Jurie le Roux se resensie (hier) van Jaap Durandt se boek oor Teilhard de Chardin is redelik op die man af en feitelik. Dit is egter ontstellend dat le Roux as gerekende NG Kerk teoloog geensins die onhoudbare konflik tussen Teilhard se panenteïsme en die Evangelie aantoon nie. (Behalwe in sy negatiewe verwysing na Heyns.) Tog is hierdie panenteïsme baie duidelik sigbaar in le Roux se artikel.
Die opgestane Christus was vir Teilhard die Kosmiese Christus, die Een wat alles met sy teenwoordigheid vul. Aan ‘n vriend skryf hy tydens die Eerste Wêreldoorlog dat hy Christus hartstogtelik lief wil hê, en ‘die kosmos met ‘n groot liefde bemin’ (Durand 2013:53).
Durand sê tereg dat die ‘mistieke aard van (Teilhard se) vroomheid’ dit vir hom as ‘t ware moontlik gemaak om die mistieke aard van die wêreld en natuur se evolusie in sy teologie te integreer. En daarom kon hy God ook in alles soek, in elke deeltjie van die kosmos ontdek (Durand 2013:58).
[…] Ons moet daarom anders oor die liggaam van Christus dink. Dit is so groot soos die kosmos self. Christus is dus nie maar net Jesus van Nasaret wat uit die dood opgestaan het nie, maar ‘n reusagtige groot wese wat voortdurend ontwikkel en so groot soos die heelal groei. In hierdie oneindige groot wese leef ons almal en ontwikkel ons ‘n bewussyn; in hierdie kosmiese Christus leer ons om die gefragmenteerde wêreld deur liefde te verander en te omvorm.
Teilhard was, soos le Roux hier tereg opmerk, ‘n panteïs. Of ten minste ‘n pan(en)teïs. (Die woord “panenteïs” was nog nie in algemene gebruik nie in Teilhard se tyd nie). Dit is ‘n wêreld- en godsbeskouing wat totaal onverenigbaar is met die Christelike Gereformeerde geloof.
Die Nederlandse Geloofsbelydenis verklaar dat God uit niks geskep het (Artikel 12) en dat God onveranderlik is (Artikel 1). Calvyn gebruik hierdie twee doktrines om die pan(en)teïste wat bekend was in sy tyd (Virgilius en Servetus) se godsbeskouïngs te weerlê, en met reg. Sodra die ontologiese skeiding tussen God en mens vervaag word die hart van die evangelie uitgeruk.
Die doktrines van die sondeval, totale verdorwenheid, die persoonlike bestaan van die duiwel en demone, redding deur genade alleen en geloof alleen, die soteriologie van Jesaja 53 , word almal logies onhoudbaar in die teenwoordigheid van ‘n skepping wat ontologies uit die substans van die godheid bestaan.
Teilhard de Chardin word met reg beskou as een van die vaders van die moderne New Age. Dit is skokkend dat hierdie dwaalleer deur Durandt en sy uitgewers (Bybel Media) in die NG Kerk verkondig word.
Ek gee hierdie resensie ‘n “swak” gradering omdat le Roux geensins dié onverenigbaarheid met die Evangelie uitwys nie. Indien le Roux nie die onverenigbaarheid van Teilhardisme met die Gereformeerde belydenis insien nie is hy eenvoudig ‘n inkompetente teoloog. Indien hy dit aanhang is hy nie ‘n Christen nie. Ek is nie seker watter moontlikheid meer ontstellend is nie.
Die NG Kerk is besig om haar posisie in die liggaam van Christus te verloor. Hierdie artikel is maar net nog ‘n padwyser op die NGK se pad weg van die evangelie.
Wynand Louw
http://teo.co.za/artikel/articles/533/1/Evolusie-wetenskap-en-geloof/Bladsy1.html
‘Evolusie, wetenskap en geloof’.
- Deur Jurie le Roux
- Gepubliseer 3 May 2013
JURIE LE ROUX
Hieronder volg enkele gedagtes oor Jaap Durand se werk oor Teilhard de Chardin en sy besinning oor evolusie, wetenskap en geloof.
In die sestigerjare van die vorige eeu het Johan Heyns in ‘n werk, ‘Die Evangelie in krisis’, oor destydse denkstrominge, wat volgens hom die evangelie bedreig het, geskryf. ‘n Stuk of veertien persone is bespreek en baie krities beoordeel. Een van hulle was Teilhard de Chardin. Heyns noem sy denke spekulatief en verwerp veral die feit dat hy God ‘’n inherente deel van die evolusieproses maak’ en daarmee die Bybelse Godsbegrip volledig ignoreer. Teilhard sou ook die moderne mens ook van geluk en sekerheid beroof (Heyns 1966:84).
Dít was Heyns se siening lank gelede en ‘n mens kan sy siening waardeer, maar Teilhard de Chardin was egter baie meer en baie groter as net ‘n ondermyner van die geloof en evangelie. Dit het Jaap Durand ook in sy pasverskene werk oor Teilhard de Chardin gewys. Dit is ‘n besondere biografie wat die lewe en werk van Teilhard de Chardin helder beskryf en sy standpunte mooi uiteensit. Dit is ‘n tydige werk wat ‘n groot bydrae tot Teilhard se denke lewer en ook uitstekende perspektiewe op evolusie verskaf. Anders gestel: Durand open nuwe moontlikhede om oor evolusie te praat deur die evolusiedenke van Teilhard na te vertel.
Teilhard was ‘n priester, maar ook geoloog wat soos min ander die aarde, die heelal en die kosmos se geheime probeer ontrafel het. ‘n Belangrike ‘denkinstrument’ om die heelal te verstaan, was (volgens Teilhard) evolusie. Hy het dit egter op ‘n baie besondere manier gebruik: hy het dit in sy teologiese denkraamwerk ingebou en God en mens en wêreld van hieruit probeer verstaan.
Om dit begryp, is twee sake belangrik: Teilhard se vroomheid en sy belangstelling in klippe, rotse, plante, ensovoorts. Sy denke wys die invloed van beide. As jong seun lees hy Thomas à Kempis se ‘De Imitatione Christi’, en dit sou hom lewenslank bybly. Veral die klem op geestelike afsondering, gebed, meditasie asook die mistieke band met God en die geloofseenheid met Christus. Sy geloof en hierdie geestelike waardes het hom as mens en later as wetenskaplike op ‘n besondere manier gevorm. Op 20 Maart 1899 sluit hy hom dan ook as agtienjarige by die Jesuïete Orde aan en dit was die begin van ‘n lang en stormagtige tyd as priester.
Daar was ook ‘n ander kant van Teilhard se lewe wat vroeg al ontwikkel is: sy groot belangstelling in die natuurwêreld. Sy pa het hom van jongs af geleer om dinge soos insekte en voëls en veral klippe te versamel en te beskryf. Later in sy lewe sou hy van die wêreld van sy jeug sê dat dit vir hom ‘n ‘museum was van natuurgeskiedenis en wildbewaring, die oorsprong van sy eerste vreugdevolle ontdekkings’ (Durand 2013:30). Hierdie belangstelling in die natuur het mettertyd tot ‘n oorweldigende liefde vir die kosmos gegroei.
Dít het egter tot groot innerlike spanning gelei. As teologiestudent het hy geworstel met sy verlange na die ‘mistieke onttrekking aan die wêreld’ (soos Thomas à Kempis se werk hom geleer het) én sy drang om die kosmos, die heelal te bestudeer. Dit was as ‘t ware ‘n drang weg ván die wêreld en ná die wêreld. Hierdie twee kante of belangstellings of drange word mettergaan in sy oortuiging verenig dat hy God ook as natuurnavorser kan liefhê; hy kon God en kosmos saam harstogtelik liefhê.
Uiteindelik word Teilhard priester, maar ook geoloog en paleontoloog wat soos min ander die aarde, die heelal, die kosmos se geheime probeer ontrafel het. ‘n Belangrike denkinstrument of denkapparaat om die heelal te verstaan, was evolusie. Teilhard het dit egter op ‘n baie unieke manier gedoen deur die evolusiegedagte in sy teologiese denke in te bou en God en mens en wêreld vanuit hierdie perspektief te probeer verstaan. Dít was volgens Heyns egter ‘’n onvergeeflike logiese fout’, maar in die werk van Durand kry Teilhard se evolusiedenke ‘n ander en sinvoller interpretasie.
Alhoewel die tydsgees skepties teenoor evolusie gestaan het, het Teilhard dit naatloos met sy teologie verenig. Die opgestane Christus was vir Teilhard die Kosmiese Christus, die Een wat alles met sy teenwoordigheid vul. Aan ‘n vriend skryf hy tydens die Eerste Wêreldoorlog dat hy Christus hartstogtelik lief wil hê, en ‘die kosmos met ‘n groot liefde bemin’ (Durand 2013:53).
Durand sê tereg dat die ‘mistieke aard van (Teilhard se) vroomheid’ dit vir hom as ‘t ware moontlik gemaak om die mistieke aard van die wêreld en natuur se evolusie in sy teologie te integreer. En daarom kon hy God ook in alles soek, in elke deeltjie van die kosmos ontdek (Durand 2013:58).
Oor dié eenheid was hy opgewonde en wou hom lewenslank ‘aan dié geseënde eenheid met God’ wy (Durand 2013:56). Teilhard kon hom in die herfs se kleure verheug, die groen graslande geniet, die woude en rotse waardeer en selfs vir dooie blare waardering hê. Vanweë ‘sy onwrikbare geloof dat God die Skepper van hierdie aarde is’, kon hy opgewonde oor die heelal raak; was die gemeenskap met God en die aarde uiters belangrik want ‘n mens kon ook deur die aarde met Hom gemeenskap hê (Durand 2013:57). Baie het gemeen dat hy ‘n panteïs was, maar vanweë sy mistieke band met God en die aarde was sy denke heeltemal anders. Soos Dante wou hy net die hemel en die aarde bymekaarbring en God en wêreld onlosmaaklik aan mekaar verbind.
En om te kon sê wat Teilhard wou sê, was die evolusie baie belangrik. Die evolusiedenke het hom die woorde en begrippe en die perspektiewe gegee om oor God, Christus, die wêreld en ons te praat. Volgens Paulus sug die skepping in Romeine 8:22 na vervulling: ‘Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting’, en getrou aan sy evolusiedenke sê Teilhard dat God deur Christus hierdie verwagting ‘evolusionêr’ vervul. Jesus is dus meer as net die Een wat vir ons sondes gesterf het, want Hy is die kosmiese Christus wat die heelal vul, maar ook groter as alles en almal is.
Ons moet daarom anders oor die liggaam van Christus dink. Dit is so groot soos die kosmos self. Christus is dus nie maar net Jesus van Nasaret wat uit die dood opgestaan het nie, maar ‘n reusagtige groot wese wat voortdurend ontwikkel en so groot soos die heelal groei. In hierdie oneindige groot wese leef ons almal en ontwikkel ons ‘n bewussyn; in hierdie kosmiese Christus leer ons om die gefragmenteerde wêreld deur liefde te verander en te omvorm.
Vir die kerk was Teilhard de Chardin se denke egter moeilik om te aanvaar en hy het lewenslank die smart van kerklike kritiek en dreigende skorsing verduur. Van die begin van die universiteitswese was daar soms spanning tussen universiteit en kerk en dit is ook goed so want dit skerp albei intellektueel op. Albei is op mekaar aangewese en moet voortdurend in kritiese gesprek verkeer.
By Teilhard het dinge amper te ver gegaan. Voortdurend is beperkings op hom gelê soos dat hy hom minder met die teologie en meer met die geologie moes besighou. Van sy boeke kon nie gepubliseer word nie omdat die kerk teen sy sieninge gekant was. Altyd moes daar toestemming van die hoof van die Jesuïete-orde en ander amptenare verkry word en altyd het hy gepoog om sy publikasies vir die kerklike owerhede aanvaarbaar te maak. Op ‘n keer is selfs gesê dat hy sy standpunte moes terugtrek anders kon hy nie meer priester wees nie. Hy wou nie, maar omdat hy ook nie sonder kerk en priesterskap kon leef nie, het hy toegegee. Dit was egter nie genoeg nie want Teilhard is ook na China verban omdat hy ‘n verleentheid vir die kerk in Parys geword het (Durand 2013:237). Dit was nie vir hom maklik nie want waar hy ook al was, het hy na Parys verlang.
Daar is soveel ander fasette van Teilhard se lewe en werk wat Jaap Durand op ‘n treffende manier vertel. Durand se werk het self tot ‘n soort ‘volheid’ gegroei. Hy het baie inligting tot ‘n mooi eenheid saamgesnoer. Hy het volledige biografiese inligting, presiese datums en tye, tallose mense en ontmoetings, asook allerlei vertellinge oor Teilhard se eindelose studie en navorsing, voortdurende skryf van boeke, artikels, verslae en veral briewe mooi inmekaar laat vloei om ‘n ryk en boeiende prentjie van Teilhard de Chardin te skets. Soms lees die boek vanweë al die ‘volheid’ aan detail ‘n bietjie moeilik, maar aan die einde het hierdie leser die gevoel gehad dat alles die moeite werd was want uiteindelik maak al die detail die Teilhard-beeld net voller. Die Afrikaanse teologiese wêreld is Durand dankbaar vir hierdie besondere werk.
Dalk is daar nog iets. Dit is woorde van Teilhard voor sy dood. Dit is woorde van ‘n mens wat veel vir sy sieninge gely het: ‘Ek gaan om Hom wat kom te ontmoet’ (Durand 289).
Henrietta Klaasing said:
Meer en meer buig voor die afgod van evolusie. Mense wat beter wil weet as God en wat in sy Woord staan.
1 Kor 12 v 10: Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan ‘n ander die gawe om te profeteer, EN AAN NOG ‘N ANDER DIE GAWE OM TUSSEN DIE GEESTE TE ONDERSKEI. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan ‘n ander om dit uit te lê.
Meer as ooit moet ons as Christene bid om die gawe van onderskeiding. Matthew Henry noem dit “the discerning of Spirits, power to distinguish between true and false prophets”
somersetmorkel said:
Dis interessant dat Jurie le Roux hier weer na evolusie verwys, in die konteks van TdC. Dit is ‘n debat wat nie eens meer in die NGK gevoer word nie – dis lankal verby… Daarom Jurie se negateiwe verwysing ook na prof Johan Heyns. Die ‘Gedankengut’ van die deursnee NGK-leier en teoloog is reeds van meet af aan gekorrupteer deur evolusiedenke. Dit word as basiese vertekpunt geneem. Daarom ook die ongeergde verwysing na TdC se integrasie van teologie-denke in sy filosofie. Maar dis juis waar die probleem le. Evolusie-denke is basies gevestig op ‘n leuen – en een wat die Skrif van meet af aan ondermyn. GEEN mens wat aan evolusie glo, kan reg dink i.t.v. die Skrif nie omdat die vertrekpunt verkeerd is, en hoe verder jy gaan hoe verder is jy af vd waarheid af. Daarom is teoloee wat aan evolusie glo, uiteindelik slagoffers van ‘n leuengees wat die sondeval misken, en Adam en Eva as eerste mense ook.. en dit het direkte (hoewel soms baie subtiele) effek op mense se beskouing vd tweede Adam, nl. Christus. Soos in Ben du Toit se dwaallerende boek ‘God?…’ word die duiwel uitgeskakel as nie-bestaande, die sondeval misken, en Jesus en die Apostels het eenvoudig ‘nie die kennis gehad wat ons vandag het'(!) nie (alhoewel Hy die Skepper is…oops..). Die ge-internaliseerde arrogansie in hierdie standpunte word deur diegene wat onder die leuengees is, misgekyk – en dit is vanselfsprekend, want hulle is blind.. Dit lei dan onvermydelik na die mistieke Christus vd moderne NGK-teoloee wat deur kontemplatiewe ervarings ‘beleef’ en ‘ontmoet’ word (à la Gerhard Bothma, opkomende New Age guru in die NGK). Voila…! Daar is Teilhard de Chardin se basis weer, asook die mistieke Christus van Rome.. wat jy ook in die ‘Mass’ beleef.. en wat deur Thomas à Kempis in sy ‘Navolging van Christus’ verkondig is. TdC het Kempis se boek as basis van sy denke gehad – dit toon Jurie le Roux ook aan. Die prentjie word net al helderder vir diegene wat onder die onderskeiding vd heilige Gees na hierdie dinge kyk..
Louis van Jaarsveld said:
Wonderbare krag
Jaap, ek weet nie of jy kan onthou nie, maar ons twee het na die Reforum-byeenkoms in die middel-tagtigs ‘n bietjie gesels. “Wat staan mens te doen tydens ‘n noodtoestand?”, was die vraag op menigeen se lippe. PW was nog nie weer ‘n keer gebore daardie jare nie, en ons het in ‘n samelewing wat hoofsaaklik op grond van ras verdeel was, iets van die pyn beleef van ons ‘bruin en swart’ broers en susters wat oor een kam met militante aktiviste geskeer is. “Salig is die vredemakers”, ja – maar party maal izzit makliker gesê as gedaan.
Vandag wil ek jou om verskoning vra.
“Waarvoor?”, vra jy met die wenkbrou gelig.
Hierdie nat-agter-die-ore student het vir jou gesê dat die ganske dogmatologie nie meer vir my tydens PW se noodtoestand sin maak nie. Na my gevoelente, was die hemelspastei just too high to come by. Dit wat nog – te midde van die haat en nyd – natuurlik en spontaan is, het vir my veel meer sin gemaak. Dit was die sekulêre deel wat ek soos die jongse verlore seun na myself toe wou laat kom.
Woorde was vir my soos inflasie, het ek by Ferdinand Deist gelees. Hoe meer daar gesê word, hoe minder is dit werd. Nou ja, vir die spul fariseërs se langdradige skrifuitlegte het ek dit hiertoe gehad. Ek wou die sê-deel heel uitsny, en tjoef-tjaf die doen-deel afhandel.
Ma’ mens, die heel nuwe natuur van die Vredevors waarvan die skrifte praat, was vir my soos ‘n droom wat deur die wind verwaai is. Jaap Steyn in KP-kringe het byvoorbeeld gesê dat die vaderbeeld vir ons verlore gegaan het. Wat sou dit inhou as Jesaja praat van die ‘ewige Vader’?
Sien, ek was nou ‘n jong student wat in ‘n idilliese studentedorp van die suide oor Teilhard se digterlike frases in my stiltetyd gemediteer het. Dit gee jou nuwe klas, en hier was boonop iets wat op ‘n materiële manier misties was. Geen gehana-hana nie. Die aantrekkingskrag van ‘n rebel wat die katolieke sisteem sou omgedop het, is dus vir ‘n jong piëtistiese protestant groot. Dat hy in ‘n stadium deur die kerk verban was, was juis ‘n lokmiddel vir die ‘avant garde’.
Of hoe het Willie Jonker dit op ‘n dag gestel? As jy teenoor jou kind soos ‘n fariseër oormatig op moenie’s en mag-nie’s sou hamer, dan maak jy juis die ongehoorsaamheid innie kinderhart wakker.
Dan kom kuier my mede-student uit Malawi, en ek voel iets van die diep-rustige en ryk stem van Andrew Murray se nasate in Afrika aan. Maar van my verstaanraamwerk het dit nie deel geword nie.
Wie van ons ken nie ook – teenoor die moenie-mag nie benadering – ‘n sentimentele ‘liefie-liefie, my hart se diefie’ van die sogenoemde ‘moderne’ benadering nie? Dit klink soos ‘n misterieuse lokstem van ‘n vae juffrou Evolusie wat jou uit die studeerkamer na die lewe daarbuite wil roep. Wie kan nou stry met ‘n kundige wat ‘n ou fossiel van sy stoel af wil bevry?
En tog, as jy die dag vanuit die akademie in die regtige lewe buite kom, is dit juis jou natuurwetenskaplike vriende wat vir jou vra of jy al regtig die feite in die skepping ondersoek het? In Darwin se tyd was dit ook so: ‘n natuurwetenskaplike soos Pasteur het ‘n teoloog soos Darwin daarop gewys dat lewe op mikrobe-vlak nie sommer spontaan oor die mag beskik om vanuit nie-lewe op te staan nie. Alle lewe kom van Lewe. Aristoteles van ouds het wel die droom gehad van lewe wat spontaan ontstaan, maar hy het dit nooit aan ‘n praktiese eksperiment getoets nie. Dis ‘n spontaniteit waaroor ‘n man en sy vrou ook nie so woerts-warts oor beskik nie.
Nogtans het Darwin se mede-teruggevalde-teoloë het in sy nuwe teorie ‘n gulde geleentheid gesien het om vleesgedrewe ‘with it’ te raak.
Ou pêl, as geesteswetenskaplike het ook jy geleef in die ‘holy bubble’ van ‘n nieu-platoniese gnostiek, en daarom het jy behoefte gehad aan darem iets meer konkreet en tasbaar. Maar selfs Dante kon nie hemel en aarde met lang gedigte verenig kry nie. Maar wa’ dan van die ou-ou tyding – dat daar slegs een middelaar tussen God en die mense is – die mens Jesus Christus?
Wel, die glorie van Sy Gees was vir ‘n Joodse nagdissipel soos Nikodemus toetentaal verskuil. Jy is ‘n leraar van Israel, en jy verstaan nie hierdie dinge nie? Meesal was die sien van die wind selfs vir sy destydse dissipels verberg. Maar as ons na als – met allie info op ons vingerpunte – selekteer om nie meer onsself in ons Skepper verbly nie, sou dit… eerliker wees om eerder die hele bybel weg te gooi.
Waarom sou mens nog piëtisties ‘n geloof in liewe Jesus hier innie middel vannie bybel behou, terwyl Hy nie vir jou die begin en die einde is nie? Het jy nie dan soos ‘n ander Thomas – Thomas van die dorpie Aquino – ‘n gesplete persoonlikheid tussen geloof en rede nie? Die fossiele roep uit dat daar meer hoop vir jou gaan wees as jy liewer so koud soos ‘n agnostikus of ateïs staan.
Ek gesels een vroegoggend nou laaste week met ‘n 82-jarige oud-staatsamptenaar wat ook sy verstandtande van jongs af op evolusie gesny het.
Ons nie mekaar gebyt nie; hy het op die ou end gevra waar hy die boek van 50 natuurwetenskaplik gepromoveerdes onder oë kan kry oor “In six days”. Maar wie op die net soek, sal die boek vind. Al moet jy hom hoofstuk vir hoofstuk aflaai, het jy darem die vrye keuse om te besluit in watter natuurwetenskaplike veld jy ten eerste belangstel.
Ons het net opgekyk na die berge rondom ons, en gevra: waarom is die fossiele dikwels vir ons so intakt bewaar? As ‘n gestorwe dier vir 200 miljoen op die oppervlak van een geologiese era moes lê, sou die spiere nie afvrot nie; sou selfs die bene nie verpoeier nie? Dis nou te sê as dit nie op dag een deur die hônne opgevreet sou gewees het nie? Wel ja, sê hy, dit sou vinnig toegegooi moes gewees het, om so presies tussen die lae bewaar te gebly het….
Dis die punt, sê ek vir hom. Laag op laag van slik tydens die vloed kan dalk vir ons ‘n meer akkurate verklaring wees van die fossiel-feite wat vandag tussen die lae tot ons beskikking is?
Een van die aannames van die modernisme is dat net die feite wat ons met ons vyf sintuie teen ons verstaanshorison kan waarneem, vir ons betekenis kan hê. Overgeset synde, sien is glo.
By Mount St Helens op 18 Mei 1980, het ‘n siedende vulkaniese uitbarsting dennebome teen die berghang na benede gesleur. Aan die voet van die berg was ‘n meer wat nogals Spirit Lake genoem is, waarin miljoene m3 lawa en vuurwarm bome gestort is, om die watervlak binne ses minute 240 m hoër op te stoot. Alles gebeur so vinnig.
Die aarde het verder letterlik op dieselfde dag gebewe; ek wou nie daardie geluid hoor nie. ‘n Twee kubieke kilometer van die bergwand het in die meer onder die berg gestort, om binne enkele dae op klein skaal ‘n ‘visrivier’-canyon deur die sagte sedimente te spoel. Toe die vloed weg is, is ‘n geologiese kolom van laag op laag modder blootgelê, kompleet met boomstompe regop daarin vasgevang. Nie miljoene jare het verloop nie, of die boomstompe begin versteen. Dis genoeg om ‘n eksistensie-filosoof ‘n gesonde, vrugbare ontsag van vrees en bewing te gee.
Dalk moet ons uitkoms-gerigte onderrig in gemeentes oorweeg. Anders draai ons dalk soos die ‘bad girl’ uit wat Lizz Curtis Higgs beskryf. Die girl het voor die tyd verseg om ‘n voet uit haar afgodjie van ‘n huis in die vallei te versit, en die staat se seismoloë de leste een as doemprofete afgeskryf. Wat het gebeur? Tja swaer, vandag kom dit voor asof ‘nooi’ NGK en ‘nooi’ VGK soos twee bakleiende katwyfies, so skielik soos in Narnia tot twee soutpilare versteen het.
Dis die laaste ding wat ek en jy wil hoor. Maar dis liewer vroeër as later dat ons uit ons verstarring geruk word.
Die hartseer was dat ons in ons sadduseër-fase gedurig na die fariseërkant ‘n ‘moenie oordeel nie’ laat hoor het. Hoor-hoor, het ons mede-sadduseërs ons aangemoedig. Elke ketter het sy letter, en dit maak nie die sadduseërs se letter verkeerd nie. Dis goed en waar en reg dat ons nie mag oordeel nie. Ons mag nie oordeel dat die historiese leeu van Juda nie so modern soos môre heeldag sou wees nie.
Het Darwin die skrifte geken, of het hy in teologie net boeke-oor-die-skrifte loop studeer? Maaties hou paa’ties, terwyl die land brand…
Jy weet dalk. Darwin se ma is vroeg oorlede, sy pa seker emosioneel bietjie afwesig, en díe het hom na ‘n spartaanse kosskool uitgerangeer. But cowboys don’t cry (or laugh), even in the face of bullies.
Doer in sy twintigerjare het sy pa probeer regmaak deur ‘n erfporsie vroegtydig uit te keer, maar geld wat stom is, het nog nie vir hom reggemaak wat krom is nie. Darwin hoef nie ‘n steek verder te gewerk het nie, en in sy ledigheid het hy ‘n teorie ontwerp wat wreed en ongenaakbaar is. Verstaan jy hoe iemand in sy eie wêreld kan lewe, en nie eens met sy vrou lekker by ka’ wesie?
Sy vrou was opreg en kinderlik gelowig, en hy kon wel die natuurlike variasie en verkiesing by duiwe wat broei waarneem, soos waarvan hy op die reis om Suid-Amerika van kreasioniste verneem het. Maar een na die ander is die meeste van hulle twee se kinders van hulle weggeneem. Die werklike troos dat God gegee het, dat Hy daarom kon neem (en met ‘n dans weer kon gee), het nie in hierdie worstelinge tot ‘n klein knapie deurgedring nie.
Oor die oorspronge van lewe, het hy in sy dikke boek soos die graf bly swyg. Ja, later het hy wel in ‘n brief aan ‘n vriend bietjie gespekuleer. Maar mens lei af dat al woorde wat hy kon vind vir daai kissies wat een na die ander grond toe gesak het, was dat hulle misbaksels was – wat ongelukkig nie opgewasse genoeg was om dit in die regtige lewe te kon maak nie.
Is dit nou maar net een van daai dinge waarmee mens moet saamleef, of hoe kan mens se gedagtes oor die dood van ‘n kind vir ewig en altyd tot rus kom?
Darwin het nie die krag geken om soos ‘n klein seuntjie in die teenwoordigheid van die allemintigge Trooster te snik – sodat hy versterk met ‘n breë glimlag daar kan opstaan om te sê wat hy nou rêrig glo nie.
Want volgens die teorie van evolusie was ons almal net bobbejane, hoewel sommige darem die hare kon afskrop in ouma se groot ovaalwaskom (wie onthou nog wasdag voor wasmasjiene?!) Maar party, net party van die Anglo-Saksers volgens die evolusieteorie daarin geslaag om ‘n witvoetjie te kon voorsit.
Dis asof mens jouself en ander met ’n staalborsel wil skrop. Lees maar gerus weer die rassistiese onderskrif by Darwin se titel, of die slotsom van sy hele propagering van rassisme in sy heel laaste paragraaf. Of als tussen-in. Dit was geen wonder dat ‘n oorlog teen die ‘laaste van die takhare’ ogv Darwin se mites gevoer is nie. Die verlies aan respekte het meegebring dat selfs vrouens en kinders te na gekom is. Nie dat ek dink Paul Kruger was regsinnig toe hy gedink hy gaan gou-gou Majuba se kitsresep herhaal kry nie. Of dat ek die laaste boere-oorlog weer oor teen-vlees-en-bloed geveg wil kry nie. Andrew Murray en ‘n Engelse kollega het deur die loop van die oorlogstyd elke week saamgebid dat beide kampe die Vors van vrede in persoon sal leer ken.
Dit was ook die seimste onménslike teorie wat die afvallige teoloog Stalin en vir Hitler-in-sy-rehab na die eerste wêreldoorlog geïnspireer het, en ook vele slagoffers in ons vorige burgeroorlog kom vereis het. Dis die tragiek wat ‘n mooi verbloemde rassisme in ons lewens gebring het. Kan dit waar wees wat Tracy Chapman in die tagtigs gesing het? Love is hate…
Dis ook die vraag aan ons in die nuwe Suid Afrika, al is dit vir ons as trotse afskaffers van apartheid ‘n moeilike een om te sluk. Vandag is dit ‘n geval van liefde voor en liefde agter, maar dis net ‘n sousie wat agterna oor die brandsels van die seimste amptelike apartheid van 1857 gegooi is. In dieselfde trant het Charles Darwin twee jaar later in 1859 gevolg om ‘n feitlik gewetenlose teorie, wat eers in sy laai vir armsaliges soos sy eighe vrou weggesteek was, wêreldkundig te maak.
Get real. Kyk na die manier waarop apartheid in die nuwe S-A teruggekruip het:
• Sien die ‘fetus’-moord van Herodus binne die veronderstelde veiligheid van die buik raak, ja. Maar bid veral dat dit kan omskep word tot ‘n geborge ruimte. Kinders kan ‘n seën van die Here wees, en dit sluit ons daaglikse brood in. Selfs in dae van swaarkry, hoef ons geensins honger te ly nie.
• Sien die rigtinglose gedobber raak van jong geïndoktrineerde kudde wat glo dat God wat hulle betref, nie meer ‘n faktor is nie. Dan is alles vir hulle toelaatbaar. Maar veral, kyk na die werklike reformasie van jong volgelinge wat die vaste tred ontvang van Ware liefde wat vir die groot dag wag.
• As ek kyk hoe ekself tydens die noodtoestand van destyds ‘n meisie in haar liefde verlaat het, kan ek gerus weer my kop in skaamte laat sak. Hoe het David Kramer se satire geklink: “Bokkie, ik sjal djou mizz…”? Haal die oogklappe af; wees nugter en waaksaam. Laat ons van die ‘holier-than-Thou’-evolusieleer afklim, en ‘n bietjie besef hoe lewend daai ‘Thou’ is waarvan gepraat word.
• Mag ons ook wakker word oor die ongenadedood aan ouer mense, wie se besadigde inspirasies sommerso deur jonges uitgerangeer word. In die Heilige se Gees kan dit in eerbied verander dat oupa en ouma toe nie so terug agter die brug is as wat ons gedink het nie. Ons ken persoonlik heelwat oumense wat die bevryding om soos wit seevoëls teen die steil kranse by kaappunt nes te skop – en vir daardie spesifieke rede vryer in hul vlug is as wat enige evolusionis wat nog heimlik aan rassisme verbonde is, ooit kon wees.
Is so. Ons het nogeens in die nuwe S-A fundamenteel byrie seimste apartheidsvyand gaan inkruip. But be real: hou veral die Lam voor oë wat by die braaiplek van ‘n tydjie terug geslag is. Dis in die gesels by Sy kruis waar daadkragtige integrasie plaasvind. Dis rondom ‘n nagmaals-potjie, as ek so kan sê, waar ons mekaar bedien.
Ja, van ons sogenoemde ‘liberale’ afrikaner-vriende het goeie bedoelings dat ons almal een moet wees. Nogtans knaag dit soms aan hulle dat hulle tog op sosiale vlak nie veel te sê het vir hule evangeliese broers en susters nie. Daarenteen is daar hoevele evangelies-getroue boere wat donkiejare terug al begin leer het om in alle eerbied sáám te boer. Tot ons skaamte moes ons gewaar hoe juis ‘n voormalige verregse die eerste is om sy zim-werknemer en broer deel van ‘n bleekvaal gemeentegesprek te wil maak (hoewel ons toe Ingels moes gooi). Dis alleen vrye guns wat ‘n man so beweeg; dís deurleefd liberaal, in die goeie sin van die woord.
Hoe kan boere vanuit alle agtergronde so iets vermag? Omdat hulle die een Middelaar tussen God en die mense ken – die mens Jesus Christus.
Ons ken Hom wel nou nie meer na die vlees – op dieselfde manier as toe Hy mense-mens tussen ons was nie. Nooi NGK en nooi VGK sug ook nou al meer as ‘n geslag lank in pyne van verwagting – verwagting waarvan? Van die openbaarmaking van diegene wat op die veil’ge grond voor ‘n vloekhout kinders van ‘die lewende God’ word. Daar vind die gelukkige ruil plaas dat ons veroordelings op Hom geneem word, en Sy geregtigheid na ons toe kom. ‘Die lewende God’ was al die titel van Jaap Durand se eerste boek in die dogmatologie-reeks.
Die NGK-nooi kon al in ’86 – of ten minste in ’90 – gestem het om in praktyk een familie in een huis te word met haar sussie in die VGK. Dan was ons die nuwe SA profeties vooruit, en nie ‘n agterryer van die staat nie. Wat op aarde het ons soos Lot se vrou klou-klou laat terugkyk? Kan dit dalk die hoogmoed wees dat ons tot op feitlik die toppunt van evolusie in die onderdorp onder ‘n ‘dooie’ krater laat klim het?
Hoewel daar wonderlike samewerking tussen gemeentes was, het menigeen van ons tog gekies om onsself te weerhou van die opklink van sangaande saam met eenvoudige evangeliese gelowiges van die VGK-nooi in vergeleë plaaskure. Ons het nie die skrifte geken nie, en ook nie die krag van God nie.
Dit was vir twee duisend jaar al die sadduseër-Grieke se posisie. Met alle respek, ek dink nie die ‘vrysinniges’ moet Johan Heyns so maklik afskiet omdat hy nie met die denkstroom van evolusionisme wou saamgaan nie. Soos wat ek hom leer ken het, het hy die nodige afstand gehad om te weet waar die wortels van die ou republiek van apartheid gelê het.
Jy is welkom van my te verskil, maar ek dink ook nie mens kan Thomas a’Kempis se heiligmaking in dieselfde kader lees as Teilhard de Chardin se evolusie nie. Thomas a’Kempis wou nie ten alle koste homself handhaaf nie, soos wat inherent aan die evolusieleer is nie. Hy was nie soos Narsissus so verlief op sy spieëlbeeld in die rivierpoel, dat sy neus al nader aan die water gekom het, tot hy kaplons ingetuimel het nie. Jy is verlief, jy soek nog net na die objek van jou liefde.
Toe nie. Thomas a’Kempis het daagliks sy ou natuur verloën, ook sy kruis teen die steilte opgeneem – om van die hoogste krans ‘n gimnas se swawelduik maak om die water te klief.
Veral het ons Versoener nie net vir homself gesorg nie, en die res aan die toeval oorgelaat nie. Hy het die pyn van ons verwydering eens en vir altyd op Hom geneem; die skande van stink muishondwees met die versprei van Sy aangename geur vervang. Nie dat daar enigiets aangenaams aan ons binneste bly kleef nie; ons leef uit vrye guns alleen. Sy Pa-goed het Hom as eerste vrug van die oes uit die ‘poel’ van die dood laat opstaan.
Al lê hef aan nog voor, het ‘n Petrus een agtermirrag op die eerste dag agterkom dat Jesus Christus gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is. Hy was nie net bly om sy vriend weer te sien nie; na ‘n periode van verdwaaldheid, kon hy hom in sy Skepper verbly (Joh 1, Kol 1, Hebr 1). Ook die ander wegloper van ‘n dissipel, Thomas, het nie meer soos Plato voor Christus sy neus vir natuurwetenskaplike kwessies opgetrek nie, maar die saak billik ondersoek. Luther het dit so gestel: ons Pa-goed se hart vir ons is soos ‘n warm ‘bakoond van liefde’ as Sy handewerk. Dit staan duideliker as daglig in my vriend Jaap se eerste boek in ons dogmatologie-reeks geskrywe. Ons het ’n Pa wat vir ons lief is.
By die kruis kan die melodie weer opklink: ‘Laat my nooit U grond verlaat nie; laat my in U skadu bly.’ En vir vir my en jou wat selfs ten spyte van ons christenees, so maklik met Hom in praktyk weggedoen het, klink die koortjie na 27 jaar op: ‘Daar is krag, krag, wonderwerkend krag – in die bloed… van die Lam’?
Sonder ophou. Die bruid mag een wees soos die Vader en sy Seun alreeds een is. In hul wese deel hulle die heerlikheid van die afgesonderde Gees wat my en jou se verstand telkens te bowe gaan. Daarom is Sy bruid sonder vlek of rimpel.
Somerset Morkel said:
Luigi: Jy skryf meesterlik, maar nie ‘n heel bekvol nie, maar ‘n hele kruiwa-vol, oftewel ‘n hele bulldozer vol… Mens moet dit ‘n hele paar keer lees… veral as mens ‘n gewone ou is, jy weet. Ek twyfel of die NGkerk se hoge-drawende here-17 (en die opkomendes soos Gerhard Bothma van Bandor park ook wat in die syspoor wag met brandende ambisie) die moeite sal doen om dit te verstaan, want ek dink hulle sal bang wees hulle sit die pot mis en dan snoeker jy hulle iewers op ‘n punt waarop hulle nie bedag was nie… Dalk is ek verkeerd? Kom ons wag en sien, Maar ek hou nie asem op nie.. Nietemin, ek stem saam oor jou opmerking oor Thomas a la Kempton Park vs Teilhardt-die-Sardyn.. Maar uit my perspektief was Thomas a K47 die deur vir die mistieke basis wat gelei het tot die dwaling van evolusie waarin TdC homself ingedink het. Die twee loop mos altyd saam: mistiek en evolusie. Hulle het mekaar nodig, anders moet jy draai na die enigste ander alternatief, en dit is die Skepper-God wat mens geword het in Jesus die Christus vd Bybel (nie die een wat jy in die mistiek ontmoet nie – dis ‘n ander ene daai, genaamd die een wat hom voordoen as die Engel vd Lig.. en volgens die laaste Alg Sin is dit ook nie nodig om te glo dat hy rerig is nie.. Dis nou hoe die mistiek jou lei, jy weet..)