Hierstaanek het vandag hierdie brief per epos ontvang. Die oorspronklike PDF is hier, indien u die skrywer wil kontak kan u sy besonderhede op die briefhoof kry.
2012-05-04
OPE BRIEF AAN BROERS IN DIE N.G. KERK
Geagte Broeder
Na baie gebed en besinning rig ek hierdie brief aan u en ’n klompie ander broeders in die N.G. Kerk en vra dat u hierdie brief biddend sal lees en met ’n oop gemoed daarna sal kyk.
Ek is tans ’n predikant in die Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente en het teologie studeer aan die Potchefstroomse Universiteit vir C.H.O. Voor ek voltyds in die bediening betrokke geraak het, was ek baie lank ’n onderwyser waarvan 12 jaar as skoolhoof. Ek en my vrou was ook baie jare lidmaat van die N.G. Kerk, maar is in 1984, toe die N.G. Kerk nog gestaan het op hul belydenisskrifte, onder sensuur geplaas en afgesny van ’n N.G.-gemeente in Ermelo omdat ons, nadat ons waarlik tot wedergeboorte gekom het, oortuig geraak het van die doop van gelowiges (die kredodoop) en ons laat doop het. Ons het deur die jare heen hegte vriendskapsbande met N.G.-lidmate gehad (en het nog steeds) – lidmate wat waarlik die Here Jesus Christus as Saligmaker navolg (beide “kredo- en paedodopers”).
Ek glo met ‘n gebroke hart dat ‘n skokkende groot deel van die institusionele kerk van ons dag grootliks koers verloor het, in sekere gevalle selfs reddende geloof versaak het, en dringend nodig het om onverwyld en met hartstog terug te keer na die fundamentele geloofsvertrekpunte van die Reformasie: die Skrif alleen, genade alleen, Christus alleen, geloof alleen, die eer van God alleen. Ek onderskryf die histories-gerespekteerde en internasionaal-erkende 1689 Baptiste Belydenis – soos meeste reformatoriese (gereformeerde) Baptiste oor die wêreld heen, asook die Belydenisskrif en Kernwaardes van Sola 5, ‘n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gemeentes en gelowiges in (tans) agt lande in Suider-Afrika.
Waarom rig ek hierdie brief aan u? Die afgelope jaar of drie, maar veral die afgelope jaar het ek intens bewus geraak van ernstige dwaalleer wat posgevat het in die N.G. Kerk en ek is intens besorg oor broers en susters in die Here Jesus Christus wat in die N.G. Kerk is. Ek kry van tyd tot tyd te doen met predikante in u denominasie en ek ervaar intense bekommernis en selfs verwarring by van hulle (veral jongeres).
Ek het ook bevriend geraak met heelwat N.G.-lidmate en ’n paar predikante op “Facebook” en kon ek sommige van die debatte wat gevoer word tussen regsinnige lidmate en –predikante aan die eenkant en “nuwe hervormers”/”verligtes”/”liberales”/”vrydenkers” aan die anderkant. My simpatie met die “behoudendes” aan die eenkant en my skok en ontnugtering in predikante wat in my oë bykans niks meer van die Woord van God glo nie, het a.g.v. hierdie debatte, net nog verder verdiep.
Wat ek nie kan verstaan nie, is dat die N.G. Kerk oënskynlik die wil en vermoë verloor het om op te tree teen teoloë, ampsdraers en predikante wat nie meer volgens die Belydenisskrifte en die Woord van God optree nie en derhalwe in my oë dwaalleraars geword het (Openb.2:14-15; 1 Tes.5:14; 2 Tim.4:2-5; Deut.13:5; 1 Kor.5:11, 13; Titus 1:9; e.a.). In die lig van Ferdie Mulder se boek, asook dit wat ek in die pers, persoonlike Blogs en “Facebook” lees, kan ek nie anders as om te dink dat die gesagstrukture van die N.G. Kerk reeds deur die “nuwe hervormers” gekaap is en daarom dat niks gedoen word aan persone/lidmate wat die Kerk van die Here Jesus Christus intens skade berokken nie.
Ek kan bv. nie verstaan hoe ’n persoon soos Jean Oosthuizen steeds maar net toegelaat word in sy posisie by die Kerkbode, terwyl hy blatant voortgaan om mense (insluitende myself) te belaster, te beledig, te verkleineer en geen standpunt inneem teen dwaalleer nie – hy maak ’n openlike bespotting van God Drie-Enig, ens. (Titus 1:16; e.a.). Hy gebruik baie dikwels kru taal teenoor mense wat opgevoede heidene nie eens sal gebruik nie (’n voorbeeld van een van die “Facebook” drade wat hierdie feite bevestig kan op versoek verskaf word) en dan praat ek nie eens van sy persoonlike “Facebook-muur” nie! Christene wat sterk van hom op Facebook verskil, word summier geblok, maar ateïste word ‘n vry hand gegee om God te laster. Dit lyk na ‘n eensydige skending van spraakvryheid.
Ek staan verstom en geskok oor sommige predikante se uitsprake oor die hel (wat kwansuis nie bestaan nie – Matt.5:22; Mark.9:47-48; 1 Tim.1:19-20; e.a.); die feit dat Satan nie ’n werklikheid is nie (Jak.4:7; 1 Pet.5:8; e.a.); geen sondeval nie (Gen.3; 1 Joh.1:6, 8; e.a.); dat Jesus nie uit ’n maagd gebore is nie (Matt.1:18; Luk.1:34; e.a.); die feit dat Christus nie uit die dood opgestaan het nie (Luk.24:36; Joh.20:27; e.a.); dat Jesus Christus nie aan die regterhand van God die Vader sit nie (Mark.16:19; e.a.); die skepping; Jona en Noag wat mitologiese verhale is; uitsprake wat positief is oor die “emergent church”, panenteïsme, homoseksualitiet, ens. ens. My vraag is, hoe die N.G. Kerk steeds kan toelaat dat die gewone lidmaat (geredde en soekendes) wat op soek is na ’n ware en intieme verhouding met Jesus Christus en groei in heiligmaking, blootgestel kan word aan sulke predikante en selfs ’n moderator? Manne soos Nelus Niemandt; ’n Albert Cruywagen; Gerhard Bothma; Ben du Toit en talle teologiese professore en andere? Ek wil nie eers kommentaar lewer op sommige sinodale besluite nie.
Ek wil nie eers kommentaar lewer op sommige werklik-ontstellende Algemene Sinode- besluite nie.
Aan die begin van hierdie jaar, toe ek ook Ferdie Mulder se boek “Opgestaan” gelees het, is dit wat ek ervaar, gehoor, gelees en vermoed het, opnuut bevestig en het ek net nog meer intens bewus geraak van wat in die N.G.K. aan die gang is en wat sommige van u as predikante, studente en talle lidmate moet ervaar. My hart het al meer begin pyn vir regsinnige (gereformeerde) broers en susters in die N.G. Kerk en het ek net nog dieper bewus geraak van die nood; die paniek; die verwarring; die pyn; ens. wat besig is om pos te vat by diesulkes. Ek is veral ook intens bekommerd oor “onskuldige” kinders wat “losgelaat” word in van die teologiese fakulteite waar N.G. predikante opgelei word.
Ek en ons gemeente is tans deel van “SOLA 5”, ’n assosiasie van Evangeliese Christene in Suidelike Afrika en ek dien ook tans op die hoofbestuur van “SOLA 5”. Die meeste van die predikante wat deel uitmaak van “SOLA 5” is Engelssprekende broers in die Here en hulle wil gedurig van my weet wat aan die gang is in Afrikaanse kerklike geledere en hoe ek dit sien. Ek self vra my daagliks die vraag af: Wat gaan hier aan? Wat kan ons doen – wat kan ek doen? Dit gaan tog immers hier oor die eer van God en die waarheid!
Die Skrif roep ons ernstig op om te waak teen dwaalleer, omdat dit mense weglei van die geopenbaarde waarhede. Dit is nie ‘n saak wat enige Christen by hom kan laat verbygaan nie (2 Pet.2:1-2; Titus 1:7-11; 2 Tes.2:15; e.a.).
My broeder in Christus, ek is intens bekommerd oor die Kerk in Suid-Afrika in die algemeen en dan spesifiek oor wat aan die gang is in die N.G. Kerk en ek bid dat die Here sal ingryp en Sy eer sal herstel. Ek wens so dat ek hande kon vat met u in hierdie stryd op vergaderings, forums, sinodes, ens., maar omdat ek nie lidmaat van die NGK is nie, kan ek nie en kan ek u maar net verseker van my voorbidding en dat ek waar moontlik my bydrae sal lewer.
Sterkte in die stryd – ek dink aan u!
U broeder in Christus Jesus.
Kobus van der Walt
Henrietta said:
Dank die Here vir dapper mense soos Ds Kobus wat hom onbeskaamd by die Here se saak skaar! Mag dit wyd uitkring
hierstaanek said:
Dit het onder hierstaanek se aandag gekom dat Mnr Jean Oosthuizen van Kerkbode sy eie ope brief in reaksie uitstuur.
Hierstaanek wil net noem dat die feite wat Ds van der Walt in sy brief noem almal bewysbaar is – ek het persoonlike ondervinding van alles wat Ds van der Walt noem!
(Oosthuizen se brief begin)
Geagte lidmaat van die NG Kerk,
Ek is jammer om u hiermee te vermoei. Dit het onder my aandag gekom dat ’n sekere mnr Kobus van der Walt ’n “ope brief” versprei waarin my integriteit as persoon, as werknemer van Kerkbode en spesifiek as Christen ernstig aangetas word. Die brief is onder meer aan bogenoemde adresse gestuur. Daar word ook verskeie ongetoetsde bewerings in die brief teenoor die NG Kerk, van sy ampsdraers en besluite van die Algemene Sinode in die algemeen gemaak.
Ek beskou die persoonlike aantygings teenoor my in mnr Van der Walt se skrywe in ’n baie ernstige lig. Mnr Van der Walt is lid van die Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente. Hy het sy skrywe gerig aan verskeie leraars en lidmate van die NG Kerk. Daarin beweer hy onder meer ek maak ʼn openlike bespotting van God Drie-enig. Ek ontken dit ten sterkste.
Dit werp ’n ernstige refleksie op my en tas my integriteit as werknemer van Kerkbode maar veral as Christen aan. Mnr Van der Walt is onbekend aan my. Hy het nog nooit persoonlik met my in gesprek getree oor die bewerings wat hy maak nie.
Ek het hom persoonlik geskakel nadat ek bewus geword het van die brief wat deur hom versprei word en die bewerings wat hy maak. Ek het hom meegedeel die bewerings is onwaar en dat ek dit in ’n ernstige lig beskou omdat dit my naam potensieel groot skade kan berokken. Ek beskou die bewerings wat daarin vervat word as naamskending. Dit is na my oordeel ook nie hoe Christene van mekaar behoort te verskil nie.
Mnr Van der Walt het toegegee hy was nooit persoonlik met my in gesprek oor die saak nie. Hy het ook nooit met my in verbinding probeer tree oor die bewerings wat hy maak voordat hy dit op die manier in die openbaar versprei het nie. Ek moes deur derde partye verneem van die bewerings wat deur hom die wêreld ingestuur word sonder dat hy my daarvan in kennis gestel het of dat ek my kon verdedig.
Nadat ek my besware persoonlik aan mnr Van der Walt verduidelik het, het hy gesê hy waardeer my oproep en wou weet wat ek van hom verlang in die lig van ons gesprek. Ek het hom versoek om ten minste aan die betrokke persone aan wie hy sy “ope brief” geskryf het te verduidelik hy was nooit met my in gesprek daaroor nie en dat ek hom meegedeel het ek beskou die bewerings wat hy maak as ’n skending van my naam en dat dit nie die waarheid is nie. Ek vertrou mnr Van der Walt sal die saak spoedig regstel in soverre dit moontlik is. Dit sal ongelukkig nie die skade wat hy reeds met sy skrywe aangerig het ongedaan maak nie. Ek hoop ten minste dat al die betrokkenes wat dit ontvang het sal kennis neem ek het die saak persoonlik met hom opgevolg en hom versoek het om sy bewerings reg te stel. Ek distansieer my van alles wat daarin teenoor my en die NG Kerk as geheel gemaak word.
Dit is teleurstellend as medegelowiges op die manier van mekaar verskil en ek vertrou dat sulke verdagmaking die langer deel sal wees van die teologiese gesprek in die kerk nie.
Groete
Jean Oosthuizen
mias said:
Ek dink jys n freemason of is jy deel van die broederbond??? Ek glo gelowiges…behoort saam te kan praat…so , is jy gelowig ? Sodat jy saam kan praat…ek glo aan God en ek skree die waarheid uit in liefde …kom ons praat oor feite…Jesus saves my bra..
Johan Louw said:
Jean, ek hoor wat jy se, maar wat is jou antwoord op die bewerings. Wat glo jy? Wat is jou standpunt oor die drie-enige God en die ander bewerings wat Kobus vd Walt maak. Dit is wat saak maak en nie argumente oor naamskending en of die persoon met jou gepraat het al dan nie. Wil net weet.
Somerset (Sommie) Morkel said:
Dit is interessant dat die ‘issue’ nou na ‘n paar jaar weer na vore kom.
Dit laat my dink aan twee tekste in die Bybel:
“God laat nie met hom spot nie. Wat jy saai sal jy maai” (Gal. 6:7)
“Your sin shall find you out” (Num 32:23).
Beide is op Jean Oosthuizen van toepassing.
Hy beroep hom hierbo destyds op Christenskap ten einde los te kom van konfrontasie van sy sonde van laster teen God & Sy Woord wat hy deurgaans in die openbaar (o.a. op Facebook) gepleeg het, nogtans ontken hy dit, hoewel dit gedokumenteer is.
Ek het hom destyds tot ‘n debat op RSG uitgedaag & gese hy kan tydens die debat alles se wat ek hom toegevoeg het & ek sal se wat hy op Facebook geplaas het – wat oa. blatante banaliteite bevat.
Sy antwoord was dat hy my geblok het, ook op Kerkbode, waar hy destyds die nuursredakteur was, maar intussen deur die NGK ‘laat gaan’ is.
Hy het nog nerens aangedui dat hy enige berou oor sy sonde gehad het nie & mens kan net aanneem dat hy steeds volhard in sy rebellie teen God.
Ek ken sy broer in Pretoria – hy is ‘n persoonlike vriend – & sy broer het hom eendag in my teenwoordigheid gebel & gevra dat hy met my praat oor my bewering dat hy banale goed op internet kwytgeraak het.
Hy het geweier.
So dinge het oor die jare al nouer geraak vir Jean Oosthuizen.
Maar hy vlug nog steeds vir die waarheid.
gerrie said:
ons warsku, almal maak hul stem duk maar prof. Niemandt en Q gaan net voort. As hul nie hou van wat jy se word jy geklok of stelling nie geplaas nie.
Ek bid nou maar net oor die saak, weet dat die Here dit sal stop ons is instrumente in Sy hande.
gideon981 said:
Dit is vir my verbasend dat Jean homself ‘n christen noem – mens sou dit nooit kon agterkom uit al sy skrywes nie. Ek het nog nooit iets (van hom afkomstig) gelees wat enigiemand se geloof in enige opsig kan versterk nie, of enigiets bestry wat met die Bybel bots nie. inteendeel: Hy het al menige van my skrywes waarin ek onbybelse standpunte probeer weerlê het, geblokkeer. Op sy “kletskerk”-webblad word God op die gruwelikste denkbare wyses gelaster, bespot en verguis. Hy ondersteun dikwels onbybelse standunte. Sy tipiese reaksie teenoor iemand wat van hom verskil (soos myself) is neerhalend, en/of beledigend. Sy ontkenning van wat ds. Kobus oor hom geskryf het, hou beslis geen water nie.
Attie Louw said:
Ek self is al van die Kerkbode se bakkiesblad afgegooi, net omdat my standpunt nie die heer Oosthuizen se liberale teologie pas nie.
Praat van verdagmakery. Wie publiseer ad hominem aanvalle van onder andere Prof Niemandt as antwoord op eerlike reguit vrae wat aan lg gestel word?
Liza-Nel said:
Vir Jean Oosthuizen oor Christenskap: “Just going to church doesn’t make you a Christian any more than standing in your garage makes you a car.” – G.K Chesterton
En ek’s jammer maar jou styl vanaf Kletskerk se dae tot op hede getuig nie nie juis van veel meer beter nie…
somersetmorkel said:
Ek het amper op die grond geval van lagpyne toe ek lees wat Jean Oosthuizen skryf! Dis nogal erg lagwekkend om die minste te se, dat Jean Oosthuizen nou so vroom geword het… Maak hy dalk benoude spronge? Of het hy dalk tot bekering gekom?Waar is sy vuil taal nou? Hy weerspreek homself darem ontsaglik in die brief, want hoe kan hy ‘n oproep maak tot broederlik-christelike hantering van sy standpunt en posisie as hy ongenaakbaar, banaal en hard en ongenadig met mense wat van hom verskil op Facebook en op ander fora omgaan? En hulle summier blok soos ‘n sensuur-tzar? Dis HOOGS SKYNHEILIGE taktiek om sy bas te bekerm by sy base, die NGK-leiding…
Jan Buter said:
Ek het ‘n paar maande gelede op Kerkbode se Facebook blad begin lees. Ek was geskok oor die taalgebruik,en die venyn wat uit Jean oosthuizen se skrywes duidelik na vore gekom het. Die venyn en verkleinering was ten alle tye gerig teen gelowiges en nie teen die ateiste en lasteraars nie. Dit was so erg my vrou het my dringend versoek om nie enigsins verder betrokke te raak met so’n gemors (Kerkbode se Facebook blad) nie.
Heidie Shultz said:
Die Here ken ons harte soos `n geopende boek. Die manne wat nie met met God wandel, het menige dinge na hulle eie verbeelding en goddelose harte gedoen. Die Here verklaar wat hulle aangaan, “Hulle het hulle rug na My gekeer, en nie hulle aangesig, alhoewel Ek het hulle geleer, en met vroë verheffing, en hulle onderrig, en tog luister hulle nie na My om onderrig te ontvang. ”Ons is midde in die gevaar van die laaste dae; en die tyd sal spoedig aanbreek.
Hulle wie verenig met die wêreld, en tog aanspraak maak op groot suiwerheid, en pleit vir eenheid, met hulle wat altyd die teenstaanders is, van die weg van waarheid moet ons voor bang wees, en hulle beslis vermy net soos Nehemia. Sulke raad word aangehits deur die vyand, van alles wat goed is. Dit is tyd vermorsing en moet weerstaan word met vasberadenheid, vandag en mòre. Wat ook al geneig is om die geloof van God se volgelinge in Sy leiding en krag te ontsetel, moet met standvastigheid teengestaan word
Celia Tjaden said:
As lid van Die Baptiste kerk-Tygerberg gesinskerk- dankie vir hierdie brief. Daar is geen komromiee in Christus Jesus nie. Ek het ook die Ng kerk verlaat met my 4 kinders, reeds in 1983. Celia Tjaden.