Terwyl ander Afrikaanse koerante skynbaar nie briewe oor Belhar wil plaas nie lyk dit of Volksblad maar ingegee het, en nie minder as SES briewe geplaas het na aanleiding van onlangse disinformasie na die afgelope Oostelike Sinode.
Hiermee moet ek net noem dat Prof Nelus Niemand een van die wanvoorstellings in die pers reggestel het op sy Facebook Blad (en ek neem aan dit sal ook in die pers verskyn) Dit is hier (kliek). Hy sê egter niks oor die absoluut skreiende wanvoorstelling dat lidmate nie teologiese probleme met Belhar het nie.
Die res van die briewe volg hier: Let veral op Prof. Johan Janse van Rensburg (Voorheen ampsdraer van Vrystaat Sinode) se brief.
Dit klop eenvoudig nie
Die berig “Sinode sê ja vir Belhar” (6/11) verwys.
Daar is niks verkeerd met die feite van die berig nie. Dit is die feite agter die berig wat nie aan die lesers vertel word nie.
Die berig lê klem daarop dat die Oostelike Sinode die eerste sinode is wat “ja” vir Belhar gestem het. Die gemeentelike stemming, wat met ‘n meerderheid teen Belhar gestem het, word egter onderspeel terwyl dit juis aandui dat iets nie reg is nie.
Sinodes en kerkrade is veronderstel om die mening van lidmate in hul finale besluit te verdiskonteer. [Sien my artikel by hierdie skakel – Wynand Louw] Wat by die Oostelike Sinode gebeur het, om die meerderheidsbesluit van gemeentes te ignoreer, was dus teenstrydig met die uitgewerkte proses van die Algemene Sinodale Kommissie (ASM).
Hoe het dit dan gebeur? Die moderator van die vorige Algemene Sinode, prof. Nelus Niemandt, het op die vergadering gepleit om tog maar ‘Ja” vir Belhar te stem. Dit is in sigself ‘n verdere oortreding van die ASM se riglyne dat daar geen beinvloeding by die stemming mag wees nie.
Dan sê prof. Niemandt dat lidmate die teologiese integriteit van die Belydenis nie bevraagteken nie. Dit is gewoon nie korrek nie, aangesien lidmate, ten regte of ten onregte, juis teologiese beswaar teen die inhoud van Belhar opper, op grond waarvan hulle teen die wysiging van Artikel 1 stem.
Laastens haal die berig prof. Niemandt aan wat sê: “Maar die NG Kerk het die belydenis (van Belhar) dan reeds aanvaar.”
Eers is ontken dat die besluit van 2013 impliseer dat Belhar klaar aanvaar is. Nou sê die moderator egter dit self. Belhar is reeds aanvaar, maar intussen is die stemsproses nog aan die gang? Dit klop eenvoudig nie.
Prof. Johan van Rensburg
Sondag 09 November 2014 7:27 nm.
Ek sidder oor gebeure in die NG Kerk. Daar word gestem oor die toevoeging van ’n belydenisskrif, maar meer as die helfte van die kerk se lidmate weet nie waaroor dit gaan nie. En die kerkleiding weet dit.
My gemeente – Onze Rust in Genl. De Wet, Bloemfontein – het 1 000 lidmate. Die kerkraad en leraars het hul bes gedoen om mense op verskeie geleenthede sonder propaganda te oortuig om te kom stem. Slegs 20% het kom stem: 207 teen 1 het die wysiging van Artikel 1 van die kerkorde verwerp.
Uit verskeie oorde is ek meegedeel die stempersentasie was bitter laag. Lidmate wanhoop oor hul en hul kerk se toekoms. Hulle vertel van beweerde ongerymdhede wat plaasgevind het. Daar is gemeentes wat heeltemal verskeurd geraak het nog voordat gestem is nadat hulle hoë besoek ontvang het.
En die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) wat die kitaar slaan en die NGK na sy pype laat dans, is nie tevrede nie.
Die VGK verwerp die proses wat aan die gang is en eis alles of niks: Restitusie (skuldvereffening, terugbetaling, herstel van skade), verdwyning van die naam NG Kerk (’n VGK-eis uit Okahandja), die NGK se pensioenfonds (dit is in die verlede gestel VGK-leraars trek swaar en sal baat vind by daardie fonds), kerkgeboue en pastorieë van weerstandiges sal beset word (soos met die NG Kerk in Afrika gebeur het en hofsake dit ná ’n dekade nog nie doeltreffend kon oplos nie), onwilliges sal ’n proses van opleiding moet ondergaan om hulle te bekeer (dit staan in van die oorspronklike geskrifte).
Prof. Nelus Niemandt, NGK-moderator, se trawante gaan seker vir hom ’n standbeeld bou as erkenning vir sy volgehoue pogings om die NGK te skeur en te vernietig. Hulle ry die armoedeperd holrug en stuur die NGK, wat finansieel reeds sukkel, op bankrotskap af.
Piet Theron
Genl. De Wet, Bloemfontein
Belhar: NGK moet goed besin oor opsie
Donderdag 06 November 2014 7:21 nm.
Gouer as verwag gaan daar stemme uit die geledere van die NG Kerk op om die opsie ten opsigte van die Belydenis van Belhar, waaroor tans in die Kerk gestem word, uit te brei na die ander belydenisskrifte van die Kerk. Dit was te wagte dat dit die een of ander tyd sou gebeur, want daar is diegene wat hulle nie deur ’n geloofsbelydenis wil laat bind in hul eie oortuigings nie.
Die Kerk moet ook besef dat as hy hierdie weg inslaan, wesentlike aspekte van die Christelike geloof in die gedrang gaan kom: ons geloof in God die Vader, die Almagtige Skepper van hemel en aarde; ons geloof in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here, wat van die Heilige Gees ontvang is en uit die maagd Maria gebore is, wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is en gesterf het, ter helle neergedaal het en op die derde dag uit die dood opgestaan het en opgevaar het na die hemel, waar Hy aan die regterhand van God die Vader sit, van waar Hy sal kom om te oordeel oor die wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het; ons geloof in die Heilige Gees, ons geloof aan ’n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, die vergewing van sondes, die opstanding van die vlees en ’n ewige lewe.
Dit was nie wys van die NG Kerk om ’n opsionele pad vir die Belydenis van Belhar aan die lidmate voor stel nie. Dit is oneerbiedig teenoor die Verenigende Gereformeerde Kerk, en dit kan die bestaan van die NG Kerk self as ’n belydenis- en belydende kerk uiteindelik in die gedrang bring.
Pieter Coertzen
Stellenbosch
Belhar-berig misleidend, kan stemproses skaad
Sondag 09November 2014 7:27 nm.
Die briewekolom is “gesluit” vir menings oor die wysiging van Artikel 1 van die NG Kerk se Kerkorde. Die berig van Anika Marais (“Sinode sê ja vir Belhar”, 6/11) hieroor is egter in enkele opsigte feitelik so misleidend dat dit die stemproses op ’n onvanpaste wyse kan beïnvloed. Daarom meen ek dat ruimte geskep behoort te word om dit reg te stel.
Die NG Kerk het nie die Belydenis van Belhar aanvaar soos beweer word nie.
Die regskommissie van die Algemene Sinode het ná ’n uitgerekte vergadering besluit dat die toepaslike besluite van die Algemene Sinode hoogstens vertolk kan word dat die proses in die gemeentes en sinodes aan die gang gesit word om te besluit oor die insluiting van die Belydenis in die belydenisgrondslag van die Kerk en of Artikel 1 van die kerkorde dienooreenkomstig gewysig moet word. Die Vrystaatse Kerk en lidmate is deur inligtingstukke, streeksbyeenkomste en op die afgelope buitengewone sitting van haar sinode hieroor breedvoerig ingelig.
’n Voorstel dat die inhoud van Belhar in ooreenstemming met die Bybel is, is op dié sinode se vorige gewone sitting nie ter tafel geneem nie, omdat die sinode geoordeel het dat die formele proses sal prejudiseer.
Elke lidmaat, gemeente, kerkraad en sinode mag oor die aanvaarding en insluiting van Belhar sy eie mening hê en moet slegs getrou wees aan sy of haar eie gewete wanneer gestem word.
Prosedurele integriteit en feitelike korrektheid is egter ononderhandelbaar en daarvoor pleit ek hier.
Ds. Willem Botha
Bloemfontein
Sondag 09 November 2014 7:27 nm.
Die Oostelike Sinode sê met ’n groot meerderheid ja (6/11).
In 37 gemeentes het minder as twee derdes ja gesê en net 27 gemeentes het die wysiging aanvaar, vermoedelik ook nie eenstemmig nie, maar met ’n meerderheid van ten minstens twee derdes. Baie vrae is onbeantwoord. Het ten minste twee derdes van die lidmate op register ja gestem? Of was daar ’n ander, meer arbitrêre grondslag. Wie het toesig gehou? Tog seker nie die Onafhanklike Verkiesingskommissie nie? Was dit vry en regverdig, vra oud-minister Pik Botha, maar tog net nie die afvaardigings wat Zimbabwe se verkiesings vry en regverdig verklaar nie.
Die proses om ’n belydenisskrif op ’n demokratiese manier (by wyse van meerderheid) as ’n belydenisskrif te verklaar en dan nog daarmee saam te sê dat dit nie saak maak of ’n lidmaat dit aanvaar of nie, albei is aanvaarbaar, is in beginsel verdag.
In die godsdiens kan twee dinge wat reglynig teenoor mekaar staan nie albei reg wees nie.
As dit so aangaan, sal ons seker een van die dae stemme tel om te bepaal of die maagdelike geboorte waar is of nie, ensovoorts.
Dis te gek vir woorde.
Arie van der Bijl
Bloemfontein
Die leë NG kerkbanke sal nog uitroep
Sondag 09 November 2014 7:28 nm.
Oor die berig “Eerste sinode van NG Kerk aanvaar Belhar-belydenis” (DB, 06.10):
Die uitsprake van prof. Nelus Niemandt wemel van die teenstrydighede. Ek het met verskeie NG predikante gepraat en heeltemal weersprekende sienings oor die sinodale aanvaarding van Belhar gekry.
Party sê soos Niemandt dat die sinode dit wel aanvaar het. Ander sê nee, dit is slegs ’n aanbeveling van die sinode, want die sinode kan nie so ’n onkerkordelike besluit neem voordat die gemeentes daaroor gestem het nie.
Na bewering het die sinodale regskommissie die moderatuur daarop gewys dat hy slegs ’n aanbeveling kan maak. Waarop grond die moderator sy stelling dat die versoek van voetsoolvlak af kom? Is daar wetenskaplike steekproewe gedoen, of is dit die mening van die kring jabroers wat die moderator omring?
Ter versagting kan gesê word dat niks so stremmend op die gehoor is soos politieke korrektheid nie. Die voetsoolvlak waar ons beweeg, ervaar slegs die stoomrollertaktiek van die sinode en die eenogige Kerkbode.
Daar word gesinspeel dat dié wat nie die sinode se siening steun nie, ongehoorsaam aan die Woord is, nie na die Heilige Gees luister nie, apartheid wil terughê, nie die skerpste mes in die laai is nie, asook begelei sal word totdat ons Belhar aanvaar.
Professor, die sinode het in 2004 ’n opname gedoen oor of lidmate kerkvereniging voorstaan en of hulle Belhar aanvaar. U weet mos dat die meeste lidmate “ja” gesê het vir kerkhereniging en “nee” vir Belhar. U weet ook dat ons lidmate daarna hand en mond beloof is dat ons in die toekoms oor Belhar sal kan stem voordat die sinode ’n besluit daaroor neem.
Wat gebeur nou? Die sinode se belofte word nie gestand gedoen nie. Die sinode het Belhar klaar aanvaar. Lidmate stem nie oor Belhar nie, maar oor die wysiging van artikel 1.
Selfs die VGK verwerp die tweeslagtige aanvaarding van Belhar. Weet u hoekom ons nog nie geloop het nie? Ons hoop dat die moderatuur iewers langs die pad tot sy sinne sal kom, selfs eerlik genoeg sal wees om te erken dat ons op voetsoolvlak gemanipuleer word, dat bogenoemde belofte nie nagekom was nie; miskien selfs sal erken dat sy optrede teokraties was en nie volgens ons gereformeerde tradisie nie.
’n Reuse-vertrouensbreuk het tussen lidmate en die sinode ontstaan waarvan die uiteinde ’n voortdurende erodering van lidmaatgetalle gaan wees.
Prof. Nelus, kyk oor vyf jaar na die leë banke in die NG Kerk en luister hoe hulle uitroep: “Manipulasie! Manipulasie!”
Tiaan Boshoff
Groot-Brakrivier
Henrietta Klaasing said:
Dis waarlik ‘n riem onder die hart om te sien dat daar koerante is ( in hierdie geval EEN koerant) wat gebalanseerd inligting aangaande NG-lidmate se sienings oor Belhar publiseer. Waarskynlik was die stortvloed briewe TEEN die verandering van die Kerkorde so groot dat dit nie geignoreer kan word nie.
Dawie de Wet said:
Net ‘n korreksie: die brief van prof Pieter Coertzen het Vrydag in Die Burger verskyn, so ook die brief van Tiaan Boshoff vanoggend.
Wat my net dronk slaan, is die onkunde en naïwiteit van die deursnee dominee. “Die besluit vat die kerk vorentoe” eggo drie verskillende dominees die moderatuur. As ek hulle konfronteer met die feit dat soos Art 1 gefromuleer is, die aanvaardig daarvan die einde van N G kerk as belydeniskerk sal wees. (Sien prof Pieter Coertzen se brief daaroor) dan is die antwoord dat dit darem nie waar kan wees nie en nooit sal gebeur nie.
En Wynand, die paradoks van die jaar is dat selfs Ben du Toit (sic!) in die Kerkbode gesê het die aanvaarding van hierdie voorstel die einde sal beteken van die NG Kerk as belydeniskerk!
hierstaanek said:
Dankie vir die regstelling, Dawie.
AHA Theron said:
Hoekom al die draaie gooi? Sê reguit: “NG Kerk lidmate, julle “ja”stem om die kerkorde te verander, beteken doodeenvoudig die einde van die Afrikaanse belydende NG Kerk, en die goeie begin van die Reformed Church of South Africa, met Belhar as nr 1 formulier,” (presies soos Nelius Niemand dit wil hê, en sy bedenklike uitsprake en optredes gee ‘n aanduiding van wat ons te wagte kan wees). Hierdie “onderhandse” optrede van sommige van die die NG kerkleiding is een van die tekens dat die eindtyd naby gekom het. Lidmate, eiendomme, finansies van die NG Kerk, winner takes it all! Die beter plan sou wees dat diegene wat tuis voel by Belhar, sonder slag of stoot by die Reformed Church sal aansluit, en die res van ons met ons kerk sal uitlos. Die verguising van NG Kerklidmate was nou meer as genoeg! Aanvaar dat die meerderheid NG lidmate nie ten gunste is van Belhar nie, ons het almal grondige oortuigigs waarom ons “nee” sê, moet asseblief nie ons Kerk met die grond gelykmaak omdat julle nie meer daarmee saamstem nie, gee doodeenvoudig pad! Ons is steeds lief vir die kerk waarin ons geloofsbelydenis afgelê het, en ek glo steeds in wat ek beëdig het. n Skeuring lyk op die stadium onafwendbaar want die prys van die radikale verandering is te groot! Besin asseblief, en doen die eerbare ding deur ons kerk onveranderd te laat vir die wat daarin glo. God het ons met keuses begenadig, dien waar jy kies om te volg. Ek kies God die Drie-enige, Sy Woord die Bybel, redding deur Genade alleen, soos in die NG Kerk se Belydenis wat ek afgelê het.