Die Apostoliese Geloofsbelydenis kom onder die mikroskoop op die komende Algemene Sinode van 2013.
Uit die agenda:
10. APOSTOLICUM
10.1 Die resultaat van die opdrag van die Sinodes van 2007 en 2011 word in ’n afsonderlike aanvullende publikasie aan die vergadering beskikbaar gestel.
10.2 AANBEVELINGS: APOSTOLICUM
10.2.1 Die Algemene Sinode aanvaar Die Apostolicum as eietydse geloofsverantwoording as raamwerkdokument* vir die kerkverband.
10.2.2 Die Algemene Sinode versoek die Kerk se mediamaatskappye om te help om die dokument te publiseer, wyd bekend te stel en in hulle materiaal en publikasies te gebruik.
10.2 3 Die Algemene Sinode gee die dokument deur aan die kerkverband mdo op aanwending in die Kerk se teologiese opleiding en VBO, kategesemateriaal, gemeentegebruik in toerustingsgeleenthede en studiemateriaal vir lidmate.
10.2.4 Die Algemene Sinode gee opdrag aan die ATLAS om leiding te neem in die uitvoering van punte 2 en 3 hierbo. ATLAS moet ook verantwoordelikheid aanvaar om die dokument in Engels te vertaal en aan die ekumeniese familie, en in besonder die deelnemende kerke aan die Conventus, beskikbaar te stel.
10.2.5 Die Algemene Sinode bedank die span teoloë uit die NG Kerkfamilie wat oor’n tydperk van sewe jaar hard gewerk het om hierdie stuk teologie aan die NG Kerkfamilie en hulle onderskeie kerkverbande beskikbaar te stel.
*’n Raamwerkdokument is ’n teologiese standpuntinname wat breë lyne gee oor ’n saak wat vir die kerkverband van wesenlike belang is en leiding gee met betrekking tot geloofsonderskeidende gesprek en besinning oor asook gestaltegewing van die betrokke saak in hulle geloof in en lewe voor
die aangesig van die Vader, Seun en Heilige Gees.
Die dokument waar dit hier oor gaan is natuurlik “DIE APOSTOLIESE GELOOFSBELYDENIS ’N EIETYDSE UITLEG”
Uit die voorwoord van die dokument:
Op 30 September 2009 het ’n aantal persone op Stellenbosch vir die eerste maal bymekaargekom om te werk aan ’n eietydse interpretasie van die Apostoliese Geloofsbelydenis. Hulle was Danie Malan (sameroeper), Ben du Toit (skriba), Robert Vosloo en Coenie Burger.
Dr Ben du Toit was dus een van die opstellers van die dokument. Hy is op openbare rekord dat hy die maagdelike geboorte van Jesus as mediese en historiese wonderwerk verwerp.
Die vraag is nou: Hoe sal die dokument te werk gaan met die sin “Gebore uit die maagd Maria” in die lig van die feit dat een van die opstellers die maagdelike geboorte eksplisiet verwerp?
Eesrtens ‘n reeks aanhalings uit die dokument. (Vetruk en onderstreepde beklemtoning is myne en kursiewe beklemtoning is in die oorspronklike.)
Par 167: In ’n definitiewe sin is dit gevolglik niks anders nie as die oortuiging wat rééds deur die Apostoliese Geloofsbelydenis verwoord is in die belydenis dat die mens Jesus tegelyk ook op een of ander wyse die enige Seun van God is, maar hier word dit in meer verhalende vorm verwoord. Die geboorte uit Maria was ég menslik en werklik en tegelyk geskied dit volkome op inisiatief van Gód Self, as deel van sý inisiatief en sý werk, bely die kerk.
Par 168: Alhoewel die ander Nuwe Testamentiese skrywers, geskrifte en tradisies dus nie enige verwysing na die term maagd ken of benut nie, omdat die geloofsoortuiging wat bely word by wyse van spreke nie ’n mediese wonder is nie, beteken dit nie dat hulle nie dieselfde geheimenisvolle oortuiging deel nie, inteendeel. Ook hulle bely – soos die Apostoliese Geloofsbelydenis dit dan later saambundel – dat die Woord self waarlik vlees geword het.
Par 170: . Die gebeurtenis self word nooit beskryf nie. Daar word geen ginekologiese spekulasies aangevoer, of trouens gesuggereer nie. Niemand vra enige mediese vrae nie, omdat die geheimenis klaarblyklik nie van mediese en ginekologiese aard is nie, maar van geloofsaard. Die wonderbare is die ondenkbare dat die Woord vlees word en onder ons kom woon, sodat ons sy heerlikheid in ons vlees aanskou en bely.
Par 176 (Uitlegtradisies): Daar is vele wat primêr in die historiese vrae en die werklikheidsvrae geïnteresseerd is, by wyse van spreke eerder in die ginekologie as in die betekenis vir die geloof. Hulle identifiseer die waarheidsvraag en die historiese vraag en stel uitsluitlik daarin belang. Indien hulle nié die belydenis (vanuit hierdie perspektief beskou) kan of wil aanvaar (as moontlik en as waar) nie, verklaar hulle dit as ongeloofwaardig, maak hulle dit soms selfs bespotlik en sien hulle dit dikwels as ’n rede om die hele evangelie te betwyfel. Vanuit die aannames van die positivisme en die historisme is dit uiteraard moeilik vir vele om anders hieroor te dink as vanuit dié perspektief. Gevolglik is hierdie soort vrae aan die belydenis dikwels diep persoonlike en pynlike vrae.
Omgekeerd egter, indien sulke mense wél die belydenis (vanuit hierdie perspektief beskou) aanvaar as “waar” (in hierdie letterlike en historiese sin) verklaar hulle dit as ’n (goddelike, mediese) wonder en probeer dit gebruik as bewys vir die “waarheid” (in hierdie sin) van die hele evangelie.
Vanuit hierdie uitlegtradisie – en ongeag of hulle dit verwerp of aanvaar – is geloof in hierdie belydenis dus nie soseer die vertroue in enige belofte wat deur dié belydenis geïmpliseer en verkondig word nie, maar wel die letterlike en historiese vir-waar-hou, die as-waar-beskou van die feit dat dit wel so gebeur het, óf dan die verwerping van die waarheid-in-hierdie-sin van die belydenis. Diegene wat dit wel só en so alleen sien, ly gevolglik daaraan as die kerk duidelik maak dat die evangeliese waarheid van ’n ander aard is, dat geloof nie die blinde aanvaarding van sogenaamde historiese feite (met behulp van ’n wilsbesluit en dikwels ’n sacrificium intellectus, ’n opoffer van die eie rasionele denke) is nie, maar eerder die vertroue in troosryke beloftes. Na hulle oordeel verloën die kerk daarmee die waarheid van die evangelie. Die uitdaging vir die kerk is dus om te vra na die strekking van hierdie belydenis tussen dié twee teenoorgestelde (en tog ten nouste aan mekaar verwante) pole van historisme aan die een kant en literalisme aan die ander kant.
177. (Slotsom) Kortom, alhoewel al hierdie betekenisse, implikasies en gevolgtrekkings nie in die bondige uitdrukking van die Apostoliese Geloofsbelydenis self verwoord word nie, is dit volgens hierdie uitlegtradisies die dieper motiewe wat daarin geïmpliseer word en die rede waarom dit daar bely word – dit getuig van God se genadige en vrymagtige inisiatief; die wonder dien as bewys van Gods mag en werking; die rol van Maria demonstreer aan ons die aard van ware navolging en die barmhartige geregtigheid van God; die vleeswording demonstreer aan ons die oneindige waarde en waardigheid van Gods mense en die ele skepping; die geboorte is reeds die begin van sy weg van lyding en oorgawe; dié geboorte toon hoe God waarlik teenwoordig en aan die werk is in die ganse lewe en bediening van Jesus; sy geboorte getuig reeds dat Hy die Middelaar is tussen God en mens. Nie alle gemeenskappe binne die Christelike kerk van die eeue vind al hierdie uitlegtradisies ewe oortuigend en betekenisvol nie, maar almal beroep hulle wel op dieselfde bondige uitdrukking in die Apostoliese Geloofsbelydenis om hierdie veelvoud van betekenisse deur die geskiedenis daaraan te ontleen.
Dit is duidelik uit die aanhalings dat dit moeilik is om uit die teks agter te kom wat die skrywers eintlik probeer sê. Regdeur die dokument word daar min gevolgtrekkings gemaak en word die leser dikwels op tipies postmoderne, dekonstruktiewe wyse, daaraan oorgelaat dat hy self moet besluit wat hy glo.
Ek sien egter die volgende punte duidelik in die teks raak:
1) Dit gaan volgens die skrywers nie oor die medies-historiese wonder van maagdelike konsepsie nie maar oor die geloof dat God werklik mens geword het. Hier word ‘n vals digotomie impliseer tussen die medies-historiese wonderwerk en die vleeswording asof die een nie van die ander afhanklik is nie.
2) Daar word ‘n kunsmatige kloof geskep tussen die historisiteit van die geloofsgebeure en die teologiese en persoonlike geloofsimplikasies daarvan. Dit is ‘n skreiende verwerping van die Gereformeerde belydenisskrifte se waarheidsleer. Ons hoef volgens hulle nie in die historisiteit van die maagdelike geboorte te glo om te glo dat God mens geword het nie.
En dit is die kern van wat du Toit en sy medewerkers hier doen: Om geloof in die geskiedkundige waarheid van die heilsgebeure op subtiele wyse te skei van geloof in die “geloofswaarhede”.
So word geloof in die historiese wonderwerk van die maagdelike geboorte opsioneel.
Sodat hulle nie hoef te glo dat God almagtig is, wonderwerke kan doen en ‘n maagd op medies-historiese wonderbaarlike manier kan laat swanger word nie, en nog steeds kan aanbly in die NG Kerk om hulle dwaalleer onverstoord te verkondig.
Henrietta said:
Daar is van die 2011 AS gepraat as die “Huilende Sinode” . Die 2013 AS gaan waarskynlik die “Opsionele Sinode” genoem word want wat jy ook al glo, “anything goes”. Ons word mos nou die “alles-vir-almal”-kerk. Wat ontstellend is, is dat dit links en regs uitgepos gaan word, asof : doen dit- die pous en sy kardinale het gepraat!
Henrietta Klaasing said:
Net so ‘n ou klein vragie: terwyl dit so “left, right and centre” uitgepos gaan word, gaan dit ook na die groter Gereformeerde kerk-familie ook gestuur word, soos onder andere die “susterskerke”?
Somerset (Sommie) Morkel said:
Maak vir Ben du Toit Moderator vd Alg Sonode en kry klaar…! Sy denke is nie “deel vd hoofstroom vd denke vd NGK” soos Nelus Niemandt op KykNet gese het nie, maar IS die hoofstroom..
Jan Louw said:
Dankie andermaal Wynand vir die moeite wat jy ingesit het om die dokument van die NG Kerk te bestudeer. Dankie ook vir jou helder beoordeling van wat daar aangaan. Ek stem volmondig met jou saam. Daar is natuurlik ander afdelings van die Eietydse Interpretasie wat net so onder verdenking is, om nie die woord bedenklik te gebruik nie.
Daar is van die teoloë op die paneel wat die dokument opgestel het wat ek ken en ek kan maar net sê ek is diep, diep teleurgesteld. Al verklaring wat ek vir hulle optrede het, is dat hulle meer ingestel is op die onderlinge aanvaarding van kollegas as vir die geopenbaarde Waarheid en vir God.
Somerset (Sommie) Morkel said:
Jan Louw: Ek het waardering vir jou standpunt, want lou is jy nie..
Ek weet daar is heelwat mense in die NGK wat soos jy dink en voel..
Sout en lig – dis nodig..
Dank die Here vir julle, want julle vervul steeds die rol van getuies vir die Waarheid van God binne ‘n.. ja… bedenklike… situasie.
(Ek was lankal keelvol en het geloop, maar so het elkeen sy eie tyd en rol binne die wil van God..)
Wanneer mense op die paneel waarin mens nogal taamlik vertroue gehad het in die verlede, nou uitkom as kompromiteerders wat die agting van mense hoeer ag as die Waarheid van God in Christus Jesus, dan is die tyd eintlik… ja… bedenklik.
Ons sien jou-werklik ‘n KLASSIEKE geval van vervalsing vd ware boodskap vd Evangelie van Christus en misleiding weg vd Waarheid, voor ons oee afspeel – nogal binne ‘kerklike’ prosesse..
Die Trojaanse perd is nie meer Trojaans en buite die stad nie – hy is nou al heerser – binne die struktuur.
En die loues het hom gehelp.
Ek is BAIE teleurgesteld in mense soos Coenie Burger – mag die Here hom genadig wees.
Die probleem is: Hy weet wat hy doen…
Henrietta Klaasing said:
Daar is op ander plekke ook al hieroor debatte gevoer ( klik gerus op al die perskleurige skakels vir meer in ligting) :
http://www.glodiebybel.co.za/index.php/geloofskwessies-m/82-ngk-sinode-2011/653-ngk-se-eietydse-interpretasie-van-die-apostoliese-geloofsbelydenis.html
Somerset (Sommie) Morkel said:
My buurman het 5 kinders… Hy het ‘n doktorsgraad in teologie in die NGK. Hy is nog daar, maar hy is NGK-los.. Ek het ook 5 kinders. Nie een van die 10 is in die NGK nie. Dankie Vader..!
William King said:
Hoekom hou hulle nog Sinode as hulle klaar besluit het? Laat my dink aan Swaiziland wat stembus toe gegaan het sonder ‘n opposisie party! Ek dink solank hulle sleutelpersone aanhou, verontskuldig en hulle dwaling as waarheid aanvaar, het die NGK geen toekoms as ware kerk in ons land nie. Laat my nou dink aan die briewe aan Thiatire, sowel as Laodicea in die Openbaring boek.
Louis van Jaarsveld said:
‘n Ou vriend het eendag by die kunsgalery in Stellenbosch gekom waar ek smiddae gewerk het. Ek het hom nie baie goed geken nie, maar hy was uit ‘n Anglikaanse agtergrond, sy pa het vir WP rugby gespeel, en hy was hopeloos te stemmig en regsinnig vir my in die dae toe ek by die agnostici studeer het.
Nou was hy terug van ‘n Europese toer af. Met sy verlowing wat in die vreemde skipbreuk gely het, het hy laat val dat hy nie nou meer glo in goete soos die maagdelike geboorte of windbestuiwing nie.
Hy het waarskynlik gevoel hy kan wel sy hart teenoor my oopmaak, want ek was nog altyd meer van ‘n vrydenker as hy. Min het hy geweet dat ek iewers onder ‘n bosveldboom die mediese dokter Lukas se verslag soos ‘n kind begin lees het.
Ek weet nie waar dit vandaan gekom het nie, maar ek het vir hom gesê ek glo wel in windbestuiwing – ek glo wel die wind van die Gees het die blommetjie met die naam Maria bestuif.
Dalk was dit iets van ‘n woord van wysheid, maar miskien sou dit wyser wees as ek hom eers regtig sy hart laat uitpraat, en kon uitpak van al sy reaksie teen fariseërs se klem op historisme en positivisme. Dit was ooglopend dat hy onthuts was dat ek skielik die stemmige en regsinnige een uitgedraai het.
Vir meer as ‘n dekade het ek nie weer van hom gehoor nie. Tot ek in 1999 gehoor het hy en ‘n manlike vriend is deur ‘n feministiese priester in Engeland in die huwelik bevestig.
As ek terugdink dan wens ek dat ek meer pastoraal opgetree het – om sy ontnugtering en hartseer te kon help dra, tot die pennie van geloof dalk weer vir hom drop.
Dit was eers jare voor die kunsmatige kloof tussen teorie en praktyk vir my oorbrug is, en ek die Here kon leer ken. Anders vervlugtig ons geloof tot net ‘n teorie.
Somerset (Sommie) Morkel said:
Luigi: Jy praat verstaanbaar met ons gewone ouens oor die uitwerking van ‘n worsteling met die waarheid.
Jy kon nie sommer net lees en glo nie.
Daar was harde werk daar-agter, selfs al het jy dit nie geweet nie.
Jou vriend het sy worsteling elders heen geneem – na die menslike ‘oplossing’.
Dit was nie jou skuld nie, al voel jy dalk biki so.
Mens leer so dikwels eers heelwat later wat mens in ‘n bepaalde situasie MOES gese het – maar dit MOES NIE so gewees het nie, anders het die Here dit anders bewerk, onder leiding van die Heilige Gees.
Die vrede wat ons egter vind, t.s.v. al die versuim, die nalatigheid en die oorsig, en selfs die moedswil in ons sondige natuur, is in ‘n sondelose Redder – juis sondeloos omdat Hy uit ‘n maagd gebore is.
Die ander ouens vat nou amptelik die ander pad, maar dis al lankal reeds so in hulle gemoed.
Mag die Here ons bewaar, want as Hy dit nie doen nie, is ons pens en pootjies saam met hulle..
Ek bid saam met die tollenaar: “Here, wees my, sondaar Somerset, genadig…!”
Henrietta Klaasing said:
Louis ek deel jou “soos ‘n kind lees” van dokter Lukas se boek. Vir my is dit uiters betekenisvol dat hy, as dokter, skryf oor die besoek wat die engel aan Maria bring met die boodskap van haar ontvangenis, ook die ongebore Johannes die Doper wat opspring in sy moeder se baarmoeder, ook het hy die meeste genesingswonderwerke opgeteken, EN geskryf oor Jesus se opstanding uit die dood. In die Lukas weergawe van die Groot Opdrag , maak Lukas Jesus se opstanding pertinent deel van die verlossingsboodskap wat die wêreld ingedra moet word ( Luk 24:46 en verder) – onthou ook dat Handelinge deur dokter Lukas geskryf is, en daar is ook genesingswonders
hierstaanek said:
Interessant dat die opstellers van die dokument voel mens moet jou rasionele denke moet opskort om in die maagdelike geboorte te glo. As jy glo God is die Skepper, waarom kan Hy nie wonderwerke doen nie?
Dit is die enigste logiese, rasionele afleiding!
Die probleem is, hulle (of ten minste du Toit) wil nie ‘n almagtige God hê nie. Anders kan hulle nie self god wees nie – dis panenteisme.
Somerset (Sommie) Morkel said:
Mens wil dit nie se nie, want dit berus nie by ons nie (dankie tog) maar ek vermoed dat tensy Ben du Toit en nog ‘n paar ander ouens in die leierskap vd NG-Kerk drasties en ernstig tot inkeer en bekering kom en terugdraai na die Waarheid vd geopenbaarde Woord van God, en Christus Jesus weer Sy regmatige plek as enigste sondelose Seun van God, self God, Verlosser & Redder gee, daar ‘n spesiale plek in die verdoemenis vir hulle gereserveer sal wees. “HERE, HERE: Mag U hulle genadig wees, en gee dat hulle terugdraai na U toe, en U weer aanbid in GEES EN IN WAARHEID.. Ek as verloste sondaar uit genade, NIKS beter as hulle nie, vra dit in afhanklikheid van U wil en U welbehae.. here, bewaar ons vd Bose, en bewaar ons van misleidingf en laat ons in U waarheid bly. Here, ons sing: “Jesus, rots vir my geslaan, laat my nie verlore gaan…” Dit vra ek, nikswerd sondaar Somerset, nou verhefde kind Somerset – uit U genade en liefde alleen.. Amen”
Somerset (Sommie) Morkel said:
Hier is ‘n voorbeeld waar iemand hom in die openbaar uitspreek oor sy teleurstelling in prominente evangeliese figure (kyk ook my kommentaar onderaan). Mens moet dalk meer die NGK-mense by die naam noem (ek glo daaraan) saam met hul dwaling en hulle die geleentheid gee om te reageer, aldan nie. Die dae is verby van ‘pussy-footing’. Hierdie mense is besig met ernstige sonde teen God se Koninkryk..
Somerset (Sommie) Morkel said:
http://5ptsalt.com/2013/09/27/3-men-i-am-very-disappointed-in/#comment-18585
Somerset (Sommie) Morkel said:
Hier is ‘n uitstekende artikel deur ‘n solied-gereformeerde man, Jim Elliff (‘n persoonlike vriend van my in die VSA) oor die bekende Souther Baptist Convention – die grootste Protestantse kerk in die VSA – wat net sowel op die NGK van toepassing kan wees. Kyk veral na sy oplossings..
http://www.ccwtoday.org/article/southern-baptists-an-unregenerate-denomination/
gideon981 said:
Wynand, baie dankie dat jy jou God-gegewe talente so geesdriftig gebruik. Jy het tereg opgemerk dat mens nie mooi/moeilik kan agterkom wat hulle nou eintlik wil sê nie. Die hedendaagse tradisie het waarskynlik geword om dít wat die kerkleiding eintlik wil sê, in baie mooi woorde en frases the pakketteer – soveel so dat die man in die straat in die duister gehou word.
Dit is duidelik dat, ná die opstanding van Jesus Christus, die maaagdelike geboorte se beurt nou aangebreek het. En dat dié nuus nou so wyd as moontlik versprei moet word.
By dit alles kan ons maar net vir hulle bid en die geloofstryd aanhou stry. Terselfdertyd moet ons met ontsettende groot dankbaarheid en nederigheid onthou dat ons geloof ‘n absolute genadegeskenk van God is – dat Hy in sy uitverkiesings-genade vir my ook raakgesien het.
Ook kan ons rus in die wete dat God nog aan die stuur is en dat Hy hierdie tendense alreeds vooruitgesê het. In Luk.18:8 sê/vra Jesus dan ook: “…maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” Geloof in God is besig om ‘n baie skaarser item te word. Dit sal ons egter nie onthef van die verantwoordelikheid om aan te hou stry nie.
Somerset (Sommie) Morkel said:
Uitstekende kommentaar, Gideon..