Hierdie “NOGTANS” van Rapport is verdoemend vir die leierskap van die NG Kerk en die bestuur van Kerkbode en Bybelmedia.

Ek het persoonlik maande gelede met Dr Pieter Fourie (uitvoerende hoof van Bybelmedia) gepraat oor Oosthuizen se vernietigende uitwerking op die beeld van die NG Kerk na buite. Dr Fourie was vol lof vir Oosthuizen se werk en het hom verdedig op grond van die feit dat hy sy werk “professioneel” gedoen het – asof sy openbare betrokkenheid, veral op sosiale media, van geen belang was vir die feit dat Oosthuizen as nuusredakteur van Kerkbode ‘n amptelike woordvoerder van die NG Kerk was nie.

Dit is tyd dat die persone wat Oosthuizen oor die jare in sy pos beskerm het (duidelik omdat hy hulle liberaal-teologiese agenda bevorder het) tot verantwoording geroep word. Dit is tyd dat diegene wat nie die Drie Formuliere van Eenheid meer glo nie en alternatiewe teologieë, soos die wat deur Oosthuizen bevorder is, in die kerk wil insmokkel, hulle goed vat en loop.

Die NG Kerk moet dringend hervestig word as ‘n belydende, Gereformeerde kerk van Christus, anders gaan sy doodbloei.

Die Rapport artikel volg: (Kursivering is myne)

Oor Jesus, Elvis en ‘fans’

2013-02-23 23:04

Deur Marlene Malan

Die skorsing van Jean Oosthuizen, nuusredakteur van die Kerkbode, is nie die eerste keer dat die NG Kerk se topstruktuur hom voor stok kry nie.

Oosthuizen is voorverlede Vrydag uit sy pos by dié amptelike NG Kerk-koerant verwyder hangende ’n interne tugondersoek omdat hy sy direksie in die openbaar van “onwaarhede” beskuldig het.

Hy is al tevore “ernstig en openhartig” deur die algemene sinode van die NGK oor beweerde “godslastering” aangespreek.

Dit was nadat minstens twee gemeentes, asook individuele NG Kerk-lidmate, gekla het oor sy “lasterlike” uitsprake op sy internet-gespreksforum, Kletskerk.

Prof. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, het eergister gesê minstens twee gemeentes, waaronder Moreletapark in Pretoria, het in 2011 al klagte oor Oosthuizen by die algemene sinode ingedien.

Benewens die “godslastering” en taalgebruik op sy forums was die gemeentes gegrief oor die toelaat van “godslasterlike gesprekke” en “kru taal” op die forum. Dit sluit in ’n spottende verwysing na die Heilige Gees en die herhaalde ydellike gebruik van die woord “Here”.

Kletskerk het die laaste jare gewemel van woorde soos “g*ts”, “jirre”, “k*k” en “p**ph*l”.

Oosthuizen is ook gekritiseer omdat hy die volgende aanhaling deur Gareth Cliff as sy e-pos-afsluitsin gebruik het: “Jesus is like Elvis… A very nice guy but His fan club freaks me out”.

“Daar het ’n baie ernstige en openhartige gesprek met hom plaasgevind tydens ’n vergadering van die moderatuur van die algemene sinode,” het Niemandt by navraag gesê. Daarby is dit duidelik gestel Klerkskerk is nie ’n webblad van die NG Kerk nie.

Dit word bevestig op die NG Kerk-webblad: “Die moderatuur het verskeie klagtes rakende die inhoud van Kletskerk en die skakels op ons webblad daarheen ontvang. Daar is besluit om alle skakels na Kletsklerk op die webbladsye van die NG Kerk en Kerkbode te verwyder.”

Nogtans is Oosthuizen toegelaat om in sy redakteurspos aan te bly. Die voortslepende spanning het verlede week tot uitbarsting gekom. Die bestuur en direksie van die Tydskriftemaatskappy (TM), uitgewer van Kerkbode, het Oosthuizen gevra om sy kantoor te verlaat en sy werkrekenaar te oorhandig.

Dit kom nadat Kerkbode hom as donateur van die gesprekke met die temas “Net een God?” en “Hemel en hel?” by die Universiteit van Stellenbosch (US) se Woordfees onttrek het.

Ds. Danie Mouton, voorsitter van die TM-direksie, sê Oosthuizen het nie “die nodige reëlings langs die normale bestuurskanale van die maatskappy getref nie”. Oosthuizen sê daar is al ’n jaar gelede hieroor ooreengekom.

Mouton het Vrydag gesê TM kan geen verdere kommentaar lewer nie omdat ’n tugondersoek aan die gang is. Volgens hom gaan die Kerk­bode van 1 Maart ’n berig oor die Kerkbode/Woordfees-kwessie hê.

Dit sal ook deur die loop van die week aanlyn beskikbaar wees by http://www.kerkbode.co.za

Oosthuizen word nie toegelaat om kommentaar te lewer nie.