In die ou dae het die NG Kerk sending en evangelisasie aksies geborg.
Iemand by Kerkbode, die amptelike media spreekbuis van die NG Kerk het egter besluit om godslastering en die afkraking van die evangelie te borg. Abel Pienaar, bekend vir sy New Age panenteïsme in ‘n suikerlagie van Christelike terme*, en Lina Spies, bekend vir haar verwerping van die Christelike godsdiens tree eersdaags as sprekers op by Maties se Woordfees. En Kerkbode sou die rekening betaal.
Die NG Kerk is onder daaglikse kritiek omdat daar dwaalleer in die hoogste vlakke van die kerk voorkom, soos bv verwoord deur Julian Muller en Ben du Toit. Dit was dus goeie nuus om te hoor dat Kerkbode hom aan dié godslasterlike partytjie onttrek het.
Vanoggend berig Die Burger dat daar ‘n nadraai aan die sage is: Jean Oosthuizen is geskors.
‘n Mens wil amper ‘n sug van verligting slaak. Uiteindelik. Oosthuizen is al jare besig om die evangelie te bespot en mense se geloof te probeer vernietig. Kyk maar na sy boek “Hier Staan Ek” (Geen verband met hierdie webwerf nie!) wat juis ten doel het om die Christelike geloof belaglik te maak. Hy adverteer al jare lank Abel Pienaar se godslasterlike boeke op Kerkbode se webwerf, en gee so die NG Kerk se imprimatuur aan Pienaar.
Dit is asof Oosthuizen in die NG Kerk geplant was om die kerk van binne te vernietig.
En tog is daar twee dinge wat hierstaanek se vreugde hier demp.
Die eerste is dat Oosthuizen deur die jare in sy pos gehou en beskerm is deur mense wat duidelik sy teologie deel. Gaan dinge hoër op in die kerk verander net omdat een van hulle pionne sy hand oorspeel het en nou verwyder is? Net tyd sal leer.
Die tweede is dat Oosthuizen waarskynlik sy werk gaan verloor. Om werkloos te wees in vandag se ekonomiese klimaat is nag. Veral as jy in ‘n klein bedryf soos die koerantwese weens oneerlikheid geskors is. Ek bid dit Oosthuizen nie toe nie.
En tog is dit moontlik ‘n waterskeidingsoomblik vir hom. Dalk sal die Here hierdie krisis in Oosthuizen se lewe gebruik om hom tot bekering te bring.
Ek dink daar is baie mense regoor die land wat my gebed deel: Jean, ons dink aan jou en bid vir jou. Mag jy dié Jesus wie jy al jare lank bespot en vervolg se genade en vrede ervaar. Hy het sy bloed vir jou gestort. Daarom is sy genade vir jou verniet. En genoeg.
*Pienaar se webwef is hier, kyk maar hoe hy sy volgelinge belowe hulle kan self Christus word. Soos die slang vir Eva gesê het: “Jy sal soos God wees.”
Die artikel in Burger is hier:
Kerkbode se nuushoof geskors ná ‘onwaarhede’
2013-02-17 23:58
Jean Oosthuizen is blykbaar gevra om sy kantoor te ontruim en sy persoonlike werkrekenaar te oorhandig.
Dit volg nadat die Kerkbode as donateur van die godsdiensgesprekke by die Universiteit Stellenbosch (US) se Woordfees onttrek het.
Die bestuur en direksie van die Tydskriftemaatskappy (TM), uitgewer van Kerkbode en deel van Bybel-Media, het beweer hulle was onbewus daarvan dat die koerant as donateur sou optree.
Volgens ds. Danie Mouton, voorsitter van die direksie van TM, is die nodige reëlings “nie langs die normale bestuurskanale van die maatskappy getref nie”.
Oosthuizen het dit egter verlede week teenoor Die Burger ontken en gesê dié idee is kort ná die vorige Woordfees in 2012 met onder meer TM en Bybel-Media se uitvoerende hoof, dr. Pieter Fourie, bespreek.
Ds. Danie Mouton, voorsitter van die direksie van TM, het gister gesê Oosthuizen se skorsing hou geensins met die Woordfees verband nie, “maar met sy bewering op RSG en in ’n berig in Die Burger waar hy die direksie van onwaarheid beskuldig”.
Volgens Mouton het die TM-direksie reeds aangekondig dat die rede waarom die Kerkbode aan die Woordfees onttrek het daaroor handel dat die aard van die gespreksreeks “nie behoort tot die kernbesigheid van Kerkbode se handelsnaam nie”.
Oosthuizen is met behoud van volle diensvoordele gekors, in afwagting van ’n interne tugverhoor.
Gerugte oor Oosthuizen se skorsing het gister op die sosiale netwerk Facebook en die Kletskerk-gespreksforum versprei.
Oosthuizen self wou gister geen kommentaar lewer oor wat gebeur het nie.
Adri-Louise van Reenen, redakteur van die Kerkbode, het bevestig dat Oosthuizen geskors is, maar wou geen verdere besonderhede oor die klagtes teen hom bespreek nie.
– Die Burger
Eckard Briedenhann said:
“Oosthuizen is met behoud van volle diensvoordele gekors, in afwagting van ’n interne tugverhoor.” Ek verwag ‘n tik oor die vingers en dat hy waarskynlik weer aangestel sal word. Verder vind ek hierdie stelling van Ds. Danie Mouton absoluut skokkend, “Ds. Danie Mouton, voorsitter van die direksie van TM, het gister gesê Oosthuizen se skorsing hou geensins met die Woordfees verband nie, “maar met sy bewering op RSG en in ’n berig in Die Burger waar hy die direksie van onwaarheid beskuldig”.” As die direksie in ‘n slegte lig gestel word is hulle blitsvinnig om die man te skors, maar as hy die Woord van God en Jesus Christus beswadder en minag dan is dit maar okay!
hierstaanek said:
Eckard, ons moet maar wag en kyk wat gebeur.
Ben Biggs said:
Hier is ʼn vriendelike maar ernstige vermaning; moet asseblief nie ongered sterf en onder die oordeel kom nie, maar kom tot geloof in Christus en laat jou doop in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sonde, en jy sal uit genade deur jou geloof in Christus gered word en die gawe van die Heilige Gees ontvang.
Want elkeen wat in Christus glo, behoort aan Christus, en as ons aan Christus behoort dan is ons die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename van die ewige lewe. Amen.
Johannes3,16; Handelinge 2,38; Efésiërs2,8-9; Galásiërs3,26-29;
T.C.Breitenbach said:
Gee ‘n man genoeg tou en hy hang homself op. Dis wat Judas Iskariot gedoen het na sy verraad teen Jesus Christus en sy werping van die dertig silwerstukke in die tempel.
Jaco Steyn said:
Die “gerugte” oor sy skorsing, waarna vanoggend se berig in “Die Burger” verwys, het veral betrekking op my plasings gister op Facebook. Ek sal voortgaan om sover moontlik te protesteer teen die onregverdige optrede teenoor Jean. Die eintlike saak waaroor dit vir my gaan is mense se reg tot vryheid van spraak – selfs die regte van iemand soos Jean met wie ek al dikwels verskil het op Facebook.
hierstaanek said:
Jaco
Ek stem 100% saam met jou oor vryheid van spraak. Dit is egter nie wat hier ter sprake is nie. Jy kan Pepsi Cola bevorder soveel jy wil, dit is jou reg. Maar as jy vir Coke werk en jy bevorder Pepsi gaan jy in groot moeilikheid kom, en met reg.
Jean Oosthuizen werk vir die NG kerk. Die NG Kerk se konstitusie is die Kerkorde en die Belydenisskrifte. Jean bevorder ‘n teologie wat dit direk weerspreek in sy boek en deur sy ondersteuning van mense soos Abel Pienaar.
NG Kerk het dus die reg om hom voor stok te bring.
Jaco Steyn said:
Baie mense sal dit waardeer indien die besluitnemers oor Jean se skorsing sou erken dat die onlangse gebeure rondom die Woordfees, dié eintlike hoofrede vir sy skorsing is. Jean se besluit om dr. Abel Pienaar (as ʼn vriend van Abel is ek glad nie beïndruk met julle verwysing na hom as “mense soos Abel Pienaar” nie!) as deelnemer aan een van die gesprekke uit te nooi, was heel waarskynlik die “laaste strooi” vir “mense soos” ds. Danie Mouton…
Nico Vorster said:
Jaco het natuurlik klaar regter en advokaat gespeel en Jean klaar onskuldig bevind. Bloot omdat Jaco, Jean en Abel se skewe filosofie deel.
Dalk kom daar nog ‘n lekker belydenis (alhoewel ek twyfel of sekere mense aan belydenis glo).
Jaco Steyn said:
Hallo Nico. Ek weet nie na watse “skewe filosofie” jy verwys nie. My geloof in reïnkarnasie en ʼn Goddelike Werklikheid, verskil hemelsbreed van Abel se agnostisisme. Ek en Jean se politieke denke verskil ook hemelsbreed van mekaar. Jean is redelik DA-gesind, terwyl ek die ANC en DA beskou as “vinkel en koljander”, juis omdat albei partye grondhervorming, naamsveranderinge en “Regstellende” Aksies, ondersteun. Ek respekteer egter Abel en Jean se pogings om veral Afrikaanse mense aan te moedig om te besin oor die geldigheid van die tradisionele Christelike dogmas waarmee baie van hulle “grootgeword” het.
Somerset Morkel said:
Dis moeilik om nie ‘Schadenfreude’ te he nie… maar ek vind dat die berig hierbo in ‘n sterk Christelike gesindheid geskryf is, en ek stem daarmee saam. Oosthuizen moet ernstig tot bekering kom… Hy sal waarskynlik nie in die kader vd Kerkbode of die huidige leierskap vd NGK tot bekering kom nie, want dis al lankal grootliks op weg na ‘n vals kerk, Danie Mouton en kie en al..
WILLIE DU PLESSIS said:
Danie Mouton is waarskynlik self ook maar ‘n verkleurmannetjie en geniepsige kalant. Tydens die laaste sinode van die Gereformeerde Kerk (GKSA) in Potchefstroom het hy in die Facebookblad van die Oos-Kaap NG Kerk ‘n klomp lae houe na die GKSA geslaan. Hy het onder andere beweer dat die GKSA maar ‘n rare lot is wat sy lidmate verbied om te dans en voorheen nie lofliedere tot eer van Jesus Chistus mag gesing het nie. Om die geheue te verfris : Die GKSA het mos tydens die laaste sinode besluit om ‘n klompie verdere liedere vir gebruik tydens eredienste goed te keur. Toe ek hom op sy growwe mistastings gewys het, asook dat hy uit voeling is met wat in die GKSA aangaan, het hy my summier “unfriend”. Wat my in die proses opgeval het, was dat ek nogtans kon sien hoe hy sy berig onmiddelik aangepas en reggestel het. Hy het blykbaar besef hoedanig hy venynig en liefdeloos teenoor die GKSA opgetree het. Maar verkoning vra bestaan blykbaar nie in sy verwysingsraamwerk nie.
Estelle Nagel said:
Niemand weet presies waaroor die bohaai gaan nie, en Jean kan homself ook ongelukkig nie verdedig tot die einde van die tugverhoor nie. So ek stel voor dat in plaas daarvan om die man te beskinder/bespiegel en julleself verder te verlekker in die skandaal, dat mense eerder wag en sien.
hierstaanek said:
Hallo Estelle
Jy sal oplet dat ek geen bewerings of bespiegelings gemaak het oor hoekom Oosthuizen geskors is nie. My bewerings oor sy teologie en die manier waarop hy die evangelie ondergrawe is gegrond op sy ondersteuning van Abel Pienaar deur Pienaar se boeke op Kerkbode aanlyn te adverteer, sy eie boek “Hier Staan Ek”, en jare se bydraes op sosiale media, sy eie Kletskerk inkluis.
Veral Kletskerk, waarvan hy die redakteur is, was voorheen bekend vir die liederlike godslastering wat Oosthuizen daar toegelaat het.
Dus is daar geen sweem van beskindering of bespiegeling by my nie. As ek iets in die openbaar sê kan ek dit bewys. Onthou dit maar.
T.C.Breitenbach said:
Indien jy mense se “reg tot vryheid van spraak” – ‘n vryheid wat sekerlik nié onbegrens is nie – verdedig, ‘n “spraakvryheid” waaronder ook die belastering en aantasting van die Goddelike eer sou kon insluit – dan dink ek het jy voor ‘n baie belangrike “toets” vir die egtheid van jou bekering (en alles wat daarop volg) te staan gekom. Die Bybel laat ons nié ‘n middeweg toe nie: óf ons is vir God, óf ons is teen God. Laasgenoemde sou ook kon beteken om met God se vyande simpatie te hê om die verkeerde rede(s).
hierstaanek said:
@ Jaco
Dit is OK om ‘n vriend van Abel Pienaar te wees.
My probleem met Abel is as volg:
–Hy verwerp die Christelike geloof in sy totaliteit ten gunste van Buddhisme en New Age filosofie.
–Hy beweer hy is steeds ‘n Christen en versterk dié leuen deur Christelike terme te gebruik, en selfs liturgie te gebruik (soos ek verstaan) wat Christelik voorkom.
–Hy doen moeite om in gesprekke met Christene betrokke te raak en verkoop sy filosofie op ‘n baie subtiele manier sodat die oningeligde dit nie noodwendig sal snap nie.
–Hy gee homself uit as ‘n gerekende teoloog en sy opinie word in kerkbode geplaas.
–Hy adverteer op Kerkbode se webblad.
Ek het hom twee jaar terug gekontak om hom te vra wat hy glo. Sy antwoord was: Lees my blog. Hy was nie bereid gewees om prontuit te sê wat hy glo nie.
Dit alles wys daarop dat hy daarop uit is om deur oneerlike verberging van wat hy regtig glo mense stelselmatig te mislei totdat hulle in sy strik getrap het. Hy is in die opsig soos enige ander “christelike” sekte wat die Christendom gebruik as primêre werwingsveld vir hulle skape.
Abel se teologie is doelbewus soos ‘n vervalsde banknoot ontwerp om soos iets te lyk wat dit nie is nie om mense te mislei.
Ek vind dit afstootlik.
hierstaanek said:
Ek moet net byvoeg: Die verskil tussen Abel en bv ‘n Christen sendeling onder die Moslems is dat ‘n Christen sendeling nooit voorgee om ‘n Moslem te wees en Moslems so te mislei nie. Abel mislei doelbewus.
Johannes said:
Dankie vir ‘n Webjoernaal wat vir die waarheid staan. Ek is ‘n NG predikant wat dit geniet om die waarheid binne my geliefde kerk te verkondig. Ek probeer om veral positief te fokus op die heerlike evangelie, maar dis wel ook nodig om dwaling (en dwaalleraars) by die naam aan te spreek o,a. Abel Pienaar, Joel Osteen en die Hebrew Roots Movement. Ek doen dit op my webjoernaal “Woord-skatte gemyn op Tsumeb” by http://skattegemynuitgodsewoordintsumeb.blogspot.com/
groete
Johannes
Jaco Steyn said:
Abel het al verskeie kere in die openbaar erken dat sy godsbeskouing meer agnosties van aard is. Hy erken dus dat hy nie met “sekerheid” kan beweer dat God bestaan of nié bestaan nie. Hy het egter Sondagoggend erken dat die hoofrede waarom Renaissance nie derduisende lidmate het nie, juis die feit is dat hy, dr. Flip Schutte en dr. Piet Müller, nié ander mense dreig met die “Helse Vuur” indien hulle nie met die drie van hulle sou saamstem nie. Die hoofkenmerk van Christelike sektes is juis dat húlle die “ongelowiges” en andersdenkendes met die Ewige Verdoemenis dreig. Baie ander teoloë soos o.a. prof. Sakkie Spangenberg en Biskop John Shelby Spong, noem hulself nog “Christene”, juis omdat hulle nog tuis voel binne die Christelike tradisie, terwyl hulle nie die ortodokse dogmas aangaande die Bybel as Goddelik-geïnspireerde “onfeilbare Woord van God” en Jesus as deel van God Drie-Enig, aanvaar nie. Lees gerus my artikel (http://www.spiritualiteit.co.za/artikel-betekenis-van-die-woord-christen.php) i.v.m. verskillende betekenisse wat mense aan die woord “Christen” heg.
hierstaanek said:
Jaco
Nuus vir jou: DIe Jehovah Getuies verwerp die idee van die hel. Die Mormone glo nie in die hel nie. Abel glo nie in die hel nie. O, en die Jehovas en die Mormone noem hulleself Christene. Abel noem homself ook ‘n Christen.
Ek het jou artikel vinnig gescan, en kan net dit noem:
Die woord Christen beteken letterlik “volgeling van Christus”
JOhannes sê: 1 Joh4: 1Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is. 2Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. 3En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is.
Let op: Dié Christus. Daar is net een.
Jy sê in jou artikel: “Die oorspronklike Griekse woord Christos is in hierdie verse gebruik as vertaling van die Hebreeuse woord Mashiach, wat verwys na ‘n menslike Messias of gesalfde en beslis nié noodwendig na Jesus as die Seun van God nie.”
Dus: As ek jou artikel in die konteks van 1 Johannes lees kan ek net tot die gevolgtrekking kom jy is die antichris. Of ten minste ‘n antichris (die Bybel sê daar is baie)
Op grond van jou eie getuienis Jaco, verklaar ek dus nou in die lig van die Woord van God dat jy hel toe gaan, tensy jy jou bekeer en Jesus aanneem as die enigste Christus.
Dit is nie te laat nie, Jaco. Jy weet jy is nie regtig God soos Abel beweer nie. Jy weet mos instinktief Abel lieg vir jou!
T.C.Breitenbach said:
Drie kort opmerkings:
1. My hele lewe is ingestel om, aan die einde daarvan, ‘n finale “ontmoeting” te hê. Ek is van oortuiging dat my hele lewe ‘n voorbereiding is vir ‘n ontmoeting met God die Vader deur Wie ek die heerlike voorreg het om deur Sy Seun, Jesus Christus – as Middelaar – te mag gaan, synde die “Weg, die Waarheid en die Lewe” sónder wie niemand God sal sien nie. Vir hierdie “ontmoeting” laat Hy my nie onvoorbereid en in die duister nie; daarvoor het Hy my Sy Woord gegee ter bestudering onder die leiding van Sy Gees, ter voorbereiding vir dié “ontmoeting”, en die ewige heerlikheid saam met Hom wat daarop sal volg. In hierdie voorbereiding sal ‘n “aardse” en “mensgemaakte” tipologie van Christene – soos byvoorbeeld ‘n verwysing na “tradisionele Christene”, “fundamentalistiese Christene”, ens. – my absoluut NIKS help nie. Dit is ‘n geval van ‘n absolute “geloofsdichotomie” : óf jy is ‘n begenadigde kind van God, of jy is nié ‘n kind van God nie – “No happy spiritual medium in between!”
2. Ek beklemtoon maar net weer wat iemand (min of meer) soos volg gesê het: “Ek glo liewer my lewe lank in die bestaan van God, met al die implikasies verbonde daaraan in die dien van Hom, om dan by my dood uit te vind daar is nie ‘n God nie, as wat ek my hele lewe lank die bestaan van God ontken en dan by my dood te moet uitvind dat Hy wel bestaan.” Iewers waarsku die Bybel ons met ‘n teks wat lui: “Dit is verskriklik om te val in die hande van die lewende God.”
3. Kyk op die blog waterswaarrusis.blogspot.com , “scroll” af na onder en kliek dan, links onder, op die onderwerp “kerk”. Gaan dan na 14 November 2011 en lees wat gesê word onder die opskrif “Nuwe spiritualiteit vervang Christendom”.
Jaco Steyn said:
Vanoggend se berig in Beeld – http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Kerkbode-joernalis-geskors-na-uitlatings-20130218. Die groot vraag is natuurlik of die direksie van die Tydskriftemaatskappy van die NG Kerk wel die waarheid gepraat het of nie. “[Dr. Pieter] Fourie, [uitvoerende hoof van Bybelmedia] het gister gesê hulle het dit nie teen die sprekers [o.a. dr. Abel Pienaar] as mense nie [maar wel as ‘ongelowige’ vrydenkers!]. Die direksie het egter nie gedink hulle is die regte soort mense vir Kerkbode se mark nie. Die meeste NG lidmate is teologies konserwatief. Met dié mark het die direksie gevoel die gesprekke is nie tot voordeel van Kerkbode as handelsmerk nie.”
WILLIE DU PLESSIS said:
Wel, ons moet dankbaar wees dat die NG Kerk leiers tot hulle sinne geroep word. Dit bly geheel onaanvaarbaar dat die NGK deelneem aan debatte oor die Wese van God, bestaan van die Bose (Satan) en ewige verdoemenis (hel) wat bestem is vir die ongeredde sondaars en spotters. Dit is geheel onaanvaarbaar vir die NGK om deel te neem aan openbare media debatte met ateiste, godloënaars en godvloekers. Dit is ‘n medium waar die NGK en ander christelike kerke se beeld net skade kan opdoen. In die verlede het hierdie tipe debatte net daarop uitgeloop dat modder op die kerk se gesig gespat het. Mens leer mos uit foute en doen dit nie weer nie. Die arbeidsveld van die kerk rakende die verkondiging van die evangelie van velossing deur die bloed van ons Here jesus Christus is massief groot. Daar is nie nog tyd om met sulke snert besig gehou te word nie. As die NGK spoedig afsien van sy beheptheid om die Drie Formuliere van Ewigheid (Nederlandse Geloofsbekydenis, Heidelbergse Kategismus en Dortse Leerreëls) met die belydenis van Belhar te vervang, sal die NGK van hierdie tipe verleenthede gespaar word.
Jaco Steyn said:
Willie. Jy erken dus dat gelowiges heeltemal onverdraagsaam behoort te wees betreffende “oop” gesprekke en debatte met andersdenkendes soos ateïste, godloënaars (beteken eintlik dieselfde as “ateïste”) en godvloekers (ʼn beter woord sou dalk “godslasteraars” gewees het). Gelowiges behoort dus, volgens jou, alles in hul vermoë te doen om alle ánder idees aangaande die aard van die Goddelike en die hiernamaals, te onderdruk en “weg te hou” vanaf hul ander medegelowiges. Daar is egter ander fundamentalistiese Christene soos dr. William Lane Craig, wat gereeld deelneem aan debatte met ateïste en “liberale” Christene soos prof. Sakkie Spangenberg, wat nié beïndruk daarmee sal wees dat sy gedurige debatte as “sulke snert” beskou word nie…
WILLIE DU PLESSIS said:
As die heer dr William Lane Craig daarvan hou om met ateiste te debatteer (twis) is dit maar sy saak. Seker waarom ek nog nooit van hom gehoor het nie. Ek stel dan beslis ook nie daarin gelang om hom te beindruk nie. Hy moet maar verduidelik hoedanig hy die eer van God dien met sy debatte (twiste). As jy verkies om die sterk woord “Godvloekers” na godslasteraars te versag, is dit ook jou saak. As ek sekere uitsprake van ateiste wat deesdae in die mesia voorkom moet beoordeel, soek ek na ‘n sterker woord as “Godvloekers”.
hierstaanek said:
@ Jaco
Geen Christen wat sy sout werd is het nog ooit weggeskram van debat met ateiste nie. Wat by Woordfees beplan is, is duidelik nie oop debat volgens enige standaard nie. Dit is maar net Abel en Lina wat op die NG Kerk lidmate se onkoste hulle gal teen Christus sou kom braak.
En dan natuurlik is Abel in die verlede deur kerkbode as VIP behandel: Al sy ou blogstukkies is onkrities op Kerkbode se facebook gepos, sy boeke is onkrities op Kerkbode se webwerf adverteer, sy opinies is selfs onkrities in papier Kerkbode publiseer.
Dit alles is gedoen om hom en sy dwaalleer legitimiteit te verskaf, deur Kerkbode, wat veronderstel is om die Evangelie te verkondig.
Vir gesonde debat met ‘n ateïs of ‘n New Ager soos Abel Pienaar is ek enige tyd oop. In die openbaar nog beter.
In fact, as Abel met my openbare debat wil voer is hy welkom.
WILLIE DU PLESSIS said:
Ja Jaco, Geniet jy en jou ateis vriende maar julle plesiertjies.
Jou stelling : “Geen Christen wat sy sout werd is het nog ooit weggeskram van debat met ateiste nie.” is die grootste snert wat ‘n mens kan kwytraak. Ons Here Jesus Christus self het nie eens Sy tyd met ateiste gemors nie.
Jaco Steyn said:
@Willie. Die sin wat jy aanhaal is geskryf deur “hierstaanek” en nie deur my nie. As Jesus nié sy “tyd gemors” het met ateïste nie, behoort Christene ook nie hul “tyd te mors” deur te probeer om ateïste te “bekeer” nie…
WILLIE DU PLESSIS said:
Wel, al het ek nie so mooi gekyk en gelees voor ek jou geantwoord het nie, stem ek beslis met jou laaste stelling saam. Dit onderstreep die regte besluit van die NGK om nie meer met ateiste te debatteer nie. As hulle onbekeerbaar is, is daar beslis nog te meer rede om die Woordfees debat te kanselleer.
Jaco Steyn said:
Dalk was ds. Mouton se verwysing na die “kernbesigheid” van Kerkbode ‘n “Freudian slip” aan sy kant? Op die ou end is die kerke maar net instansies (besighede?) wat ander mense manipuleer vir politieke redes. Ek het ‘n vermoede dat die hele “Woordfees en Kerkbode”-gedoente deel is van ‘n strategie om op die ou end die Belharbelydenis meer aanvaarbaar te maak vir die gewone NG lidmate. Aan die een kant probeer hulle die konserwatiewe lidmate bluf en tevrede stel deur ontslae te raak van die “liberale” Jean, terwyl hulle dan lateraan hierdie “konserwatiewe” besluit sal “uitkanselleer” met die “liberale/linksgesinde” besluit om die Belharbelydenis as vierde belydenisskrif aanvaar te kry…