Ope brief aan Prof. Nelus Niemandt
Die Facebook draad is hier: http://www.facebook.com/kerkbode/posts/371354542893177
Beste Prof Niemandt
U pos op die Kerkbode se Facebook muur hieronder toon duidelik dat u die emergent beweging ondersteun. Dit is ook wyd bekend dat u in die verlede emergent leiers soos Leonard Sweet en Rob Bell positief aangehaal het.
Dit skep geweldige kommer by die lidmate van die NG Kerk. Die emergent teologie is volgens verskeie gerekende teoloë onverenigbaar met die Bybel en belydenisskrifte. Indien u dus u steun aan die emergent beweging gee lyk dit dus asof u die Bybel se leer, soos dit in die Drie Formuliere van Eenheid verduidelik word, verwerp.
Ek dink dit is dus van kardinale belang dat u vir eens en vir altyd hier in die openbaar verklaar wat u glo. Dit is nie genoeg om te beweer dat u die belydenisskrifte onderskryf nie, omdat daar ‘n presedent geskep is deur mense soos Prof Julian Muller en Dr Ben du Toit wat beweer het dat hulle die belydenisskrifte onderskryf maar dan duidelik leerstellings verkondig wat blatant die belydenisskrifte verwerp.
Ek versoek u dus om punt vir punt te definieer wat u glo.
John Piper het gesê: “Imprecision and vagueness have been used for thousands of years by those who want to abandon meanings and retain words.” Moet asseblief nie dat hierdie aanklag vir u geld nie.
Ek verwys u graag na ons korrespondensie wat ek gepos het by hierdie adres, en herhinner u daaraan dat u geweier het om aan my te verklaar wat u glo, maar dat u die saak met die woorde “ek staan by my legitimasie eed” as afgehandel verklaar het.
https://hierstaanek.com/2012/01/04/korrespondensie-met-prof-nelus-niemandt/
Prof. Niemandt, dit is ongelukkig nie goed genoeg nie. Die NG Kerk is in ‘n krisis omdat die algemene lidmate nie weet wat die leiers glo nie, en vermoed dat hulle afvallig is. Slegs u, en die ander lede van die moderamen, kan hierdie geloofwaardigheidskrisis in die kerk die nek in slaan.
Ek versoek u dus viendelik om elke vraag hieronder ondubbelsinnig te beantwoord. (Ek sal dit natuurlik ook waardeer indien u die meer volledige vrae wat ek u in ons korrespondensie by bg adres gevra het sal antwoord)
Vraag 1) Aanvaar u ‘n wereldbeeld wat breedweg as “panenteïsme” beskryf kan word? Met ander woorde, glo u dat die hele skepping analoog is aan die geskape menslike natuur en liggaam van Christus? Glo u dus een van die volgende: dat god die “siel” of “mind” van die skepping is, dat die skepping “deel van god” is of dat die skepping “uit god gespruit het?’ (“emanated from god?”) U verwys in u Facebook pos baie positief na Jurgen Moltmann, wat panenteïsme vekondig. Ondersteun u dus Moltmann se pantenteïstiese teologie?
Vraag 2) Glo u dat Jesus uniek is in die feit dat Hy alleen uit God gegaan en van God gekom het soos hy beweer in Johannes 6:46? (In teenstelling met wat die
panenteïste beweer – dat ons almal “Homo Christos” is?)
Vraag 3) Glo u Jesus is uit ‘n maagd gebore, dat daar geen manlike saad by sy konsepsie betrokke was nie, maar dat Maria deur ‘n bonatuurlike ingrype van God bevrug is?
Vraag 4) Glo u Jesus het Lasarus uit die dood opgewek, soos wat ‘n mediese dokter dit vandag sou bevestig?
Vraag 5) Glo u Jesus het met ‘n ware, tasbare liggaam uit die dood opgestaan, wat alhoewel dit nie aan die huidige natuurwette van hierdie bestel onderworpe is nie ‘n ware, fisiese objek is wat onder andere ook in tyd en ruimte kan funksioneer? Glo u dat die wat gered word ook eendag sulke tasbare liggame sal hê?
Vraag 6) Glo u dat die bewuste, ewige verdoemenis in die hel bestaan?
Vraag 7) Glo u dat die duiwel en sy demone geskape wesens in eie reg is, met die eienskappe van persoonlikheid?
Vraag 8) Glo u dat slegs die mense wat Jesus bewustelik aanneem as Verlosser gered sal word, en dat die res vir ewig hel toe gaan?
Laastens wil ek u graag verwys na my artikel oor die Algemene Sinode van 2011 se besluit om dwaalleer in die kerk toe te laat. Dit is by hierdie adres:
U het in u legitimasie eed belowe om dwaalleer met al u krag uit die kerk te weer. Ek wil u dus versoek om een van die volgende te doen:
1) Verduidelik asseblief op logies beredeneerde wyse uit die kerkorde, die belydenisskrifte en die Bybel, waarom ek verkeerd is, en die Sinode se besluit oor die toelating van dwaling in die kerk volgens die Bybel en belydenisskrifte regverdigbaar is.
Of, indien u dit nie kan doen nie,
2) Verklaar dan hier en nou dat u ‘n gravamen teen die betrokke besluit by ‘n volgende kerkvergadering waarop u gaan dien gaan inhandig.
Indien u nie 1) kan doen nie maar weier om 2) te doen, sou dit beteken dat u u legitimasie eed verbreek.
Prof. Niemandt, ek kan maar net bid dat u die erns van die saak besef, en dat u my nie weer met ‘n kort sinnetjie oor u legitimasie eed sal wegstuur nie.
By voorbaat dank
Wynand Louw
hierstaanek said:
Prof Niemandt se pos op Facebook:
Nelus Niemandt Ek haal maar oor die Emerging Church aan uit die boek van baie gerespekteerde Nederlandse teoloe (Noort, Paas, de Roest, Stoppels) ‘Als een kerk opnieuw begint’:’ die ’emerging church’ kom volgens hulle tereg in die marge van die samelewing – daar waar min ander aan die uitdagings wil aandag gee, en die ‘kanttekeningen die in de marge worden gekrabbeld, de tekst van het nieuwe boek kunnen worden’.
Sunday at 7:00pm · Like · 4
Nelus Niemandt En om maar net hulle deeglike ondersoek verder te voer – watter wortels vind ons in die ’emerging church’? – die beweging is protestants en die wortels is te vinde in die evangeliese en postevangeliese tradisie. Teoloe wat ‘n invloed uitoefen: Lesslie Newbigin en David Bosch, asook Karl Barth, Dietrich Bonhoeffer en Jurgen Moltmann en Bybelwetenskaplikes soos NT Wright en Walter Brueggemann. Goeie geselskap!
Sunday at 7:04pm · Like · 4
Nelus Niemandt O ja, voeg ook Stanley Hauerwas en JH Yoder by.
Sunday at 7:05pm · Like · 2
Jan Louw said:
Ek dink ons kerkleiers moet ernstig kennis neem van Wynand se vraag aan Nelus. Ek is vir baie jare ‘n leraar in die NG Kerk, maar ek begin skaam te kry vir my kerk voor ‘n nuwe geslag denkende Christene. Ek is bv verslae oor die Algemene Sinode se besluit oor die duiwel wat as volg lui: “Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.”
Kom ons praat reguit met mekaar. Hierdie besluit wil ruimte maak in die NG Kerk vir mense wat nie in die duiwel glo nie. Ben du Toit en James Kirkpatrick het pertinent voor die hele Sinode gesê hulle glo nie in die duiwel nie en die Sinode het met die besluit vir hulle en ander wat soos hulle glo ruimte gemaak. Wat die saak vererger is dat Ben en James onderskeidelik skriba en voorsitter van ATLAS is, wat die verslag opgestel het. Twee leraars wat nie in die duiwel glo nie skryf dus ‘n verslag oor bevryding van die duiwel!
Die Sinode van Wes- en Suid-Kaap het die identiese besluit geneem. Braam Hanekom het die besluit van sy Sinode in die Kerkbode goedgepraat deur te sê mens moet nie “fundamentalisties” na die Sinode se besluite kyk nie. Toe die Algemene Sinode ook so besluit, het Nelus die besluit oor die radio goedgepraat en gesê: “Een van die dinge wat die sinode gesê het is dat ons ook verstaan dat daar mense is wat uit die goeie eksegese in teologie en diep nadenke oor die Bybel sê maar die duiwel is nie op so ‘n manier ‘n persoon of wese wat op so ‘n manier teen God kan staan nie. God is groter en sterker as dit. Daar is ander mense wat sê nee, hulle is oortuig dat die duiwel so ‘n persoonlike wese is, iemand wat ‘n bepaalde persoonlike karakter het. Nou, nadat dit erken is, is daar nou nie eintlik ‘n keuse daaroor gemaak nie.”
Ons leierskap en dit geld ook van ons Teologiese Fakulteite, het die kerk nou in die skandelike situasie gedompel dat dit weinig betekenis het, om jou op jou legitimasie eed te beroep. Julian Muller sê lankal dat hy die Apostoliese Geloofsbelydenis in die kerk opsê en hy meen dit is voldoende, maar ons weet almal dat hy ‘n panenteïs is.
Wynand het dus ‘n reg om van die moderator te vra wat hy regtig glo. Ons het ‘n punt bereik dat die integriteit van ons broederskap in die kerk en van die NG Kerk in die samelewing op die spel gekom het. Dit is ‘n pynlike werklikheid, wat duidelik sigbaar is op ons sosiale netwerke. Daar is ‘n groeiende onvergenoegdheid met die leierskap se strewe na inklusiwiteit en diversiteit.
Henrietta said:
Ek stem saam met Jan en Wyand oor die erns van die situasie. Flip Loots het die afgelope paar Sondae onderhoude met Prof Johan Janse van Rensburg n.a.v. sy boek ” Jesus is die Een” , sub-titel: verloor ons nie die evangelie in die EC nie ? (Volgende Sondag word dit voortgesit). Vanoggend het die gesprek hoofsaaklik rondop Christologie gegaan: hoe die EC Jesus van Sy Godheid stroop deur onder andere die verwerping van sy versoenende dood aan die kruis en Sy uniekheid, en die miskenning van die feit dat Hy die enigste weg na God is. Op p.10 van sy boek s^e hy dat invloedryke kerkleiers soos prof Niemandt die metodes en gedagtes van die EC bespreek sonder om een woord kritiek daaroor te spreek.
Pingback: Antwoord op Prof Nelus Niemandt se artikel in Kerkbode 16/03/2012 « hier staan ek