Ek kom vandag op hierdie verklaring van oud dosente by Tukkies af op die teologie departement se webblad.

Let op dat hulle panenteïsme verwerp.

Waarom weier ons huidige moderamen om dieselfde op so ‘n ondubbelsinnige manier in die openbaar te doen?

Die oorspronklike skakel is hier.

– Januarie 2007 – 19: 1
‘n Geloofstandpunt 
Emeriti van die Universiteit van Pretoria

Ons, die ondergetekende emeriti en dosente wat klas gegee het aan die Teologiese Fakulteit [Ned. Geref. Kerk] van die Universiteit van Pretoria , het kennis geneem van videos, persberigte, radio uitsendings en verklarings oor teologiese strominge binne die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Aangesien die Teologiese Fakulteit van tyd tot tyd daarby betrek word deur direkte of indirekte verwysings en omdat baie lidmate verwar word deur standpunte wat nie in ooreenstemming is met die kerk se leer nie,wil ons die volgende stel as ons eie geloofstandpunt wat ons ook gehandhaaf het gedurende baie jare wat ons die Fakulteit en die kerk gedien het op vele terreine.

Ons het ook kennis geneem van die verklaring van tans dienende dosente wat soos volg lui: “Ons aanvaar die gesag van die Bybel. Die lewende God praat deur mense met mense. Hy oorreed mense deur sy Woord tot geloof en ‘n lewe uit geloof. Geloof beteken onder andere om God met ons hele hart en lewe te vertrou en opreg voor Hom en mekaar te leef. Ons glo in die drie-enige God. God is Skepper, Verlosser en Heelmaker. Jesus Christus het mens geword, vir ons sonde gesterf en uit die dood opgestaan.”

Ons het ons geroepe gevoel om in aansluiting daarby en in ooreenstemming met ons legitimasiebeloftes en die Gereformeerde belydenisskrifte wat die Ned. Geref. Kerk onderskryf , die volgende geloofstandpunt te stel:

  • Ons aanvaar in die geloof dat die Bybel die Woord van God is wat die weg van saligheid volkome aan mense verduidelik. Dit is geskryf deur mense wat geroep, toegerus en geïnspireer is deur die Heilige Gees. Hulle skryf weliswaar in ‘n bepaalde historiese situasie en binne hul eie taal- en kulturele milieu. Dit neem nie weg dat hulle ‘n besondere boodskap van God oordra aan die mense van hulle tyd en uiteindelik ook aan die mense van alle tye nie. Aangesien geloof en wetenskap nie teenoor mekaar staan nie, aanvaar ons ook dat die wetenskaplike bestudering van die Skrif, indien die eie aard van geloof en wetenskap gerespekteer word, nie die kernoortuigings van ons geloof bedreig nie, maar ons Skrifverstaan eerder verryk en verdiep.
    Ons distansieer ons van die uitgangspunt dat die Bybel woorde van mense oor God is wat voortspruit uit ‘n soeke na waarheid en sin. Dit sou die Bybel gelykstel met sakrale boeke van ander religieë en selfs met filosofiese denke van begaafde mense. Hierdie standpunt verander die teologie in filosofie en is niks meer as menslike bespiegelinge nie.So ‘n beskouing van die Bybel bring mee dat elkeen kan besluit watter dele aanvaarbaar is en watter nie. So word verval in subjektivisme en humanisme.
  • Ons verklaar dat God drie-enig as Persoon die Skepper, Verlosser en Onderhouer is en dat Hy buite die skepping staan maar dit deurgaans bestuur en beheers. Ons distansieer ons van die beskouing van pan-en-teisme wat God tot alle geskape dinge beperk en Hom gelykstel met die natuurwette of ‘n soort kode wat alles volgens ‘n bepaalde formule laat ontwikkel.
  • Ons aanvaar ‘n transendente werklikheid wat die bestaansdimensie van God is en in die Bybel as die hemel aangedui word. Dit moet duidelik onderskei word van die onmeetlike ruimtes van die heelal wat deel uitmaak van God se skepping. Ons distansieer ons van die standpunt dat die heelal met sy materie [atome] , tyd en ruimte die enigste werklikheid is en dat God daar binne gesoek moet word. Daar is ‘n onsigbare en onbeskryfbare dimensie waar materie, tyd en ruimte nie die bepalende faktore is nie.
  • Ons aanvaar dat bose magte van buite ‘n invloed het op die geskiedenis, op ideologieë en op die denke en dade van indiwidue. Die Bybel praat duidelik van die werking van die Duiwel as vyand van God. Die bose moet bestry word op alle terreine maar kan gelukkig as ‘n oorwonne vyand beskou word danksy die kruisdood en opstanding van Christus.
    Ons distansieer ons van die standpunt wat die kwaad beperk tot iets in die samestelling van die mens alleen en wat die transendente bestaan van die Bose ontken. Die Duiwel as persoonlike vyand van God kan nie logies verklaar word nie, maar kan in die lig van die getuienis van die Skrif en van ons daaglikse ervaring ook nie ontken word nie.
  • Ons aanvaar dat God ‘n spesifieke verlossingsplan vir die mensdom het wat doelbewus aan alle mense verkondig moet word volgens Christus se opdrag. Dit word duidelik uit God se verlossende handelinge met Israel, uit die boodskap van die profete en uiteindelik deur die woorde en dade van Jesus Christus as Seun van God en Verlosser van die wêreld. Sentraal tot God se verlossingsplan is die Godheid van Jesus [maagdelike geboorte], sy lyding en kruisdood, sy liggaamlike opstanding en die hemelvaart. Dit alles is bevestig deur die uitstorting van die Heilige Gees en deur die getuienis van die apostels.
    Ons distansieer ons van die standpunt dat verlossing en vernuwing losgemaak kan word van bogenoemde heilsdade van God in Christus. Dan word Christus slegs ‘n profeet wat aan ons ‘n voorbeeld stel en sy dood, opstanding en hemelvaart word slegs simbole van geestelike waarhede wat elkeen kan interpreteer soos hy goeddink.
  • Ons aanvaar dat God in beheer is van die skepping en die geskiedenis en dat Hy dit laat afstuur op die voleinding met die wederkoms van Christus. Die hoop van die gelowige is gevestig op die ewige lewe wat God beloof vir elkeen wat in Christus glo. Ons hoop in ‘n gebroke wêreld is ook gevestig op die wederkoms van Christus en op die nuwe hemel en aarde wat God sal skep as woonplek vir die wat in Christus geheilig is.
    Ons distansieer ons van die standpunt dat die geskiedenis slegs ‘n maaksel is van mense en dat dit sonder sin of bestemming is. Ons verwerp die gedagtegang wat alle hoop op die ewige lewe vernietig en God nie as almagtig genoeg sien om ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde te skep nie.
  • Ons aanvaar dat die Christelike kerk deur die eeue heen sy geloof in belydenisskrifte geformuleer het. Ten spyte van kleiner verskille in belydenisuitdrukking, is die Apostolicum die universele samevatting van wat Christene glo. Ons onderskryf die artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis op die wyse waarop die Kerk dit deur eeue heen verstaan en verklaar het.
    Ons distansieer ons van afwykings en herinterpretasies van enige artikel van die Apostolicum aangesien dit die wese van die Christelike geloof verander en iets anders skep as wat die universele kerk oor al die eeue heen as die kern van sy geloof bely het en nog steeds bely.Die Teologiese Fakulteit van Die Universiteit van Pretoria het in die verlede gefunksioneer op die basis van belygenisgetrouheid en toegewyde en verantwoordelike wetenskaplikheid in die bestudering van die Bybel en die teologie. Ons glo en vertrou dat dit ook vorentoe die geval sal wees.

    Prof. Attie Barnard
    Prof. Carel Boshoff
    Prof. Dionne Crafford
    Prof. Andrie du Toit
    Prof Hoffie Hofmeyr
    Dr Cas Jackson
    Prof. Dons Kritzinger
    Prof. Albertus Smuts
    Prof. Flip van der Watt
    Prof Wil Vosloo