Prof Nelus Niemandt het onlangs verklaar: “Daar is nie dwaalleer by Tukkies nie.” (Dis nou as ek sy woorde reg onthou – die ouderdom vang selfs die jongstes uiteindelik). Tog is dit duidelik dat daar wel ‘n slang in die gras is.

Julian Muller verwerp die teïstiese Godsbeskouing van die Bybel ten gunste van panenteïsme. Hy verklaar die mens tot god! …en hy is bevorder tot adjunkdekaan van die teologie departement.

En Prof Niemandt sê daar is nie dwaalleer nie?

Prof Niemandt, is dit nie dwaalleer om die mens tot god te verklaar nie? Ek, en die res van die NG Kerk is geregtig daarop dat jy ons antwoord!

Hierstaanek se opinie: Gemeentes moet net eenvoudig weier om proponente van die NG kerk se kweekskole aan te stel. Neem jong, wedergebore, Geesvervulde mense in diens en laat hulle hulleself via afstand onderrig teologies bekwaam, terwyl hulle in diens van die gemeente staan!

Daar is talle uitstekende Gereformeerde kweekskole in Amerika wat  nog die Evangelie verkondig en glo.

Intussen skryf Ferdie Mulder van “Opgestaan” faam die volgende op sy blog:

HOE oorleef ‘n teologie student eensydige liberale teologie?

“Hou altyd ‘n sakboekie byderhand om spesifiek notas te maak van belangrike sake wat jou verwar in die klas en voorgeskrewe werk”. DIT was van die goeie raad wat ‘n vooraanstaande NG teoloog en predikant aan ‘n groep teologie studente ‘n klompie jare gelede gegee het om ‘n koffie tafel in Pretoria.
In ons tyd was sommige studente raadop omdat voorgeskrewe werk as baie eensydig beleef was in sommige klasse. Dit lyk my dit gebeur vandag nog. Onlangs het ‘n baie skerp NG teologie student met my kontak gemaak uit Suid Afrika en vertel dat in een van sy vakke, daar SLEGS twee voorgeskrewe boek was: Julian Muller se Om Te Mag Twyfel; en Fritz Gaum se Fluit-fluit die kerk is uit?
Die predikant van Pretoria se raad aan ons groepie studente in 2003 was die regte ding op die regte tyd. Daarna het ons weekliks notas gemaak van moeilike sake en dan vir selfstudie gaan rondkrap in die biblioteek om die uiteenlopende stemme te raadpleeg. Ons het aanhou soek
TOTDAT
ons goeie antwoorde vir probleme gevind het. Lekker koffie gesprekke met teoloog mentors buite die fakulteit (ouens wat dalk bietjie meer “objektief” was?) het vir ons ontsettend baie beteken. Tydens ons soektogte het ons soms met verwondering besef dat van die meer “behoudende” werke van teologiese reuse nie eens aanbevole literatuur was in sommige modules nie!
Mens wonder hoeveel studente loop nie verward uit die klas, oortuig dat die professors mos “beter weet” en dan onkrities klone van dosente geword nie? Een oggend na klas in 2004, het ‘n jong student vir ‘n paar ouens wat gereeld vrae in die klas vra min of meer die volgende gevra : “Hoekom vra julle soveel vrae in die klas? Die professors weet mos baie beter as julle?” As ek nog reg onthou, was hierdie vriend een van daai jong studente wat die dag voor ‘n eksamen gou die opsommings van ‘n ander student sou deurwerk, en dan deurskuur op sy basvelle.

(Verkort: Kliek hier vir die volledige artikel.)