Leonard Sweet was onlangs in Suid Afrika onder groot fanfare in die NG Kerk, en predikante het akademiese punte verdien deur sy praatjies by te woon. Leonard Sweet is vir my ‘n raaisel. As jong man het hy ‘n boek gepubliseer met die naam “Quantum Spirituality” wat ‘n regurgitasie van New Age doktrines toegedraai Christelike taal is. Dit is moeilik om enige ander gevolgtrekking te maak as dat hy ‘n heiden is as jy die boek lees. ‘n Paar jaar later het hy ‘n artikel geskryf waarin hy enige New Age konnotasie ontken, en beweer dat dit Christelike doktrine toegedraai in New Age taal is om spesifieke mense met die evangelie te bereik. Dit klink goed, maar dit is nie soos meeste mense die boek verstaan het nie. Sweet het hom nooit van die boek distansieer nie maar net by sy (flou) verskoning gestaan.
Ek het onlangs Sweet se boek “Jesus Manifesto” (Mede-outeur is Frank Viola) gelees, en wel, dit is ‘n WOW boek. Ek verstaan die boek was ‘n tyd lank op die NY Times se topverkoperlys. Dit verdien beslis om daar te wees. Die boek is goed geskryf, lees maklik en bo alles, die teologie is ortodoks.
Of miskien moet ek sê, met die eerste oppervlakkige lees, is dit ortodoks. Sweet en Viola maak stellings in die boek wat mens wil oortuig om te glo:
- Waarheid is nie absoluut en objektief nie maar relatief. God sal selfs verskillende “waarhede” aan verskillende mense openbaar.
- Doktrine en teologie is nie belangrik nie. Al wat belangrik is, is dat mens vir “Jesus moet lief wees en volg”.
Hierdie twee implikasies van Sweet en Viola se boek val reg in die middel van die post-moderne dinkraamwerk. Tog sê Sweet in sy boek “Postmodern Pilgrims” dat ons, alhoewel ons ons boodskap moet aanpas en kontekstualiseer vir die postmoderne wêreld, ons nooit self die postmoderne wêreldbeeld moet aanneem nie. Uit sy waarheidsleer soos hy dit prakties toepas in sy boeke is dit egter duidelik dat hy meer doen as net die evangelie verwoord in die taal van postmodernisme. Hy is self postmodern in sy denke omtrent waarheid en kennis.
Dit is waarom hy New Age teologie in een boek kan verkondig en nie kan sien dat dit met sy ander boeke se ortodokse teologie in konflik is nie.
In die NG Kerk sien ek twee soorte ampsdraers wat my onstel. Die eerste is die soos Dr Ben du Toit en Julian Muller wat blatant dwaalleer verkondig. Die tweede is ‘n groep ampsdraers wat, soos Sweet, ortodokse teologie verkondig maar nie die dwaalleer verwerp en teenstaan nie. Hoe is dit moontlik dat ortodokse, geredde Christene nie die onderskeidingsvermoë het om dwaalleer te herken nie? Hoe is dit moontlik dat hulle nie hulle legitimasie verklarings gestand doen en aktief dwaalleer uit die kerk weer nie? Hoe op aarde is dit moontlik dat hulle ongehoorsaam is aan Christus se direkte bevel om die kudde teen dwaalleer en die wolwe in skaapsklere wat dit verkondig te beskerm?
Die antwoord is postmodernisme.
Julian Muller, Ben du Toit en Nelus Niemandt het almal boeke publiseer wat ons aanmoedig om die postmoderne waarheidsleer aan te hang. Volgens hulle is daar nie so iets soos vaste waarheid nie. Waarheid is kontekstueel en relasioneel. Omdat ons die waarheid nie regtig kan ken nie is teologie nie belangrik nie. “Ons moet net vir Jesus liefhê en volg.”
Een van die basiese premisse van postmodernisme is dat waarheid kontekstueel en relasioneel is. God is nie die standaard van waarheid nie, die mens se konteks en verhoudings is.
Die Bybel leer dat God die standaard van waarheid is. Jesus het gesê: “Ek is die Waarheid.”
Postmodernisme beweer ons is die standaard vir wat waar is. Ons kan kies wat vir ONS waar is. En dit is waarom ortodokse weergebore ampsdraers in die NG Kerk nie kan opstaan vir die waarheid nie: Omdat hulle ingekoop het in die leuen van kontekstuele en relasionele waarheid, is dit vir hulle onmoontlik om vir ander te kan sê “Jy is verkeerd!” Voeg daarby die propaganda wat sê “As jy vir iemand sê hy is verkeerd is jy liefdeloos!” en dit is bykans onmoonlik vir hulle om hulle legitimasie eed gestand te doen en te veg teen dwaalleer in die kerk.
Calvyn skryf oor die boom van kennis van goed en kwaad:
Concerning the tree of knowledge of good and evil, we must hold, that it was prohibited to man, not because God would have him to stray like a sheep, without judgment and without choice; but that he might not seek to be wiser than became him, nor by trusting to his own understanding, cast off the yoke of God, and constitute himself an arbiter and judge of good and evil. His sin proceeded from an evil conscience; whence it follows, that a judgment had been given him, by which he might discriminate between virtues and vices. Nor could what Moses relates be otherwise true, namely, that he was created in the image of God; since the image of God comprises in itself the knowledge of him who is the chief good. Thoroughly insane, therefore, and monsters of men are the libertines, who pretend that we are restored to a state of innocence, when each is carried away by his own lust without judgment. We now understand what is meant by abstaining from the tree of the knowledge of good and evil; namely, that Adam might not, in attempting one thing or another, rely upon his own prudence; but that, cleaving to God alone, he might become wise only by his obedience. Knowledge is here, therefore, taken disparagingly, in a bad sense, for that wretched experience which man, when he departed from the only fountain of perfect wisdom, began to acquire for himself. And this is the origin of freewill, that Adam wished to be independent, and dared to try what he was able to do.
Calvin, John (2012-08-26). The Complete Biblical Commentary Collection of John Calvin (Kindle Locations 2180-2190). Kindle Edition.
As ek “kennis van goed en kwaad” het beteken dit EK besluit wat is goed en kwaad. Ek self word dan die standaard van moraliteit en waarheid.
As ek die suiwer evangelie glo omdat EK besluit het dit is waar, omdat dit MY siening van die waarheid is, is ek steeds in rebellie teen God ten spyte van my suiwer leer, omdat ek myself as standaard stel vir wat waar is of nie.
God eis van ons dat ons ons self onder Sy gesag plaas. Dit beteken dat ons ons self onder die gesag van die Skrif plaas. Dit beteken dat die waarheid van die skrif objektief is en buite ons geleë is.
En dit beten ons kan aandring daarop dat die Bybel se waarheid waar is – nie omdat ons so sê nie maar omdat God so sê.
Dit beteken dat as ons werklik ons medemens lief het, ons aan hulle God se waarheid sal verkondig.
Johannes skryf in sy eerste sendbrief dat wie ook al beweer dat Jesus nie die Christus is wat mens geword het nie, die gees van die antichris het. Mense wat ‘n ander Jesus in ons kerk verkondig is dus volgens Johannes nie net verkeerd nie, hulle is boos. Die liefde van God is nie in hulle nie. Hulle is die ware liefdeloses.
En die wat opstaan teen dwaalleraars is dié wat die kudde wat aan hulle toevertrou is lief genoeg het om hulle teen verskeurende wolwe te beskerm.
Henrietta Klaasing said:
Vele behoudende groepe in die VSA sien Sweet as ‘n Emergent. Waaroor hulle dit veral het, is dat sy boeke eindig sonder om by die kernwaarhede van die Skrif uit te kom – veral sy sienings rakende sy mens- en Godsbeskouing pla. Ek is nog besig om te kyk na twee DVDs “Wide is the Gate – the emerging new Christianity” wat elk meer as 200 minute lank is – Sweet se naam word kort-kort deur verskillende mense genoem.
hierstaanek said:
Henrietta, ek weet dat daar baie is wat hom as emergent beskou. Ek wil egter nie op hoorsê praat nie, dus het ek self sy boeke gelees. Die boek “The Jesus Manifesto” is grootliks ortodoks. Kevin deYoung het in sy boek “Why we love the church” hom erg kritiseer oor sy ekklesiologie, maar wou hom ook nie regtig uitspreek oor Sweet se algemene teologie nie. Vergelyk dit maar met wat deYoung sê oor Brian McLaren!
Die probleem is dat mense wat ‘n postmoderne waarheidsleer en wereldbeeld het dikwels hulleself weerspreek sonder om dit te besef, soos ek hierbo uitgewys het Sweet doen. Ben du Toit onken hy is postmodern, maar sy totale wereldbeeld en hermeneutiek is postmodern. Hy beweer hy is nie ‘n panenteïs nie, maar in sy boek verkondig hy panenteïsme: “God word deel van die atoom samestelling van die mens.”
As jy nie glo in waarheid nie maak jy stellings, nie omdat jy dit glo nie, maar omdat dit ‘n verwagde emosionele impak of een of ander ander gewensde effek op die respondent sal hê. Sodra iemand soos Alice deur die postmoderne spieël geklim het is dit moeilik om hom vas te pen of om enige gevolgtrekkings te maak van wat hy sê. En die probleem is, hhierdie mense doen dit dikwels onwetend, want dit word by hulle tweede natuur.
Kobus van der Walt said:
N.a.v. die volgende stellig in hierdie goeie artikel, wil ek een eenvoudige vragie vra, omdat ek nie verstaan nie (ek haal aan): “Postmodernisme beweer ons is die standaard vir wat waar is. Ons kan kies wat vir ONS waar is. En dit is waarom ortodokse weergebore ampsdraers in die NG Kerk nie kan opstaan vir die waarheid nie: Omdat hulle ingekoop het in die leuen van kontekstuele en relasionele waarheid, is dit vir hulle onmoontlik om vir ander te kan sê “Jy is verkeerd!” My vraag: Kan of is iemand REGTIG weergebore as hy die knie voor Postmodernisme buig; inkoop in die leuen van “kontekstuele en relasionele waarheid” en nie opstaan vir die WAARHEID nie en?
hierstaanek said:
Kobus, ek glo die kort antwoord is “ja”. Ek is REGTIG weergebore toe ek 16 jaar oud was. Intussen het ek geglo evolusie is ‘n wetenskaplike feit, ek was ‘n Arminier op ‘n stadium, en ek het growwe sondes gedoen. Tog weet ek dat ek al die tyd gered was, as ek terugkyk oor my lewe. Ek het goeie vriende wat defnitief weergebore is en van my verskil oor die uitverkiesing, die doop, die eskatologie ens.
Ek glo Paulus beskryf dit in 1 Kor 3
9WANT ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. 10Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ’n bekwame boumeester die fondament gelê, en ’n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. 11Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 12En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
Die fondament is Christus. Die sekondere leerstellings soos die doop, die eskatologie, Arminianisme vs Calvinisme, word soos met stoppels of edelstene op die fondament gebou. As die fondament reg is word die leraar gered, selfs al verbrand die sekondêre leerstelling soos stoppels in die vuur. (Hierdie pas in met Calvyn se interpretasie van die teks, dit is nie my innovasie nie)
Die probleem is dat die sekondere leerstellings die vermoë het om die fondament te ondergrawe. As jy glo in evolusie, waar pas die sondeval in? As jy ‘n Arminier is, waarom word moslems dan nie voor ‘n keuse gestel om te glo of nie? As jy die verbondsdoop verwerp, wat beteken Paulus se uitsprake dat die verbond vandag nog geld dan, en waarop hoop jy dan vir jou kinders se verlossing? (Daar is myns insiens ‘n ernstige weerspreking in die term “Gereformeerde Baptis”)
Die Heidelbergse kategismus maak dit baie duidelik: Om gered te wees moet jy die Apostoliese Geloofsbelydenis glo. Ek glo dat as jy gered is jy die Apostoliese Geloofsbelydenis sal glo. Dis twee kante van dieselfde munt. Ben du Toit vra byvoorbeeld: Moet ek in die maagdelike konsepsie glo om gered te wees? Ek glo die antwoord is: As jy gered is SAL jy die maagdelike konsepsie aanvaar as God se waarheid. Die feit dat du Toit belangrike aspekte van die fondament as onsin sien en dus herdefinieer en interpreteer is afdoende bewys dat hy (nog) nie gered is nie.
Is die aanvaarding van postmodernisme ‘n teken dat jy nie gered is nie? Ek glo die antwoord is nee.
Kan dit die evangelie vernietig? Die antwoord is onomwonde ja.
Daarom behoort postmodernisme met wortel en tak uitgeroei word in die kerk. ‘n Kerk wat postmodernisme toelaat sal uiteindelik sterf. Dit is onvermydelik.
catherinah said:
Hier staan ek, ek stem heelhartig met jou saam en deel hierdie besorgdheid. Jesus sê in Joh 14 dat die wat Hom leifhet en Sy Woorde in hulle het, by die sal die Seun en die Vader hul woning kom maak. In Joh 17 waar Jesus met die Vader praat, leer Hy ons dat Hy die Naam van die Vader aan ons bekend gemaak het sodat die liefde van die Vader wat in die Seun is, ook in ons kan wees. God het Homself so aan ons geopenbaar deur die geskiedenis dat ons kan weet Sy Woord is waar en dat Hy die een ware God is, Wie Hy sê Hy is. Ons kan Hom leer ken, liefhê en glo en dan gered wees – Hy gee soveel meer as wat ons sou kon dink om te vra of te begeer – Hy maak ons Sy kinders. Dis hartverskeurend dat kerkleiers wil liefhê en volg op hul eie terme – hul skep hul eie God.
Henrietta Klaasing said:
Ons moet onthou dat ons hier met KERKLEIERS te doen het. Volgens God se Woord word meer verwag van “herders” as van “skape”, daar is ook vele plekke waar gepraat word van “valse profete”. Mense soos Leonard Sweet moet tog meer bewus wees hiervan as “gewone lidmate” en dus fyner te let op hul leer, of hoe?
hierstaanek said:
Henrietta, ek glo dat kerkleiers wat stilbly in die aangesig van dwaalleer deur God verantwoordelik gehou sal word. Om dwaalleer te beveg word in amper elke boek van die Ou en Nuwe Testament beveel. Maar dit is belangrik dat hulle ondersteun word en die gereedskap gegee word om dit te kan doen. Die belangrikste hiervan is ‘n Gereformeerde waarheidsleer.
En natuurlik die inwonende Gees, Daarvoor kan ons net bid.
Dus, die belangrikste boodskap op hierdie webwerf is dit BID VIR JOU PREDIKANT!!!
LouisR said:
Die grootste geveg in die kerkgeskiedenis is besig om tans binne die ekumeniese Kerk af te speel – reg oor die wêreld. Dit is die indringing van die relatiwistiese dwaalleër in die wese van die Kerk.
Hierdie kom neer basies op die ontkenning van ‘n absolute morele gesag en absolute waarheidstandaard en die vervanging daarvan met ons eie kennis en verstaan as die maatstaf waaruit ons die wêreld moet beskou.
Die skrikwekkendste is dat dit vanuit die Kerk gebeur, na my mening in ‘n poging om relevant te bly vir die post-modernistiese samelewing, waaring absolute waardes ‘n onding is.
Die verkondigers van hierdie relatiwisme buig die knie voor die tydelike (huidige), maar verloor die oog op die ewige (en standvastige). Is die Bybel nie baie duidelik dat hulle soos wind op die see rondgewaai word nie? Dit verklaar ook hoekom daar nie regtig iets soos fundamentele waarhede by hierdie mense is nie, want daar is geen anker nie – hulle het hulle daarvan losgemaak. (Ef. 4:14)
jlroodt said:
Hier is ‘n aanhaling van ‘n filosoof wat ek volg (Peter Kreeft). Hy is ‘n katoliek, maar sy filosofie is onomwonde gekant teen die Post-Modernisme en Relatiwisme. Mens kom so nou en dan op ‘n Katoelieke (en dus anti-Gereformeerde) stelling af, maar die wese van wat hy voorstaan is eintlik so relevant dat dit jammer is ons het nie meer sulke persone in ons kerk nie.
“Moral relativism is a philosophy that denies moral absolutes. That thought to me is the prime suspect—public enemy number one. The philosophy that has extinguished the light in the minds of our teachers, and then their students, and eventually, if not reversed, will extinguish our whole civilization. “