Dankie aan Petrus wat hierdie video onder my aandag gebring het.
Kom ons bid dat die Here vir ons ‘n leier sal stuur wat ons kweekskole en die NG Kerk uit die woestyn terug na die evangelie kan lei. Ons is moeg vir die Julian Mullers, Andries van Aardes en hulle geestelike nasate.
Henrietta Klaasing said:
Tukkies se Teologiese Departement is lankal nie meer ‘n kweekskool of seminarium in die ware sin van die woord nie. Daar word na die pype van die Universiteit as geheel gedans. Dit gaan oor befondsing en die ou spreekwoord van “wiens brood men eet, diens woord men spreekt”.
Henrietta Klaasing said:
Van hul webwerf:
Meer oor Teologie
Visie
Om ’n fakulteit te wees wat erken word vir sy kreatiewe betrokkenheid met lewegewende teologie en godsdienstige insig, in diens van akademie, kerk en gemeenskap.
Missie
Om dit te behaal, wy ons onsself daaraan toe om
• relevante teologiese en godsdienstige onderrig te voorsien;
• herskeppende leiers te kweek;
• kwaliteit navorsing voort te bring;
• geregtigheid, vrede, die integriteit van die skepping en ’n versoenende diversiteit te bevorder; en
• mense aan die grens van die samelewing te bereik.
Welkom by die Fakulteit Teologie
Die missie en droom van die Fakulteit Teologie is om die kerk, gemeenskap en wetenskap te dien, teen die agtergrond van ons toegewydheid aan die Afrika-konteks en met sensitiwiteit vir verskillende geloofstradisies. John Mbiti het tereg eenmaal opgemerk: “Jy is omdat ons is, ons is omdat jy is.” Juis om hierdie rede is ons trots daarop om mense van reg oor die wêreld onder ons studente en alumni te reken. In die Fakulteit Teologie word stimulerende en inspirerende leiding aan voor- en nagraadse studente gegee. Daar word ook in die opleidingsbehoeftes van kerke voorsien. Die oogmerk is om goed toegeruste predikante te lewer. Studente word geleer om selfstandig, kreatief en krities te dink en doen. Die Fakulteit Teologie se grootste bate is die mense. Dosente en studente. In dié huis is almal welkom en is daar blyplek vir almal: dosente en studente van die Fakulteit Teologie word daarin geoefen om vanuit ‘n vaste geloofsgrond nugter en gebalanseerde burgers van die samelewing te wees. Daarom staan daar op ‘n bordjie by die voordeur: Hier is jy hartlik Welkom!
WILLIE DU PLESSIS said:
Merkwaardige video. Net ware gelowiges kan seker verstaan wat gebeur waar die Heilige Gees teenwoordig is. Dankie dat ek hierdie kon sien en kon luister wat vertel word. In hierdie land is daar hoop ! ! ! HOOP EN BID.
H Stander said:
Wat ‘n besielende verhaal in die video!
Ons bid dat die Here ons kerk ook onverskrokke leiers sal stuur wat die gety van postmodernisme en ander -ismes keer en ons terug lei na die fondament: die Driënige God en die Mens-God Jesus Christus en Heilige Gees, soos in die betroubare Bybel verkondig word.
Die verstaan van hierdie geloof moet mos in woorde (dogma) gestel word. Daarom is die belydenisskrifte noodsaaklik as verwoording van ons verstaan van die Evangelie op vrae soos:
Wie is God? – Apostoliese Geloofsbelydenis.
Wat is die Christelike geloof? – Nederlandse Geloofsbelydenis.
Logiese uiteensetting van die belangrikste detail daarvan – Heidelbergse Geloofsbelydenis as onderwysing in die Christelike Geloof.
(Belhar is nie in dieselfde klas nie en behoort as ‘n gewone dokument beskou te word, nie as deel van ons geloofsbelydenis nie. Maar die sinode is nou al klaar daarby betrek – teen die Dordtse Leerreëls in.)
Ons probleem is dat die fakulteite nie meer kerklik verantwoordbaar is nie, maar akademies vry daarvan, deel van die universiteit en dus nie verantwoordbaar teenoor die NGK nie, of is ek verkeerd? Lees die UP se storie hierbo
Ons behoort die Wellingtonse Opleidingskollege uit te bou as ons kerk se opleidingskollege vir predikante en godsdienswerkers. Ons moet ons opleiding van leraars onttrek vanaf die fakulteite, in oorleg met die susterkerke, wat ook daaroor bekommerd is.
DIt behoort ‘n drie/vier jaar intensiewe kursus te wees oor die Bybel, belydenisskrifte en praktiese sake soos berading, leierskap, gesonde skrifuitleg, gelowige Bybelkunde (waar kom ons Bybel vandaan, sonder die ongelowige misleiding van die fakulteite se Bybelkunde, waarmee hulle die ingewing van die Gees in die daarstel van die Woord van God misken), ens.
Leerstellig korrekte en prakties gerigte studies is nodig wat teologiese studente regtig in hul werk as leraar sal help en hul geloof en leer vestig op vaste beginsels.
Diegene wat na hul legitimasie verder wil studeer, kan dit mos later doen as hulle wil.
Daar sal genoeg gelowige akademici wees wat sal wil oorkom, na hul vergeefse stryd en verguising in die fakulteite. Streng keuring en kontrakte is vir die lektore en studente nodig.
Die inhoud van kategese onderrig behoort ook aandag te kry teenoor die vrysinnigheid, wat tans kinders sonder belydenisgrondslag die wêreld instuur. Van hulle word later teologiese studente wat nie die basiese fondament van hul geloof, (die kennis van God en Sy beloftes) gekry het nie.
My vader was ‘n “donkie” van Wellington in 1934, opgelei in ‘n 4-jarige praktiese kursus, spesifiek vir sendelinge opgestel. Hy en baie ander donkies het diep spore in die kerk getrap, nie vir eie eer nie, maar vir die Here wat hy lewenslank gedien het. Dis ‘n bewys dat die Wellingtonse Opleidingskollege benadering van praktiese onderrig goed werk.
Anita said:
Die verswakking van die kweekskole is agv die swak gehalte Sondagskool. Die gemeentes waardeer nie meer die standaard van hul pastore se opleiding op die selfde manier waar op hul hul Medi-Clinic dokters se opleiding waardeer nie! Die opkommende kerk pastore het n baie lae standaard van opleiding maar hul gemeentes voe vere om dat hul nie besef boe belangrik dit is nie! Sal jy jou laat oppereer deur n toordokter? Kinders kry nie die bybel as vak op skool nie, dit is nou die verantwoordelikheid van ouers en kerke- dit is n baie ernstige saak en verdien meer aandag.