Ek wil graag almal hier aanmoedig om Kuyper se boek “Lectures on Calvinism” (1898) te lees.

‘n PDF van die boek is hier beskikbaar.

Hy maak ‘n paar punte in die boek wat die NG Kerk vandag vergeet het.

1) Hy wys daarop dat die Reformasie die Verligting meer as 100 jaar vooruitgeloop het en Modernisme nog langer. Modernisme en Calvinisme staan onverenigbaar teenoor mekaar. Dit is asof die NG kerk se teoloë van vandag die geskiedenis herskryf het en aanneem dat die gereformeerde teologie Modernisties is. Niks is verder van die waarheid nie. (Ek verwys nou spesifiek na die eerste hoofstuk van Nelus Niemandt se boek, “Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede”)

2) Hy wys daarop dat Calvinisme en dus die gereformeerde teologie en die Duitse liberale teologie en panteïsme (onthou dat panenteïsme toe nog nie so genoem is nie en dat dit ook onder die term “panteïsme” geval het) onverenigbaar is en lynreg teen mekaar staan.

3) Hy toon uiters geloofwaardig uit die moderne geskiedenis (wat begin het met die Reformasie) dat Calvinisme die dryfveer was vir die demokratiese revolusies in Nederland, Engeland en Amerika. Die mens het volgens Calvinisme seker onvervreembare regte, wat voortvloei uit die Persoon van God. Hierdie regte sluit in die reg op politieke vryheid, geloofsvryheid, vryheid van assosiasie, vryheid van gewete, vryheid van spraak, die skeiding van kerk en staat ens.

4) Hy toon ook aan dat die revolusie wat deur die verligting gevoed is, die Franse revolusie, geen van hierdie gevolge gehad het nie omdat dit gegrond was op rebellie teen God, en nie net op rebellie teen politieke tirannie nie. Die uitkoms van hierdie rebellie was nie vryheid nie, maar die tirannie van die Verskrikking, Napoleon en die uiteindelike herstel van die monargie na Waterloo.

5) Alle persoonlike menslike vryhede staan teenoor die mag van die staat. Die staat is essensieel en verkry sy mag van God, maar sy mandaat is beperk. Kuyper verduidelik die skeiding tussen die soewereinheid van die staat, die soewereinheid van die kerk en die soewereinheid van die indiwidu baie duidelik. Geen van hierdie instansies kan op die soewereiniteit van die ander inbreuk maak nie omdat al drie hulle soewereiniteit van God ontvang het. Hierdie insig was aanvanklik uniek aan Calvinisme en het sy ontstaan in Calvinisme.

6) Kuyper toon baie duidelik aan dat die Modernisme / liberalisme en Duitse panteïsme (sic) lei tot verabsolutering van die staat: Hy noem dit die apoteose (vergoddeliking) van die staat. Uit ‘n filosofies historiese oogpunt is hy natuurlik 100% korrek. Hegel was een van die groot geeste van Modernisme. Marx het Hegel se filosofie van die dialektiese proses en historiese dialektiek direk oorgeneem. Hegel het ook ‘n ongelooflike groot invloed gehad op die ontwikkeling van panenteïsme soos ons vandag sien.

Die verabsolutering van die Staat staan direk en onverenigbaar teen die konsep van persoonlike vryheid en dus menswaardigheid. Dit is in die 20ste eeu oor en oor bewys. Marx se filosofie het in die twintigste eeu direk gelei tot die bloedige moord van ten minste 100 000 000 mense.

Die vader van die emergent kerk is Jurgen Moltmann. Moltmann het sy seminale werk, “A Theology of Hope” geskryf in antwoord op die neo-Marxis Ernest Bloch. Hy het Bloch se ateïstiese filosofie amper net so oorgeneem, Whitehead se prosesteologie bygewerk en dit alles in Christelik – trinitariese idioom gegiet. Die resultaat was, soos van sy dissipels dit noem, “Neo-Hegeliaanse panenteïstiese universalisme”

Daar is dus ‘n besonderse affiniteit tussen Marxisme en die Emergent kerk. Altwee is gegrond op Hegel se geskiedkundige dialektiek en die idee dat die geskiedenis op pad is na utopie hier op aarde. Beide glo dat dit deur die mens se aktiwiteit gaan plaasvind. Beide ontken die destruktiewe aard van die sondeval wat verantwoordelik is vir oorlog, misdaad, moord en armoede. Beide ontken dus die noodsaaklikheid vir regenerasie deur die Gees van God – die mens deur die wedergeboorte, en die kosmos deur die vernietiging aan die einde van die tyd en die herskepping as die Nuwe Hemel en Nuwe Aarde.

Die enigste verskil tussen Marxisme en die Emergent Kerk in hierdie opsig is dat Marxisme ateïsties is en die Emergent Kerk panenteïsties is. Die emergent kerk glo dat hierdie utopie bereik sal word wanneer die mensdom sy godheid besef. Verlossing vir die Emergent kerk is dus nie afhanklik van Christus se sterwe aan die kruis as substituut vir sondaars nie, maar lê in die mens se eie apoteose, of vergoddeliking. Uit hierdie “enlightenment” van die mens sal an die aardse utopie voortspruit.

Marxisme glo dat die mens se aard sal verander wanneer die omgewing verander, soos dit deur die verabsolutering van die staat afgedwing word.

Die Emergent kerk beskryf homself as “missionaal”. Hiermee bedoel hy nie “maak dissipels van al die nasies” nie maar ‘n globale betrokkenheid by sosiale geregtigheid, opheffing ens. Emergent leiers het dikwels ‘n uitgesproke renons in die gedagte dat mense van ander gelowe “bekeer” moet word.

Waar Marxisme so dramaties in die vorige eeu gefaal het, glo die emergent kerk skynbaar dat spiritualiteit die vermisde bestandeel was, en dat Marxisme plus Spiritualiteit sal slaag om utopie te bewerkstellig. (Met “Spiritualiteit”  bedoel hulle natuurlik glad nie wedergeboorte nie, maar enlightenment, die proses waardeur die mens besef hy is eintlik god.)

Ek wil u graag verwys na ‘n preek wat deur ‘n emergent dominie by die NG gemeente van Riebeeckpark gegee is wat hierdie filosofie baie duidelik illustreer. My kritiek van hierdie preek is hier te vind:

https://hierstaanek.com/2012/02/09/anatomie-van-n-emergent-preek/

Marxisme het nie gefaal omdat “spiritualiteit” nie verreken is nie. Dit het gefaal omdat die mens intrinsiek verdorwe is. Die staat word bestuur deur mense met mag. As mense se mag nie beperk word nie sal dit altyd lei tot boosheid. Dus sal enige verabsolutering van die staat lei tot die mees gruwelike vergryp van menseregte.

Die emergent / new age model sal dieselfde gevolg het as Marxisme, daar is geen ander moontlikheid nie.

My gevolgtrekking is dus dat die Emergent beweging ‘n ernstige bedreiging inhou vir menswaardigheid.

Wynand Louw


Voetnota: Daar is aantygings gemaak dat die ideologie van apartheid afgelei is uit die filosofie en teologie van Kuyper.  Die Nederlandse Kuyperiane ontken dit ten sterkste, soos wat duidelik blyk uit hierdie artikel. 

The Princeton Seminary Bulletin Vol. 23 No. 2 (2002)
Abraham Kuyper, South Africa, and Apartheid by George Harinck  (Page 184)