Ek kan nie veel byvoeg by hierdie brief wat op 25/06/2013 in Volksblad verskyn het nie. Ek kan maar net met hartseer beaam dat mense wie Belhar teenstaan op ‘n subtiele manier vervolg word, soos duidelik in hierdie brief beskryf word. En ek kan maar net met intense hartseer toekyk hoe ons leiers deur hulle liberale teologie en Belhar dreig om die NGK te verskeur soos die NGKA verskeur is (sien die brief).

Die beklemtoning is myne.

Brief: Nooit weer sinode toe

Dinsdag 25 Junie 2013

Ek is onwrikbaar vir kerkeenheid tussen die NGKerk (NGK), die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK), die NG Kerk in Afrika (NGKA), die CRC en verkieslik ook die Hervormende Kerk en die Gereformeerde Kerk.

My begeerte word in Efesiërs 4:14-16 en Korintiërs 12:12 – 31 vergestalt, maar is skynbaar ʼn hersenskim. Die verdelende lyne is diep en word daagliks dieper. Eise word gestel en verwyte geslinger. Versoening, liefde en vrede lê in die verskiet.

My bywoning van die sinode van die NGK Vrystaat was vir my in vele opsigte ʼn verrykende en wonderlike ervaring: ernstige soeke na oplossings in ʼn komplekse lewe vol swaarkry.

Maar nooit weer nie. Dit was deurspek met breinspoeling en verset. As ek lees wat daaroor berig is, was ons nie op dieselfde plek nie. Uitlatings soos: “Ons groot kans (vir hereniging met die VGK en erkenning van die Belydenis van Belhar) op vergifnis; ons laaste kans vir geloofwaardigheid, en die Belydenis is heilig vir die VGK,” is oor mikrofone en privaat gehoor.

Hierdie beeld is weerspieël in die groeteboodskappe: dié van die VGK vol verwyte; dié van die NGKA versoenend, dank en goeie wense; dié van die NGK Witteberge by Bethlehem (vroeër Sendingkerk) vol liefde en getuienis dat bruin en Belhar daar nie tel nie; die swart studente-leraar wat sonder Berlhar op sy taak gefokus is.

Niks is gerep van die VGK se verskeuring van die NGKA, die Sendingkerk en eise dat die NGK ʼn niks en ʼn niemand moet word nie om hom te behaag sodat die onreg van die verlede ter ruste gelê word.

Ek is ná ʼn saamtrek in Bloemfontein wat die sitting vooraf gegaan het, gevra om ʼn beskrywingspunt in te stuur oor diep kwetsende en verdelende vore wat lidmate ervaar: Die sinode van die NG Kerk in die Vrystaat doen ʼn beroep op die moderamen van die NGK om ʼn proses van heling van stapel te stuur oor die liefdeloosheid, tweespalt, vervreemding, verguising, verkleinering en versplintering wat in die NGK posgevat het met die drywing van kerk-hereniging en die belydenis van Belhar.

Ek het skaars my spreekbeurt afgehandel toe my tafelleier, ds. Jan Els van Bothaville-Noord, van ʼn ander luidspreker af ʼn orde-mosie stel dat dit onaanvaarbaar is weens gebruik van die woord drywing. My beskrywingspunt en toespraak is gekelder.

Enige standpunt wat nie met die gees van die pro-mense gestrook het nie, is deur ʼn vlaag geleerdes aangevat en probeer weerlê. Die woord liefdeloosheid is baie gebruik om teenstanders van Belhar te etiketteer. Asof sulke uitsprake nie ook liefdeloos is nie. Sowat 60% lidmate is bo 60 en dit maak seer as hulle so uitgekryt word.

My toespraak het gehandel oor uitsprake: dat teenstanders van Belhar steeds apartheid aanhang; diep skuldgevoelens daaroor het; regs is; ʼn bittergal-generasie is; kleinprentjie-mense is wat nie die groot prent raaksien nie; nie die lig sien nie; diegene bo 70 het ʼn gemors van die land gemaak en moet liewer swyg; ʼn bittergal-generasie met geld in hul strandhuise.

Talle mense het my geluk gewens. ʼn Jong dominee het my met klam oë omhels en sterkte toegewens. Ds. Els het ná sy mosie elders gaan sit. Kort voor die einde het hy regoor my kom sit, maar my oë vermy. Kort voordat ons geloop het, het hy gevra: “Is oom Piet kwaad vir my?” Ek wou weet hoekom, waarop hy gesê het omdat die voorstel afgekeur is.

My antwoord: “Dit is jou reg om te dink soos jy gedoen het. Ek is net jammer dat die voorstel daardeur gesensureer is.” Toe ons begin loop, het hy my hand gevat en gesê: ”Oom, ek is baie jammer. Ek is verskriklik jammer oor wat ek gedoen het.” Ek het hom verseker ek is nie kwaad nie en ons is uiteen.

Dit was vir my vrede, vergifnis en liefde. Dankie ds. Jan.

Ons is in tafels van ses met ʼn tafelleier ingedeel. Elke dag is begin met Paulus se brief aan die Kolossense. Daarna is foto’s van haglike toestande in veral swart geledere op groot skerms gewys, gevolg deur tafelbesprekings oor wat dit vir ons sê en beteken. Maak nie saak wat gesê is nie, die gesprek is telkens soos ʼn ritueel na swaarkry teruggedraai. (Onthou: God is net die God van die verdruktes.)

ʼn Blik op armoede in die Suid-Vrystaat waar slegs twee predikante in al die NG gemeentes is, was aangrypend. Ook oos van Bloemfontein lyk dit sleg, terwyl sekere stadsgemeentes ook sukkel. Ná ontsteltenis dat van daardie gemeentes nie verteenwoordig was nie en meer ontsteltenis oor die gebrek aan hulp aan hulle is ʼn plan goedgekeur wat daartoe moet lei dat ryk gemeentes arm gemeentes aanneem. Uit besprekings blyk dit die NGK sukkel ook.

Aan vergadertafels, by etes en in teetyd is gehoor die kerk het ʼn lompe organisasie van talle kommissies geword wat vir hulle na nêrens lei. Ná besprekings oor strukture, veranderinge en befondsing wat vier jaar geduur het, word dit soms terugverwys, nog vier jaar gestoei en weer voorgelê. Sinodegangers word met wanhoop gevul, geleerdes verdedig dit en die lidmate verloor die kerk en die kerk hulle met al die rompslomp, ʼn magdom duur poste en nuttelose arbeid, het ek gehoor.

Teks op teks is nie goed genoeg om eenheid en Belhar te aanvaar nie. Al die ander kerke in die familie skop nog vas, die Wêreldraad van Kerke en die CRC – die grootste gereformeerde kerkdenominasie – het Belhar ook nie aanvaar nie. Die VGK is ver in die minderheid.
Piet Theron