In die ou dae het die NG Kerk sending en evangelisasie aksies geborg.

Iemand by Kerkbode, die amptelike media spreekbuis van die NG Kerk het egter besluit om godslastering en die afkraking van die evangelie te borg. Abel Pienaar, bekend vir sy New Age panenteïsme in ‘n suikerlagie van Christelike terme*, en Lina Spies, bekend vir haar verwerping van die Christelike godsdiens tree eersdaags as sprekers op by Maties se Woordfees.  En Kerkbode sou die rekening betaal.

Die NG Kerk is onder daaglikse kritiek omdat daar dwaalleer in die hoogste vlakke van die kerk voorkom, soos bv verwoord deur Julian Muller en Ben du Toit. Dit was dus goeie nuus om te hoor dat Kerkbode hom aan dié godslasterlike partytjie onttrek het.

Vanoggend berig Die Burger dat daar ‘n nadraai aan die sage is: Jean Oosthuizen is geskors.

‘n Mens wil amper ‘n sug van verligting slaak. Uiteindelik. Oosthuizen is al jare besig om die evangelie te bespot en mense se geloof te probeer vernietig. Kyk maar na sy boek “Hier Staan Ek” (Geen verband met hierdie webwerf nie!) wat juis ten doel het om die Christelike geloof belaglik te maak. Hy adverteer al jare lank Abel Pienaar se godslasterlike boeke op Kerkbode se webwerf, en gee so die NG Kerk se imprimatuur aan Pienaar.

Dit is asof Oosthuizen in die NG Kerk geplant was om die kerk van binne te vernietig.

En tog is daar twee dinge wat hierstaanek se vreugde hier demp.

Die eerste is dat Oosthuizen deur die jare in sy pos gehou en beskerm is deur mense wat duidelik sy teologie deel. Gaan dinge hoër op in die kerk verander net omdat een van hulle pionne sy hand oorspeel het en nou verwyder is? Net tyd sal leer.

Die tweede is dat Oosthuizen waarskynlik sy werk gaan verloor. Om werkloos te wees in vandag se ekonomiese klimaat is nag. Veral as jy in ‘n klein bedryf soos die koerantwese weens oneerlikheid geskors is. Ek bid dit Oosthuizen nie toe nie.

En tog is dit moontlik ‘n waterskeidingsoomblik vir hom. Dalk sal die Here hierdie krisis in Oosthuizen se lewe gebruik om hom tot bekering te bring.

Ek dink daar is baie mense regoor die land wat my gebed  deel: Jean, ons dink aan jou en bid vir jou. Mag jy dié Jesus wie jy al jare lank bespot en vervolg  se genade en vrede ervaar. Hy het sy bloed vir jou gestort. Daarom is sy genade vir jou verniet. En genoeg.

*Pienaar se webwef is hier, kyk maar hoe hy sy volgelinge belowe hulle kan self Christus word. Soos die slang vir Eva gesê het: “Jy sal soos God wees.”

Die artikel in Burger is hier:

Kerkbode se nuushoof geskors ná ‘onwaarhede’

2013-02-17 23:58

KAAPSTAD. – Die nuusredakteur van die Kerkbode, amptelike koerant van die NG Kerk, is glo Vrydag geskors.

Jean Oosthuizen is blykbaar gevra om sy kantoor te ontruim en sy persoonlike werkrekenaar te oorhandig.

Dit volg nadat die Kerkbode as donateur van die godsdiensgesprekke by die Universiteit Stellenbosch (US) se Woordfees onttrek het.

Die bestuur en direksie van die Tydskriftemaatskappy (TM), uitgewer van Kerkbode en deel van Bybel-Media, het beweer hulle was onbewus daarvan dat die koerant as donateur sou optree.

Volgens ds. Danie Mouton, voorsitter van die direksie van TM, is die nodige reëlings “nie langs die normale bestuurskanale van die maatskappy getref nie”.

Oosthuizen het dit egter verlede week teenoor Die Burger ontken en gesê dié idee is kort ná die vorige Woordfees in 2012 met onder meer TM en Bybel-Media se uitvoerende hoof, dr. Pieter Fourie, bespreek.

Ds. Danie Mouton, voorsitter van die direksie van TM, het gister gesê Oosthuizen se skorsing hou geensins met die Woordfees verband nie, “maar met sy bewering op RSG en in ’n berig in Die Burger waar hy die direksie van onwaarheid beskuldig”.

Volgens Mouton het die TM-direksie reeds aangekondig dat die rede waarom die Kerkbode aan die Woordfees onttrek het daaroor handel dat die aard van die gespreksreeks “nie behoort tot die kernbesigheid van Kerkbode se handelsnaam nie”.

Oosthuizen is met behoud van volle diensvoordele gekors, in afwagting van ’n interne tugverhoor.

Gerugte oor Oosthuizen se skorsing het gister op die sosiale netwerk Facebook en die Kletskerk-gespreksforum versprei.

Oosthuizen self wou gister geen kommentaar lewer oor wat gebeur het nie.

Adri-Louise van Reenen, redakteur van die Kerkbode, het bevestig dat Oosthuizen geskors is, maar wou geen verdere besonderhede oor die klagtes teen hom bespreek nie.

 – Die Burger