Opsomming

Prof Nelus Niemandt het na aanleiding van die dwaalleerklag teen Dr du Toit en sy onskuldig bevinding in die openbare media verklaar dat Dr du Toit se hermeneutiek en teologie aanvaarbaar is in die NG Kerk.

Na aanleiding van Dr du Toit se uitsprake tydens die ondersoek, beteken dit dat die volgende volgens Prof Niemandt binne die raamwerk van die NG Kerk val:

1. Postmoderne dekonstruksie as hermeneutiese metodiek in die interpretasie van die Bybel en belydenisskrifte. Dit stroop die teks van alle objektiewe betekenis en gaan ver buite die verklaring van die Algemene Sinode oor die verstaan van die Skrif en belydenisskrifte.

2. Die vervaging van die ontologiese skeiding tussen God en mens, wat indien dit enduit gevoer word, lei tot ‘n panenteïstiese wêreld- en godsbeskouing wat meer verenigbaar is met New Age filosofie as met die Gereformeerde belydenis. Dit is belangrik om dit te sien in die lig van Prof Niemandt se uitspraak op die 2012 Hoëveld Sinode dat daar “geen dwaalleer by Tukkies” is nie, nadat Prof Julian Muller, op daardie stadium visie-dekaan van die teologie departement, onbeskaamd ‘n panenteïstiese wêreldbeeld verkondig het.

3. Die ontkenning van die maagdelike geboorte van Christus, in direkte konflik met die Bybel, Apostoliese Geloofsbelydenis, die Drie Formuliere van Eenheid en 2000 jaar se Christelike tradisie.

4. Die ontkenning van die persoonlike bestaan van die duiwel, in direkte konflik met Christus se uitsprake en die belydenisskrifte.

5. Die ontkenning dat mense wat nie bewustelik in Christus glo nie beslis verlore gaan. Dit is in direkte konflik met God se openbaring in Romeine 10 en ook die belydenisskrifte. Hierdie is nie maar ‘n perifere saak nie omdat dit die kern van die Gereformeerde belydenis van totale verdorwenheid, die sondeval, verbondsteologie, die uitverkiesing, en natuurlik verlossing uit genade alleen en deur geloof alleen aantas. Dit is ‘n aanslag op die hart van die Reformasie.

Indien die NG Kerk se amptelike siening van die belydenisskrifte deur hierdie uitsprake van Dr du Toit weerspiëel word is die NG Kerk eenvoudig nie meer ‘n belydeniskerk nie. Ek glo elke wedergebore kind van God wat lidmaat van die NG Kerk is behoort sy misnoë met die leierskap van die kerk duidelik en ondubbelsinnig uit te spreek.

Bronne:

Let asb op dat verwysings in die teks na die verbatim transkripsie transkripsie 3 bedoel. Let asb ook op daarna dat daar verskeie foute in die verbatim transkripsies   is. Kontak my asb vir die oorpronklike oudio-leërs.

1) Die amptelike klag teen Dr Ben du Toit was as volg:

“Dr Ben du Toit verbreek sy plegtige legitimasie-verklaring van die Ned Geref. Kerk
deurdat hy ‘n geloofsisteem aanhang wat die Bybel en belydenisskrifte weerspreek. Dit sluit skrifbeskouing, wêreldbeskouing, saligheidsleer, universalisme en spesifieke leerstellings wat die Bybel en belydenisskrifte weerspreek, in.

As prima facie getuienis hiervoor word gemeld dat hy by die Algemene Sinode te Boksburg op 12 Oktober 2011 soos gerapporteer deur die Beeld die volgende standpunt gestel het : “Daarteenoor het Dr. Ben du Toit van die Wes- en Suid – Kaapse sinode gesê hy glo nie in die bestaan van die duiwel nie. Hy aanvaar die bestaan van die bose en die verlossing van Jesus Christus egter absoluut ”

Dit impliseer dat Dr du Toit :

1. Die belydenisskrifte van die NG kerk in die openbaar verwerp het
2. Die leer van die Bybel omtrent die bestaan van die duiwel in die openbaar verwerp
het.
3. Hierdie leer nie getrou verkondig soos hy belowe het nie
4. Nie alles in sy vermoë doen om dwaling te weerlê en uit die Kerk te weer nie”

2) Redes waarom ek die transkripsies van die klankopnames van die tugondersoek beskikbaar stel aan die publiek:

Die uitslag van die ondersoek is op saterdag 20 April 2013 bekend gemaak. Volgens die kerkorde het die klaer (ek) 21 dae om by ‘n hoër vergadering aansoek om appèl in te dien. BEELD haal Prof Neus Niemandt op 22/04/2013 as volg aan:

“Du Toit se standpunte val binne die raamwerk van die NG Kerk en hy is nie skuldig nie.”

Mens moet dus aanneem dat die NG Kerk leierskap voel dat alle uitsprake van Dr du Toit tydens die ondersoek binne die raamwerk van die NG Kerk se teologie val.

Prof Niemand het op ‘n Kyknet TV-uitsending op 25 April 2012 dieselfde uitsprake gemaak. Hiermee het hy ‘n onbevooroordeelde appèlondersoek teen die uitspraak so te sê onmoontik gemaak omdat hy die uitsprake as verteenwoordiger van die kerk se top leierskap gemaak het. Geen appèlliggaam kan dus in die toekoms as onbevooroordeeld beskou word nie. Ek betreur Prof Niemandt se minagting van die kerkordelike proses in die verband omdat enige appèl teen die uitspraak nou onmoontlik is. Mens sou verwag dat hy hom van sulke uitsprake sou weerhou tot na die appèlproses afgehandel is.

Ek glo dat elke leraar en lidmaat van die NG Kerk die reg het om te weet wat in die vergadering gesê is sodat hy of sy self gevolgtrekkings kan maak, veral in die lig van die feit dat appèl nou onmoontlik is.

Daar is niks in die kerkorde wat vereis dat die verrigtinge na ‘n ondersoek se uitslag bekend is steeds vertroulik is nie. Die Kerkorde bepaal slegs dat die vergadering self geslote is. In die lig van Prof Niemandt se uitsprake is daar nou geen rede om dit geheim te hou nie. Selfs al sou daar ‘n kerkordelike reël sou wees wat my sou verbied om die klankopnames beskikbaar te stel is dit duidelik dat die eer van God hier op die spel is. Ek sou dan beslis meer gehoorsaam aan God as aan mense moes wees.

3) Die volgende belangrike punte is duidelik uit die ondersoek en veral die klankopnames.

1. Dr du Toit se hermeneutiese benadering tot die Bybel en belydenisskrifte is deurgaans dié van postmoderne dekonstruksie. Hy beweer by voorbeeld dat hy die belydenisskrifte glo maar dat dit “voor-wetenskaplike” tekste is wat in die lig van ons wetenskaplike kennis “anders” interpreteer moet word. Daarmee impliseer hy, tipies postmodernisties, dat twee absoluut teenstrydige verklarings van die teks beide “waar” kan wees.

Ten spyte hiervan verklaar hy prontuit “Ek is nie ‘n postmodernis nie.” Hierdie ontkenning van postmodernisme is amper lagwekkend in die lig van sy blatant postmoderne hermeneutiek. Sy ontkenning van postmodernisme in die lig van sy praktiese Bybeluitleg is ‘n belediging vir die intelligensie van die ondersoek liggaam.

Hy maak dan ook deurentyd stellings soos: Omdat ons nie glo dat Jesus fisies “aan die regterhand van God sit” (lyn 285 en aan in die verbatim transkripsie) nie kan ons ook nie glo dat Jesus uit ‘n maagd gebore is nie. Of: Omdat Jesus se stelling dat die mosterdsaad die kleinste van alle sade is duidelik vals is maar gebonde is aan wat in daardie tyd geglo is, moet ons Jesus se uitsprake dat die duiwel bestaan ook sien in die lig van wat in daardie tyd geglo is. Ons kan dus eenvoudig nie Jesus se uitsprake oor die duiwel vandag glo nie. (Lyn 930 en aan van die verbatim transkripsie.)

Die gevolg van hierdie tipe uitleg van die Bybel en belydenisskrifte is dat hy dit van alle objektiewe betekenis stroop, omdat die uitlegger (Dr du Toit ) se konteks en grille normatief word vir die betekenis van die teks, in plaas daarvan die die bron se konteks die norm is. Dit is die basis van postmoderne dekonstruksie: Die teks is “waar” omdat dit vir die skrywer “waar” was maar ons verstaan dit nou anders.

Dit is belangrik om op te let dat Dr du Toit herhaaldelik verwys na die konteks van die skrywer, met die doel om aan te toon dat, omdat ons ‘n ander konteks het, ons die teks anders interpreteer as wat dit toe interpreteer is. Tradisionele hermeneutiek verwys na die konteks van die skrywer omdat die uitlegger dit as die norm van die teks se betekenis aanvaar. Du Toit verwys na die konteks van die skrywer om dit te verwerp en sy eie konteks normatief te maak, met ander woorde as regverdiging vir sy verwerping van die oorspronklike betekenis van die teks.

Die Algemene Sinode van 1998 het onder andere oor die belydenisskrifte verklaar:

6. Die Algemene Sinode distansieer hom van die volgende pogings om die belydenisskrifte, as historiese dokumente, tog nog op ‘n manier relevant vir vandag te probeer maak:
[…] 6.4 die opvatting dat die belydenisskrifte kontekstuele geskrifte is wat in ‘n bepaalde konteks kon funksioneer, maar wat vir die huidige konteks geheel en al geherinterpreteer moet word

Dr du Toit se aandrang dat die belydenisskrifte as voor-wetenskaplike tekste aan die hand van ons wetenskaplike kennis van vandag interpreteer moet word is direk in konflik met hierdie besluit. Dit is ‘n verregaande leuen om te beweer dat die ontkenning van die bestaan van die duiwel of die ontkenning van die maagdelike geboorte nie “geheel en al ‘n herinterpretasie” van die belydenisskrifte is nie. Dit is meer as ‘n herinterpretasie, dit is ‘n kontradiksie.

2. Dr Du Toit het die vraag of die skepping uit die substans van God bestaan konsekwent ontduik. Hy het wel uitdruklik verklaar dat die skepping nie ontologies gelyk aan God is nie (dit was nie die vraag nie, omdat die panenteïstiese god ook transendent is) en dat hy nie ‘n panenteïs is nie.

In lyn 179 van die verbatim transkripsie en verder sê hy:

Voorsitter, kan ek net antwoord? Daar’s ‘n absolute ontologiese skeiding tussen God en mens; ek glo dit met my hele hart. God is totaal buite ons raamwerk. Ek sê dit in hierdie stuk; ons kan Hom deur woorde nie… die oomblik as ons Hom in woorde vasvat het ons Hom al klaar verloor omdat Hy totaal en al onties buite ons werklikheid is. Hy is onbeperk deur ruimte en tyd. Ek skryf dit, ek sê dit oral. Hy is meer as energie; Hy’s ook die bron van energie. Ek kan dit nie duideliker sê nie. So die vraag, werklikwaar, om daarvan ‘n gevolgtrekking te maak en net aan te gaan en aan te gaan, ‘n klomp ander goed by te sit, it’s not on.

Dit is duidelik dat hy hier praat van die feit dat God transendent is en die skepping nie. Die “absolute ontologiese skeiding” waarvan hy praat verwys dus net na die feit dat God nie reduseer kan word tot die skepping nie (Hy verwerp dus panteïsme). Ek het die vraag daarna herbewoord na “is die mens reduseerbaar tot die substans van God” (Panenteïsme) . Hy het hierdie vraag bly ontduik en dit uiteindelik glad nie beantwoord nie.

Sy ontkenning van panenteïsme weerspreek stellings in sy boek direk, waar hy duidelik stel dat God wél die substans van die mens is.

Van die stellings in sy boek is aanhalings van ander skrywers. In sy verweer het hy gesê dat hy dié skrywers aangehaal het bloot om aan te toon dat daar ‘n nuwe kultuur van ‘n soeke na die spirituele is, en dat die aanhalings nie teologiese stellings van hom, dr du Toit, is nie. Hy het hom egter nie eksplisiet van dié aanhalings distansieer nie en glad nie verduidelikings verskaf vir teologiese stellings in die boek wat hy, Dr du Toit, persoonlik gemaak het, en wat dus nie aanhalings van ander skrywers was nie.

‘n Voorbeeld van so ‘n persoonlike stelling is op bl 183:

“Op hierdie manier kan mens met die Godheid in ‘n persoonlike verhouding leef en word sy spiritualiteit (die Gees van God) ook deel van die energievelde en atoomsamestelling van die mens.”

Sy ontkenning van panenteïsme laat dus steeds ernstige vrae omdat hy geensins die teenstrydigheid tussen hierdie ontkenning en sy duidelike teologiese stellings in sy boek tydens die ondersoek opgeklaar het nie.

As hy dit nie glo nie, waarom skryf hy dan in sy boek dat die gees van god deel is van die atoomsamestelling van die mens?

Moet ons regtig glo dat hy, ‘n teoloog met ‘n doktorsgraad, nie die vraag verstaan het soos hy in die ondersoek beweer het nie?

Hierdie onopgelosde teenstrydigheid is een van die meer ernstige tekortkomings van die ondersoek.

Dit is belangrik om dit te sien in die lig van Prof Niemandt se uitspraak op die 2012 Hoëveld Sinode dat daar “geen dwaalleer by Tukkies” is nie, nadat Prof Julian Muller, op daardie stadium visie-dekaan van die teologie departement, onbeskaamd ‘n panenteïstiese wêreldbeeld verkondig het.

3. Dr du Toit kon nie aangekla word oor sy geloof oor Jesus se maagdelike geboorte nie omdat hy voorheen daaroor onskuldig bevind is. Hierdie feit het hom skynbaar veilig laat voel om sy mening daaroor te lig: Hy het ‘n lang relaas tydens die ondersoek gegee waarom ons volgens hom nie meer in die maagdelike geboorte kan glo nie. Hy maak byvoorbeeld die stelling dat as ons die Bybel en belydenisskrifte se getuienis oor die maagdelike geboorte op sigwaarde aanvaar ons ook die ander verhale van maagdelike geboortes in die antieke tyd moet aanvaar. Die wanvoorstelling in hierdie verband is skreiend.

Dr du Toit verwys na verhale van goddelike wesens, bv Egiptiese en Griekse gode soos Zeus wat kinders by mense gehad het. In al hierdie verhale was daar geslagsomgang, dikwels in die vorm van verkragting of bestialiteit, ter sprake. In die geval van Horus het sy ma Isis omgang met die dooie lyk van Osiris gehad (nekrofilie), en Horus is verwek. Daar is eenvoudig geen ander verhale van maagdelike geboortes uit die tyd voor die Nuwe Testament nie.

Die gelykstelling van die Kersverhaal met die pornografiese godeverhale van daardie tyd is ontstellend en godslasterlik.

Dr du Toit se ontkenning van die maagdelike geboorte was wél van uiterste belang vir die ondersoek omdat dit sy minagting vir die belydenisskrifte en die gevolge van sy postmoderne hermeneutiek duidelik wys.

Die Heidelbergse Kategismus verklaar dat mens die Apostoliese Geloofsbelydenis moet glo om gered te word. Dit sluit die sin “…gebore uit die maagd Maria…” in. (HK Vraag 22 en 23) Om die maagdelike geboorte te ontken is dus volgens die Heidelbergse Kategismus, wat volgens dr du Toit se legitimasie verklaring ooreenstem met die woord van God, om verlore te gaan. Dr du Toit kan dus nie beweer dat geloof in die maagdelike geboorte nie nodig is vir reddende geloof nie, (hy doen dit in sy boek) want dan verwerp hy die Heidelbergse Katigismus en verbreek hy sy legitimasie verklaring.

4. Op dieselfde wyse het hy skynbaar veilig gevoel oor sy ontkenning van die bestaan van die duiwel, omdat die Algemene Sinode van 2011 (in ‘n resolusie wat grootliks deur Dr du Toit self opgestel is) besluit het dat lidmate van die NG Kerk nie meer in die bestaan van die duiwel hoef te glo nie. Hy het breedvoerig gepraat tydens die ondersoek oor hoekom hy die bestaan van die duiwel ontken. Geen eerlike persoon kan ontken dat artikel 12 van die Nederlandse Geloofsbelydenis leer dat die demone geskape, persoonlike wesens is nie. Ek stel dit hier duidelik en ondubbelsinnig: Enige persoon wat beweer dat artikel 12 van die NGB nié leer dat die demone persoonlike wesens is nie, lieg.

Die Algemene Sinode van 2011 se besluit in die verband was onwettig omdat dit die belydenisskrifte weerspreek.

5. Oor die vraag of mense wat nie van Christus weet nie gered kan word het hy duidelik die belydenisskrifte weerspreek. Die Heidelbergse Kategismus verklaar:

Vraag 20: Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het? Antwoord: Nee; maar slegs die wat deur ‘n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem.

Vraag 21: Wat is ‘n ware geloof? Antwoord: ‘n Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.

Let op die Heidelbergse Kategismus se woorde: “slegs die…” en “vasstaande kennis”. Die Gereformeerde belydenis is ondubbelsinnig en laat geen ruimte daarvoor dat iemand wat nie die evangelie gehoor het nie, gered kan word nie. En met reg, omdat God dit duidelik so in die Bybel openbaar: Paulus maak dieselfde stelling in Romeine 10:

13 Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.14 Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? 15 En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie?

Dr du Toit sê tydens die ondersoek hieroor:

“ Voorsitter, die Here moet my daarvoor straf, maar, ek meen, ek dink nie ek is buite die belydenis as ek die genade van God groter stel as enigiets anders nie.” (Lyn 709 van die verbatim transkripsie)

Dit is duidelik uit bogenoemde dat hy nie net buite die belydenis is nie maar ook buite die skrif is. Ek vind dit bisar dat hy ten spyte van hierdie verklarings steeds onskuldig bevind is, in ag genome die duidelike weerpreking van die Bybel en belydenisskrifte.

Die probleem is egter dat ten minste een van die lede van die ondersoekliggaam dieselfde dwaalleer aanhang, soos duidelik uit die verbatim transkripsie blyk.

Die vraag oor of mense wat nie die evangelie gehoor het nie gered kan word is nie maar ‘n perifere vraagstuk nie. Dit raak die kern van die Reformasie: Die leuse van die Reformasie was tog: “Uit genade alleen deur geloof alleen.” Dr du Toit se ontkenning van dit wat die Heidelbergse Kategismus in die verband leer is ‘n blatante verwerping van die Reformasie. Dit tas ook die Gereformeerde belydenisskrifte se uitsprake oor totale verdorwenheid van die mens, die sondeval, uitverkiesing en die verbond direk aan.

6. Dr du Toit maak ‘n stelling tydens die ondersoek wat duidelik toon dat hy nié glo dat die belydenisskrifte “ooreenstem met die woord van God” , soos hy in sy legitimasie verklaring verklaar het, nie. In verband met die moontlikheid dat die belydenisskrifte wél leer dat geen mens wat nie kennis van die evangelie het gered kan word nie sê dr du Toit:

“ Voorsitter, die Here moet my daarvoor straf, maar, ek meen, ek dink nie ek is buite die belydenis as ek die genade van God groter stel as enigiets anders nie. Want dit gaan dan daaroor dat ons van konfessionalisme beskuldig word dat die nakom van die konfessie is uiteindelik vir ons belangriker as die evangelie.”

Konfessionalisme is wanneer mens die belydenisskrifte belangriker ag as die Bybel en die Bybel daarmee vervang. Konfessionalisme is egter geensins hier ter sprake nie. Dr du Toit stel “nakoming van die konfessie” duidelik teenoor “die evangelie” wanneer hy die stelling maak.

Hy impliseer dus baie duidelik dat daar konflik tussen die belydenis en die evangelie is.

Indien die belydenisskrif “ooreenstem met die woord van God” soos Dr du Toit in sy kontrak met die NG Kerk verklaar het, kan “nakom van die konfessie” geensins in konflik met die evangelie wees nie omdat “nakom van die konfessie” dan absoluut gelyk aan die evangelie sou wees. Hierdie uitspraak wys wat hy regtig van die belydenisskrifte dink.

Indien die NG Kerk se amptelike siening van die belydenisskrifte deur hierdie uitsprake van Dr du Toit weerspiëel word is die NG Kerk eenvoudig nie meer ‘n belydeniskerk nie. Ek glo elke wedergebore kind van God wat lidmaat van die NG Kerk is behoort sy misnoë met die leierskap van die kerk duidelik en ondubbelsinnig uit te spreek.

Wynand Louw