Jean Oosthuizen, Abel Pienaar en ander is lief om te verkondig dat mense wat rasioneel en krities dink nie meer die Bybel kan glo nie. Hulle is natuurlik hierin navolgers van Richard Dawkins, wat ateïste “Brights” noem. Met ander woorde: As jy die Bybel glo is jy so ‘n bietjie dom. As jy al aanbeweeg het is jy “Bright” – slim.
Prof John Lennox van die Universiteit van Oxford sê dis twak: Mense verwerp Christus nie omdat die wetenskap daarteen getuig nie, maar omdat hulle uit die staanspoor God se bestaan wil ontken, of soos in die geval van Abel Pienaar en ander panenteïste, hulle self wil verhef tot god.
Lennox het al drie keer met Richard Dawkins debatteer. Ek het een van die debatte op video gekyk, en ek moet eerlik wees, ek kry sommer skaam vir die “Bright” Dawkins. Lennox sit vir hom ore aan. Reg rondom. Van voor en van agter.
Lennox het hierdie week by Universiteit van Kaapstad opgetree. Kyk wat sê hy van Hawking, een van die slimste manne van die vorige en hierdie eeu:
“Hawking’s notion that a law of nature – gravity – explained the existence of the Universe was contradictory, since a law of nature depended on the prior existence of the nature it purported to describe.
He (Lennox) said nonsense remained nonsense, even when it was talked by world-class physicists.”
Selfs wêreldklas fisici praat soms twak, en twak bly twak.
Lees die verslag van Lennox se lesing by UCT hier.
Attie Louw said:
Wynand
Ons moet sekere van die NG Kerk teoloë maar vergewe. Hulle kar se wiele is besig om af te val. Hulle is soos die Roomse teoloë van 1615 wat Galileo Galilei in weerwil van al die empiriese getuienisse gedwing, het om sy stelling dat die son om die aarde draai terug te trek. Die tyd van die neo-Darwinisme en die fisikalisme (die wêreldbeeld dat alles in die heelal niks meer as die fisiese is nie en dat alles na fisiese wette reduseer kan word) wat daarmee gepaard gaan is vinnig besig om op ‘n einde te kom.
So het ‘n ateïstiese filosoof verlede jaar ‘n boek gepubliseer met die veelseggende titel van “Mind and Cosmos. Why the materialist neo-darwinian conception of nature is most certainly false” . Ek haal aan: “Physico-chemical reductionism in biology is the orthodox view, and any resistance to it is regarded as not only scientifically but politically incorrect. … The more details we learn about the chemical basis of life and the genetic code, the more unbelievable the standard historical account becomes. …. but it seems to me that, as it is usually presented, the current orthodoxy about the cosmic order is the product of governing assumptions that are unsupported and flies in the face of common sense. … It is prima facie highly implausible that life as we know it is the result of a sequence of physical accidents together with the mechanism of natural selection. … My skepticism is not based on religious belief, or on a belief in any definite alternative. It is just a belief that the available scientific evidence, in spite of the consensus of scientific opinion, does not in this matter rationally require us to subordinate the incredulity of common sense. That is specially true with regard to the origin of life.” (Kindle uitgawe loc. 75 – 99)
Ek sal my eie argument hier weergee. Volgens die neo-darwisme het ons ‘n ontwikkeling van die mees eenvoudige atomiese na die mees komplekse, van subatomistiese deeltjies in die oerknal na die menslike gees. Die lewe en die gees ontluik of is emergent vanuit die fisiese. Daar is egter in hierdie idee ‘n blatante teenstrydigheid. Ons kan dit as volg stel.
Ons het aan die een kant die sentrale dogma van die lewe van Francis Crick (wat saam met Watson die struktuur van die DNA uitgewerk het) en aan die ander kant die sentrale dilemma van die lewe. Volgens die sentrale dogma van die lewe is die DNA die basis en die begin van alle lewe. Ons kan enige lewe (soos in die fliek Jurassic Park) teoreties skep as ons die DNA tot ons beskikking het. Die lewe en die gees het bloot vanuit die fisiese ontluik. Die fisiese is ontologiese en tyds primêr.
Die probleem is dat ons aan die ander kant die sentrale dilemma van die lewe het. Lewe as sulks, soos in die sel, organiseer sy eie fisiese substraat binne die ruimtelike grense van die fisiese organisme. As die fisiese ontologies en tyds primêr is, hoe is dit moontlik dat die lewe as sulks daar kan wees om die fisiese te organiseer. Die lewende organisme as lewe is ontologiese primêr, terwyl die lewende organisme as lewe en sy onderliggende fisiese substraat in tyd gelyktydig is. Hierdie eenvoudige feit is empiries verifieerbaar en nullifiseer die sentrale dogma van die lewe.
Die neo-darwinisme vind in snaakse plekke neerslag, soos in die proses teologie en in panenteïsme. Volgens Thomas van Aquino het God as Skepper Sy spore in die skepping gelos. Een van daardie spore is ‘n ekonomiese ongelykheid tussen die ontologiese vlakke van die skeppingsorde, waar ‘n hoër vlak die laer vlak onder hom rig en orden. Dit is, soos ek reeds gesê het, empiries verifieerbaar. Om jou Godsbeeld hierop te baseer is pure malligheid. As teoloë soos Muller en Niemandt reg is, dan het ek as ‘n fundamentalis niks verloor nie, aangesien die hel dan net ‘n hersenskim is. Maar as die Bybel reg is is die gevolge ontsettend met die hel as hulle voorland. Die keuse is eenvoudig, daar is inderdaad geen keuse nie!
Henrietta Klaasing said:
Op die professor se vraag is my antwoord : NEE. Hier is waarom: Die Bybel is nie ’n gewone boek nie. In die eerste plek is dit nie mense-woorde oor God nie, maar die Woord van God. Daar is ’n transendente werklikheid waarbinne geloof in God en Sy Woord figureer. Baie fisiese wetenskaplikes soos Hawking en Dawkins verskraal die werklikheid en maak aanspraak dat net hulle “werklikheid” bestaan, nl. die rasionele, dit wat met die sintuie waargeneem kan word, net dit wat op hul manier bereken kan word: geweeg, getel, gemeet kan word .
Baie van wat in die Bybel staan, kan nie rasioneel verklaar word nie – daarvoor is geloof nodig, soos ons lees in Hebreërs 11 v 1 tot 3 ( sien dele in hoofletters):
“Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, OM OORTUIG TE WEES VAN DIE DINGE WAT ONS NIE SIEN NIE. Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is. Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is: DIE SIGBARE DINGE HET DUS NIE ONTSTAAN UIT IETS WAT ONS SIEN NIE.”
Kobus vd Merwe said:
Ek weet nie of Prof John Lennox in tussen van posisie verander het nie, maar op ‘n vorige geleentheid (in ‘n debat met oorle Christopher Hitchens) is die vraag aan hom gestel of hy nie in die letterlike 6 dae skepping glo nie. Hy het lank getalm om te antwoord, maar dit het daarop neergekom dat daar nie noodwendig in Genesis 1 en 2 gepraat word van die letterlike 6 dae nie.
Ek verstaan dus dat hy ‘n teistiese ewolus is.
Sy debatte is in die algemeen baie leersaam in hoe hy sy skeptici behandel (met logika en beredenering), maar tog blyk hy ook ‘n kompromis tov die Bybel te he.
Ek voel jou benadering tov van die vraag wat die Prof gestel het is raak. John Lennox het nog nie die implikasie van sy geweegde rasionaliteit van sy geloof (of die geloof) genoegsaam oordink nie.
Het God die metodes van mense nodig gehad om te skep? Moes God op so ‘n wyse skep dat die 20ste en 21ste eeuse wetenskaplikes “gemaklik” daarmee wees? Vir my lyk dit asof die Prof van mening is dat die verstaan van die metode van skepping die uitsondering is op sy rasionaliteit vir geloof.
God het van uit niks geskep, die “hoe” word verduidelik in die Bybel in ‘n sekere mate, die koppeling tussen mense kennis op ‘n gegewe tydstip met dit wat in die Bybel staan, dit is die geloof gedeelte.
Indien die Bybel nie akkuraat en onfeilbaar is nie, kan die Bybel nie as die Woord van God bekend staan nie.
As die Bybel nie akkuraat en onfeilbaar is tov die skepping nie, hoe akkuraat en onfeilbaar is dit tov die redding?
hierstaanek said:
Kobus
Ek weet nie wat Prof Lennox glo oor die ouderdom van die aarde nie. Hy is sover ek weet, uiters uitgesproke teen evolusie, soos duidelik uit sy debatte met Richard Dawkins blyk. Dit beteken egter nie dat hy noodwendig glo in ‘n 24 uur sesdag skepping nie. Daar is verskeie geloofshelde wat verskil het van die 24 uur sesdag idee. Calvyn het byvoorbeeld nie geglo dat biologiese dood die gevolg van die sonde was nie, maar slegs ewige en spirituele dood. John Piper glo nie dat die ses dae noodwendig ses 24 uur dae was nie.
Ek het vanoggend ‘n kerkdiens van Prof Lennox persoonlik bygewoon. Hy het gepreek uit Johannes hoofstuk een, en die kragtigste bekeringsboodksap gebring wat ek in ‘n lang tyd gehoor het. Hy het onder andere ook gepraat oor die Woord wat geskep het.
Daar kan by my absoluut geen onsekerheid wees dat Prof Lennox ‘n geesvervulde wedergebore kind van God is nie.
Kobus, of jy glo in die verbondsdoop en of jy die verbondsdoop verwerp, of jy ‘n Calvinis of Armeniaan is, en of jy glo die ses dae van die skepping was 144 uur en ses planeet rotasies of dalk Goddelike dae (onthou God staan buite tyd) maak geen verskil aan jou verlossing nie.
Soos ek sê ek weet nie wat Lennox dink oor die 144 uur van die skepping nie. Wat ek wel weet is ek gaan beslis nie vir iemand soos John Piper afskiet omdat hy die verbondsdoop verwerp of dink die aarde is ouer as sesduisend jaar nie.
Paulus het gesê ons moet die dinge onderskei waarop dit regtig neerkom. Ek dink nie die lengte van die skeppingsdae is een van hulle nie.
Liza-Nel Hartmann said:
“St. Augustine (354-430), John Calvin (1509-1564), John Wesley (1703-171), and others supported the idea of Accommodation. In the Accommodation view, Genesis 1-2 was written in a simple allegorical fashion to make it easy for people of that time to understand.”
“The inspired penman in this history [Genesis] … [wrote] for the Jews first and, calculating his narratives for the infant state of the church, describes things by their outward sensible appearances, and leaves us, by further discoveries of the divine light, to be led into the understanding of the mysteries couched under them.”
“Wesley also argues the scriptures “were written not to gratify our curiosity [of the details] but to lead us to God.”7
-Biologos
Kobus vd Merwe said:
Dok, baie dankie vir jou kommentaar. Wat my kommentaar onder bespreking betref, die spasie laat nie toe om die kern volledig te ontwikkel nie.
Ek het niks teen die persoon van John Lennox nie. Hy is ‘n uiters bekwame redenaar en hy dra sy punt baie duidelik oor. Hy is ook op rekord dat die aarde 18 Biljoen jaar oud is. Wat ek nie oor seker is nie, is of hy teen evolusie in die algemeen is, of slegs teen ateïsme is nie. Hy maak dit ook duidelik dat hy in skepping glo. Sonder om ‘n absolute standpunt te maak, kom hy voor asof hy ‘n teistiese evolus is.
Hoe dit ook al sy, daar lê ‘n onoorkombare probleem voor die deur van lang jare. Om lang jare toe te laat, moet die Skrif herinterpreteer word. Vir Prof Lennox is dit maklik, sy redenasie is die van taalgebruik, Hebreeus wat ‘n komplekse taal is en die gebruik van “yom” wat soveel ander insigte kan meebring omdat die woord (of eerder konsep) soveel nuanses het.
My aandag is ‘n tyd gelede gevestig om baie krities te staan teenoor die skynbaar nodigheid om van semantiese argumente gebruik te maak om ‘n posisie te verklaar. Die gevaar kom in by die afhanklikheid aan die argument, eerder as om die argument as deel van ‘n groter verduideliking te gebruik. Semantiese argument kan gewoonlik nie die konteks toets slaag nie.
Die ander probleem wat voor lang jare lê, is die nodigheid vir lang jare. Waar en wanneer het dit bekend geword dat lang jare nodig is? Watter proses of gebeurtenis is uitsluitlik afhanklik van lang jare? Watter proses is onmoontlik sonder lang jare? Die enigste meting van lang jare is die vele tipe radiometriese datering. Hierdie metings metodes was almal al onder hewige kritiek en word slegs onder die beheer van uiterste kwalifikasies gebruik. Daar is ook al baie duidelike kritiek teen meting metodes tov rots datering gemaak, waar byvoorbeeld helium wat maklik ontsnap, nog in oormaat beskikbaar is in “ou” rotse.
As ons eerlik is, dan weet ons dat ons nie genoeg weet van wat “oud” is nie en hoe om dit akkuraat te meet nie. Ons kan slegs miljoene jare in konteks van evolusie gebruik, op geen ander manier nie. Daar is geen rekord van miljoene jare nie en die konsep word gebruik om prosesse te probeer verklaar en nie as bewys dat soveel jare al verloop het nie.
Wanneer ons na DNS kyk, het ons ‘n probleem met tyd. Ons het tyd van “onmiddelik” nodig. Die DNS het protien nodig en die protien het DNS nodig. Die kodering in die DNS van toekomstige prosesse, is reeds vasgelê voor die kennis van daardie prosesse. ‘n Klassieke eier-en-hoender scenario.
Tyd los nie hierdie dilemma op nie. Inteendeel, dit is ‘n argument teen lang tyd.
As ons die Bybel lees sonder herinterpretasie, raak dit onvermydelik om die kwessie van tyd in Genesis 1 tot 3 in te bring (of vir enige tyd kwessie regdeur die Bybel). As miljoene jare waar is, het God ‘n wereld geskep wat nie goed was nie (dood en verwoesting voor die sondeval), maar God het dit goed genoem. Was dit die “beste” wat God kon doen (volgens lang jare)? Adam en Eva was dan geskep op die grafte van klomp “mislukkings” van God. Dit kan tog nie. Die kern doktrine van dood agv sonde, gaan hier nie die logika toets slaag nie.
As ons die argument gebruik dat God evolusie gebruik het om mee te skep, watter deel van die skepping is dan deur God geskep? Watter stukkie van skepping word aan God opgedra, terwyl Hy beweer Hy het alles (sienlike en onsienlike) geskep uit niks nie? Die “wetenskaplikes” verklaar dat geen proses God nodig het nie, en dat ‘n godheid ‘n emosionele evolusie van die mens se behoeftes was. Geen God van die Bybel nie.
God het nie tyd nodig om te skep nie. Skepping is juis so uniek. God het nie Adam geskep as ‘n embrio nie, ook nie as ‘n baba nie, ook nie as ‘n tiener nie, maar volkome volwasse. So is die hele skepping volwasse geskep, geen nodigheid van miljoene jare nie.
As ons die Bybel lees vir wat daarin staan, van eerste tot laaste bladsy, dan is daar ‘n deurlopende universele boodskap en kruisverwysings tussen konsepte wat onderling verduidelikend is.
Wanneer die Bybel herinterpreteer moet word, dan begin ons wonder oor wat die boodskap bedoel, en watter mens se verklaring die beste vir my is, wat dan nie ‘n universele boodskap is nie.
Wanneer plek gemaak moet word vir miljoene jare in Genesis, word daar ‘n baie groot vraagteken geplaas op God se vermoëns, asook Sy interaksie met die mens in die res van die Bybel, terwyl alles veronderstel is om te wys na die redding in die Here Jesus Christus (die Skepper).
Dit is my standpunt dat die lengte van skeppingsdae belangrik is.
Louis van Jaarsveld said:
‘n Kern-fisikus soos Russel Humpreys se voorstel is dat die radio-aktiewe verval méér kon gewees het tydens die eerste skeppingsweek, en sedertdien konstant gebly het (in elk geval gewoonlik konstant gebly het). Daar is sekere getuienis in daardie rigting by radio-halo analises, maar dit is nog voorlopig (bron: Jonathan Sarfati – Refuting evolution, p 110). Nie een van ons was daar nie, en ons ken net ten dele. Ons kan net ons Skepper se volmaakte woord aanvaar van wat als in die eerste ses dae gebeur het.
Kobus vd Merwe said:
Louis, ek dink ons stem saam. Dit wat God vir ons se in Genesis ivm die skepping is volmaak om die skepping te verstaan. Om lang tydperke in te bring is onnodig, want dan word God se Woord bevraagteken.
My punt is juis dat Dr Lennox nie die Skepper se woord aanvaar soos gegee in Genesis en verstaan deur beide Drs Humphreys en Sarfati. Dr Lennox se boek “Seven days that divide the World” het juis die doel om te probeer voorgee dat Humphreys en Sarfati die teks in Genesis misverstaan. Tog is Lennox nie baie dogmaties oor sy standpunt nie – lees meer op http://www.apologetics315.com/2011/08/book-review-seven-days-that-divide.html#more
Dit bly my opinie dat die 6 “solar” dae van Genesis is soos in die Bybel vervat en dat dit nie allegorie of poeties van aard is nie. Daar is nie plek vir miljoene jare nie.
Henrietta Klaasing said:
Oor wie “bright” en wie “not so bright” is, kies ek om te glo wat God se Woord sê. Daar is meer verse in 1 Korintiërs 1 maar ek haal net enkeles aan uit die AOV wat dit vir my mooier sê :
“… want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak”.
En ook:
Vers 25: ” Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.”
Vers 27: “.. maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam “
Louis van Jaarsveld said:
H, wat dwaas is by die wêreld (se teoloë), het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat (as slegs natuurwetenskaplikes) swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam. Ek het vanoggend bietjie gelees hoe neerhalend Jean jou in Des 2008 tot Mei 2009 oor Noag se ark behandel het. Het Jean as gevestigde politieke joernalis ooit beide kante van die natuurwetenskaplikes se verskille oor Noag se ark ondersoek? As hy dalk sonder voorveronderstellings die ondersoek doen, sal hy miskien skaam wees oor hoe absoluut on-liberaal hy jou destyds as die swakker vat behandel het? Ons kan net jy-weet-wie daarvoor vra.
hierstaanek said:
Attie, jy is heeltemal reg. Ateïsme is ‘n onhoudbare wêreldbeeld omdat die wetenskaplike getuienis daarteen is. Dié wie deur ateïsme sien en dit verwerp, maar steeds in rebellie teen God wil wees, gaan hulle antwoord vind in proses teologie, soos jy tereg hier opmerk. ‘n Spiritualiteit sonder God, wat hulle god afbring tot op die vlak van dei skepping en die skepping verhef tot god. Ek verbeel my iemand het gesê panteïsme (of dan panenteïsme) is net sexy ateïsme.
Kyk maar na Muller wat homself ‘n post-teïs noem, en Albert Cruywagen (Kempton Parkse NG leraar) wat homself ‘n nie-teïs noem. Hulle glo in ‘n godheid, maar dit is nie persoonlik nie. Dit is vasgevang in die skepping, dit is in die ‘proses” om te “emerge” deur die proses van fisiese evolusie maar ook spirituele evolusie. (Dit is waar die terme “proses teologie” en “emergence teologie” na verwys.) As god nie persoonlik is nie en in die mens se toenemende spiritualiteit uit die skepping ontluik, is die mens in wese die hoogste vorm van god se selfbewussyn. Die mens is in wese god.
En Bybel Media verkondig hierdie (soortgelyke) heidense teologie aktief, sien die boek van Jaap Durand wat hulle onlangs uitgegee het en in Kerkbode adverteer.
Daar ‘n ‘n dun skeidslyn tussen neo-ateïsme en panenteïsme. Beide is vorme van ego-teïsme, die aanbidding van die self.
hierstaanek said:
Henrietta, ek dink jy moet die Prof se video deurkyk.
1) Die idee is nie om die Bybel rasioneel te bewys nie, maar om te bewys dat geloof in die Bybel rasioneel regverdigbaar is. Om te beweer dat geloof in ateïsme meer rasioneel regverdigbaar is is eenvoudig vals. Dit is die punt van my tirade, ook een van die punte wat Lennox in die lesing maak. Geloof in die Bybel is rasioneel regverdigbaar.
2) Hy is baie duidelik dat rasionele denke alleen ons nie kan bring by ‘n verhouding met die lewende God nie. Dit kan slegs gebeur as God Hom self aan ons openbaar, soos hy in die Bybel gedoen het. Dit beteken ek moet op ‘n intens persoonlike vlak met God komminukeer as ek die Bybel wil glo.
Mense soos Abel Pienaar en sy akoliete beweer dat mense wat dink nie die Bybel kan glo nie. John Lennox stel dat mense wat dink juis deur die Bybel die Lewende God kan ontmoet.
Die Heidelbergse Kategismus vraag 21 (My parafrase): Wat is ware geloof?
Antwoord: Dit is eerstens seker kopkennis (rasionele kennis wat deur rasionele denke opgedoen word) en tweedens ‘n vaste vertroue (Verhoudingskennis, dat ek die persoon God ken, liefhet en in alles, vir my hele tydelike en ewige lewe vertrou.)
Louis van Jaarsveld said:
Die aanbidding van Sy nuwe natuur
Ons is tussen duim en voorvinger vanuit klei-sonner-pa-of-ma gevorm:
in die begin was die Woord, kernagtig en kreatief –
oorlat die Woord deur die Gees by God was;
nie om ‘n bom van babilon as huismoles oor ‘n hirosjima te los nie,
maar om in die geordende, beskermde omhulsel van die gemeinte
weer vir ons die lewendige en kragtige aard van Homself te wys:
Wonderbaar, Raadsman, sterke God, ewige Vader, Vredevors.
Die post-moderne ou spoekie kan alleen die skouers ophaal:
die wette waarop ons staatgemaak het, val blykbaar bloot uiteen.
Die wetenskaplike kon ontdek: ons mag die lewe geniet,
vir uitsluitlik een rede: die Lewe het die natuurwette vervul.
Hy was van die begin af, Hy is vandag, en Hy sal vir altyd dieselle wees.
Henrietta Klaasing said:
Ja Louis, ek het deur die jare al erg onder Jean en sy vriende se “tonge” deurgeloop. Hoe het jy geweet waar en waarvoor om te kyk? Jy moes dus geweet het dat ek as “Naomi” op Kletskerk deelgeneem het….
Louis van Jaarsveld said:
Glad en geheel en al nie. Ek het nie voorheen Kletskerk gelees nie. Goed, eenkeer vir ‘n halfminuut, maar toe’t ek aangeblaai. Toe ek dit nou wel onlangs gaan lees, het BaasJean my seker op die verbintenis met Naomi gewys.
Louis van Jaarsveld said:
Liza-Nel hartMann, jy haal hierbo aan hoe die ouens by Biologos vir Wesley, Calvyn en Luther wil nadertrek in die saak wat hulle vir hulle persoonlike evolusie wil uitmaak: “Wesley also argues the scriptures “were written not to gratify our curiosity [of the details] but to lead us to God.”
Dit is waar dat ons nie ons nuuskierigheid kan bevredig om al die details van die eerste ses dae uit te vind nie, en dat ons ook (soos Adam) gelei word om ons in ons Skepper te verbly. Hy gaan ons verstand absoluut te bowe, maar dit beteken nie Hy is teen-natuurlik of onnatuurlik soos Plato nog in ‘n heidense kultuur gemeen het nie. Dis teen laasgenoemde onnatuurlikheid en bitsigheid wat die ouens by ‘Biologos’ dit het, en dan nav Aristoteles hul eie evolusionêre wetenskap as natuurlik en onskuldig en spontaan aan ons wil kom opdien. Die evolusioniste aanvaar nou maar gelate dat geloof en wetenskap eintlik niks met mekaar uit te waai het nie, oftewel, dat bios en logos in wese op die ganske aarde niks met mekaar uit te waai het nie.
Die ironie is dat hulle in hulself dan weer met ’n gesplete persoonlikheid sit. Hulle een hart is saaklik besig om soos Aristoteles dinge te ondersoek; hul ander hart is vaagweg op ‘n ‘trip’ soos Plato s’n. En so probeer die halfhartiges, diep ongelukkig in hul modernistiese siel, om ook die ‘evangelicals’ te infiltreer deur vir Wesley, en ook Calvyn en Luther, aan hulle kant te kry. Maar jy weet hoe Wesley, en so ook Calvyn en Luther, geleef het vóór Immanuel Kant in die ‘moderne’ tyd wetenskap en geloof kom skei het. En hoe Darwin aan die kant van Kant met ’n tikkie leedwese selfs van God probeer afskeid neem het.
Vir onse Adam was daar ook ‘n onderskeid tussen sy onvolledige kennis van die eerste ses dae, en sy vertrouensgeloof in die Skepper wat saam met hom, en ietwat later ook Eva, in die tuin op nou paadjies die weg gebaan het. Maar daar was nie ‘n skeiding tussen geloof en wetenskap nie, want hulle het die heerlikheid van God ervaar.
Maar kan ek jou eintlik die storie vertel van ‘n man wie se wil so vas soos ‘n Klipsteen staan? Dis ‘n storie van genade en tegelyk van waarheid.
Daar was ‘n geslag of wat na Darwin ‘n dopper wat vas geglo het dat God almagtig genoeg is om van evolusie gebruik te maak (hierdie feite is geen verwysing na enige lewende of dooie persoon nie). Maar voor sy eerste vrou daarin kon slaag om hom teen die mure uit te dryf (want hét sy hard probeer), het die natuurwetenskaplike homself onttrek. Soos in strategies onttrek van sy bewys-van-die-verskuldigde-welwillendheid om haar te voed, te koester en vrolik te laat voel. En met díe dat die natuurlike liefde by hulle verkoel, het hy haar gevang – met ‘n ander man in die bed. Wel-wel, nou het hy skriftuurlike rede gehad om haar te skei. Hy sou haar nou wel nie uitskakel deur haar met die doodstraf vir hoerery te tref nie. Ten minste het hy in sy agterkop geweet dat hy ook nie die onskuld self is nie.
Hoe dit ook al sy, ‘n man is nie van nature klip-alleen nie, en hy haak met die volgende een af. Nou gaan hy natuurlik op ‘n heel ander kwantumvlak funksioneer! Min het hy geweet dat die klein kerkie van fase II van sy lewensproses, ook maar … nie outomaties op ‘n groot Klip gebou is nie. Dis toe so vir hom beskik dat sy nuwe ‘nommer’ ietwat jaloers geraak het as die werk van hom verwag om ‘n veldprojek saam met ’n vroulike kollega te verrig. Die kompetisie in die ‘rat-race’ van ‘n wêreldoorlog het op die ou end gemaak dat hy net sy geld op ‘n polis gesit het. Hy was so siek in sy siel, dat hy tot by die rand van die afgrond gedryf is. Om die waarheid te sê, sy veld-bike se bande het tot op die rand van die afgrond geskuurgly.
Die ouers van ‘n paar kinders het van geen sout of water geweet nie. Hulle het net hierdie outydse natuurbewaarder-vriend van hulle gevra of hy nie vir hul kinders ‘n paar voëls en visse en plante by die stil waterstroom van ‘n natuurtuin wil uitwys nie. Om na die tyd vir hom dankie te sê, het die kindertjies vir hom ‘n boek oor die natuur oorhandig.
En so het dit gekom dat hy geleer om hom in sy Skepper te verbly, en daarom kon hy vir sy vrou lief word, met die gevolg dat ook sy rus vir haar siel gevind het. Hulle het geleer om saam te werk, om met beide se talente te woeker – omdat hulle Skepper so modern soos môre heeldag is.