Jaap Durand skryf in sy boek oor Teilhard de Chardin (‘n heidense New Age guru – maar dit is ‘n ander storie): (Die belklemtoning is myne)

Die Heilige Skrif het sy eie kyk op God se skeppingsdaad. Dit word binne die kader van God se groot dade van verlossing en voleinding opgeneem. Die Bybelskrywers praat van die skepping, omdat en vir sover hulle van die onvoorstelbaarheid van God se herskepping wil praat.

Uit hierdie erkenning volg noodwendig dat die Bybel op ’n ander wyse God se skeppingsdaad sal verkondig as wat die natuurwetenskaplikes dit sal doen – bygesê as hierdie wetenskappe hoegenaamd daaroor iets kan sê. As hulle wel iets wil sê, sou hulle nie anders kan nie as om dit by wyse van spekulasie in metaforiese taal te sê, ontleen aan hulle eie wêreld van die wetenskap.

 Watter teoretiese fisikus sal dít waag?

Met die kosmiese wordingsproses as sodanig, is dit anders gesteld. Op grond van sy spesifieke gerigtheid, sy skopus, gee die Skrif vir ons geen uitsprake oor die aard van die wording en die struktuur van die kosmos as resultaat van God se skeppingsdaad nie. Dit laat dus ruimte vir allerlei natuurwetenskaplike verklarings, evolusie ingesluit. Oor die waarheidgehalte daarvan kan en mag die teologie nie besluit nie. Daaroor moet die natuurwetenskappe soos onder andere die geologie, paleontologie en biologie self beslis. 

(Durand: Evolusie, Wetenskap en Geloof. ‘n Biografiese inleiding tot die denke van Teilhard de Chardin. Bybel Media (dus amptelik die NG Kerk) 2013)

Wat Durand hier sê is dit: As Christen glo ons dat God geskep het, omdat die Bybel dit leer. Hy sê egter dat ons nie op grond van die Bybel kan sê hoe God geskep het nie. Daaroor moet die wetenskap beslis. Soos Barth ‘n kloof tussen die geskiedenis en geloof geskep het, wil Durand dat daar ‘n kloof tussen die onstaanswetenskap en die geloof moet wees.

Hier is egter ‘n massiewe ironie wat Durand duidelik nie raaksien of begryp nie. Hy sê dat die Christen vry is om enige skeppingsmodel te kan aanvaar, binne die grense van die feit dat ons glo dat God wél geskep het. Ons sou dus kon glo in ‘n ses dag skepping, of dalk ‘n ou aarde skepping, of Intelligente ontwerp, of evolusie. Ons kan, beweer Durand, egter nie hierdie besluit maak op grond van ons geloof nie, maar moet toelaat dat die wetenskaplikes vir ons ‘n skeppingsmodel kies op grond van hulle wetenskaplike navorsing.

Durand se naïwiteit rakende die wetenskap is verstommend.

Hy glo duidelik dat wetenskaplikes nie deur hulle religieuse wêreldbeeld beinvloed word wanneer hulle wetenskap bedryf nie. Niks is verder van die waarheid nie.

Die evolusieteorie kan nie gesien word as die uiteinde van die wetenskaplike proses nie. Eerstens moes Darwin ‘n nuwe histories-wetenskaplike metode daar stel voordat hy evolusie as wetenskap kon vestig. Tweedens was die gevolgtrekking van sy wetenskaplike navorsing (volgens die proses wat hy self ontwerp het), dat komplekse spesies spontaan en lukraak onder die invloed van oorerwing en omgewingsdruk uit minder komplekse spesies ontstaan geensins die enigste gevolgtrekking wat uit sy rou data gemaak kon word nie. Hy kon net so wel tot die gevolgtrekking gekom het dat een Skepper al die spesies geskep het met verwante eienskappe.

Maar omdat Darwin die bestaan van die Skepper wou ontken kon hy nie die tweede gevolgtrekking maak nie.

Die evolusieteorie is dus nie net die gevolg van wetenskaplike waarneming nie. Dit is die gevolg van wetenskaplike waarneming deur die bril van ‘n materialistiese wêreldbeskouing. ‘n Christen sou ook miskien tot die gevolgtrekking van evolusie gekom het, maar waarskynlik nie, omdat evolusie ‘n wetenskaplike absurditeit is.

Maar as ‘n wetenskaplike nie glo in God nie, het hy geen ander keuse as om die evolusiemodel te aanvaar nie. Selfs al is dit absurd! Sy religie laat eenvoudig geen ander model toe nie.

Evolusie is dus die verstek ontstaanswetenskaplike model van materialisme.

Kom ek verduidelik dit aan die hand van my eie geskiedenis.

My pa was ‘n landbouwetenskaplike en evolusionis. Ek het groot geword met “The Origen of Species” van Darwin en boeke van Robert Ardrey in die huis. Dit is gereeld by die etenstafel bespreek. Wanneer ons by familie in die Bokkeveld gaan kuier het het ons kinders met fossiele wat op die plaas opgetel is gespeel. My niggie het ‘n pragtige voorbeeld van ‘n trilobiet gehad wat sy self gevind het. Ek het selfs op laerskool met my Sondagskool juffrou oor evolusie gestry.

Nadat ek as tiener gered is, het ek myself met trots as ‘n “evolusionêre kreasionis” beskryf. Dit het aangehou totdat ek fisiologie vir ‘n nagraadse eksamen moes studeer. Ek het ‘n opsomming gemaak van ‘n handboek se hoofstuk oor die vervaardiging van proteïne in die sel, en skielik het ek ‘n aha-belewenis gehad: Lukrake evolusie was ‘n logiese onmoontlikheid, net soos ‘n ronde vierkant ‘n logiese onmoontlikheid is. My hele kosmologie het met gemak en vreugde in ‘n oogwink verander. Dit was moontlik, soos Durand hierbo noem, omdat ek ‘n Christen is. En dit was vreugdevol omdat ek skielik van ‘n klomp kognitiewe dissonansie ontslae kon raak.

Daar is ‘n alternatief vir evolusie, maar slegs as jy in ‘n Skepper glo.

Maar sê nou ek was ‘n materialis en het in rebellie teen God Sy bestaan ontken? In die geval sou ek ‘n oomblik van kognitiewe dissonansie beleef het, en my logiese gevolgtrekking dat evolusie vals is in my brein se asblik moes gooi – tot die volgende keer dat die kognitiese dissonansie weer sy kop uitsteek. Of totdat ek my gewete heeltemal toegekouter het, soos Paulus van dwaalleraars sê.

Hier is dus die punt van my betoog, en die rede waarom ek Durand werklik jammer kry:

Durand wil hê dat ons as gelowiges die onstaanswetenskaplike model van ongeloof moet aanvaar, omdat hy te naïef is om te verstaan dat materialisme en ongeloof lei tot wetenskaplikes se geloof in evolusie, en nie anders om nie.

Kyk maar hierdie video van Stephen Meyer. Sy redenasie het raakpunte met my eie gevogtrekkings wat gemaak het dat ek evolusie verwerp het.

En ek daag diegene wat aan Durand se naïewe najaag van die “wetenskap” van ongeloof meedoen uit om die video te kyk. En wanneer jy dit kyk, onthou: Jy glo mos in ‘n skepper God, dus HOEF jy nie evolusie te aanvaar nie. Jy KAN dit op grond van die logiese, wetenskaplike bewyse verwerp!

(En as jy nie in ‘n Skepper glo nie, sterkte met die kognitiewe dissonansie…)

NS: Let op dat ek die woord “evolusie” gebruik in die algemeen aanvaarde sin van die woord: ‘n Proses waardeur komplekse spesies uit minder komplekse lewensvorme ontwikkel as gevolg van lukrake genetiese mutasie aan die een kant en omgewingsdruk aan die ander.