Hannes Koornhof, Kerklos-Lina se Eks-Leraar, skryf ‘n mooi briefie in Rapport waarin hy haar vaarwelsê betreur.

Die brief verwar my.

Is Hannes jammer Lina is uit die NG kerk of is hy jammer dat sy haar geloof in Christus verloor het? Die tweede is hartverskeurend. Die eerste is nie die moeite werd om huis toe oor te skryf nie.

Die probleem is Hannes spesifiseer nie wat hy bedoel nie. Dit lyk vir my dit gaan vir hom om die eerste.

Brian McLaren, wie hy hier aanhaal, het lankal die Christelike geloof vir liberalisme verruil. Ek wonder of Hannes McLarenisme aanhang en preek?

Kyk wat sê Kevin DeYoung daaroor:

In McLarenism there is no original sin, no wrath, no hell, no creation-fall-redemption, no definite future, no second coming that I can see, no clear statement on the deity of Christ, no mention of vicarious substitution or God’s holiness or divine sovereignty, no ethical demands except as they relate to being kind to others, no God-offendedness, no doctrine of justification, no unchanging apostolic deposit of truth, no absolute submission to the word of God, nary a mention of faith and worship, no doctrine of regeneration, no evangelistic impulse to save the lost, and nothing about God’s passion for his glory. This is surely a lot to leave out. 

McLaren’s Christianity is not new and certainly not improved. I don’t believe you can even call it Christianity. It is liberalism dressed up for the 21st century. We can only hope this wave of liberalism fades as dramatically as did the last. 

http://thegospelcoalition.org/blogs/kevindeyoung/files/2010/02/Christianity-and-McLarenism.pdf

Miskien, as die kerk Jesusisme in plaas van McLarenisme verkondig, sal minder mense hulle geloof verloor…

Kerk aan Lina: Ons sing uit dieselfde boek

2013-04-13 23:54

Hannes Koornhof

Die digter Lina Spies sit drie weke gelede op dié blad die redes uiteen waarom sy as lidmaat van die NG Kerk bedank.

Ons, as kerkraad van die NG Moedergemeente op Stellenbosch, het haar bedanking ontvang en sal dit in ooreenstemming met haar versoek hanteer.

Al is sy, soos sy self bevestig, jare lank al “buitekerklik”, is ons opreg jammer dat sy by die punt gekom het om haar bande met die kerk ook amptelik te verbreek. Veral omdat die regstreekse oorsaak van haar ongelukkigheid die Kerkbode se hantering van die Woordfees-gesprekke is – ’n ongelukkigheid wat ons juis met haar deel.

Dit is nogal ironies dat, op dieselfde Sondagoggend dat haar “bedankingsbrief” in Rapportverskyn het, een van haar Liedboek-berymings as deel van die oggenddiens in die kerk gesing is!

Kritiek op kerke in die algemeen en spesifiek die NG Kerk is deesdae nie skaars nie. Feitlik deurlopend word mense se ongelukkigheid met die NG Kerk in die media verwoord – sommige kere feller en meer luidkeels as ander kere.

Dit is vir baie lidmate in die NG Kerk ’n slegte ervaring – veral vir lidmate in gemeentes waar hul ervaring van die kerk die teenoorgestelde is as dié van die briefskrywers.

Ons het die behoefte om as kerkraad die volgende te sê:

Baie van die kritiek wat uitgespreek word, is uiteraard geregverdig. Daar word dinge in kerke en gemeentes gedoen en gesê – ook in NG kerke en gemeentes – wat nie strook met die evangelie wat verkondig word nie. Ook in ons eie gemeente se geskiedenis is daar dinge waaroor ons hartseer en selfs skaam is. Genadiglik glo ons in “die God van tweede kanse en oorbegin”.

Daar is egter ook baie gevalle waar die kritiek teen die kerk ongenuanseerd en veralgemeen is. Te dikwels skiet mense strooipoppe af wat hulle 20 jaar gelede oor die kerk gevorm het, maar wat glad nie meer geld vir waar die kerk en gemeentes nou is nie.

Die kerk van Jesus Christus leef in gemeentes. Dit is noodwendig so dat besluite van kerkvergaderings die grootste publisiteit kry en dat mense dus die fout kan maak om die kerk net daaraan te meet.

Baie belangriker as sulke (goeie en slegte) besluite, is egter hoe geloofsgemeenskappe plaaslik die liefde en genade van God leef en beliggaam. As jy die kerk van Christus êrens wil meet, moet jy dáár gaan meet.

Bybelse geloof is, in die woorde van Brian McLaren in sy boek Finding our Way Again, immers nie “a system of belief” nie, maar “a way of life”.

Die post-Christendom-konteks waarin ons vandag toenemend leef, stel Christelike gemeentes voor nuwe werklikhede.

Een daarvan is die feit dat die Christelike geloof openlik bevraagteken word en lidmate ook al hoe meer vrae vra oor dinge wat hulle in die verlede kritiekloos geglo het.

Die uitdaging vir gemeentes is om ’n veilige ruimte te wees waar lidmate hul geloofsvrae en geloofstwyfel kan deel en waar hulle kan ervaar dat dit ernstig opgeneem word.

Christelike geloof is, in die woorde van die ou kerkvader Anselmus, altyd “geloof wat soek om te verstaan”.

In ál minder NG gemeentes sal ’n mens by predikante of lidmate vandag die soort selfversekerde, outoritêre geloof vind waarteen dikwels kritiek uitgespreek word.

Wat Ockert Meyer in Die groot gebedeboek oor die kerk bely, is ook ál meer lidmate se bevrydende ervaring: “Ek glo in die kerk, die gemeenskap wat hunkerend en huiwerend ’n weg in die wêreld soek, maar wie se kreupelheid en swakheid die krag en die ­seën van die wêreld is.”

So ook dit wat Wilhelm Jordaan bely in sy Blydenuus van die geloof: “Ek glo aan die gemeenskap van stukkende sondaars wat kniel voor die heiligheid van God. Ek glo aan die vergiffenis – dat genade altyd groter is as my sonde en geskiedenis.”

Ons nooi daarom in beskeidenheid mense wat die kerk reeds afgeskryf het uit om miskien weer te gaan kyk – en lank genoeg te bly kyk.

Dit mag net wees dat hulle in die plaaslike gemeente ’n ander soort kerk vind en ervaar as wat hulle gedink het – ’n kerk wat wil insluit en nie uitsluit nie; ’n kerk wat nie wil veroordeel nie, maar versorg; ’n kerk wat hartseer is oor die talle mense wat hy in die verlede gemarginaliseer het en wat nou opreg probeer om dit anders te doen; ’n kerk wat die historiese konteks van die Bybel ernstig neem en deurlopend probeer om dit te vertaal vir die tyd waarin ons leef.

As kerkraad sal ons nog meer moeite doen om gespreksforums te help skep wat veilige, nie-veroordelende ruimtes is vir wie ook al behoefte het om te praat oor God, die Bybel, geloof en die kerk.

Dr. Hannes Koornhof is leraar by die NG Moedergemeente, Stellenbosch, en skryf hier namens die hele kerkraad.