Ben du Toit sê tydens sy tugverhoor op die vraag of mense wat nooit die evangelie gehoor het voor hulle sterf nie gered kan word: “ Voorsitter, die Here moet my daarvoor straf, maar, ek meen, ek dink nie ek is buite die belydenis as ek die genade van God groter stel as enigiets anders nie.” (Lyn 709 van die verbatim transkripsie)
En Isak Burger het onlangs tydens ‘n preek in ons gemeente verklaar: “Ek is bly ek is nie die regter nie. En ek wil geen oordeel uitspreek oor enigiemand wat nog nooit van Jesus gehoor het nie. Ek weet net die God van die heelal sal reg laat gesied en Hy is ‘n genadige God.”
Beide hierdie teoloë beweer dus dat geloof nie nodig is, of moontlik nie nodig is, vir verlossing nie.
Daar is groot verwarring hieroor. Is dit regtig so erg om te beweer dat geloof nie nodig is vir verlossing nie?
Die leerstelling van regverdigmaking deur geloof alleen was die grootste brand punt van die Reformasie, en is die sentrale punt van ons Gereformeerde geloof.
As geloof nie nodig is vir verlossing nie is daar eenvoudig nie ‘n evangelie van verlossing deur geloof alleen nie.
Beide du Toit en Burger trek ‘n streep deur die evangelie met hierdie stellings. Ek glo du Toit is bewus dat hy dit doen. Ek glo nie Burger besef die implikasies van sy woorde nie.
As jy onseker is oor hierdie punt, kyk asb hierdie 2 videos van RC Sproul.
http://www.ligonier.org/learn/series/what_is_reformed_theology/faith-alone-part-1/
http://www.ligonier.org/learn/series/what_is_reformed_theology/faith-alone-part-2/
Somerset (Sommie) Morkel said:
Isak Burger is ‘n baie meer solied-evangeliese mens as wat Ben du Toit is.
Isak Burger glo basies in die volle evangelie soos uiteengesit in die Skrif.
Hy is nie ‘n moderne teoloog nie.
My enigste probleem met hom is dat hy hoof is van ‘n kerk wat nie die gereformeerde leer navolg nie, maar die pinkster-teologie.
Ben du Toit darenteen is ‘n uit-en-uit vals profeet en misleier in die kerk deur wie die basis geskep is vir die moderne besluitneming waarop die Alg Sin vd NGK ageer.
Hy is so-te-sê die filosofiese ‘guru’ vd NGK.
Die moderator vd NGK, Nelus Niemandt, het op Kyknet verklaar dat Ben du Toit se denke “deel is vd hoofstroomdenke van die NGK”.
Daarmee het Nelus Niemandt
1. erken dat die NGK op ‘n vals koers is en inderdaad reeds vals kerk is, en
2. dat hyself ook ‘n vals profeet en misleier is..
Geen ander leier in die sentrale moderatuur vd NGK het hom tot vandag uitgespreek teen daardie uitspraak van die moderator nie.
Die meeste streeksinodes sedert die Alg Sin het ook nie uitsprake daaroor gemaak nie.
Daarmee het hulle stilswyend te kenne gegee dat die NGK daadwerklik op daardie koers is.
Die kolos wil nie verander nie en beweeg stadig aan op sy weg na die verdoemende situasie waar Christus uiteindelik verloën sal word – hoewel Hy in wese reeds verloën word in die uitsprake van Ben du Toit in sy teologies-verderflike boek “God?”..
Christus Jesus word inderdaad in elke standpunt waar getuig word dat Sy soenverdienste nie die enigste hoop is vir ‘n mensdom in duisternis nie, verloën.
En die weg vir die antiChris word daardeur gebaan _
deurdat Jesus geminimaliseer word en Sy volmaakte werk aan die kruis en in die Opstanding gedevalueer word.
Hoekom sou Christus mense aanstel en opdrag gee om tot aan die eindes vd aarde te gaan en die evangelie te verkondig, as dit nie nodig was nie?
Dan sou dit mos logies gewees het om dit liewer te los en hulle te laat begaan, want hulle sou gered kon word sonder om die kontroversie van die evangelie as enigste weg, in hulle lewens in te bring.
Dit sou ook verhoed het dat mense gegaan het en met hulle lewens betaal het om die evangelie na ander plekke te bring.
Dit maak eenvoudig nie sin nie.
Die punt is egter dat mense soos Ben du Toit et al reeds ‘n ander Jesus verkondig as wat die Skrifte aandui.
Die Skrif (Paulus) noem sulke mense ‘n ‘vervloeking’.
Dit is harde woorde.
Dit is van die hardste woorde hoegenaamd in die Skrif.
NB: Ek vervloek niemand nie. Ek haal die Skrif aan.
Maar ek glo die Skrif.
Daarom kan ek nie weer met die NGK gemene saak maak nie.
Dit is nie meer ‘my kerk’ nie.
Daarom glo ek ook, haal God duisende mense elke jaar uit die NGK.
Hulle loop omdat Hy hulle uithaal, en nie soos dr Kobus Gerber (Alg Sekretaris) se belaglike standpunt dat dit is as gevolg van ‘rassisme’ nie.
Dit is vandag geestelik veiliger om buite die NGK te wees as daarbinne.
Juis weens die feit dat Jesus algaande verduister word.
Mens aanvaar dat dit God se werk is met mens om hulle te oortuig waar hulle moet wees.
Daarom aanvaar mens dat daar nog duisende en duisende kinders van God in die NGK sit – beide lidmate en ook predikante.
Ek ken van hulle persoonlik goed.
Baie hoop dat dit vorentoe beter al gaan.
Dit is egter ‘n valse hoop.
‘n Goeie rede m.i. om nog in die NGK te bly, is om ‘n getuie teen die stroom van wan-teologie te wees.
Mens moet bid vir sulke mense.
Ek was ook daar voor ek finaal besluit het ek maak geen verskil meer aan die kolos wat in die verkeerde rigting gedraai het en skynbaar ongestoord voortgaan nie..
Ten spyte van al die waarheids-getuienis wat daarteen uitgebring word al oor jare heen..
Dit is nie maklik nie.
Soos hierstaanek weet..
Ek glo egter dat die dag nie meer ver is dat die meerderheid lidmate wat oorbly, self misleides sal wees wat self mislei wil word nie omdat hulle nie die waarheid wil nastreef nie, soos die Skrif sê..
Wanneer enige kerk of enige mens by die punt kom waar Christus nie meer noodsaaklik is vir redding nie, het hulle an die kant vd duiwel gaan staan en teen Christus Jesus gekies.
Dit is die finale harde geestelike werklikheid.
janenamor said:
Ek stem heelhartig met Sommie saam maar wil tog nog iets byvoeg oor die preek van Isak Burger. Ek reageer net op die woorde soos aangehaal deur Wynand nl:
“Ek is bly ek is nie die regter nie. En ek wil geen oordeel uitspreek oor enigiemand wat nog nooit van Jesus gehoor het nie. Ek weet net die God van die heelal sal reg laat geskied en Hy is ‘n genadige God.”
Wynand, ek kan nie jou ontsteltenis oor daardie woorde deel nie. Ons weet almal dat Isak ‘n passie het vir die Evangelie. Wat myself betref neem ek die apostel Petrus ernstig op as hy sê dat daar geen ander naam op aarde aan die mense gegee is waardeur God wil hê dat ons gered moet word nie (Hand 4:12) en ek glo dis dieselfde met Isak. As iemand egter sê dat die God van die heelal reg sal laat geskied aan alle mense en dat Hy genadig is, maak dit nie van jou ‘n universalis nie. Dit is ook nie ‘n bewering “dat geloof nie nodig is nie”.
Ons lees op verskeie plekke dat Jesus na die skares mense gekyk het en hulle innig jammer gekry het (bv Mat 9:36). Elke regskape mens ervaar ook groot deernis vir die verskriklike elende waarin mense op die aarde verkeer. As òns in ons sondigheid so oor ons medemens dink, hoeveel te meer nie die Here wat ons gemaak het nie. Dit is dus vir my ‘n bron van troos dat die mensdom deur ‘n regverdige Regter geoordeel sal word. God wat nou genadig is sal nie eendag verander na Iemand anders nie. Niemand sal kan sê God het my onregverdig behandel nie.
Dit neem nie weg dat ons duidelik vir mekaar en vir die wêreld moet sê wat Petrus gesê het, nl dat daar geen naam en geen offer is waardeur ‘n mens gered kan word nie behalwe die offer van Jesus Christus nie.
Jan Louw
hierstaanek said:
Ek besef my standpunt is ongewild. Tog is dit nie ek wat so sê nie, dit is die Bybel.
Enige een wat die teendeel beweer sal hom vasloop teen Romeine 10. Duideliker as Romeine 10 kan dit seker nie gestel word nie. Waarom is dit so moeilik vir mense om te aanvaar? Ek glo dit is omdat ons natuurlike aard die konsep van God se soewereiniteit in redding afstootlik vind. Ons wil glo dat ons self in beheer is.
Hierdie opinie van Isak Burger word ook pertinent deur ons belydenisskrifte verwerp:
Dordt hoofstuk 4: Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die verdorwe en natuurlike mens kan die algemene genade (waaronder hulle die lig van die natuur verstaan) of die gawes wat ná die sondeval nog in hom oorgebly het, tot sy heil gebruik. Deur dit só te gebruik kan hy ‘n groter genade, naamlik die evangeliese of verlossende genade en die saligheid self, geleidelik en trapsgewyse verkry. Op hierdie wyse betoon God Hom van sy kant bereid om Christus aan alle mense te openbaar. Hy het die middele wat vir die openbaring van Christus en vir geloof en bekering nodig is, aan almal genoegsaam en kragdadig geskenk.
Die Sinode leer: Behalwe die ervaring van alle tye getuig die Skrif immers ook dat dit vals is, want Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en verordeninge. So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie (Ps 147:19,20), en God het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hull eie weë sou wandel (Hand 14:16), en: Hulle (naamlik Paulus en sy reisgenote) is deur die Heilige Gees verhinder om die woord in Asië te verkondig; en toe hulle by die grens by Misië kom, het hulle probeer om na Bithinië toe te gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie (Hand 16:6,7).
As mens die uitverkiesing en die verbond verstaan, is daar oor hierdie saak geen kwessie nie. Die enigste rede waarom hierdie duidelike leerstelling van die Bybel, soos beskryf in die Dordtse leerreels ongewild is, is omdat die leer van die uitverkiesing en die verbond ongewild is.
En dit beteken nie dat God nie medelye het met die wat verlore gaan nie! As die Hemele feesvier oor elke sondaar wat tot bekering kom, dink net hoe word daar in die hemel gehuil oor elkeen wat verlore gaan! God vind geen vreugde daarin as mense verlore gaan nie. Maar Hy laat dit toe omdat Hy ‘n goeie rede het.
En let mooi op: Ek sê nie Isak Burger is ongered nie. Ek weet dat hy die Here liefhet. Hy het die Here met oorgawe ‘n leeftyd lank gedien. Maar hy is mislei deur sy arminianisme. En die implikasie van die stelling is onstellend gevaarlik. Dit trek ‘n streep deur redding deur geloof alleen. Ek glo nie hy besef dit nie.
Hy is nie ‘n universalis nie. Hy is ‘n “inklusivis”: Iemand wat ontken dat geloof in Jesus nodig is om deur Jesus gered te word. Dus ‘n onwetende Christen. Die skeidslyn tussen universalisme en inklusivisme is egter so dun soos die agste van ‘n polonieskil.
Somerset (Sommie) Morkel said:
Dit is inderdaad so.
Die tragiese egter in hierdie geval is dat Isak Burger as Arminiaan m.i. nader aan die waarheid in Christus is as Ben du Toit en die Moderatuur vd Alg Sin vd NGK.
Lg. is reeds so ver weg vd waarheid en het reeds to so ‘n mate ge-deformeer dat dit net ‘n kwessie van tyd is voor universalisme ook deur hulle verkondig word –
en hulle dus Christus se unieke werk as enigste Verlosser sal devalueer en sodoende Hom verloeen.
Dis onvermydelik.
Ek glo dat dit reeds deel van hul teologiese denke is, maar hul het dit nog net nie in die openbaar uitgespreek nie.
Dit is egter sonder twyfel reeds deel van hulle ongeskrewe ‘dampkring’.
Hulle beweeg al nader aan die Nuwe Hervormers.
Ek vertrou hulle nie eens agter tralies nie.
Ons is so pas deur ‘n lang debat op my Facebook-muur met dr Gerhard Bothma, bekende liberale moderne NGK-teoloog van Polokwane Bandorpark.
Sy onderrok hang so ver uit dat hy gou-gou nie meer kon antwoord op die bewyse dat hy volgens die Skrif ‘n vals leraar en vals profeet is nie en dat hy teruggeval het daarin om ons ‘fundamentaliste’ en nog ‘n paar ander dinge, te noem.
Min NG-teoloee vd liberale kant is egter bereid om hulself so bloot te stel –
Gerhard Bothma is ietwat ‘eerliker’ as sy broeders hoeer op in die hierargie.
Die punt is, ons het nie meer vir mekaar iets te se nie, want ons is aan verskillende kante vd waarheid.
Die waarheid het egter net een ware kant, en dit is die Bybelse kant – God se openbaring aan die mens.
Die ander kant is nie die Waarheid nie, maar is die leuen, maar dit word deur Bothma et al gedefinieer as ‘hulle waarheid’.
Elkeen het mos nou a-la prof Julian Muller se nalatenskap in die NGK sy ‘eie waarheid’ en elkeen is ‘geldig’.
Die probleem is natuurlik dat wanneer enige ‘waarheid’ wegbeweeg van Skrif-waarheid, dan staan dit op los sand – wat uiteindelik dryfsand word.
Die uiteinde is tragiese vernietiging, want geen leuen – hoe sterk mens dit ookal glo – teen God se waarheid soos in die Bybel geopenbaar, kan staan nie..
Noem my maar ‘n fundamentalis.
Ek aanvaar dit as ‘n eerbewys.
janenamor said:
Wynand ek wil nog ‘n keer terugkom na Isak Burger se woorde:
“Ek is bly ek is nie die regter nie. En ek wil geen oordeel uitspreek oor enigiemand wat nog nooit van Jesus gehoor het nie. Ek weet net die God van die heelal sal reg laat geskied en Hy is ‘n genadige God.”
Die bekende sendeling Neil Verwey wat sy hele lewe lank ‘n sendeling in Japan was het per geleentheid die volgende storie vertel: Neil sê hy het ‘n man in die straat raakgeloop wat besig was met ‘n snaakse optrede. Die man het op een plek gestaan en sy hande geklap terwyl boontoe kyk. Dan het hy in ‘n ander rigting gedraai weer sy hande geklap. Dan het weer in nog ‘n rigting gekyk en sy hande geklap en so het hy aangegaan. Neil het die man toe gevra waarmee hy besig is. Die man het geantwoord hy begeer dat die gode hom sal help, maar hy weet nie wie hom sal help nie. Daarom klap hy sy hande in die hoop dat een van die gode hom sal hoor en hom sal help.
Daar is baie ander mense soos hy wat in onkunde leef oor God. Hulle maak selfs groot opofferinge om hulle gode tevrede te stel. As sulke mense sterf gaan hulle soos ons almal voor die regterstoel van Jesus te staan kom. In Joh 5:22 lees ons dat die Vader niemand oordeel nie, want Hy het die oordeel geheel en al aan die Seun oorgelaat. Die vraag is met watter soort Regter gaan die mensdom mee te doene kry. Gaan Hy ‘n harde, ongevoelige, onregverdige Regter wees soos die een van wie Jesus in die gelykenis in Luk 18 vertel? Gaan Hy geblindoek wees volgens die embleem van die regstelsel en net die getuienis wat voor Hom dien weeg en daarvolgens ‘n uitspraak maak?
Ek dink ons almal stem saam dat Hy wat ons in die Evangelies leer ken het, ten spyte van sy heerlike verskyning by die wederkoms steeds ‘n genadige en regverdige Regter sal wees. Niemand sal kan sê ek is darem onregverdig behandel nie – ook nie die wat op daardie dag sal sê: Here, Here ons het dan in u Naam gepreek, bose geeste uitgedryf en wonders gedoen nie.
Die oordeel van God is so ‘n groot saak dat ons versigtig moet wees om namens God te probeer praat. Dit is soos met Job se vriende wat probeer het om God te verdedig oor die vraag waarom Job gely het. Uiteindelik het God hulle daarop gewys dat hulle, hulle wil uitspreek oor goed wat totaal bo hulle vermoë is.
Die Regter van die mensdom is Iemand wat mense se harte ken. Hy is Een wat sien wat verborge is. Ons sal op daardie dag verbaas staan, want baie wat eerste is sal laaste wees en wie laaste is sal eerste wees. Daar is mense wat op die grens leef. Hoe bepaal mens regtig of iemand op die breë weg of op die smal weg is. Hoe bepaal mens of iemand deur die nou poort ingegaan het. In onderhoude met katkisante het ek en die paneel dikwels voor sulke situasies gekom waar ons onseker was. Jesus het vir ‘n skrifgeleerde gesê: Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie (Mark 12:24). Vir die ryk jongman het Jesus gesê sy besittings staan tussen hom en die koninkryk van God (Mark 10:21). Dit het vir hom gegeld, maar dit geld nie vir alle mense nie.
Dan is daar ook nog verskillende grade van beloning en grade van straf. Daar is mense met ‘n groot beloning (Mat 5:12). Daar is selfs mense wat aan Jesus se linkerkant en sy regterkant sal sit (Mark 10:40).
Aan die ander kant is daar mense wat ‘n swaarder straf as ander sal kry. Luk 12:47 is veelseggend: Die slaaf wat geweet het wat sy eienaar wil hê maar wat nie gereed gemaak of volgens die wil van sy eienaar gehandel het nie, sal ‘n swaar straf kry. 48 Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat straf verdien, sal ‘n ligte straf kry. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word.
Ek het weer gaan kyk na Rom 10 waarna jy verwys. Dit is nie vir my heeltemaal duidelik wat die punt is wat jy daar uithaal nie. Die strekking daar is in elk geval dat die Jode in hulle eie geregtigheid voor God volhard het en nie God se wil wou aanvaar dat ons uit geloof in Christus gered word nie. Dit is ‘n teken van hulle ongehoorsaamheid soos dit uiteindelik in vers 21 tot uiting kom: “Dag vir dag het Ek my hande uitgesteek na ‘n ongehoorsame en weerspannige volk.”
Om saam te vat wil ek sê dat ek my heeltemaal versoen met die Dortse Leerreëls, soos jy dit aanhaal uit Hfst 4. Ek verstaan dit daar dat ons die dwaling van mense verwerp wat spesifiek leer dat mense op grond van God se algemene genade deel kan kry aan ‘n groter genade, naamlik die evangeliese of verlossende genade en die saligheid self. Dit is ‘n dwaalleer. Dit laat my dink aan die loflied van die skare verlostes in Openb 7:10: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”
Ek het Sondag nog hierdie woorde gebruik as votum by die begin van die erediens. Is ek egter verkeerd as ek met Isak wil saamstem dat ons die oordeel met groot dankbaarheid aan God kan oorlaat in die wete dat Hy nooit afstand sal doen van sy regverdigheid en sy genade nie. Ek wil my nie uitspreek oor hoe God oor elke indiwidu gaan oordeel nie. Dit is net te groot vir my verstand.
Jan Louw