Die volledige artikel is by hierdie skakel te kry. Die abstrak volg hieronder.

Godsleer en skrifleer: Fokus en uitdaging

Coetzee, C.F.C., 2012, ‘Godsleer en skrifleer: Fokus en uitdaging’, In die Skriflig/ In Luce Verbi 46(2), Art. #537, 10 pages. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v46i2.537

Abstrak

Die keuse van die onderwerp vir hierdie artikel moet teen ‘n bepaalde agtergrond gesien word.

In die eerste plek het dit om die plek en taak van die dogmatiek, waarin die Godsleer en die Skrifleer ‘n besondere plek inneem, gegaan. Dogmatiek is immers die wetenskaplike sisteem van die kennis van God, en God openbaar Hom in besonder deur die Skrif. In die tweed plek het dit oor die aktualiteit van die onderwerp gegaan. Daar word vandag toenemend gepleit vir ‘n nuwe Godsbeeld, wat God se verhouding tot die wêreld betref. Die begrip wat gebruik word is panenteïsme. Wat die Skrifleer betref, is die vraag na die gesag van die Skrif voortdurend aan die orde. Wat die begrip panenteïsme betref (God in alles en alles in God), in onderskeid van die begrippe deïsme, panteïsme en teïsme, is vanuit die Skrif bevind dat daar geen ineenvloeiing van God en die geskape werklikheid is, soos die voorstanders van panenteïsme (o.a. die Nuwe Hervorming en Julian Müller in Suid-Afrika) bepleit het nie. Wat die Skrifleer betref, het die debat weereens, soos in die 16de eeu, saamgetrek in die vraag of die Bybel die Woord van God is of die ervaring van mense. Die skrywer se eie standpunt het saamgetrek in volledige instemming met die Gereformeerde belydenis soos verwoord in Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 2–7. Die voorstanders van ‘n nuwe Godsbeeld (panenteïsme) het egter in hulle Skrifleer radikaal van die Reformatoriese tradisie afgewyk. Die fokus en uitdaging vir die Gereformeerde dogmatiek lê in die onverswakte handhawing van die Goddelike gesag van die Woord. In sy Woord openbaar God Homself as die transendente en immanente God (teïsme). Hierdie waarheid het onder andere besondere implikasies vir die leer van die voorsienigheid. Wanneer die dogmatiek, in samewerking met ander relevante teologiese dissiplines en die wetenskap van die wysbegeerte en literatuurwetenskap sy taak verrig, eindig ware teologie in doksologie.