“Diegene wat in die lig van die Skrif soos kinders glo én diegene wat met erns besin en redeneer oor wesensvrae is vir die NG Kerk belangrik.”

Hierstaanek voel al soos ‘n kermderm. Hoekom kla ek altyd oor alles? Ek het vir my kopkrimper gesê net omdat ek paranoïed is beteken dit nie almal wil my nie bykom nie. 🙂

OK. *Sug*  Ek moet alweer kla.

Is dit net ek of is hierdie ‘n ongelooflike belediging en klap na gelowiges? Jesus het  tog gesê ons moet ALMAL soos kinders glo – maar beteken dit volgens TM dat ons wat glo soos Jesus sê ons moet, nie met “erns besin en redeneer oor wesensvrae nie?” Sluit die twee mekaar dan uit??

Skuus. Miskien is daar fout met my. 

Maar boetman is nou sommer die blikemmer weerligstraal in. (Sal Prozak dalk help?)

Die artikel is hier.

US-Woordfees en NG Kerk ‘vat hande in gees van versoening

2013-02-26 05:45

Malani Venter

STELLENBOSCH. – Die Universiteit Stellenbosch (US) se Woordfees en die NG Kerk het besluit om in ’n “gees van versoening hande te vat”.

Dit kom nadat Kerkbode, die NG Kerk se nuuskoerant, sy donateurskap van die Woordfees onttrek het.

Dié koerant se nuusredakteur, Jean Oosthuizen, is ook intussen geskors.

Dr. Braam Hanekom, moderator van die NG Kerk in die Wes-Kaap, en prof. Dorothea van Zyl, direkteur van die Woordfees, het gister in ’n gesamentlike verklaring bekend gemaak dat daar geen kwade gevoelens tussen die kerk en die fees is nie.

“Dorothea van Zyl het ’n uitnodiging aan dr. Braam Hanekom gerig om deel te neem aan die volgende gesprek by die US Woordfees, wat hy graag aanvaar het,” lui hul verklaring.

Dié gesprek heet “Hemel en hel?” en sal op 8 Maart om 10:00 in die Boektent op Stellenbosch ten tyde van die Woordfees aangebied word.

Van Zyl sal met Hanekom, dr. Abel Pienaar, medestigter van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit, prof. Nico Koopman, dekaan van die fakulteit teologie aan die US, en prof. Jurie van den Heever, paleontoloog aan die US, praat oor hierdie onderwerp. Dit word aangebied deur Protea-boekwinkel.

In die verklaring word benadruk dat “hierdie uitnodiging en gepaardgaande aanvaarding losstaan van ’n onafhanklike interne ondersoek wat tans deur Tydskrifte Maatskappy (TM) onderneem word”. TM is die uitgewer van Kerkbode en deel van BybelMedia.

Die verklaring lui verder: “Dit wil graag enige persepsies teengaan wat mag ontstaan het dat daar enige konflik en/of verwydering tussen die NG Kerk en die US Woordfees sou bestaan; en dat die NG Kerk nie daar­toe bereid sou wees om ewewigtige oop gesprekke te steun in die belang van ’n groter versoenende gesprek in Suid-Afrika nie.

“Diegene wat in die lig van die Skrif soos kinders glo én diegene wat met erns besin en redeneer oor wesensvrae is vir die NG Kerk belangrik.”

Die Woordfees begin Vrydag en duur tot 10 Maart.



Edit 27/02/2013

Ek het my misnoë per epos aan Dr Braam Hanekom meegedeel, en hier is sy antwoord.

Ek moet sê, ek het geen oomblik gedink “diegene wat met erns besin en redeneer oor wesensvrae” is onskuldige “twyfelaars” nie. Uit die konteks lyk dit regtig asof die wie nie soos kinders glo nie (Pienaar, Spies en hulle volgelinge) dié ouens is wat dink en redeneer.

Hoe dit ook al sy, ek aanvaar Dr Hanekom se verduideliking so. (Ek het wel aan hom verdere vrae gevra, maar gaan dit nie hier pos nie.)

(Dr Hanekom se antwoord begin)

Beste Wynand

Ek het nog altyd die gevoel gehad dat jy baie ernstig is oor Jesus Christus en die Evangelie en daarvoor het ek groot respek.

Mag ek dit egter in beskeidenheid sê: Die keer slaan jy die bal mis. Jy ken my nie goed nie, maar ek is ook oneindig lief vir Christus en Sy Evangelie. Soveel so dat ek waarskynlik een van die kerkleiers is wat die heel meeste die afgelope jare gepleit het dat die kerk haar Evangeliese bewussyn herwin en nie net praat oor die “afgewaalde skape” nie, maar ook iets doen.

Oor alle eeue was daar twyfellaars. Thomas was ook een! Die vraag is hoe ons met hulle handel. Al wat die verklaring sê is dat ons ook groot erns maak met hierdie mense. Dis tog die Groot Opdrag.

Terloops Ek het nog net positiewe reaksie op die verklaring gekry. Ek dink nie mense dink vir n oomblik dat ons daarmee ons eie geloof en “die wat soos kindertjies glo” afskryf nie.

Vriendelike groete

Braam