During Cornelius het die volgende ope brief aan die NG Kerk op sy Facebook muur gepos. Hy maak ‘n paar belangrike opmerkings. Ek glo die belangrikste is dat die NG Kerk nie net ‘n verantwoordelikheid het teenoor die VGKSA nie maar ook teen oor die NGKA (wat geskeur het as gevolg van die VGKSA se stigting) en die RCA. Hy maak ook die stelling dat alle kerke wat moontlik gaan saamsmelt Apartheid sowel as Bevrydingsteologie tot kettery moet verklaar. (Dit sal natuurlik Belhar sink, omdat Belhar se artikel 4 niks met die Bybel te doen het nie maar alles met bevrydingsteologie.)

Die brief begin hier:

Ope brief aan die NG Kerk          Düring Cornelius 6 Oktober 2014

U het besluit om alle lidmate in al die gemeentes van die N G Kerk binnekort met ‘n opdrag te bedien om te stem oor die verandering van Artikel 1 van die Kerkorde wat handel oor die bestaande belydenisskrifte van die N G Kerk. Die nuwe voorgestelde Artikel lees pragtig, dit is duidelik en ongetwyfeld ‘n verbetering op die bestaande.

En tog:
Die wenslikheid van hierdie hele projek, sowel as die tydsberekening daarvan, skep by baie twyfel en vrae. Vir my gevoel is die regte saak nou op die verkeerde tyd aan die orde en word dit boonop bestuur vanaf die verkeerde lessenaar. Daar is voorts kommer dat hierdie hele aangeleentheid ‘n tree WEG van die lang gekoesterde ideaal van kerkeenheid binne die familie is, en nie – soos u hoop om te bereik – ‘n tree NADER aan eenheid nie.

My aanvoeling is dat die RCA se standpunt dat besluite oor die belydenisskrifte van die nuwe te stigte Kerkverband eers later deur die nuwe liggaam self geneem behoort te word, die korrekte een is. U huidige denke en voorstel rondom Artikel 1 hoort liefs daar tuis en behoort eers na die vorming van die nuwe Kerkverband deur al die lidkerke van die nuwe kerkverband gesamentlik oorweeg te word.

Om hierdie proses nou, aan die vooraand van die vorming van ‘n nuwe Kerkverband, slegs vanaf u lessenaar te lanseer en net te rig aan N G Gemeentes vir oorweging, is eintlik net ‘n interim en dus oorbodige oefening. Die stemproses en besluite voortspruitend hieruit se lewensduur is by voorbaat kortstondig en sal noodwendig deur ‘n nuwe Kerkliggaam grootliks ongedaan gemaak word. Om gemeentes nou aan hierdie emosioneel-gelaaide proses bloot te stel, lyk nie vir my wys nie en maak, as gevolg van die interimleeftyd daarvan, elkgeval die kool die sous nie werd nie.
U motivering om hierdie proses juis nou van stapel te stuur, is stellig gebore vanuit u vertroue dat dit u ‘n tree nader gaan bring aan eenheid met die VGK. U het gedurende die afgelope dekade eensydige beloftes gemaak aan die VGK ten opsigte van die NGK se aanvaarding van die Belharbelydenis; U het dit gedoen sonder om eers die gemeentes namens wie u praat, te toets. Dis egter vir u belangrik om nou u aanspraak op ondersteuning vir die Belharbelydenis uit geledere van die N G gemeentes aan die VGK te demonstreer. U weet wel dat, om Belhar as opsionele belydensskrif te aanvaar nie vir die VGK aanvaarbaar is nie, maar u wil graag aan die VGK minstens vordering wys in hierdie verband.

Hierdeur mag u dalk met een tree betekenisvol vorder op die weg na eenheid met die VGK. U beweeg egter ‘n groot sprong agteruit wanneer eenheid binne die N G Kerkfamilie u fokus sou wees.

En dit is die rede vir my ope brief aan u.

U is besig om ons broers en susters in veral die NGKA en in mindere mate die RCA te versaak. Die NGKA het u lankal daarop gewys dat hul u optrede ervaar as dat u kant gekies het vir die VGK teen die NGKA.

U het verskeie versoeke om onvoorwaardelike en onmiddellike eenwording met die NGKA van die hand gewys. U het dit gedoen op aandrang van die VGK. U is bewus daarvan dat die VGK ‘n baie kil verhouding met die NGKA handhaaf. U is ook daarvan bewus dat die VGK die NGKA nie bestaansreg gun nie, hul nie op enige wyse betrek by die eenwordinggesprekke nie en hul wil doodwurg. Dit is hoe die NGKA die VGK se houding teenoor hulle beleef. U is bewus van al die hofuitsprake in die gedinge tussen die NGKA en die VGK wat almal ten gunste van die NGKA was. U is ook daarvan bewus dat die NGKA, as gevolg van die onreg hul aangedoen in die stryd met die VGK en as gevolg van hul lidmaatprofiel komende uit die heel armoedigste deel van ons landsbevolking, moeilik selfstandig sal kan bestaan. Hulle steun op die hulp, welwillendheid en meelewing van vele plaaslike N G gemeentes.

Deur tans hoofsaaklik en feitlik uitsluitlik net op die VGK te fokus in u huidige modus operandi tot bereiking van die ideaal van kerkeenheid, is u besig om die NGKA uit die eenheidsproses te vervreem. U is ook besig om die VGK, in sy persoonlike strategie tot marginalisering van die NGKA, te versterk. U beweeg, na my oordeel, op ‘n onverbiddelike wyse agteruit, WEG van eenheid binne die groter familie. Ek kan u NIE op hierdie weg vergesel nie.

Op grond van die strekking en gees van die belydenis van Belhar, doen ek ‘n dringende beroep op u om u te skaar by die noodlydendes en die verontregtes in hierdie verband. U mag nie die NGKA (of die RCA) as minder belangrike lede in die familie ag en hul as sulks hanteer nie. Hulle beleef u so. Hulle sê dit vir u. U sal ingrypend moet luister hierna.

‘n Proses op weg na kerkeenheid en waarby nie alle lidkerke vrywilliglik deel van is, op gelyke vlak erken en gerespekteer word en eienaarskap van die hele proses van begin tot einde het nie, is waarskynlik futiel. Vir my persoonlik sal dit geen bindende waarde hê nie. U sal moet meehelp om hierdie waardes by die onderhandelingstafels te verseker.

U sal ook ernstig oorweging daaraan moet skenk om die VGK dringend te versoek om hulself in duidelike taal uit te spreek oor hul verstaan van die Verlossingsleer. By vele lidmate in breër verband binne die NG familie leef die brandende vraag oor waar die VGK vandag staan ten opsigte van die Bevrydingsteologie. Dis nie algemeen bekend of die VGK ooit iewers die Bevrydingsteologie as dwaalleer en kettery verklaar het nie. Verontrustend is die bewuswees van verskeie teoloë binne die VGK wat in onlangse dekades groot simpatie geopenbaar het met die Bevrydingsteologie en uitsprake dienooreenkomstig daarmee gemaak het. Juis daarom die brandende vraag. Ons wil graag weet dat almal binne die familie van N G Kerke die mooi dokument van Belhar lees, verstaan en interpreteer met dieselfde bril op. Daar moet op geen wyse ruimte gelaat word daarvoor dat die Bevrydingsteologie die Belharbelydenis kan gebruik om sy dwalinge te probeer staaf nie.

Dit sal dus nie onvanpas wees nie indien alle lidkerke binne die familie sommer weer ‘n slag hulself duidelik teen apartheid en die regverdiging daarvan as kettery uitspreek, maar dat almal ook baie duidelik en ondubbelsinnig die Bevrydingsteologie as dwaling sal bely. Dit sal werklik ‘n groot tree tot vertrouensherstel meebring indien die VGK ook sy omhelsing en sy verdraagsaamheid teenoor die Bevrydingsteologie in die verlede, hard en duidelik sal bely; dat die VGK die aanhangers van hierdie dwaling as ketters sal verklaar en hul sal oproep tot bekering tot die ware Evangelie van verlossing in Christus Jesus.

Mens sou so ver wou gaan om te sê dat, indien die VGK nie bereid is tot hierdie stap om die Bevrydingsteologie duidelik en ongekwalifiseerd te verwerp nie, hulle hulself diskwalifiseer uit die eenheidsgesprekke na ‘n nuwe Gereformeerde belydeniskerk.
Die tyd het aangebreek vir die VGK om nou te sê waar hulle staan ten opsigte van die teologie van Bevryding. Dit sal baie spanning, agterdog en onsekerheid wegneem wat tans vir duisende lidmate aan die Belharbelydenis kleef. Belhar is in die brandpunt. Hierdie verheldering deur die VGK is krities noodsaaklik ten einde vorentoe te beweeg met Belhar steeds op die tafel.

U word die Heer se wysheid en helder leiding deur die Heilige Gees toegebid.

Düring Cornelius
Potchefstroom, 6 Oktober 2014