Hier is wat Julian Muller in die nuutste Kerkbode sê:
Vraag: Dra die Bybel na jou mening meer gesag as ander geskrifte … en, indien wel, waarom?
Julian Muller antwoord: Die Bybel dra nie inherent gesag nie. Ons is nie Bybelaanbidders nie. Die gesag wat die Bybel dra, is gesag wat deur die tradisie van die geloofsgemeenskap waarvan ons deel is, daaraan toegeken is. Binne ons geloofstruktuur dra die Bybel groter gesag as ander geskrifte. Dit beteken egter nie dat die Bybel nie ook aan kritiese wetenskaplike ondersoek onderwerp moet word nie. Dit gaan meer oor die verstaan van en interpretasie van die Bybel as oor ’n soort pietistiese aanhang van en selfs aanbidding van die Bybel as boek.
Vir ‘n transkripsie van die volledige Kerkbode artikel, kliek hier: http://www.glodiebybel.co.za/index.php/geloofskwessies-m/69-godsbeskouing-kat/845-10-vrae-aan-julian-muller.html
Het die Bybel inherente gesag?
Het enige woorde inherente gesag?
As my jongste dogter vir my oudste dogter sê “Ruim op jou kamer!” dra dit geen gesag nie. As ek vir my oudste dogter sê “Ruim op jou kamer!” dra dit baie gesag. Woorde soos “ruim op jou kamer!” het nie inherente gesag nie. Persone het wel. As ek iets sê dra my woorde inherent gesag omdat ek inherent gesag het.
Die Bybel se gesag is inherent – nie omdat dit woorde is nie, maar omdat die die woorde van ‘n Persoon is. God.
Deur te sê die Bybel het nie inherent gesag nie beweer Muller dus een van twee dinge: Hy ontken dat die Bybel die woord van God is, of hy ontken dat God gesag het oor mense.
Dan sê hy nog iets: Die Bybel se gesag is afgelei van die tradisie van die geloofsgemeenskap. Dit beteken dat die gesag van die geloofsgemeenskap staan bo die gesag van God – indien hy sou toegee dat die Bybel die die woord van God is.
Met hierdie woorde trek Muller ‘n streep deur die Goddelike inspirasie van die Bybel, en ook ‘n streep deur die feit dat die Heilige Gees die leser van die Bybel oortuig van die waarheid daarvan.
Hier is ‘n onderhoud met Kevin DeYoung, ‘n gereformeerde predikant wat steeds glo in die gesag van die Bybel. Wat hy in die video verduidelik is die Gereformeerde Leerstelling van die Skrif. Dit is wat die NG Kerk voorheen geglo het.
Vergelyk dit met wat Muller en dus die NG Kerk nou glo. (Mens moet aanneem dat dit is wat die NG Kerk nou glo want Kerkbode publiseer wat hy sê sonder teëspraak. En hy is aangestel as visie dekaan van Tukkies se teologie fakulteit terwyl hy hierdie heidense drek oor die Bybel verkondig het. En Nelus Niemandt het in dié tyd gesê “Daar is geen dwaalleer by Tukkies nie.”)
NS: Is dit onregverdig om te sê dat Kerkbode saamstem met Muller? Ek glo nie so nie omdat Kerkbode nie ‘n sekulêre nuusblad is wat opinies moet publiseer nie. Kerkbode is die amptelike mondstuk van die NG Kerk, en as mondstuk van die kerk het Kerkbode slegs een opdrag: Om die evangelie van Jesus Christus te verkondig.
Henrietta Klaasing said:
Ten minste moet ‘n kerk se mondstuk op een of ander wyse hul goedkeuring gee of hulself distansiëer van opinies wat nie in lyn is met die kerk se belydenisskrifte nie, of ten minste in dieselfde uitgawe ‘n weergawe gee van iemand wat WEL in lyn is met die die kerk se visie en missie.
Chavoux said:
Henriëtta, dit was al lankal ‘n probleem by Tukkies se teologie-fakulteit. Hulle sal iets kontroversiëel aan die studente leer (soos dat die Bybel onderworpe is aan menslike idees) en dan geen antwoord verskaf in die sin van, “maar dít is wat ons glo” nie. Die studente moet maar net óf saamgaan met die idee óf hulle eie opinie vorm. Maar niemand is/was bereid om die Christelike/amptelike NG-Kerk standpunt te stel nie.
In reaksie op Julian Muller se opinie oor die Bybel. Die standpunt wat hy stel was nog al die jare (minstens sedert die hervorming) die standpunt van die Rooms-Katolieke Kerk. “Die Bybel se gesag staan onder die gesag van die kerklike tradisie.” Dit was nog nooit die gereformeerde standpunt nie! As ons egter na die werklike onstaansgeskiedenis van die Nuwe Testament kyk, sien ons heeltemal ‘n ander prentjie. Eerstens, die vroeë kerk het meer boeke as net die huidige Nuwe Testamentiese boeke as geïnspireerd beskou en gelees in die gemeente (bv. Die Herder van Hermas, Briewe van Clemens, Die Didache (kategisme gebasseer op die apostels se lering), die Diatessaron (‘n harmonie van die 4 evangelies) ens. Hierdie boeke het grotendeels ooreengestem in hul lering met die Nuwe Testament, maar is verwerp as kanon omdat hulle nie deur ‘n apostel of onder die direkte invloed van ‘n apostel (bv. Markus en Lukas) geskryf is nie. M.a.w. die kanon was kleiner as die totale groep van geïnspireerde boeke. Hulle is beskou as die gesaghebbende boeke wat gebruik kan word om enige ander geskrifte mee te beoordeel. Dan was daar ‘n paar boeke (en glad nie sovee soos sommige geleerdes wil beweer nie (bv. 2 en 3 Johannes, 2 Petrus, Openbaring)) wat in sekere dele bekend was, terwyl sommige gemeentes wat ver was van die gemeentes aan wie die boeke/briewe eerste gestuur was, bloot nie van hulle bestaan bewus was nie en hulle daarom nie as Skrif erken het nie. Die valse “pseudografia”, boeke soos die evangelie van Thomas en Barnabas, is deur al die gemeentes verwerp omdat dit welbekend was dat hulle nie deur die apostels geskryf is nie en daar was nooit enige vraagstuk oor hulle nie (hulle is óf lank na die tyd van die apostels geskryf, óf (en) het duidelik weerspreek wat in die boeke wat wel bekend was as van apostoliese oorsprong (die Nuwe Testament), staan.
Ek skryf hierdie omdat baie christene mislei word deur sg. geleerdes wat beweer dat die kanon eeue na die tyd deur een of meer kerkvergadering vasgestel is. Hulle verkondig ‘n halwe waarheid, want die kerkvergaderings het bloot bevestig wat reeds eeue lank in die individuele gemeentes gegeld het. Verder is dit uiters misleidend om te praat asof die erkenning van die Bybel as die Woord van God neerkom op “bybelaanbidding”. Dit is ‘n gereëlde valse argument van diegene wat die gesag van die Bybel ontken. Soos jy so mooi verduidelik het, Wynand, is die Bybel se gesag daarin geleë dat dit God is wat daardeur spreek en nie bloot mense nie.
Soos die vroeë kerk, is ek heeltemal bereid om te glo dat God wel deur ander geskrifte ook kan praat deur Sy Gees (bv. die bekende “Voetspore”), want die Heilige Gees is nooit terug hemel toe om ons alleen agter te laat om slegs op ons eie menslike wysheid aangewese te wees nie, maar ek moet die boodskap daarin altyd meet (1 Joh. 4: 1) aan die geskrifte wat ons weet wel deur die Heilige Gees geïnspireer is (die Bybel) en daarom kan geen latere geskrif die Bybel ondermyn of gelykgestel word aan die Bybel nie. En minstens op hierdie punt was die hervorming ‘n werklike terugkeer na die leringe van die vroeë kerk, dat ons ons nie aan mensgmaakte tradisies moet onderwerp nie, maar aan die geïnspireerde Woord van God (Kol.2:8-23: “Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie….”, 2 Tim.3:14-17: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”). As dít “bybelaanbidding” is, dan sal ek veel eerder daaraan skuldig wees, as aan die alternatief van tradisie, “die wysbegeerte en oorlewering van die mense”!
Nico van Niekerk said:
Wat ‘n tragiese toedrag van sake. Dankie vir mense soos Kevin DeYoung en al die ander arbeiders wat dit in hulle eie omgewings doen en getuienis lewer waar hulle ookal kom.
Henrietta Klaasing said:
Ek kan my vereenselwig met wat Adrio König hier sê:
Ebert Terblanche said:
Indien ons kyk na die opkoms en agteruitgang van die NG Kerk (en dit is duidelik uit die jaarlikse verlies van lidmate uit die kerkverband dat die NG Kerk besig is om selfs fataal agteruit te gaan), dan is dit voor die hand liggend dat die NG Kerk haar meeste groei en vooruitgang ervaar het in die tydsgleuf waarin sy self verantwoordelikheid vir die opleiding van haar dominees aanvaar het.
Na 1859 het die NG Kerk opgehou om uitsluitlik op buitelandse kweekskole te steun vir die opleiding en verskaffing van predikante (eers uit Nederland en later uit die Verenigde Koningkryk, veral Skotland). Eers in 1963 het die NG Kerk die befondsing en bestuur van haar kweekskole aan die Suid-Afrikaanse regering oorgedra. Die noue band tussen regeringsideologie en die prediking en leierskap van die NG Kerk sedert 1963 is nie toevallig nie. Wiens brood men eet diens woord men spreekt.
Die enigste Afrikaanse gereformeerde kerverband wie se kweekskole nie afhanklik van die Suid-Afrikaanse regering is vir befondsing nie, is die Afrikaanse Protestantse Kerk, wat juis uit die NG Kerk weggebreek het om die wekroep van die Reformasie en die gereformeerde skrifbeskouing behoue te laat bly, te wete Sola Scriptura, Sola Fide en Sola Gratia.
Uit die aard van die saak sou die establishment nie verlief neem met hierdie aksie van verset nie en is die etiket van ‘rassistiese ketters’ vinnig om die nekke van die AP Kerk gehang en met al die mag en mening van die Regering en die NG kerk verkondig.
Indien die AP Kerk egter wel die rassistiese ketters is wat van hulle gemaak word, moet daar gevra word waarom die AP Kerk so aktief werk op die sendingveld?
Natuurlik bestaan die AP Kerk uit ‘n klomp sondaars wat sonder die genade van God tot niks goeds in staat is nie, maar ook die AP Kerk erken dat daar ‘iets’ soos Belhar nodig is om die verhouding tussen Christene in Suid-Afrika te normaliseer, maar is daarvan oortuig dat daardie ‘iets’ anderkant Belhar gevind moet word. Verwys gerus na http://apk.co.za/index.php/laaikas/kommentaar/133-kommentaar-blog/29-augustus-2014/die-ng-kerk-en-belhar
Pingback: Watter evangelie verkondig Kerkbode? Neels Jackson probeer kritici stil maak. | hier staan ek
Pingback: In gesprek met Ds Robert Knobel van Mosselbaai oor die teologiese grondslag van Belhar. | hier staan ek
Pingback: Die hermeneutiek van geloof en ongeloof: Waarom die Algemene Sinode van 2015 dwaal. | hier staan ek