Slabbert le Cornu skryf ‘n uitstekende artikel oor Sakkie Spangenberg se hellevaart na heidenisme. (Paganism) Hierdie is ‘n klein kommentaar daarop.
Dr Ben du Toit is tans verbonde aan die Suid- en Weskaapse Sinode as kommunikasiebeampte. Hy is ook op die Algemene Sinode se taakspan vir leer an aktuele sake en is in die posisie nou betrokke by die opstel van beleidsdokumente vir die NG Kerk. As kommunikasie beamte verteenwoordig hy die NG Kerk in die parlement.
Daar is geen onsekerheid oor die feit dat hy die wesensbestaan (ontologiese) grens tussen God en skepping totaal ontken nie.
Op bl 113 van sy boek “God? Geloof in ‘n postnmoderne tyd.” beweer hy:
“ Indien ons dan sou aanvaar dat vir God om God te wees daar ‘n minimum vereiste sal geld, naamlik dat Hy/Sy ongebonde aan ruimte en tyd moet wees, laat dit onmiddellik die moontlikheid oop om in hierdie konteks te kan praat van God as bron van alle energie. […]
Indien dit gelees word saam met die onvernietigbaarheid van energie, het ons hier te ongetwyfeld te doen met die moontlikheid dat die sigbare lewe van die mens na die dood bewustelik kan voortbestaan in die sfeer (bestaanswyse) van God.”
Op bl 151 haal hy Hennie de Villiers bevestigend aan:
“ …Jy is dus nie jou liggaam nie, jy is jou siel met liggaamlike, betekenisvolle ervarings. Jou siel is deel van ‘n kosmiese siel, wat ons God kan noem…”
En op bl 153:
“Weliswaar word hiermee nie teruggekeer tot ‘n premoderne wêreld en lewensbeskouing nie, maar is die spirituele voortbestaan van die mens na die dood, as onvernietigbare energie wat op een of ander manier opgeneem word in die dimensie van die Bron van alle energie (God) aangedui.”
Hy stel sy panenteïsme baie duidelik op bl 183:
“Op hierdie manier kan mens met die Godheid in ‘n persoonlike verhouding leef en word sy spiritualiteit (die Gees van God) ook deel van die energievelde en atoomsamestelling van die mens.”
Dr du Toit het tydens sy tug ondersoek ontken dat hy ‘n panenteïs is. Hy het bg aanhalings uit sy boek verklaar deur by implikasie te ontken dat dit is wat hy glo, maar gesê dat hy mense aangehaal het om aan te toon hoe daar ‘n nuwe soeke na die spirituele is.
Die probleem is die aanhaling op Bl 183 is nie ‘n aanhaling van ieamnd anders nie. DIt is sy, Ben du Toit, se eie woorde.
Nelus Niemandt het na die tug ondersoek in die pers verklaar: “Dr du Toit se teologie val binne die raamwerk van dei NG Kerk.” Ben du Toit is die hoofteoloog van die Moderamen, en leidende figuur in die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake. (ATLAS)
Met dit in gedagte, lees nou Slabbert le Cornu se artikel oor panenteïsme, Gaia en Sakkie Spangenberg hier:
http://proregno.com/2014/08/28/nuwe-hervorming-dogma-omhelsing-van-die-gaia-god-moeder-aardenatuur/
Onthou, Spangenberg het ook soos Ben du Toit in die NG Kerk begin. Hy het ook begin deur die ontologiese skeiding tussen God en mens te ontken!
Henrietta Klaasing said:
Pure humanisme, alles draai om die MENS en sy behoeftes.
Ene Peet Coetzee, van Faerie Glenn, skryf in vandag se BEELD:
“Ons kort ’n liefdevolle moeder-god
Die man het die aarde verwoes. Die man het oorlog gemaak en doen dit nog steeds. Die verskriklike wandade wat in oorloggeteisterde lande gepleeg word, word deur mans gepleeg. Die man dien ’n man-god. Tradisioneel is God ’n man. Die man-god is hard en maak dood en verwoes.
Ons moet begin soek na die moeder-god wat sag en teer is. Sy maak nie oorlog nie. Sy vertroos en maak gesond. Haar stem is sag en ons luister na haar omdat ons wil. Haar wysheid stig.
Sy vou ons toe in haar liefde – veilig soos kinders – onder haar vlerke. As jy by haar is, wil jy nie doodmaak nie. Uit haar kom kennis en wysheid en rus. Rus en vrede wat ons almal begeer – die hele wêreld begeer vrede en rus. Ons is voos van geweld en bloed en onrus. Roep na jou Moeder – skuil by haar. As jy seergekry het, dan hardloop jy na jou moeder – sy genees die wond.
Lesers kan my kasty oor dit wat ek kwytraak. Ek glo ek skryf dit wat baie ander ook begin besef het – dat ou tradisionele gelowe geen gronde meer het nie. Ek kan nie meer my vereenselwig met ’n man-god en of manlike waardestelsels nie. Dit het net verwoesting gebring. Ek is self ’n man, maar ek is oortuig daarvan dat daar ’n beter bedeling is – die bedeling van die moeder-god.” ( tot sover die aanhaling van die brief)
Nico Brits said:
100% ooreenkoms met die Rooms Katolieke redenasie wat hulle ten gunste van Maria-aanbidding gebruik.
Kobus vd Merwe said:
Miskien moet mense wat met swak teologie begin, ook, weens hulle onvermoe om die wetenskap korrek te kan begryp, nie hierdie swak begrip van wetenskap as kern van hulle swak teologie gebruik nie.
“Indien dit gelees word saam met die onvernietigbaarheid van energie, …” die kern van sy argument om te waag “God=energie=homself”.
Wat onse Bennie nie begryp nie, wanneer energie “nuttig” aangewend word, dit van een vorm na ‘n ander oorgesit word, met gepaardgaande “verliese” = hitte vrystelling. Dit is hoekom termodinamika verklaar dat die heelal “afwentel” tov “nuttige energie”.
Daarom sal die bron van energie uitputbaar wees tov nuttige energie en sal hy en sy trawante nie baie lank kan “hou” nie, en dan ook nog bydrae to aardverwarming met al die verliese weens gebrekkige effektiewiteit! En dan het hy en mede panenteïsme ook nie eens ‘n toekoms in die hiernamaals nie, gesien aan die hand van die agtergrond energie van die kosmos van ~3K wat al sy energie dadelik sal omsit in hitte verlies.
Is dit nie juis die ontologiese argument wat verklaar (buiten die openbaring van God) dat God moet bestaan buite, en onafhanklik, van die 3+3D = ruimte/tyd/energie/materie, nie?
En Bennie se teologie val binne die NG Kerk teologie?
Henrietta Klaasing said:
Deur hul stilswye gee ander kerkleiers soos die moderamen van die NGK dus hul steun aan BdT, ook deurdat hulle laer trek rondom hom wanneer hy aangevat word, soos jy in ‘n ander artikel op hierdie webwerf aangetoon het:
https://hierstaanek.com/2013/05/23/die-leiers-van-die-ng-kerk-trek-laer-om-dr-ben-du-toit/
Liza-Nel said:
“Alles is god. Alles is ’n enkele, lewende organisme: die god Gaia.”
In sy boek Die “New Age” Beweging skryf BJ van der Walt as volg:- “Deur sekularisasie en ontkerstening het die Weste losgeraak van sy bande met die Christendom. As gevolg daarvan het by baie in die Weste ’n geestelike bankrotskap, ’n geestelike ‘Leegheid’ ontstaan. Toe het die Hindoefilosofie tesame met die okkultisme wat daaraan verbonde is, in die Weste ingedring en hierdie ‘leegheid’ kom vul” (vgl. dié treffende vergelyking in Matt. 12:43-45)