Dr Pieter Fourie, uitvoerende hoof van Bybelmedia en dus die baas van Kerkbode, het in verlede week se Kerkbode ‘n artikel geskryf wat die mens se bewuste persoonlike voortbestaan na die dood ontken, en by implikasie die bestaan van die hemel ontken.
Hierdie blatante weerspreking van ons kerk se belydenisskrifte in ons kerk se amptelike nuusblad deur iemand in Dr Fourie se posisie is uiters ontstellend.
Die artikel is hier: http://kerkbode.co.za/?p=2776#comment-2342
Vandag berig Pieter Malan in Rapport dat Dr Fourie deur Danny Fourie, ‘n senior lid van die bestuur in ‘n brief aangekla word dat hy lieg oor die “regte kanale” wat klaarblyklik nie gevolg is met die borg van Abel Pienaar en Lina Spies by Woordfees nie.
Die gevolgtrekkings wat mens moet maak:
- Jean Oosthuizen het net opdragte uitgevoer, of was net mede samesweerder.
- Die skuldiges is hoër op in die organisasie. Die name wat genoem word in die artikel is Pieter Fourie en Danie Mouton, voorsitter van Bybelmedia se direksie.
Waarom?
Uit Fourie se ontkenning van basiese beginsels van die Evangelie in sy artikel, naamlik die persoonlike voortbestaan van die mens na die dood en die bestaan van die hemel, moet ons aanneem dat hy ideologiese redes gehad het om Abel Pienaar en Lina Spies te ondersteun.
En Danie Mouton? Wie weet?
Maar gryp maar ‘n boks popcorn en sit terug. Die show word net al beter.
Hierstaanek het net een gebed in hierdie chaos: Dat die waarheid sal seëvier en dat God verheerlik sal word.
Wat ons land nodig het is nie Pienaar, Oosthuizen en Fourie se goddelose “evangelie” wat die mens tot god verklaar en buite om God se genade probeer om ons samelewing te verander nie.
Wat ons nou nodig het is dat die NG Kerk weer die ou, ou tyding verkondig, van Jesus wat ter wille van ons sonde verbrysel is.
Sodat die wêreld kan verander.
Kerkman liég, sê brief
2013-03-09 23:37
Die hel is nou behoorlik los by die Christelike uitgewers Bybel-Media (BM) nadat nóg ’n senior werknemer sy base vir leuenaars en ’n “verleentheid vir die kerk” uitgekryt het.
Die maatskappy is nou reeds ’n paar weke die middelpunt van debat in kerkkringe ná sy omstrede besluit om sy borgskap van ’n godsdiensgesprek aan die US Woordfees te onttrek.
Baie het gehoop die storm sal bedaar ná die bedanking van Jean Oosthuizen, nuusredakteur vanKerkbode en doring in die vlees van sommige konserwatiewe kerklui.
BM, ’n maatskappy sonder winsbejag, is die mediamaatskappy van die NG Kerk en uitgewers van Kerkbode en die tydskrif Lig.
Die maatskappy is afhanklik van skenkings en erflatings – veral van NG lidmate – om te oorleef.
Twee plofbare (maar naamlose) briewe wat sedert voorverlede week die ronde doen, gee ’n aanduiding van hoe sleg dinge by die maatskappy se kantoor in Wellington gaan.
Die topbestuur bestaan grootliks uit dominees.
Dr. Pieter Fourie, uitvoerende hoof (foto), sowel as ds. Danie Mouton, voorsitter van die direksie, word openlik in die briewe uitgedaag om te bedank.
Volgens bronne binne BM het Fourie aanvanklik verklaar hy steur hom nie aan naamlose briewe nie.
Maar sake is dramaties op die spits gedryf toe die hoof van die maatskappy se publikasie- en video-afdeling, Danny Fourie, Maandag tydens die weeklikse personeelvergadering erken het hý het die briewe geskryf.
In sy brief aan Pieter Fourie kryt hy sy baas uit vir ’n “leuenaar” wat sy direksie “met halwe waarhede om die bos lei”.
Die bewering is dat Pieter Fourie sou gelieg het oor die feit dat “die regte kanale” nie gevolg is voordat besluit is dat Kerkbode ’n Woordfees-gesprek sou borg nie.
Luidens die brief is werknemers “skaam om deel te wees van ’n organisasie wat so minagtend met die waarheid omgaan”.
Hy sê hulle werk juis by ’n Christelike maatskappy in die hoop dat dinge daar anders gedoen word as in die “sekulêre wêreld”.
Pieter Fourie se algemene bestuurstyl, sy “gereelde onbeskofte gedrag”, woede-uitbarstings, dat hy nie die mening van vroue ag nie en “beterweterigheid” kom ook onder skoot.
’n Vroue-werknemer wat nie haar naam genoem wil hê nie, sê dié brief se bewoording is kras, maar verwoord baie werknemers se gevoelens. Sy sê Pieter Fourie is bombasties, onbeskof en onvoorspelbaar.
“Hy gee sy misnoeë gereeld te kenne deur te bulder: ‘Nee, dit sal nie so wees nie.’?”
Die brief aan Mouton, voorsitter van die direksie, wat blykbaar ook aan sy mededirekteure gestuur is, draai ook nie doekies om nie.
Hierin word beweer Mouton het “blatant gelieg” toe hy op RSG se nuusprogram Monitor oor die borgskap van die Woordfees-program uitgevra is.
“Ons land verkeer in ’n morele krisis en u wat die voorbeeld moet stel, u dien die leuen…
“Dan het u nog die vermetelheid om… te sê dat Kerkbode, soos die NGK, ’n bydrae tot genesing van ons land te lewer het. Hallo? Genesing in ons land? Maar die voorsitter van die BM-direksie lieg soos ’n tandetrekker!
“Iemand soos u behoort nie ’n verantwoordelike posisie… in die kerklike opset te vul nie.
“Ons hoop u kollegas neem kennis van hierdie gemors waarin u Bybel-Media en die Christelike gemeenskap met u leuens gedompel het.”
Danny Fourie het die afgelope week geweier om sy outeurskap van die brief te bevestig of te ontken.
“Ek hoop jy verstaan dat ek nie hierop kan reageer nie.”
Rapport het die gebeure tydens Maandag se vergadering by twee onafhanklike bronne bevestig.
Mouton het Vrydag gesê ’n onafhanklike konsultant het reeds begin om die beweringe te ondersoek.
“Ons verstaan die personeel se emosies. Ons probeer om gefokus te bly op die maatskappy en die geluk van ons personeel.”
Hy wou nie kommentaar lewer oor die bewerings dat hy “soos ’n tandetrekker” gelieg het nie.
“Dit is deel van die ondersoek.”
Hy sê geen tugstappe word teen Danny Fourie oorweeg nie.
Pieter Fourie het teen druktyd nog nie gereageer op versoeke om kommentaar nie.
Henrietta Klaasing said:
” Hierstaanek het net een gebed in hierdie chaos: Dat die waarheid sal seëvier en dat God verheerlik sal word.
Wat ons land nodig het is nie Pienaar, Oosthuizen en Fourie se goddelose “evangelie” wat die mens tot god verklaar en buite om God se genade probeer om ons samelewing te verander nie.”
En ek sê AMEN! hierop, Wynand!
henry said:
My geliefdes, die 7000 uitverkore oorblewe oorblyfsels dominees en ouderlinge in NGkerk moet die hele raad van God verkondig soos in ekesegestiese prediking en nie net met die aksent op bekeringspreding nie, maar uitverkiesing, predestinasie, regverdigmaking, heiligmaking, en verheerliking wat alles die eienskappe, die persoonlikheid,die karakter van God ons Vader in die hemel en ons lieflike Here Jesus Christus deur die soete krag van die Heilige Gees verkondig. Die ouderlinge en nie vrouens in die amp nie, moet bekwaam wees as sondagskoolonderwysers vir volwassenes te wees. Elke gemeente moet n biblioteek he met goeie opbouede werke van die reuse van die kerkgeskiedenis.n Reus soos Andrew Murry se werke moet nie vergeet word nie. Ons moet soos in die VSA jaarlikse konferensies he oor die helde van die kerkgeskiedenis soos bv.n Andrew Murray konferensie.Min Calviniste ken Calvyn werklik. Ons kan kers opsteek by Martin Luther van God se lieflike, soete, heilige, regverdige, vuurspewende se sagmoedigheid en liefde om Sy uitverkorenes te vertroetel en sy vurigheid om die vyande van die kerk uit te wis. Die NGKerk het die puriteine en opstellers van die belydensisskrifte broodnodig, kinders van God wat as martelare met hulle lewens betaal het vir die waarheid. Manne soos Jonathan Edwards, Jeremiab Burroughs, en die kontemporere reuse soos RC Sproul en Steve Lawson en Peter Hammond kan met vrydmoedigheid as mentors nagevolg word, want hulle soek nie die populariteit en om lidmate te vlei nie.Eerstens en bo alles met elke lidmaat deurdrenk wees met die woord van die lewende God, die Vader van Jesus Christus, die skepper van hemel en aarde. Jesus leef as hoepriester wat vir Sy kinders voorbidding doen en stuur die Heilige Gees gedurig om Sy opstandingskrag in ons lede te bewerk en ons midde van stryd, swakhede, beproewings meer as oorwinnaars te maak uit die volheid van Sy oorvloed.
somersetmorkel said:
Iewers in die Skrif staan dit geskrywe: “The Lord is not the author of confusion”.
Louis van Jaarsveld said:
Die ironie vir my is dat hierie mense reageer teen ‘n verstarde soort calvinisme. Hulle wil om die dood nie terugkeer om net maar ‘n ou stoffie te wees nie (ps 90: 3), maar verklaar nou summier dat God alles in almal is (I Kor 15: 28). Veral in hulleself as pan-en-teïste. Dan verdwyn jou verhouding tot God se persoonwees, en nie lank nie, dan begin jou persoonlikheid ook uitrafel. Jy verloor jou humeur, en konsultante moet kom om daarvoor te soek. Soms is daar feitlik nie ‘n flenter te vind nie, en dit lyk asof net die groot niks nou als in almal sou wees.
Wie van ons ken nie die versoeking om uit die vlees te leef nie? Ons leef wel ín die vlees, merk Paulus terloops in Gal 2: 20 op. Ons is nie Platoniese spoekies nie, maar mense van vlees en bloed. Maar as ons vólgens die vlees leef, is ons naderhand meer onverdraagsaam as wat die ergste calvinis ooit was. Dis broodnodig dat die Gees in elke situasie ons gedrag bepaal. As ons vrye guns van Calvyn kan behou, sal ons juis die heiligmaking van Wesley najaag.
In psalm 90 is dit God self wat ons almal laat terugkeer tot die stof. Wat ‘n voorreg. Laat ons dus liewer ons eie neus in die stof vryf voor die Verbryselde, omdat ons saam met ongelowiges in dieselfde juk wou trek. Ook die ongelowiges is vry om dit saam met ons te kom doen. God is ‘n God van vrede en orde.
Ons kan net bid vir herlewing van die Here se Gees: “Keer terug, o Here! Vir hoe lank…? Ontferm U oor u knegte!” (ps 90: 13).
Jaco Steyn (@JacoSteyn123) said:
Dit wil dus voorkom asof Jean nié alleen is met sy stelling dat hy wel die regte kanale m.b.t. die reëlings vir die Woordfees gevolg het…
Chrisjan said:
Jaco, jy is HEELTEMAL reg met jou aanname!
WILLIE DU PLESSIS said:
Danie Mouton is iemand wie se invloed en magte in hierdie sage nie onderskat of misgekyk moet word nie. Ek het hom ervaar as ‘n geniepsige kalant wat waarskynlik kop in een mus met die nuwe vrydenkers is en wat ook maar twyfelagtig met die waarheid omgaan.
Tydens die GKSA (Gereformeerde Kerk) se sinode verlede jaar het ek op die Facebookblad van die Oos Kaap NG Kerk gelees hoe Danie die GKSA uiters liefdeloos behoorlik in ‘n slegte lig stel. Onder andere het hy beweer dat die “doppers” nie liedere tot eer van Jesus mag gesing het nie en nie mag dans nie. Hy noem die “doppers” toe ook op vernederende wyse ” ‘n rare lot” en verwys neerhalend na die Teologiese Skool in Potchefstroom. Ek het hom in ‘n kommentaar daarop gewys hoe swak en verkeerd hy ingelig is. Al wat hy toe gedoen het was om sy berig te verander en die meeste van sy foutiewe bewerings reg te stel. In die proses “Unfriend” hy my toe sommer, sonder om verskoning vir sy beledigings van die GKSA aan te bied.
somersetmorkel said:
Hierdie sage, en die name wat hier genoem word, wys duidelik uit dat in die geledere vd NGK se Bybelmedia-struktuur daar parallelle te trek is met n korrupte politieke party se interne funksionering. Die leuens is volop. Die drama is volop. Die agendas is volop. Die mense leef nie uit die Gees nie. Hulle is kerkmense sonder Gees. Hulle agenda is nie meer die suiwer Woordverkondiging nie. Pieter Fourie se onlangse standpunt oor die hemel en die hel toon aan dat hy ook n woordverkragter is wat in die NGK se strukture sit, met klaarblyklik ook ‘n dominerende en diktatoriale bestuursstyl wat nie van Heilige Gees vrug getuig nie. Danie Mouton is ook ‘n funksionaris wat sy posisie in die verlede gebruik het om mense op Kerkbode se Facebook-blad te blok omdat hy nie van hul behoudende standpunte gehou het nie. Dit is aanduidend van ‘n manipulasie-karaktertrek – wat meer politieke as Christelik-opbouende ondertone het. Die NGK gaan duur betaal vir hierdie situasie.
Henrietta Klaasing said:
Sommie die teks is : 1Co 14:33 want God is nie ‘n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges.
somersetmorkel said:
Hierdie is deel vd prys wat die NGK betaal vir swak leierskap wat nie prinsipieel dink nie. Dit is ‘n direkte gevolg van ‘n laat-maar-gaan teologie – laissez faire – wat nie meer suiwer op die Woord gefundeer is nie mazar onder invloed vd geestelik-korrupterende denkrigting vd Emergent Church is, waarvoor van die Alg Sin Moderator Nelus Niemandt af ondertoe die kerk deursuur is. Dit is die Nuwe Denke vir Nuwe Werklikhede of so iets.. in plaas van waarheidsgewortelde denke in die Woord van God. Dit is dwaling en die wat dit bedryf is dwaalleraars. Die toleransie oor baie jare van n man soos Jean Oosthuizen en die woorde van prys en lof wat Nelus Niemand nou net weer – na sy afdanking – oor Jean Oosthuizen gesing het, is n aanduiding hiervan. Dit is ook n aanduiding dat die leierskap sy moreel-geestelike kompas verloor het. Daar is n duidelike gebrek aan onderskeiding – wat die werk vd Heilige Gees is. Die vraag is of die Gees nog werk hierso. Dit lyk nie so nie. Dit lyk of dit n situasie geword het waar radikale omkeer en bekering nodig is, omdat die NGK al meer die eienskappe vd vals kerk vertoon. Dit beteken nie dat daar nie n oorblyfsel is wat nog getrou is aan God se Waarheid in Sy Woord nie. Die vraag is net, waar is hulle en hoekom is hulle so stil? Hul verloeen hul profetiese roeping voor God as hulle neutralisties ageer.
Pingback: Danny Fourie se eposse aan Pieter Fourie en Danie Mouton | hier staan ek