Beste Ds Mouton
U brief vandag in Rapport verwys.
http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/Ons-wou-nooit-iets-wegsteek-20130316
Ek is baie bly oor die volgende stelling wat u maak:
“Ons is oortuig dat ons optrede rondom die Woordfees, en sedertdien, gemotiveer is deur getrouheid aan die evangelie van Jesus Christus. Moenie die leuen glo dat dit uit verkramptheid of konserwatisme gebore is nie. “
Ek glo dit plaas ons aan die selfde kant van die draad. Ons veg aan dieselfde kant.
Ek wil na aanleiding van hierdie aanhaling een stelling maak en dan aan u ‘n paar vrae vra.
Die stelling is as volg: Die probleem by Kerkbode en Bybel Media is ‘n teologiese probleem en nie ‘n bestuursprobleem nie.
My vrae is as volg, en ek sal dit waardeer as u dit in die openbaar kan antwoord.
- Jean Oosthuizen het eksplisiet ‘n persoonlike getuienis gelewer in sy boek “Hier Staan Ek” wat onverenigbaar is met die geloofsbelydenis van die kerk vir wie hy gewerk het. Waarom is hy toegelaat om as woordvoerder op te tree vir ‘n kerk terwyl hy nie dié kerk se boodskap, wat hy moes verkondig, geglo het nie?
- Kerkbode het vir langer as ‘n jaar Dr Abel Pienaar se boeke direk, en later indirek via die heidense New Age uitgewer Griffelmedia en Boekblik op hulle webwerf adverteer, en so die NG Kerk se goedkeuring verskaf aan hulle godslasterlike publikasies. Waarom is dit toegelaat?
- Dr Pieter Fourie het onlangs in Kerkbode ‘n artikel publiseer waarin hy die bestaan van die hemel en die persoonlike voortbestaan van die mens na die dood ontken. Hierdie is basiese premisse van die Christelike geloof. Is Bybel Media se direksie bewus daarvan dat hy skynbaar die belydenisskrifte van die kerk wat hy verteenwoordig verwerp, en wat word op die oomblik daaraan gedoen?
- Bybel Media het onlangs ‘n boek van Jaap Durand publiseer waarin die dwaalteologie van Teilhard de Chardin, ‘n beroemde panenteïs (hy het hom self ‘n “Christelike panteïs” genoem), verkondig word. Is Bybel Media se direksie bewus van die feit dat Bybel Media boeke publiseer en en by NG Kerk lidmate aanbeveel wat die Evangeliese wêreldbeeld verwerp ter wille van ‘n heidense wêreldbeeld wat die mens verhef tot God?
Ds Mouton, u sê in u brief dat die direksie van Bybel Media nooit iets wou wegsteek nie. In die lig van hierdie verklaarde openheid en eerlikheid aan u kant versoek ek u dringend om hierdie vrae hier in die openbaar te antwoord.
Groete
Wynand Louw
NS: Ek pos hierdie brief na die persoonlike eposse van al die belanghebbende persone. Dr Mouton sal dus weet van die brief sodra hy sy epos oopmaak. Ek wil ook noem dat hierdie nie “liefdeloos” is nie aangesien die sake wat ek hier aanraak sondes is wat erge openbare aanstoot gee. Die Mattheus 18 prosedure geld dus nie, soos duidelik in die Kerkorde uiteengesit.
‘Ons wou nooit iets wegsteek’
2013-03-16 23:51
Danie Mouton
Die gebeure van die laaste paar weke náKerkbode se besluit om te onttrek as borg van twee gesprekke by die Universiteit van Stellenbosch se Woordfees het baie reaksie en kritiek uitgelok.
Dit het vanselfsprekend ook baie druk op die personeel van die Bybel-Media-groep (BM – onder meer die uitgewers van Kerkbode) geplaas – soos geïllustreer in die berig in Rapport verlede naweek oor kwetsende briewe wat in die maatskappy die ronde gedoen het.
Ons as direksie en ek as voorsitter is maar te bewus van dit alles. Ons het baie groot waardering vir die ongelooflik goeie werk wat deur ons personeel op soveel terreine gelewer word.
Ons as direksie wil graag in alles beredeneerd en verantwoordelik optree. Van die kommunikasie in die verlede is gekritiseer. Daar was egter nooit by ons die bedoeling om enigiets weg te steek, te verdraai of weg te praat nie.
Die direksie is almal mense uit verskeie agtergronde wat vir die liefde van die saak ons deel bydra om van die organisasie ’n sukses te maak. Niemand word betaal vir die addisionele pligte en groot verantwoordelikhede wat ons ingevolge die maatskappyreg op ons neem nie.
Ons is egter deeglik daarvan bewus dat daar individue is wat die debat om ons onttrekking van die Woordfees gebruik om die NG Kerk, die BM-groep, Kerkbode en sekere individue binne dié strukture by te kom.
Ons probeer om met goeie korporatiewe orde op te tree binne die raamwerk van ’n paar maatskappye wat elk sy eie spesifieke rol vervul binne die mediabedieningsveld. Dit doen ons in goeie orde en alle maatskappye is volledig onderworpe aan jaarlikse oudits en verslagdoening aan die algemene sinodale moderamen (ASM) en die algemene sinode.
Dit is met trots dat ons gereeld oor ons werksaamhede rapporteer en al die goeie korporatiewe ordemaatreëls is ook in ons akte van oprigting vervat. Volgens ’n onlangse ouditverslag is die wyse waarop die finansies in BM bestuur word ’n voorbeeld vir soortgelyke niewinsgewende organisasies.
Ek het vroeër daarna verwys dat een van ons personeellede onlangs twee briewe omgestuur het waarin aantygings gemaak word wat ons onverhoeds betrap het en waaroor sedertdien ook in die pers berig is.
Ons is baie hartseer oor die moontlike skade wat dié briewe en ongetoetste bewerings aan die organisasie se beeld kan doen. Ons as direksie het onmiddellik die hulp van ’n professionele konsultant ingeroep met die versoek om aanbevelings te maak sodat ons personeel voortaan ook gelukkig kan werk. Ons bedank ons personeel van harte vir die wyse waarop hulle met haar saamgewerk het en ons is bemoedig deur hul ondersteuning vir dié inisiatief.
Ons personeel is die grootste enkele bate van ons maatskappy. Ons vertrou dat rustigheid en vreugde binnekort sal terugkeer. Ons wil graag leer uit wat gebeur het en op die regte manier vorentoe gaan. Vir ons is dit noodsaaklik dat elke personeellid tuis moet voel in ’n gelukkige werkomgewing.
Sedert die onttrekking van Kerkbode se borgskap aan die Woordfeesgesprekke is die maatskappy toenemend die teiken van ’n venynige media-aanslag.
Ons is gereed om die maatskappy deur hierdie donker tyd te bestuur. Ons doen dit deur gebed, afhanklikheid van die Here, die raadpleging van die regte mense en verstandige besluite.
Ons is oortuig dat ons optrede rondom die Woordfees, en sedertdien, gemotiveer is deur getrouheid aan die evangelie van Jesus Christus. Moenie die leuen glo dat dit uit verkramptheid of konserwatisme gebore is nie.
Ons wil leef as kinders van ’n liefdevolle Vader, verlos deur die bloed van Jesus Christus, bekragtig deur die Heilige Gees. Dit doen ons in ’n eietydse idioom en dinamiese styl. Ons produkte bewys dit en getuig van die hoop wat in ons leef.
Die afgelope week het ek en die moderamen van die algemene sinode bymekaargekom. Ons het al die tersaaklike dokumente sedert ons onttrekking aan die Woordfees vooraf tot hul beskikking gestel en die moderamen het dit onafhanklik deur sy eie interne prosesse geëvalueer. Dinsdag het hulle hul volle vertroue in die direksie en uitvoerende bestuur uitgespreek.
Dit beteken nie dat die gesprek hiermee hoef op te hou nie. Ek as voorsitter en my mede-direksielede is deurlopend beskikbaar – vanselfsprekend op ’n geordende wyse. Ek stel voor dat daar regstreeks met my gesels word en ek sal enige van die ander direksielede betrek waar nodig.
Uiteindelik behoort BM aan die Here. Ons is getuies van die Here se liefde en genade. Mag die Here verheerlik word deur alles wat ons doen.
* Ds. Danie Mouton is voorsitter van die BM-direksie.
janenamor said:
Dis geldige vrae as Danie praat van:
“getrouheid aan die evangelie van Jesus Christus” en
“Ons wil leef as kinders van ’n liefdevolle Vader, verlos deur die bloed van Jesus Christus, bekragtig deur die Heilige Gees.”
Daar is goed wat ons net nie bymekaar kan bring by TM en die NG Kerkleiding in die algemeen die afgelope jare nie. Vrae hieroor is die afgelope jare aanhoudend ontwyk.
hierstaanek said:
Janenamor, ons wag in spanning op Ds Mouton se antwoorde. Ek hoop hy sal die integriteit hê om nie net stil te bly nie.
Henrietta Klaasing said:
Hierdie is maar net die wrange vrugte van jarelange swak en/of eensydige kommunikasie van NGK leiers en amptenare se kant soos duidelik uitgewys in die hoofstuk “Ongelyke speelveld?” in ons boek “Die Trojaanse perd in die NG Kerk” wat juis daaroor gaan. Daar is ook talle voorbeelde op ons webwerf, http://www.glodiebybel.co.za .
Gideon Aggenbag said:
Geldige en nodige vrae, Wynand.
Vraag “3.”: Is Pieter Fourie lidmaat van die NG Kerk?
Jou vraag bly egter nog steeds geldig aangesien die artikel in Kerkbode verskyn het en dus verteenwoordigend v.d. NG Kerk.
T.C.Breitenbach said:
Wynand, dink jy dat jy ‘n antwoord te wagte kan wees gegewe die troebel vaarwater waarin die “NG Kerkskip” die afgelope tyd in vaar?
Louis van Jaarsveld said:
Wie weet? Die Here, want Hy’t ‘n sonar wat troebel waters vir Hom verhelder, om visse raak te sien wat ek jy nie met die blote oog sou raaksien nie.
Jaco Steyn (@JacoSteyn123) said:
Wie van julle glo nog steeds dat die NG Kerk se teologies-liberale “skip” op “troebel vaarwater” vaar na Ferdie “Jesus het waarlik fisies opgestaan” Mulder se onlangse brief http://www.beeld.com/MyBeeld/Briewe/Hoop-vir-NG-Kerk-vlam-na-7-jaar-op-20130320 in Beeld? Nog ʼn goeie voorbeeld van die NG Kerk wat oënskynlik besig is om meer teologies-konserwatief te raak. Ons behoort teen die einde van hierdie jaar te sien in watter opsigte die NG Kerk polities meer linksgesind geraak het deur die moontlike aanvaarding van die Belhar Belydenis as amptelike vierde belydenisskrif. So word kerklidmate gedurig mislei en geïndoktrineer deur die kerkleiers…
Louis van Jaarsveld said:
Jaco, jou beleid is dalk om niks meer te doen as om diegene wat jy as deel van die konserwatiewe regse fariseërskool sien, die josie in te probeer maak vir die liberale linkse sadduseërskool nie. Dalk draai jy jou mantel na die wind by die links-evolusionêre sadduseërs ook, want jy staan baie nader aan hulle. Jy noem die verdeling tussen regs en links in jou ‘geloofsbelydenis’ onoorbrugbaar. In ‘n sekere sin is jy reg, want hulle het in afsonderlike groepe met Jesus kom praat. Verdeel en heers, is jou benadering daarenteen blykbaar – en dan gaan neem jy as ‘heer’ sommer self plaas in jou ‘wolkie-sfeer’ van slimstories en spookstories. Wil jy regtig vir jouself vertel jy is god om vir jou ‘n eie geloofsbelydenis te ontwerp wat in teenstelling met die skrifte is?
Het jy enige benul dat daar ‘n derde groep van dissipels bestaan, wat uit hul gevangenskap aan enige skoolse politiek vrygemaak is? Hulle bou nie soos die fundamentaliste op hulself as fondament nie, omdat hulle agtergekom het dat net die historiese Jesus vir altyd en altyd ‘n mens se fondament kan wees. Dit gaan nie vir hulle in die lewe oor ‘n NG-gemeente nie, maar oor wie daar (en waar ookal) aan die eintlike gemeente van Christus behoort. Dit maak hulle vryer om na enige sondaar of tollenaar onder die son uit te reik; vryer as wat enige liberalis ooit kon droom om te wees. Want die sogenoemde liberaliste by die tempel het nie lank gesloer om onverdraagsaam te raak nie.
Wil jy jouself regtig nog tot ‘god’ verklaar? Laat ons dan sien hoe jy liggaamlik die hemele invaar?! Of kan jy wel onthou wat met Herodes gebeur het na hy homself laat vlei het dat hy ‘god’ is (Hand 12)?
Uit jou ‘geloofsbelydenis’ kan mens nog net agterkom dat jy as seepgladde gnostikus oor die twee skole probeer heers, maar dis ou nuus met veral die afgelope twee eeue se veronderstelde verligting. Anders as die heidense Plato of Aristoteles, was Jesus van Nasaret egter heel gewoon sonder aansien en agting deur die geleerdes van sy tyd (Jes 53). Dis juis wat buitengewoon was aan Sy boertige gelykenisse vir gewone ouks soos ons, en waardeur party mense in sy tyd die eerste keer kon agterkom dat Hy eintlik in ‘n ander klas is. Hy het heel anders as die skrifgeleerdes en fariseërs gepraat, asof daar ‘n ander gesag agter sy woorde was (Mat 7: 28, 29). Vir die slim en geleerde mense was dit egter weggesteek dat God se woorde aan die profete nie versand het nie. Ja, vir die eerste keer het die linkse materialiste die regse fundamentaliste in die Raad se ore gestreel om ‘die volk’ as geheel gered te kry. En om in die proses mantel te swaai, en absoluut wetteloos op te tree (Dan 9: 27).
Net Nikodemus en Josef het meer van ‘n oor gehad: dat dit die reine waarheid was dat dit beter is een man sterf as wat al die Judeërs ondergaan. En so was daar uit beide die fariseërskool en die sadduseërskool almeer mense wat, na die beloofde Messias se lankvoorspelde kruisiging en opstanding, op die punt gekom het om hulle eiewysheid te kruisig, en die voorreg te hê om deel van Gódsvolk te wees. Geen mitiese of legendariese figuur uit die ‘gode’-pantheon van Noag se tyd, oftewel die spotters, kon ooit hul voete soos Hy op die aarde hê nie. Vele mense het getuig dat hulle Jesus in lewende lywe as Here gesien het, aan Hom gevat het, na Hom geluister het. Hy is die Lig self – in teenstelling met die engel-van-die-lig wat homself in hoogmoed verhef het.
Het jy die video hierbo van die links-lesbiese professor gekyk – van hoe sy teen die ‘religious right’ wou reageer, en die baba saam met die badwater uitgegooi het? Teenoor al jou gelerentheid, herinner jou naam mens eintlik aan Jaco-bus, die broer van Jesus, wat by uitstek ‘n daadgelowige was.
Do you then still wanna be a rebel – without a cause? Ja, ‘n kneg soos Paulus het ook so tong in die kies die fariseërs en sadduseërs in die raad mekaar in die hare laat vlieg. Maar Paulus het ‘n ‘cause’ gehad: dis oor die hoop op die opstanding dat hy verhoor word, kon hy as (omgedopte) fariseër en seun van ‘n fariseër sê (Hand 26: 3). Net op intellektuele vlak sal mens geen saak na behore kan uitpluis nie. Paulus het nie net –ismes of idees soos die filosowe geken nie. Die aanvangswoorde van Jesus, toe sy glorie nog verskuil was, was alreeds: “Bekeer julle, want die koningsheerskappy van God het naby gekom!”
Werklike wins was nie vir Paulus om te roem daarop dat hy ‘n fariseër uit die fariseërs sou wees nie, maar om hom na Jesus Christus, sy Here, te keer (Fil 3).
hierstaanek said:
Louis, Jaco is so gemaklik in sy selfaanbidding en selfbewondering van sy eie gnosis, dat ons hom nooit sal oortuig nie.
Jaco, ek daag jou uit om Rosaria Butterfield se boek te lees. Nee, nie omdat dit jou sal bekeer nie. (Sy kan dit nie doen nie) maar omdat dit jou vooroordele en netjies uitgewerkde katergorieë sal laat wankel.
Sy was lank ‘n “church stalker” soos jy ook nou is. Jy het baie met haar (dis nou Voor Christus) in gemeen.
Toe, ek dare jou.