het verklaar dat Jesus moontlik verkeerd was toe Hy gesê het die duiwel is ‘n persoon. Ons hoef dit nie meer te glo volgens die Algemene Sinodes van 2011 en 2013 nie. 
  • Hulle in die Kerkbode, ons kerk se amptelike mondstuk, verklaar dat die hel nie bestaan nie. (Artikel van Jaap Durand in 2013)
  • Hulle het in Kerkbode verklaar dat die hemel nie ‘n “plek” is nie, en dus die opstanding van die vlees verdag gemaak. (Artikel van Pieter Fourie in 2013)
  • Hulle het in Kerkbode verklaar dat die Bybel nie die woord van God is nie, in ‘n onderhoud met Julian Muller. (Kliek hier) 
  • Julian Muller verwerp die Bybel se teïstiese wêreldbeeld ten gunste van panenteïsme en verloën so Christus se wese as Persoon in die Drie Enige God. Hy is ten spyte hiervan bevorder to vise dekaan van Tukkies se kweekskool en Prof Nelus Niemandt het verklaar “Daar is nie dwaalleer by Tukkies nie.” 
  • Ben du Toit verwerp die maagdelike geboorte van Christus in die openbaar en Prof Nelus Niemandt verklaar dat sy teologie “binne die raamwerk van die NG Kerk val.”

Dit is duidelik dat die “profetiese leiers” in ons kerk vals profete is!

2) Hier is die amptelike syfers vir Artikel 1 stemme in Oostelike Sinode se gebied:

  • Daar is 85 gemeentes wat oor die voorgestelde verandering van Kerkorde Artikel 1 moes stem.
  • 64 Gemeentes se uitslae is reeds ontvang.
  • 37 uit 64 gemeentes het teen die verandering gestem. Dit is 58%.
  • 27 uit 64 gemeentes het vir die verandering gestem. Dit is 42%.
  • Oostelike Sinode het die voorgestelde verandering van Artikel 1 met ‘n meerderheid van 73% aanvaar.

Ek noem dit harde bewyse dat die leiers van die lidmate verwyderd is. 

“Julle mislei die mense.”

Die leiers en die sinode se posisie is duidelik. Ons wil graag hê dat die Belydenis van Belhar aanvaar word, omdat ons meen dat dit die waarheid van die Evangelie dien en daarom vir die kerk en die land baie kan beteken. Ons stel voor dat dit deel van die belydenisgrondslag van die kerk moet wees, maar sal niemand verguis of wegjaag wat dit nie wil aanvaar nie. Ons meen dat daar niks onduidelik of oneerlik aan die standpunt is nie. Ons het dit reg van die begin af gesê en sê dit steeds.

“Ons het van die begin af gesê dat ons nie met die Belydenis van Belhar kan besig wees ter wille van die die VGK nie.”

Sê my nou eerlik. As dit nie vir die VGKSA was nie, sou ons dan oor Artikel 1 gestem het? 

Regtig?

“Hoe kan ons stem oor iets wat in elk geval opsioneel is?”

Dit is nie opsioneel nie. Dit word deel van die belydenisgrondslag van die kerk. Ons stem nie oor niks nie, maar oor ’n baie spesifieke hantering van die Belydenis wat ons meen die eenheid in die kerk ten beste kan bewaar. Ons sê nie die formulering van Artikel 1 is perfek nie. Tydens die Algemene Sinode was daar ook heelwat stemme uit die Wes-en-Suid-Kaap wat ongelukkig was oor die formulering van die voorstel. Tog het ons berus, omdat ons glo dat dit nou die beste manier is om die saak op ’n verantwoordelike manier te hanteer.

 “Julle gaan binnekort die ander belydenisse ook opsioneel maak.”

Ons meen dat hierdie moedswillige stellings is van mense wat eintlik ’n ander agenda het. Die relativering van ons bestaande belydenisskrifte is nie op die tafel nie. Enigiemand wat dit wil beweer, is met ’n verdagmakingsproses besig wat nie die waarheid dien nie. In geeneen van die vergaderings waarin ons in soveel jare oor Belhar was, is hierdie moontlikheid al genoem, voorgestel of selfs net gesuggereer nie. Waaroor ons wel ernstig dink, is oor watter rol belydenisskrifte vandag in ons lewe as ’n belydende kerk behoort te speel. Hieroor behoort ons in hierdie dae ernstig met mekaar te bly praat.

1 ) Die aard van ‘n Gereformeerde Belydenisskrif is dat dit Quia aanvaar word. Die kerkregtelike presedent wat die voorgestelde Artikel 1 skep is dat ‘n belydenisskrif nie noodwendig quia aanvaar hoef te word nie. Dit verander die aard van die belydenisskrifte drasties. 

2) Dr Mary Anne Plaaties van Huffel is op rekord dat alle belydenisskrifte opsioneel of “nie afdwingbaar” moet wees nie. 

“Die standpunt van die VGK is egter dat die onderskrywing van al die belydenisse sonder dwang geskied. Dit geld die belydenis van Belhar, maar dit geld ook al die ander belydenisskrifte. Wat die VGK betref, het ons nog altyd konsekwent gesê die belydenis van Belhar moet presies net soos die ander behandel word, en dit beteken inderdaad sonder belydenisdwang.”

Rapport 2013-10-12

http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/Nie-almal-tevrede-oor-Belhar-besluit-20131012

En ‘n rukkie later:

Die NGK se sinodebesluit oor die Belydenis van Belhar (dat dit as belydenisskrif deel is van die belydenisgrondslag van die NGK, maar dat lidmate self kan besluit of hulle dit wil onderskryf of nie) noem sy ’n “groot deurbraak wat twee groepe wat kon skeur, bymekaar hou. Dit bied ons ruimte om vorentoe te gaan met kerk-eenwording. Ons groei na mekaar toe, om mekaar te hoor.”

Maar, sê sy beslis, máár: “Sou die VGK en NGK herenig, sal dié dubbelopsie nie kerkregtelik houdbaar wees nie en ons sal moet besluit hoe ons dit gaan hanteer.”

Rapport 2013-11-10

http://www.rapport.co.za/Rubrieke/HanlieRetief/Die-leeu-se-brul-is-sag-20131109

3) Daar is ‘n beweging in die NG Kerk om heeltemal van Quia af te stap, (wat ons in elk geval sal MOET doen as ons met die VGKSA wil saamsmelt – sien prof PvH hierbo)

Chris van Wyk pos die volgende op die Algemene Sinode 2013 se blog: (Die beklemtoning is van Wyk s’n en verwys na dié deel van die voorgestelde verandering van Kerkorde se artikel 1 wat deur Naudé voorgestel word.)

In gesprek met Piet Naudé het die volgende aspekte rondom artikel 3 en 4 na vore gekom wat goeie oorweging verdien. Hy stel voor dat ons dit as volg aanvul:

3.3 in verbondenheid met die ekumeniese kerk, ons Gereformeerde erfenis, en die kerk in die Suider-Afrikaanse konteks, die Belydenis van Belhar.

4. Die Kerk aanvaar dat die onderskrywing van bykomende belydenisse naas die ekumeniese belydenissse en die drie Formuliere van Eenheid sonder dwang geskied. Die kerk aanvaar dat die onderskrywing van belydenisse sonder dwang geskied.

Ben du Toit het ook onlangs in die openbaar gepleit dat alle belydenisskrifte opsioneel moet wees.

Vraag: Kan die here wat hierdie brief onderteken het waarborg dat dr Plaatjies van Huffel se eis dat die NG Kerk se belydenisgrondslag vernietig moet word nie deurgevoer gaan word nie?

 Intussen wil ons almal betrokke versoek om so eerlik en verantwoordelik as moontlik met stellings en feite oor die Belydenis om te gaan. Ons herinner aan ons skrywe van ’n paar maande gelede. Ons versoek weer dat die proses biddend, onderskeidend, met wedersydse respek en in liefde sal plaasvind.

 Groete in Christus.

 Braam, Nelis, Monty, Elize, René, Frik, Melanie en Quintus

 Dr Braam Hanekom

Voorsitter van die Moderamen

Kantoor vir Publieke Getuienis

NGK Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland


braam@kaapkerk.co.za

083 302 8639

021 957 7202