Mens wonder waarom Kerkbode twee mense wat die God van die Bybel verwerp se opinie vra oor God.

Hierdie plaas ‘n ernstige vraagteken op Kerkbode se verbintenis tot die Persoon en Evangelie van Jesus.

Dr Abel Pienaar is ‘n self erkende Buddhis, en op sy kerk, Renaissance gemeente in Pretoria, se webwerf stel hy sy panteisme/ panenteisme  baie duidelik deur te verkondig dat die mens self, soos Jesus, God is. Hy noem dit die reis van homo sapiens tot homo christos.

Net so het prof Anton van Niekerk, alhoewel hy tot onlangs ‘n beroepbare proponent in die NG Kerk was, al in openbare uitsprake Bybelse teïsme verwerp ten gunste iets anders.

Hy skryf in ‘n artikel oor sy boek “Geloof sonder sekerhede” die volgende:

Maar wat van die begrip “God” self? Kan ons dit nog aanvaar?

In die boek argumenteer ek dat die eeue oue Christelike belydenis dat wat ons van God weet ons slegs in die figuur van die historiese mens Jesus van Nasaret kan leer ken ten diepste korrek is.

Dit beteken terselfdertyd dat ons niks meer van God kan weet as wat ons te wete kom in die lewe van die sentrale figuur van die Christendom nie.

Buite Jesus om is God hoogstens die misterie van ons wêreld en selfs van ons taal. In Jesus leer ons ook nie veel omtrent wat God is nie, maar wel hoe God is. Die essensie van daardie “hoe” is die gebod van liefde vir die medemens. Die boek is daarom ‘n skerp kritiek op ‘n oor-intellektualistiese beskouing van geloof.

Die Bybel is baie duidelik dat ons baie dinge oor God nooit hier en nou sal weet nie, maar ons God wel hier en nou  werklik kan ken – omdat HY homself aan ons openbaar.

Om te beweer dat God totaal onkenbaar is, is ‘n blatante verwerping van God se openbaring van homself in die Bybel, en dus ‘n verwerping van die God van die Bybel.

Is daar dan nie enige Christene wie se opinie oor God gevra kan word in plaas van hierdie twee selferkende heidene nie? Is Prof Nelus Niemandt se opinie nie genoeg nie?

Kerkbode is tog die mondstuk van ‘n Christelike kerk met die opdrag om dissipels van Jesus te maak?

Ek vra maar net.

Wynand Louw

EDIT: Ek het gou-gou my eposargiewe deurgedraf en hierdie persoonlike nota van Prof van Niekerk opgediep, wat hy in ‘n oomblik van irritasie aan my gestuur het na my pleidooi dat die Algemene Sinode van 2011 onder die tug geplaas moet word.

Prof van Niekerk het my hierna in ‘n tweede nota – waarskynlik ‘n oomblik van helderheid na die aanvanklike emosionele reaksie – gevra om nie hierdie brief van hom openbaar te maak nie.

Ek het vir amper ‘n jaar aan sy versoek voldoen. Ek voel egter dat dit absoluut noodsaaklik is dat die lidmate van die NG Kerk weet watter soort godloenaar Kerkbode aan hulle voorhou as ‘n geloofwaardige teoloog.

Kan jy aan ‘n meer ondubbelsinnige verwerping van die Evangelie dink? Die kursivering en beklemtoning is myne.

(Aanhaling uit Prof van Niekerk se epos begin)

Ek sal dit baie hoog op prys stel indie u ophou om my tyd te mors met belaglikhede soos hierdie volgehoue aanvalle op en insinuasies teen die NG Kerk en verantwoordelike ampsdraers van daardie kerk. Die onlangse besluit van die NG Kerk se Algemene Sinoide om die Belhar Belydenis te aanvaar, is ‘n besluit wat ten minste 20 jaar gelede al moes geneem gewees het. Om Belhar te aanvaar, is sonder twyfel wat God tans van die NG Kerk vra om te doen; dis wat die Bybel vereis t.o.v. die eenheid van die kerk. Dit spyt my boonop om te verneem hoe vreeslik dit vir u is dat die bestaan van die duiwel, die “hel” en en dus die idee van God se “ewige straf op die sonde”, tereg deur vooraanstaande teoloë bevraagteken word. Dis darem erg as ‘n mens slegs in God (bly) glo omdat Hy Een is wat straf, pynig en vervolg! Is die evangelie nie ‘n evangelie van genade nie? Eerder as om verdere verwarring in die kerk te help skep, behoort u u eie teologie ‘n keer krities onder die loep te neem. 

Hoe dit ook al sy, spaar my asseblief verdere omsendskrywes soos hierdie. U mors u tyd. Ek loof die Here oor die onlangse Sinodebesluit oor Belhar en hoop en bid dat die eenwordingproses in die NG Kerkfamilie so gou moontlik afgehandel kan word. Dit, en niks minder nie, is wat God tans van ons vra.

 Anton van Niekerk

(Prof) Anton A van Niekerk
Voorsitter: Dept Filosofie/Chair: Philosophy Dept
Direkteur: Sentrum vir Toegepaste Etiek/Director: Centre for Applied Ethics
Universiteit Stellenbosch/Stellenbosch University
Privaatsak X1/Private Bag X1, Matieland, 7602
Suid-Afrika/South Africa
Tel. 27 21 8082055 (w)
Fax: 27 21 8083556

Die artikel is hier.

“God-deeltjie” het talle mislei

18/07/2012 | Filed under: Nuus,Suid-Afrika | Geskryf deur: 

Die ontdekking van die sogenaamde “God-partikel” bied nie ‘n gesonder of beter basis vir die gesprek tussen geloof en wetenskap nie, meen teoloë en ander kundiges. Een rede vir hul skeptisisme is sekere Christene se aanspraak dat dié opspraakwekkende ontdekking, wat verklaar hoekom die heelal massa het, die bestaan van God bewys.

Hendrik Geyer, professor in Teoretiese Fisika aan die Universiteit van Stellenbosch, sê die ongelukkige benaming “God-partikel” kan teruggevoer word na Leon Ledermann, ‘n voormalige direkteur van die Fermilab-versnellersentrum in Chicago en die Superconducting Super Collider (SSC) se publikasie The God Particle Universe Question. Dié titel was waarskynlik daarop gemik om die Amerikaanse kerkpubliek en die Kongres se steun te werf vir die vestiging van die projek in Amerika. Dit is egter deur die Kongres afgekeur.

Prof Geyer het gesê die ontdekking van die Higgs-boson bied geen spesiale nuwe insigte vir die gesprek tussen wetenskap en geloof nie.

Die moderator van die NG Kerk se vorige Algemene Sinode, prof Nelus Niemandt, sê die taal van die wetenskap en geloof is twee verskillende tale wat nie in konflik met mekaar hoef te wees nie. “Die taal van die wetenskap is baie eksak. Dit handel oor bewysbare feite terwyl geloofstaal meer te make het met die verwondering en misterie van die skepping.”

Die kerk het lankal nie meer finale seggenskap oor wetenskaplike deurbrake nie. Die kerk moet liewer met beskeie nederigheid en stille verwondering kennis neem daarvan sonder om self wetenskaplike uitsprake te probeer maak, het hy gesê.

Anton van Niekerk, professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch, sê hoewel hy ten gunste van gesprek is, is die diskoerse van die geloof en die wetenskap fundamenteel verskillend en hy is skepties oor die vrugte wat so ‘n gesprek kan oplewer. Die wetenskap probeer spesifieke verskynsels op grond van empiriese waarneming en logiese denke verklaar deur middel van versigtig geformuleerde teorieë.

“In die geloof vra ons vrae oor die sin van die wêreld of die werklikheid as sodanig; oor waar ons vandaan kom, oor wat hier en nou sin aan ons lewe gee, of dit wat ons sien en ervaar die somtotaal is van alles wat daar is…”

“Die wetenskap het geen monopolie op wat ons van en omtrent die wêreld kan weet nie.” Geloof wat egter ‘n wetenskap probeer wees, word ‘n bygeloof, het hy gesê.

Dr Abel Pienaar van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit in Pretoria sê die jongste deurbraak wys weer eens die bereidheid van die wetenskap om eerlik te bly soek na antwoorde. “Dit is egter nie deel van die wetenskaplike se wêreld om stellings te maak oor, byvoorbeeld, of God bestaan of nie bestaan nie. Daar is geen toetsbaarheid vir so ’n stelling moontlik nie.”

Dr Pienaar sê mense wat hulle geloof as wetenskap beskou, verstaan glad nie die wêreld van godsdiens nie. “Godsdiens gaan oor ’n innerlike wêreld van verbeelding, belewenis en gevoelsmatige uitdrukking, poësie, metafore, simbole, emosies en kuns.

“Godsdiens betaal vandag die prys vir die feit dat hy hom laat verlei het om wetenskaplik oor God te probeer praat. Dink net hoe anders ons wêreld daar sou uitgesien het indien God nie gesien was as die ‘Ewig Onveranderlike’ nie, maar eerder as die ‘Ewig Veranderende’ of ‘Ewige Misterie’. “ – Jean Oosthuizen en Tobie Wiese