Ek bid werklik dat dit ‘n nuwe era vir Kerkbode en dus die NG Kerk gaan inlei. Mens wil hoop dat die NG Kerk leierskap uiteindelik kennis geneem het van die manier waarop Oosthuizen oor die jare meegewerk het aan die vernietiging van die NG Kerk se belydenis, en die kerk se beeld na buite . (Ja, die NG Kerk se belydenisgrondslag hang aan ‘n draadjie sedert die Algemene Sinode 2011 besluit het om dwaalleer in die kerk toe te laat met hulle besluit oor die duiwel.)
Ek bid ook dat diegene wat skynbaar vir Oosthuizen vir soveel jare in sy pos beskerm het omdat hy dwaalleer ondersteun het nou ook uit die kerk geskop gaan word.
Ons kan nie toelaat dat die Evangelie van Christus en ons Gereformeerde belydenis langer deur die leiers in ons kerk geminag word nie.
En ek bid regtig Jean sal na aanleiding hiervan tot inkeer kom. Ek bid ook dat hy vinnig ander werk sal kry, ek wens geeneen werkloosheid in vandag se ekonomiese klimaat toe nie.
Maar dank die Here hy is nou weg by Kerkbode!
Kerkbode en sy nuushoof se paaie skei finaal
2013-03-04 21:44
STELLENBOSCH. – Die paaie van Tydskriftemaatskappy (TM), uitgewer van Kerkbode, en dié van Jean Oosthuizen, nuusredakteur van dié blad, het nou finaal geskei.
Oosthuizen se tugverhoor is gister gehou en daar is besluit dat hy nie meer by die NG Kerk se nuusblad betrokke sal wees nie.
Dié verhoor het gevolg nadat Kerkbode as donateur vir gesprekke oor godsdiens by die Universiteit Stellenbosch se Woordfees onttrek het. Oosthuizen is kort hierna geskors.
TM, verbonde aan Bybel-Media, het aangevoer die rede vir die onttrekking is dat die bestuur en direksie nie daarvan bewus was dat die koerant as donateur sou optree nie.
Oosthuizen het gesê dít is onwaar. Hy moes toe hiervoor voor ’n tugkomitee verskyn.
Ds. Danie Mouton, voorsitter van TM se direksie, het gister op navrae oor die verhoor geantwoord.
“Tydskriftemaatskappy en mnr. Jean Oosthuizen het vandag ’n ooreenkoms bereik ingevolge waarvan ons weë op vriendskaplike basis skei.
“Die partye het ooreengekom om die inhoud van die ooreenkoms vertroulik te hou.’’
Oosthuizen het nie op navrae gereageer nie.
Intussen gaan die twee betrokke gesprekke, wat nou deur Protea-boekhandel aangebied word, op die Woordfees voort.
“Net een God?’’ is Donderdag om 11:00 in die Boektent. Vrydag om 10:00 word die gesprek “Hemel en hel?’’ ook in die Boektent aangebied.
Die fees duur tot Sondag.
Die Burger
Eckard Briedenhann said:
Ek is sommer lus en doen aansoek vir daai vakante pos! :-). Just for incase…
WILLIE DU PLESSIS said:
Mens moet positief wees oor kerk en christelike geloof. Jean se vertrek het ‘n paar jaar te laat gekom. Mens kan nie verstaan waarom die NG Kerk se leiers Jean so lank toegelaat het om soveel godslasterlike dinge en venyn teenoor behoudende lidmate op die Kerkbode se Facebook werf kwyt te raak nie. Die Jean Oosthuizen dampkring van dwaalleraars is ongelukkig nog steeds daar. As hulle nie meer die Kerkbode en NG Kerk se media en netwerke kan gebruik om dwaalleer te verkondig nie sal daar hoop wees vir die voortbestaan en suiwering van die NG Kerk.
hierstaanek said:
Willie, ons kan maar net aanhou om die waarhied oor dwaalleraars in die lig te bring. Ek dink nig nie die NG Kerk is onherroeplik verlore nie!
Jaco De Beer said:
Die hartseer is dat die wat hom uitskop dit doen agv geld en mag, nie agv dwaling nie. Vir jare het Jean God drie-enig gelaster en is hy beskerm. Danie Mouton het persoonlik vir my vertel hoe goeie mens is Jean en dat hy ‘n sekere “rand figuur” aanspreek en verteenwoordig wat belangrik is. Dit nadat ek hom direk gevra het hoed die NG kerk sulke lastering kan toelaat.
Judas het Jesus ook verloën vir geld.
Henrietta Klaasing said:
” As mense wind saai, sal hulle ‘n storm oes.” (Hosea 8 vers 7)
somersetmorkel said:
Ek is bly die man is weg. Dit sal die NGK se beeld goed doen. Maar of dit enigsins tot positiewe koersaanpassing by die NGK se leierskap en media sal lei, is te betwyfel. Oosthuizen het reeds heelwat impetus verleen daaraan om die fronte te open vir onchristelike elemente in die kerk. Hy het evangelie-ondermynend gewerk, en die profiele van mense wat op dieselfde stand van sake is, versterk.. Die NGK het glad nie daarna verwys itv Oosthuizen se ontslag nie. Hulle is nog daar. Net hulle openbare ‘champion’ is weg. Ek glo die NGK is onherroeplik op die weg van vals kerk.
Kobus Hattingh said:
Wonder of die Kerkbode nou weer my en baie ander sal ‘unblock’ wat nie met hom saamgestem het nie? Twyfel eintlik want sy buddies swaai mos nog steeds die septer 😦
hierstaanek said:
Hi Kobus
Ek het gisteraand as ‘n toets ‘n kommentaar op Kerkbode se weberf gepos, en vir die eerte keer in ‘n jaar is my kommentaar deur die moderator geplaas! Ek sal Kerkbode se FB blad op ‘n stadium kontak en hulle vra om my te ontblok. Sal maar moet sien wat gebeur…
hierstaanek said:
Susan Loubscher skryf die volgende kommentaar onderaan die artikel op Die Burger se webwerf: (Ek dink nie sy sal omgee as ek dit hier pos nie)
Susan Loubscher – Maart 5, 2013 om 00:47
As politieke joernalis het Jean Oosthuizen ‘n dekade of so gelede sy werk met groot onderskeiding gedoen. Vandat hy by Kerkbode begin werk het was daar dadelik groot spanning. Hoekom? Jean skryf in Hier Staan Ek (Griffel Media, 2011) oor sy eie teologiese pad wat radikaal anders geword het as die basiese belydenis van die NG Kerk. Byvoorbeeld: hy glo nie dat Jesus liggaamlike uit die dood opgestaan het nie; hy glo nie dat Jesus maagdelike gebore is nie; en hy glo ook nie dat God ‘n persoon is nie. As professionele joernalis by Kerkbode, sou hierdie teologiese standpunte nie noodwendig sy werk hoef te beinvloed het nie. Hy is immers ‘n professionele joernalis wat objektiwiteit nastreef.
Die groot probleem het ingekom toe hy sy teologiese standpunte fanaties en met groot mag op verskeie forums begin verkondig het, en diegene wat meer konserwatief as hy was gereeld uitgevloek het met woorde soos “p*ph*l”, “k*k” om enkelle voorbeelde te noem. Hy het die mooiste berigte geskryf oor die meer liberale teoloe soos Julian Muller wat by sy eie teologie gepas het; maar ander met wie hy persoonlik verskil het, se berigte was gereeld ‘n swartsmeerdery. Teen hierdie agtergond moet mens die TM en Kerkbdoe se optrede verstaan. Jean het reeds sy eie kerk begin: Kletskerk … gaan in vrede Jean, en maak asseblief nie van jouself ‘n martelaar nie, want jy was nie een nie – gaan terug politiek toe – selfs ek erken jy was baie goed in daardie kader …
Jaco Steyn (@JacoSteyn123) said:
Jean het selfs onlangs geweier om een van my kommentare op die webblad van Kerkbode te plaas, maar ek voel nog steeds dat sy afdanking onregvredig was en dat hy wel die regte kanale gevolg het vir die Woordfees-reëlings. As ek in julle skoene was sou ek nié so in ekstase gewees het oor sy afdanking nie. Die NG Kerk raak aan die een kant meer teologies-konserwatief deur ontslae te raak van iemand soos Jean Oosthuizen, terwyl die Kerk aan die ander kant meer polities-linksgesind raak d.m.v. hul propagering van die Belhar Belydenis. Die kanse is baie goed dat hierdie belydenis later in die jaar aanvaar sal word as die amptelike vierde (eintlik sewende) belydenisskrif van die NG Kerk. Die kerkleiers sal ook poog om groter eenheid te bewerkstellig met die oorblywende NH Kerk. Hierdie groter, meer regeringsgesinde kerk, sal egter die verdeeldheid onder Afrikaanse mense laat toeneem. Niemand sal vervolgens die verdere uitbuiting en vernietiging van hierdie land deur die ANC en hul ondersteuners kan keer nie. Nadat die laaste honde en katte opgeëet is, die laaste oorblywende plase gestroop is en die laaste boom afgekap is, sal die (hoofsaaklik ateïstiese) Sjinese heel waarskynlik die land binnestroom en as nuwe koloniseerders poog om dit weer op te bou…
hierstaanek said:
Jaco, niemand het enige illusies oor dié wat by Kerkbode agterbly nie. Pieter Fourie het pas ‘n artikel in die jongste Kerkbode geskryf wat sterk panenteïstiese en gnostiese ondertone het. Solank as wat sulke dwaalteologie in Kerkbode publiseer word sal die NG Kerk aanhou sterf.
Maar ten minste het wie ook al nou die gesprek daar modereer my en ‘n ander persoon se kritiese briewe geplaas. Dit is ‘n massiewe stap vorentoe van Jean se beginsel om alle behoudende, evangeliese stemme dood te smoor.
Ek wonder hoeveel mense het hy van KB se facebook geblok?
Jaco Steyn (@JacoSteyn123) said:
@hierstaanek. Dis veral van belang vir wie ook al “agter die skerms” besig is met hierdie “speletjie” (dalk Broederbonders en/of Vrymesselaars?), dat daar ʼn indruk by die “gewone” deursnee NG lidmaat geskep moet word dat die konserwatiewe en behoudende element binne die NG Kerk ʼn oorwinning behaal het teen die “liberale” en uitgesproke Jean wat nogal die “vermetelheid” gehad het om te wil oop gesprek voer met ateïste en ander vrydenkers. Hierdie indruk is by baie NG lidmate geskep nadat hulle die onlangse berigte oor Jean en die Woordfees in Die Burger, Beeld en Rapport gelees het…